Читать книгу Bybelboodskappe - Jan Hulme - Страница 7

Оглавление
Boodskap 1 Pase

Skrifgedeelte

Matteus 28:1–20

1Na die sabbatdag, toe dit die Sondagmôre begin lig word, het Maria Magdalena en die ander Maria na die graf gaan kyk.

2Skielik was daar ’n geweldige aardbewing. ’n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit. 3Sy voorkoms was so blink soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu. 4Van skrik vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.

5Toe sê die engel vir die vroue: “Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. 6Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het. 7Gaan gou en sê vir sy dissipels: ‘Hy is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien.’ Dit is wat ek vir julle moes sê.”

8Hulle het toe haastig van die graf af weggegaan, bang maar baie bly, en hulle het gehardloop om dit aan die dissipels te vertel.

9Skielik het Jesus daar voor die vroue gestaan en hulle gegroet. Hulle het nader gekom, sy voete gegryp en Hom aanbid. 10Toe sê Jesus vir hulle: “Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my broers hulle moet na Galilea toe gaan, en daar sal hulle My sien.”

11Terwyl die vroue op pad was, kom party van die wagte in die stad aan en vertel vir die priesterhoofde alles wat gebeur het. 12Die priesterhoofde het saam met die familiehoofde vergader en die volgende plan gemaak. Hulle het vir die soldate ’n groot som geld gegee 13en gesê: “Julle moet sê:‘Sy dissipels het in die nag gekom en sy liggaam gesteel terwyl ons geslaap het.’ 14En as die goewerneur daarvan hoor, sal ons hom tevrede stel en sorg dat julle nie bekommerd hoef te wees nie.”

15Die wagte het toe die geld gevat en gemaak soos hulle voorgesê is.

Hierdie storie word tot vandag toe onder die Jode vertel.

16Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan. 17Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het. 18Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Preekskema

Hierdie boodskap kan in drie afsonderlike afdelings verdeel word. Die eerste gedeelte handel oor God se koninkryk; Jesus wat as mens aarde toe kom; sy kruisdood en opstanding; die vervulling van die Ou Testament deur die Nuwe; die kruisigingspad en lydenstyd. Die tweede gedeelte het te doen met Jesus se kruiswoorde en sy opstanding. Die derde gedeelte praat oor die Trooster; erfgename en mede-erfgename; ’n gebed vir die Joodse volk en die vervulling van die Ou Testament.

Deel 1

Die koninkryk van God

1 Die koninkryk van God behoort aan alle nasies.

2 Ons almal wat glo, vorm saam God se volk (Rom 9:24–26). Die evangelie sal aan alle mense en volke verkondig word tot aan die uithoeke van die wêreld (Hand 1:8).

3 Of iemand nou Griek of Jood is, besny is of nie besny is nie, anderstalig is, onbeskaaf, slaaf of vry is, Christus is alles en in almal wat Hom aangeneem het (Kol 3:11) en ons is sy uitverkore volk (Tit 2:14).

4 Jesus se opdrag aan sy dissipels voordat Hy opgevaar het, was: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matt 28:19–20).

Jesus kom as mens aarde toe

1 God het sy geliefde Seun Jesus na die diep bedorwe aarde gestuur om mens te word in vlees en bloed om nie die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word en Hy God aan ons kom bekend stel (Joh 3:17).

2 Jesus se koms na die aarde het nie vrede gebring nie, maar skeiding tussen mense, tussen dié wat in die lig wandel en dié wat in die duisternis lewe. Die hartseerste is dat Jesus gesê het dat sy koms selfs tweespalt kan bring tussen huismense (Joh 3:19; Matt 10:34–36). Hulle wat die duisternis verkies, doen kwaad en haat die lig, maar hulle wat in die lig wandel, handel volgens die waarheid (Joh 3:20–21).

Jesus se kruisdood en opstanding

1 Jesus het, reeds voordat dit gebeur het, sy kruisiging en opstanding op die derde dag aan sy dissipels bekend gemaak. Hy het hulle daarop voorberei dat Hy, die Seun van die mens, baie moes ly, dat Hy deur die Joodse familiehoofde, priesters en skrifgeleerdes verwerp en doodgemaak sou word. Maar ook dat Hy drie dae later weer lewend sou word en uit die dood sou opstaan.

