Читать книгу Bybelboodskappe - Jan Hulme - Страница 14

Оглавление
Boodskap 8 Ambassadeur vir die koninkryk van God

Skrifgedeelte

Johannes 3:3

Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

2 Korintiërs 5:20

Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!

Preekskema

Ambassadeurs van die wêreld

1 Dit is ’n erkende gebruik dat volke van die wêreld hul eie ambassadeurs in ander lande stasioneer om hul eie land se mense daar te verteenwoordig. Die persoon oorhandig sy of haar geloofsbriewe aan die uitvoerende hoof (bv die president) van daardie land, wat ’n amptelike verwelkoming rig en die briewe aanvaar. Die ambassadeur tree met sekere gedelegeerde magte namens sy land op en dra die goeie beeld van sy nasie uit. Hoewel hy of sy by die nuwe volk inskakel en in hul leefwyse deel, behou hy of sy hul eie identiteit en is gevrywaar van sekere vorme van vervolging. Die ambassadeur kommunikeer gereeld met sy of haar regering en hou hulle op die hoogte van sake wat die vaderland raak.

2 Voordat iemand na sy land kan emigreer, moet die ambassadeur as gesant van sy land, die aansoeker se aansoekvorms en dokumente nagaan en as dit aanvaarbaar is, dit goedkeur deur sy rubberstempels daarop aan te bring.

Jesus, ambassadeur van God se koninkryk

1 Jesus was ook die ambassadeur van God se heilige koninkryk hier op aarde. God se koninkryk is alomteenwoordig, en is volgens Lukas 17:21 hier by ons. Jesus het sy opdragte van God ontvang (Joh 10:18). Jesus het persoonlik met God gekommunikeer deur gebed en God het Jesus bygestaan deur die Heilige Gees en engele.

2 Jesus het die mensdom kom inlig wat aangaan in God se wonderlike koninkryk, waaraan geen vlees of bloed kan deel kry nie (1 Kor 15:50), maar volgens vers 51 moet ons verganklike liggame verander en beklee word met onverganklikheid en in onsterflike liggame verander word as ons gelowiges daarheen wil emigreer.

3 God se koninkryk is allerheilig en daarom kan geen onreine en sondebesoedelde wese daar aanvaar word as immigrant nie (Op 21:27). Jesus het bevestig dat daar ook ander wesens in sy koninkryk is na wie Hy moet omsien.

Ons is almal in sonde gebore, maar God het vir ons ’n verlossingsplan

1 Die nasies van hierdie wêreld is almal in sonde gebore en daarom was en is niemand geskik om na God se heiligdom te immigreer nie. Volgens 2 Petrus 3:13 gaan daar ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde kom. Die huidige aarde is broos en wankelbaar en gaan weggeneem word. Ons verblyf hier is net tydelik (Heb 12:26–28).

2 Daar is egter twee koninkryke en alle mense moet ’n keuse maak vir een van die twee. Ons het reeds daarna verwys dat Jesus die ambassadeur is van God se koninkryk van die lig. Daar is egter ook die koninkryk van die duister waarvan Satan die prins en ambassadeur is.

3 Ons hele lewe bestaan uit die maak van keuses. Sommige van ons keuses was goed en ons sal weer só kies as ons weer die geleentheid sou kry. Ander keuses was nie so goed nie en as ons die geleentheid sou kon kry, sou ons die keuses wou verander. Die grootste keuse wat ons tydens ons tydelike leeftyd op aarde moet maak, is om te besluit na watter een van die twee koninkryke ons wil emigreer vir ons ewige lewe in die hiernamaals (Joh 3:19–20). Ongelukkig kan die keuse ook nie uitgestel word nie, want ons lewe is soos ’n wolk wat verbytrek. Vandag sien jy hom, maar môre is dit nie meer daar nie.

4 Die mense wat kies om na die koninkryk van die duister te gaan, is reeds veroordeel (Joh 1:18). As hulle name nie in die boek van die lewe geskryf staan nie, sal hulle in die koninkryk van die duister in die poel van vuur gegooi word (Op 20:15; Matt 13:41–43).

5 God, die Skepper van die groot heelal het ook die aarde geskape met alles wat daarop lewe. God het volgens Genesis 2:26–28 die mens geskape na die drie-enige God se beeld en as sy verteenwoordiger wat oor die aarde moet heers, dit bewoon en bewerk en vrugbaar wees. As Skepper was God dus teenwoordig toe ons die dag gebore is en Hy die asem in ons geblaas het. Deur Adam en Eva se toedoen is die mens in sonde gebore. God het egter uit liefde vir die mens en uit sy groot genade, sy geliefde eniggebore Seun Jesus as mens en ambassadeur na die aarde gestuur om vir ons die weg van verlossing te kom aandui én bewerkstellig. Ons kan nou as immigrante, nog meer – as sy aangenome kinders, sy koninkryk beërwe (Rom 8:17).

