Читать книгу Bybelboodskappe - Jan Hulme - Страница 9

Оглавление
Boodskap 3 Kersfees

Skrifgedeelte

Jesaja 9:5

Vir ons is ’n Seun gebore,

aan ons is ’n Seun gegee;

Hy sal heers, en Hy sal genoem word:

Wonderbare Raadsman,

Magtige God,

Ewige Vader,

Vredevors.

Preekskema

Inleiding

In Jesaja 40:3 lees ons van die voorganger uit die woestyn wat vir Jesus die pad moes kom oopmaak. Ons lees dit ook in Matteus 3:1, Markus 1:1–4, Lukas 1:5–38, Johannes 1:6, almal dissipels van Jesus wat vertel van Johannes die doper wat as boodskapper die pad vir Jesus kom gereed maak het. Toe Jesaja dit voorspel het, was Jesus nog nie gebore nie – Hy sou eers op Kersdag as Verlosser en Saligmaker gebore word.

Elke Kersfeestyd hoor ons oor en oor van Kersfees. ’n Mens wonder of daar nog iets kan wees wat nog nie voorheen oor dié dag gesê is nie. Ons almal ken Kersfees al vandat ons ná geboorte so iets kon verstaan. Kersfees maak ons altyd opgewonde. Dit is vakansietyd. Dit is geskenketyd. Dit is feestyd. Ons geniet al die liggies, die Kersvaders, die jolyt van die wêreld, die winkels met pragtige uitstallings in hul vertoonvensters …

MAAR vir Christene het dit ’n heel ander betekenis. Ons kan onsself vra: Wat sal ek doen vir iemand wat ek baie liefhet en wat in nood verkeer? Wat sal ’n ouer alles vir sy kind doen? Sal hy nie selfs sy lewe waag vir sy kind nie.

Wat het God vir ons gedoen?

Hy het sy eniggebore Seun, vir wie Hy baie lief is, gegee om geoffer te word vir ons. Die geliefde en bekende vers Johannes 3:16 lui só: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Dan kan ’n mens mos sien Hoe lief jou hemelse Vader jou, sy kind, het.

Hoe het God dit laat geskied?

Maria wat nog nooit gemeenskap met ’n man gehad het nie, is deur die werking van die Heilige Gees laat swanger word (Matt 1:21). So het dit gekom dat Jesus uit die koninkryk van God as ’n mens na die aarde verplaas is.

Jesus het dus grootgeword tussen die mense, baie wonderwerke gedoen soos om water in wyn te verander, siekes en blindes te genees, dooies, soos Lasarus, op te wek, duiwels uit mense te dryf, mense sy volgelinge gemaak en hul sondes vergewe, en nog baie meer.

Wat doen Jesus?

Ons lees in Lukas 4:43 hoe Hy die mense die waarheid geleer het en vertel het wat in God se koninkryk aangaan. Hy herstel die koninkryk van God hier op die aarde wat met die sondeval van die mens skeefgeloop. Sedertdien word ons almal in sonde gebore, maar Jesus se menswording was ons redding. Hy ontmasker die duiwel en sy volgelinge, soos valse profete en leraars, valse owerstes, ongelowiges wat Jesus nie wou ken as die gestuurde wat hulle kon verlos nie.

Hy moes as een persoon en as Middelaar vir die hele wêreld aan die kruis sterwe. As dit nie gebeur het nie, sou die hele mensdom in Satan se kloue beland het en sonder enige hoop op die hiernamaals in sonde gesterf het.

Jesus is die derde dag deur God opgewek uit die dood, Hy het ter helle neergedaal en Satan gestroop van al sy magte en sy heerskappy oor die aarde afgevat. Jesus het beheer geneem en die aarde wat aan die mens gegee was om daaroor te regeer, herstel en dit aan die mens teruggegee (Jes 8:23). Satan is onttroon en oorwin.

Waaroor gaan Kersfees vir gelowiges?

Ons as gelowiges vier daarom elke Kersfees die verjaardag van Jesus, wat opgevaar het na die hemel en wat aan die regterhand van God die Vader sit. Dit gaan vir ons as gelowiges oor baie meer as die gee van mooi geskenke of ’n oordadige Kersmaal.

 Ons herdenk met blydskap sy geboorte as ons Verlosser en Saligmaker.

 Ons maak ons met groot verwagting gereed vir sy wederkoms.

 Ons bevestig ons geloof in Hom.

 Ons grootste Kersgeskenk is volgens Matteus 16:19 die sleutels wat ons van Jesus ontvang het vir toegang tot sy koninkryk, deur sy Woord.

’n Persoonlike vraag aan jou

Ek vra jou vandag of jy gered is? Het jy die Jesus wie se geboorte ons met Kersfees vier, al aangeneem as jou persoonlike Verlosser? Is jy gereinig deur sy bloed? Is jy nie dié Kersgeskenk aan jouself verskuldig nie?

Mag hierdie Kersfees vir julle elkeen ’n besonderse Christusfees wees!

Amen.

Bybelboodskappe

Подняться наверх