2 Hy het dit die eerste keer aangekondig in Markus 8:31–33 en Lukas 9:22. Daarna het Hy sy dood en opstanding vir ’n tweede keer aan sy dissipels genoem (Matt 17:22–23: Mark 9:30–32; Lukas 9:43–45). Hy het dit selfs vir ’n derde keer in besonderhede bevestig in Markus 10:32–34.

3 Voor dié dinge sou plaasvind en die tyd van Sy verheerliking sou aanbreek, het Jesus tot God gebid en sy dissipels en bruidskat (ons as gelowiges) aan God opgedra. Lees hierdie wonderlike gebed van Jesus in Johannes 17:6–26.

Die Ou Testament kom in vervulling deur die Nuwe Testament

1 Die woord “testament”, soos in Ou en Nuwe Testament, beteken eintlik dieselfde as verbond. In die Ou-Testamentiese tyd het God gesien dat die mensdom wat Hy met soveel liefde geskape het, heeltemal van Hom afvallig geword het en in sonde verval het. Sedert die sondeval van die mens (Gen 3) word alle mense in sonde gebore. Hy het besluit om ’n lewensboei na die mensdom uit te gooi om hulle van die ewige verdoemenis te red. Dit was die nuwe verbond in Christus (2 Kor 3:5–6; Heb 8:6).

2 In die Nuwe-Testamentiese tyd het God se besluit in vervulling gegaan. Vir die redding van die mensdom het Hy in sy genadige liefde vir ons mense, sy geliefde Seun, Jesus Christus, na die aarde gestuur om die vloek van sonde; wat by Adam en Eva se ongehoorsaamheid begin het, op Hom te neem. Hy het dit gedoen deur sy bloed aan die kruishout te kom stort as versoening vir die sonde van almal wat Jesus aanneem as Verlosser en Saligmaker. Romeine 8:3 sê God “het die sonde binne die sondige bestaan van die mens veroordeel” deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur om self die offer te bring wat nodig was om hul sonde weg te neem.

3 Jesus sê in Matteus 26:53 dat sy Vader meer as twaalf legioene engele sou kon beskikbaar kon stel om Hom te kom beskerm, maar die geskrifte van die profete moes bewaarheid word. En dit het gelui dat Hy moes ly, die smaad, bespotting en straf van die ongelowiges moes verduur en in ons plek moes sterf.

Goeie Vrydag: die kruisigingspad

1 Op hierdie Vrydag was Jesus in die tuin van Getsemane saam met sy dissipels toe een van hulle, Judas, Hom met ’n kus verraai het en Hy gevange geneem is.

2 Jesus is voor die Joodse Raad gedaag en valse getuienis is teen Hom ingebring. Die hoëpriester het Hom na Herodes gestuur, wat Hom weer na Pilatus, die Romeinse goewerneur, verwys het.

3 Die goewerneur kon geen fout met Hom vind nie, maar soos dit die gebruik was met Pase, kon die goewerneur ’n gevangene vrylaat. Hy wou toe weet wie moet hy vrylaat, Barnabas die berugte rower of die onskuldige Jesus? Die skares het gekies om Barnabas los te laat, maar vir Jesus wou hulle kruisig. Dit is nou dieselfde Jesus wat so baie van hulle gesond gemaak, duiwels uit hulle gedryf, dooies opgewek en ander wonderwerke vir hulle gedoen het. Dit was ook die man wat vir hulle die goeie weg van verlossing gewys en hulle vertel het hoe God se koninkryk daar uitsien.

4 Nogtans wou hulle Hom kruisig, want volgens 2 Korintiërs 3:14 was Israel se verstand versluier sodat hulle Hom nie kon of wou aansien vir wie Hy is nie. Terwyl Hy tot hulle voordeel opgetree en wonders vir hulle gedoen het, het hulle hom vereer, maar noudat Hy ’n gevangene was, word hulle maklik opgesweep om Hom te laat teregstel. Ons moet ons nie deur wonderwerke laat beïndruk en verlei nie, maar liewer ons heil soek in Jesus, die Verlosser, self.

