Читать книгу Bybelboodskappe - Jan Hulme - Страница 8

Оглавление
Boodskap 2 Hemelvaart en wederkoms

Skrifgedeelte

Johannes 17:1–26

1Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. 2U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. 3En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. 4Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen. 5Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het.

6“Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord ter harte geneem. 7Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom; 8want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee. Hulle het dit aangeneem en tot die oortuiging gekom dat Ek waarlik van U gekom het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.

9“Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. 10Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik. 11Ek bly nie langer in die wêreld nie, maar hulle bly nog in die wêreld. Ek kom na U toe.

“Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees. 12Toe Ek by hulle was, het Ek hulle in u Naam bewaar, die Naam wat U My gegee het. Ek het hulle beskerm, en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die een wat verlore moet gaan sodat die Skrif vervul kan word.

13“Maar nou kom Ek na U toe. En Ek sê dit terwyl Ek nog in die wêreld is, sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê. 14Ek het u woord aan hulle gegee, en die wêreld haat hulle, omdat hulle nie tot die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. 15Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar. 16Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. 17Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid. 18Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur; 19en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees.

20“Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. 21Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 22Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: 23Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.

24“Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het.

25“Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle hier weet dat U My gestuur het. 26Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.”

Preekskema

1 Jesus het by drie geleenthede sy kruisiging en opstanding uit die dood aan sy dissipels voorspel. Die derde dag ná sy kruisiging, op die sabbatdag, het Hy opgestaan en nog 40 dae lank op die aarde gewandel voor Hy opgevaar het na die hemel. Hy het ná sy opstanding aan baie mense verskyn (1 Kor 15:5–8).

2 In die tyd ná sy opstanding het Jesus met sy dissipels vergader en vir oulaas aan hulle opdragte gegee en hulle geseën. Sy laaste opdrag, volgensMatteus 28:16–20, was dat hulle na alle nasies moes gaan en dissipels van die mense moes maak, hulle in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees moes doop, en dat hulle alles moes onderhou waarin Jesus hulle onderrig het. By Betanië het Hy voor hul oë na God se koninkryk opgevaar.

3 Hy het die Heilige Gees (as Trooster in sy plek) uitgestort op sy dissipels en tot vandag toe ontvang almal wat Hom aangeneem het, in Hom glo en hulle sondes erken en bely, ook die Heilige Gees om in hulle te woon. Die voorhangsel (die gordyn tussen die Heilige en die Allerheiligste deel van die tempel) het met Jesus se dood middeldeur geskeur – as teken dat ons nou vrye toegang tot God en sy Seun kan hê (Heb 10:19–20). Ons kan nou enige tyd met Hom in gesprek tree en Hom direk aanbid. Ons hoef Hom dus nie meer deur priesters te aanbid, soos hulle dit in die Ou Testament met offers gedoen het nie. Jesus het Homself laat offer vir ons sondes

4 God het ’n nuwe verbond daargestel deur Jesus Christus as Middelaar. Deur Jesus se soenverdienste word almal wat Hom aanneem, gereinig van sonde en so geskik gemaak om in God se koninkryk in te gaan. Geen mens, ook geen vlees en bloed, of enige wese wat onrein en vol sonde is, kan God se koninkryk binnegaan nie (Op 21:27). Daarom is die duiwel, wat eers ’n gesiene engel van God was, en sy volgelinge, daar uitgegooi as gevolg van hebsug. Die duiwel is sedertdien baie bedrywig hier tussen ons gelowiges op aarde en hy loop hier in sy boosheid rond soos ’n brullende leeu op soek na slinkse maniere om ons te verslind.

5 Jesus kon nie in die vlees op die aarde bly nie en moes opvaar na die hemel om vir ons, wie se name in die Boek van die lewe geskryf is, plek te gaan voorberei in die vaste gebou wat God vir ons gebou het (Joh 14:2–4; 2 Kor 5:1). Ons tentwoning hier op aarde is tydelik en sal afgebreek word (2 Kor 5:1–4), daarom is dit so belangrik dat ons vir ons skatte in geloof in die hemel moet bymekaar maak en nie hier op die aarde nie. Waar ’n mens se skat is, daar sal jou hart ook wees (Matt 6:19–21; Luk 12:33–34).

6 Jesus sê in Johannes 16:7 dat dit tot ons voordeel is dat Hy weggaan, want dan kan ons Voorspraak, die Heilige Gees, by ons wees. Hy sal ons in die waarheid lei en Hy sal met versugtinge vir ons intree by Jesus wanneer ons nie weet hoe om te bid nie (Rom 8:26–27). Jesus werp ons sondes op die altaar en was dit deur sy bloed weg so ver as wat die ooste verwyder is van die weste (Ps 103:12). Jesus tree by God die Vader vir ons in en daarom is ons nou by God die Vader aanvaarbaar as erfgename in sy koninkryk (Heb 7:24–25; 1 Joh 2:1b–2). So gee Jesus vir Christengelowiges die ewige lewe.