6 Jesus moes egter eers vir ons aan die kruishout sterwe en deur die bloed wat Hy gestort het, vir ons verlossing van sonde bewerkstellig. As gereinigde kinders skitter ons nou soos die son (Matt 13:43) en is geskik en aanvaarbaar vir God se koninkryk.

7 Jesus kon nie op die aarde bly nie en moes opvaar na die hemel om vir ons ’n woonplek te gaan voorberei. Daar sit Hy nou aan die regterhand van God, ons Vader (Joh 14:1–4: Heb 1:3; 12:2). Hy sal, wanneer die tyd reg is, terugkom om sy gelowiges te kom haal. Almal wat sy paspoort van goedkeuring het en deur sy bloed rein gestempel is, sal as heiliges, God se eie volk, na sy koninkryk in die hemel gaan (Tit 2:14). Dit is hulle wat gehoorsaam was aan God se wet en wat die wil van God die Vader gedoen het.

8 Jesus het die Heilige Gees as Trooster by ons agtergelaat, en Hy woon in ons. As ons ons sondes bely, offer Hy ons sondes met groot pleitgebede op die altaar voor Jesus. Jesus reinig ons met sy bloed en vergewe ons (1 Joh 1:9). Die Heilige Gees bring dan God se liefde en deernis en stort dit in ons harte uit.

9 Volgens Matteus 7:22–23 sal baie mense wat vir Jesus “Here, Here” sê, nie die koninkryk van die hemel kan ingaan nie, want Jesus het hul nooit geken nie en Hy gaan hulle wegstuur na die verdoemenis. Dit is die koue ongelowiges wat nie glo nie, maar daar is nog hoop vir hulle as óns as gelowiges in God se wingerd begin werk. Ons kan hulle uit die dryfsand van veroordeling optrek, as ons ’n boei na hulle uitgooi. Ons as gelowiges kan hulle uit Satan se kloue red. Daar sterf elke dag 50 000 mense wat nog nooit van Christus gehoor het nie en dan praat ons nie van die miljoene ander wat, uit die 7 miljard mense in die wêreld, verlore gaan nie. Dink aan die lou, passiewe Christene, wat Jesus nie ken nie en wat dus ook nie die koninkryk van God sal binnegaan nie, want Jesus spuug hulle uit sy mond, by wyse van spreke (Op 3:16). Ons kan nie God en Mammon tegelyk dien nie. Jesus stel nie die vervulling van sy beloftes doelbewus uit nie, want Hy wil nie hê mense moet verlore gaan nie (2 Pet 3:9). Hebreërs 7:25 dui aan dat daar tog hoop is vir enige Christen: “Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.”

Wat moet ons doen om aanvaarbare immigrante na God se koninkryk te wees?

Deur Christus alleen word ons aanvaarbare immigrante vir God se koninkryk. Johannes 10:9 sê dat, as ons deur Jesus ingaan, sal ons gered word en Jesus dui dit ook aan in Johannes 14:6–7. Ons sien dit met die misdadiger aan die kruis langs Jesus, vir wie Jesus vergewe het sonder dat hy die geleentheid gehad het om, soos ons, die volgende in sy lewe te kon doen:

 Ons moet opnuut gebore word. Johannes 3:3 en 5 sê dat as iemand nie opnuut gebore word uit water en Gees nie, hy nie van Jesus ’n paspoort na die koninkryk van God sal ontvang nie. Hierdie wedergeboorte is nie uit die mens nie, maar uit die Gees van God wat ons weer lewend maak.

 Ons laat ons doop in die naam van die drie-enige God. Wanneer ons groot of klein gedoop word met water, sit Jesus sy bloedstempel op ons voorhoof. So ontferm God Hom oor ons en bevestig Hy dat die sondige natuur van die mens weggeneem en ons aanvaarbaar gemaak is vir sy koninkryk (Kol 2:11–15). Ons weet dus dat selfs klein kindertjies se sondige natuur ook weggeneem is (v 11) voordat hulle nog iets voor God kon “verdien”.