5 Goewerneur Pilatus het sy hande voor die skare in onskuld gewas. Die hele volk het aangedui dat hulle en hul kinders die verantwoordelikheid vir die vergieting van Jesus se bloed sal aanvaar. Die goewerneur het Jesus toe laat gesel en Hom aan die gepeupel oorhandig om gekruisig te word. Tot vandag toe het God nog nie weer die Israeliete besoek soos in die tyd van die Ou Testament nie. Met die vernietiging van Jerusalem deur die Romeine is talle Jode as ballinge weggevoer en ander is opgehang; in die Tweede Wêreldoorlog is ses miljoen Jode vermoor, en tot vandag is hulle nog gedurig met die Palestyne in ’n stryd om oorlewing gewikkel. Maar sê Matteus 21:43 dan nie dat die koninkryk van God van hulle weggeneem en aan ander volke gegee sal word nie – volke wat die vrugte van die koninkryk dra?

6 Op sy lydenspad is Jesus bespot, en uittartend het die soldate ’n “koninklike” pers mantel vir Hom aangetrek en ’n doringkroon op sy kop gedruk. Hulle het kamtig gebuig voor Hom as “die koning van die Jode”; hulle het Hom geklap en selfs op Hom gespoeg. En Hy moes self sy kruishout na Golgota, die plek van teregstelling, dra. Daar is Hy gekruisig saam met twee misdadigers aan weerskante van Hom.

Lydenstyd

Gedurende hierdie swanger tyd het baie merkwaardige dinge gebeur:

1 Daar was duisternis vanaf twaalfuur tot drieuur die middag.

2 Daar was groot aardbewings, die aarde het geskud en rotse het uitmekaar gebars.

3 Gelowiges is uit die dood opgewek en het uit hul grafte uitgegaan.

4 Die soldate het oor die besit van Jesus se kleed die lot gewerp, soos voorspel is.

5 Die voorhangsel van die tempel het van bo tot onder in twee geskeur. Dit was simbolies van die feit dat direkte toegang tot God nou vir mense moontlik gemaak is. Hebreërs 10:19–20 sê deur Jesus se versoeningsdood het sy bloed vir ons die weg gebaan tot in God se Heiligdom.

6 Sommige toeskouers by Jesus se kruisiging is deur alles wat daar gebeur het gedwing om te erken dat Hy werklik die Seun van God was – byvoorbeeld die offisier en die soldate om die kruis.

7 Daar was oomblikke van skok en verbystering, soos by die twee voetgangers saam met wie Jesus ná sy opstanding op die pad tussen Jerusalem en Emmaus geloop het, en hulle Hom nie dadelik herken het nie (Luk 24:13–30).

8 Daardie Paasfees in Jerusalem het baie mense diep geraak en wonderlike dinge laat ervaar. Sedertdien word die kruisiging en opstanding van Jesus steeds herdenk met hernude feesvierings in die geloof, en met die gebruik van die sakrament van brood en wyn, soos Jesus dit pas voor sy kruisiging ingestel het (vgl Luk 22:14–23).

Deel 2

Jesus se kruiswoorde

1 Lukas 23:33–34: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hoewel Jesus onregverdig tereggestel word en met die spykers deur sy hande erge lyding verduur, vra Hy God om dié wat dit aan Hom doen, te vergewe. Net so tree Hy tot vandag toe nog vir ons in by God (Heb 7:24–25).

2 Lukas 23:39–43: “Ek verseker jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” ’n Rower wat langs Jesus aan die kruis hang, bely sy sondes en vra Jesus om aan hom te dink wanneer Hy in sy koninkryk kom. Jesus vergewe die man. Al ly Hy in daardie stadium geweldige pyn en lyding, dink Hy nie aan Homself nie, maar gee in genade aandag aan die man se belydenis. My vriend, sien jy dat dit nie ’n hele seremonie hoef te wees om gered te word nie. Al is jou sondes hoe groot, kan jy dit net in opregtheid bely en Jesus as jou Verlosser aanneem (Heb 4:6–7).

3 Johannes 19:25–27: Jesus sê aan sy moeder: “Daar is u seun” en aan die dissipel vir wie Hy baie lief was, sê Hy: “Daar is jou ma.” Ons leer hieruit dat ons vir mekaar moet omgee as broers en susters in Jesus (vgl 1 Pet 1:22–23).

4 Matteus 27:45–46: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” God het Hom aan Jesus onttrek terwyl Hy aan die kruis gehang het. Dit was omdat die Seun die las van die bittere kruisiging alleen moes dra, sonder enige hulp van die Vader. Weet dan dat, as jy die dag alleen voel, Jesus daar is vir jou, want Hy weet hoe dit voel.

5 Johannes 19:28: “Ek is dors.” Ons wat van Jesus se geestelike water drink, kry nooit weer dors nie, en strome lewende water sal uit ons borrel, soos in Johannes 4:14 gesê word. En uit hierdie lewende water kry ons ’n ewige lewe.

6 Johannes 19:29–30: “Dit is volbring.” Jesus het die lydensweg van die kruis afgehandel toe Hy sy bloed vir ons gestort het, sodat ons nooit meer hoef te ly onder die straf vir ons sonde nie. Selfs al sterf ons wat in Hom glo hier op aarde, sal ons in alle ewigheid nie sterwe nie, maar ewig lewe (Joh 11:25–26). Hierdie wonder herdenk ons met die sakrament van die nagmaal.

7 Lukas 23:45–46: “Vader, in u hande gee ek my Gees oor.” Toe Jesus sy laaste asem uitblaas, het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Waar mense in die Ou Testament deur priesters diere moes offer vir vergiffenis van sondes, het Hy in sy eie liggaam vir ons sondes geboet (Rom 8:3). So het Jesus vir ons die direkte lyn van aanbidding daargestel deur die voorhangsel wat ons van God geskei het, simbolies weg te neem. Ons het nou vrye toegang tot Hom en ons kan nou in Hom bly en Hy in ons.

8 Johannes 15:4. Ons sondige natuur is nou in Christus dood vir hierdie wettiese, sondige, wêreldse bestaan en ons lewe nou in Hom (vgl Rom 6:6–8; 8:3; Kol 2:20). Boonop sê Matteus 22:32 dat God nie ’n God van dooies is nie.

Die opstanding van Jesus

1 Op die Sabbatdag, die derde dag ná sy dood, het Maria Magdalena en Maria by die bewaakte graf gekom om sy liggaam te balsem. Die swaar klip voor die opening van die graf was egter weggerol en die graf was leeg! Net die doeke wat om sy dooie liggaam gedraai was, het daar gelê. Toe verskyn daar ’n engel aan hulle en deel hulle mee dat Jesus opgestaan het, soos Hy voorspel het. Baie mense het Hom daarna lewend gesien. Hy het by verskeie geleenthede aan sy dissipels verskyn en die laaste keer aan hulle opdragte gegee en hulle geseën: “Gaan dan na al die nasies en maak die mense my dissipels. Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt 28:19–20).

2 Omdat Jesus in ons plek die straf vir al ons sonde gedra het, kon Paulus in Romeine 8:1 skryf: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.” En in die volgende vers: “Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood” (Rom 8:2).

3 Veertig dae ná sy opstanding het Christus Jesus voor die oë van sy dissipels opgevaar na God die Vader in die hemel. Hy moes dit doen om vir ons plek te gaan voorberei in sy koninkryk.