 Ons moet deur skoling en deur belydende klasse die drie-enige Godheid leer ken. Ons moet met berou ons sondes bely en met ons hele hart en met ons hele siel en met ons hele verstand die Here aanneem as ons Saligmaker en Verlosser. So ’n katkisant bevestig dit voor die gemeente van gelowiges en ons moet hom of haar help om te groei in die geloof (Luk 12:8). Soos pasgebore babas smag na melk, moet die persoon smag na suiwer geestelike melk sodat hy of sy kan groei in die geloof (1 Pet 2:2). Volgens Efesiërs 2:9–10 gebeur dit ook nie een deur eie toedoen nie, maar deur geloof in God se genade.

 As daar bloedlynvloeke van voorgeslagte op ons rus, moet ons ernstig bid en Jesus vra om dit weg te neem en ons sonde te vergewe deur sy bloed wat Hy vir ons gestort het (Heb 9:14). Ek praat van dinge wat in die sondige nature van ons voorgeslagte kon voorgekom het, soos Satanisme, alkoholmisbruik, verslawing, ongelowigheid, bindinge deur siektes, geestelike en emosionele probleme, ensovoorts. Bid in gebedsgroepe saam hieroor (Matt 18:18–20), want Jesus is daar teenwoordig. Dit is raadsaam om ’n geestelike bedienaar teenwoordig te hê wanneer ons oor sondige nature bid, as ons sien wat in Handelinge 19:13–20 gebeur het met die seuns van Skeva.

 As gelowiges is ons liggame tempels van God, waarin die Heilige Gees en Jesus woon. Ons moet God daardeur verheerlik. Daarom moet ons ons liggame oppas en nie besoedel met sondes en onheilighede soos tatoeëermerke nie (1 Kor 6:12–20; 3:16–17). God se Gees in Jesus is dan ons grootste vriend, die lamp voor ons voet en die lig op ons lewenspad, wat ons elke dag lei en advies gee op baie maniere, soos deur ons gedagtes, deur drome, deur ’n geestelike, leraar, profeet, ander mense, engele en deur Gods Woord. Ons moet net seker maak deur die Woord dat dit nie die duiwel, soos ’n wolf in skaapsklere, is wat ons wil verlei nie. Romeine 8:1–17 dui vir ons aan hoe ons moet lewe deur die Gees. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie en kan hy nie van hierdie wêreld na die hemel emigreer nie (Rom 8:9–11).

 Ons moet gedurig bid en met God kommunikeer in skietgebede, soos ons dag vorder. Ons moet sy beskerming en seën vra wanneer ons op die pad gaan of plekke besoek. Ons moet ook God se seën oor mense uitspreek. Bid vir mense in siekte of ander vorme van nood, soos Jakobus 5:15–16 aandui. Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking. Sonder jouself ten minste een keer per dag af, hou stiltetyd en verkeer intiem met God deur sy Woord en voor sy aangesig (1 Kor 6:17). Om ’n aanvaarbare immigrant vir God se koninkryk te wees, moet jy die groot gebod van God gehoorsaam deur die Here jou God lief te hê bo alles. Die tweede gebod wat hiermee gelyk staan, sê jy moet jou naaste liefhê soos jouself. 1 Johannes 4:19 sê ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. Die nuwe gebod in Johannes 13:34 bevestig dat, as ons mekaar liefhet soos Jesus ons liefhet, is ons sy dissipels. Volgens 2 Korintiërs 5:20 tree ons op as gesante en daarom is ons nou ambassadeurs vir Christus. Ons het die Bybel as attestaat sodat ons daarmee mense kan help om hulle te bekeer en wéér te bekeer, sodat hulle hul geestelike reisdokumente gereed kan kry vir hul reis vanaf hierdie wêreld na God se koninkryk, of dit nou deur opstanding uit die dood plaasvind of as lewendes saam met Jesus by sy wederkoms.

As ambassadeurs van God voer ons oorlog teen die koninkryk van die duister

Christus se koms na die wêreld sou nie nodig gewees het as daar nie ’n bose en sondige mag was waarvan ons verlos moes word nie. Ons stry saam met Christus teen hierdie bose magte van die sondige wêreld en die bose geeste in die lug. Ons stryd is dus nie teen vlees en bloed nie (Ef 6:12). As ambassadeurs van God se koninkryk voer ons met groot geloof en gesag oorlog teen dié bose magte, saam met die engele van God en die Heilige Gees. Ons moet ons krag in die Here en sy groot mag soek deur die volle wapenrusting wat God ons gegee het, aan te trek (Ef 6:14–17).

Bybelboodskappe

Подняться наверх