Deel 3

Die Trooster

1 Voordat Jesus die aarde verlaat het om tot met sy wederkoms by sy Vader te wees, het Hy vir ons sy Heilige Gees as Trooster gegee. Hy het sy Gees uitgestort op sy dissipels en doen dit tot vandag toe nog vir almal wat Hom aangeneem het en maak daarmee ’n einde aan ons sondige praktyke (Rom 8:11–33). Deur die Heilige Gees wat in ons woon, behoort ons nou aan Jesus Christus en sal ons die ware lewe smaak. Johannes 16:5–15 dui vir ons die werking van die Heilige Gees aan en soos vers 13 aandui, ontvang Hy sy opdragte van Jesus, en sal Hy ons ook “in die volle waarheid lei”. Johannes 6:63 bevestig dat dit hierdie Gees is wat ons lewend maak, die mens self kan dit nie doen nie.

2 Dit was op die dag van die Pinksterfees dat Jesus se gelowige volgelinge met die Heilige Gees vervul is (Hand 2:1–4). En steeds hou baie kerke nog elke jaar ’n “Pinksterweek” van dienste en bidure om deur die Gees in ons geloof vernuwe te word.

Erfgename en mede-erfgename

1 Ons weet nou dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is nie langer slawe van die sonde nie, ons lewe nou as erfgename van God en is een met Jesus (Rom 6:6–11). Ons moet dus ook nie toelaat dat die sonde langer heerskappy oor ons voer nie, want ons staan nie onder die Wet van Moses nie, maar onder die genade van God (Rom 6:12–14).

Bid vir die Joodse volk

1 Die volk van Israel het, vreemd genoeg, vir die mensdom ’n guns bewys toe hulle Jesus met behulp van die Romeinse owerheid laat kruisig het. Deur die bloed wat Jesus gestort het, is ons nou geheilig, vrygekoop uit die slawerny van die sonde en vrygespreek van ons sondeskuld (1 Kor 6:9–11).

2 Die Israeliete het die Ou Testament as hulle heilige boek beskou, veral die eerste vyf boeke van die Bybel, bekend as die Tora. Dit bevat immers Israel se geskiedenis en die wette van Moses waarvolgens hulle gelewe het. Maar dit het ook baie mensgemaakte voorskrifte ingesluit. Hulle het geglo dat hulle, deur die wette te onderhou, God verheerlik het en dat hulle dus God se vryspraak sou ontvang. Toe Jesus op die toneel verskyn, het hulle Hom net as ’n profeet beskou. So ook die moderne Jode wat steeds volgens die Ou Testament leef. Die Nuwe Testament is egter baie duidelik daaromtrent dat die verlossingsweg na God en God se koninkryk alleen deur geloof in Jesus Christus kom. Volgens Efesiërs 2:13–18 is Jode en nie–Jode egter in Christus één gemaak en het ons almal deur die een Gees vrye toegang tot die Vader.

3 Bid dus vir die Joodse volk dat hulle oë sal oopgaan en hulle Christus as Verlosser sal aanvaar, want volgens Johannes 9:27 sal “net ’n handjie vol oorblywendes” in Christus gered word.

Vervulling van die Ou Testament

Baie gedeeltes en voorspellings in die Ou Testament het in die Nuwe Testament in vervulling gegaan, veral wat betref Jesus se koms as die Verlosser van sonde en die Lig vir die wêreld. Sy geboorte, kruisiging en redding van die mensdom is enkele voorbeelde:

1 Psalm 130:8: Hy alleen sal Israel verlos van al hulle sondes.

2 Jesaja 9:5–6: Vir ons is ’n Seun gebore.

3 Jesaja 51:5: Jesus bring verlossing en regeer oor die nasies.

4 Jesaja 53:5: Ter wille van óns oortredinge en sondes is Hý deurboor.

5 Jesaja 53:12: Jesus is as misdadiger beskou en is gekruisig om ons sondes te dra.

6 Daniël 9:25: Jesus (“die regeerder wat deur God uitverkies is”) se koms.

7 Joël 2:28–29: Uitstorting van die Heilige Gees.

8 Miga 5:1–7: Jesus het gekom om tot in uithoeke van die aarde te regeer.

9 Sagaria 3:8–9 teenoor Johannes 19:28–30: Sonde word op een enkele dag weggeneem.

10 Sagaria 11:12–13 teenoor Matteus 27:3–7: Judas verraai Jesus vir dertig stukke silwer.

Bybelboodskappe

Подняться наверх