7 Jesus het met sy koms na die aarde die werk wat God Hom gegee het om te doen, volbring.

8 Sedert sy hemelvaart sit Jesus aan die regterhand van God ons Vader, waar Hy dieselfde heerlikheid van God ontvang wat Hy gehad het voor sy koms na die aarde (Joh 17:5). God het aan Jesus as bruidskat gegee die mense van die aarde wat God se Woord ter harte geneem het, die Woord wat Jesus vir ons gebring het. Johannes 17:6–26 gee ’n weergawe van die gebed wat Jesus kort voor sy kruisiging tot God die Vader gerig het ten behoewe van sy dissipels en volgelinge. Tot vandag toe is die woorde van sy gebed nog op ons van toepassing, en ons behoort nou wel aan Jesus.

9 Hebreërs 9:27–28 sê die mens is bestem om net een maal te sterwe en daarna kom die oordeel. So is Christus tydens sy eerste koms na die aarde ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. As Hy die tweede keer verskyn, kom hy nie in verband met sonde nie, maar om sy kinders te kom haal en finale verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.

10 By die Here se wederkoms na die aarde, sal daar skeiding van die gelowiges (“skape”) en ongelowiges (“bokke”) plaasvind; dan gaan dit oor die veroordeling van sonde. Ná die skeiding van die skape en die bokke, gaan dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan. Dit is die eerste opstanding (Op 20:4–6). Die engele gaan ons saam wegvoer, Christus tegemoet. Ons sal Hom dadelik herken en so sal ons dan vir altyd by Christus wees (1 Tes 4:16–17).

11 Die ongelowiges sal ná 1000 jaar, die tyd wanneer Satan gebind en die Heilige Gees van die aarde onttrek sal wees, deur die engele opgewek word vir hulle finale oordeel. Dit is die tweede opstanding. Hulle sal ook in onverganklike liggame opgewek en verander word. Dié wat dan steeds nie hul saak met die Here reggemaak het nie, is dan vir ewig gedoem (Op 20:14–15). Die aarde sal weer woes en leeg wees soos aan die begin van die skepping; dit sal soos ’n vuurspuwende berg oorkook en alles versmelt.

12 Daar sal ’n onbeskryflik heerlike nuwe hemel en nuwe aarde saam met Jesus en sy miljoene engele en volgelinge uit die hemel neerdaal (Op 21:1–2). Die duiwel en sy gevolg van ongelowige engele en ongelowige mense sal dit sien. Hulle sal God se almag aanskou en Jesus met ’n oorvloed van gebede wil loof en prys, maar dan sal dit te laat wees.

13 Die duiwel sal sien dat hy miljoene verlore aanhangers het en saam met die Gog en die Magog vir oulaas ’n kort tyd probeer om Jesus te onttroon deur die nuwe stad Jerusalem te omsingel, maar vuur uit die hemel sal hulle verbrand (Op 20:7–9). Party se lyding sal korter wees, ander s’n langer. Die duiwel, die dier en die valse profeet se straf en lyding sal vir ewig wees en hulle sal dag en nag krul van die pyn. Al die ongelowiges en verlore engele se eie sondes sal op hulle wees, asook die sondes van dié gelowiges wie se sondes deur Jesus weggewas is. Die ongelowiges sal saam met die ou aarde verbrand word (Op 20:11–15; vgl ook Mal 4:1; 2 Pet 3:10–11). So sal die onheil vir ewig uitgeroei wees voor God se aangesig. Geen onreinheid sal in die nuwe Jerusalem wees nie en ons sal verander word, want geen vlees of bloed kan deel kry aan God se koninkryk nie (1 Kor 15:50–54).

14 Die “1 000 jaar” van vrede wat gelowiges tans ervaar, het begin by Jesus se geboorte. Die engelkore het vrede op aarde besing, vir die mense in wie God sy welbehae bewys het met Jesus se geboorte. In Johannes 14:27 sê Jesus: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie.” Die duisend jaar van vrede waarvan hier bo sprake was, is ’n simboliese getal wat strek tussen die eerste en tweede koms van Christus, want ons gelowiges se vrede duur tot in alle ewigheid. Ons as gelowiges ervaar God se vrede nou hier op aarde, want ons is onder die drie-enige God se beskerming en ook onder die beskerming van engele wat die Here vir ons voorsien. In Johannes 17:15 vra Jesus vir God om ons teen die bose te bewaar in hierdie wêreld. Ons as gelowiges is dus veilig, solank ons ons nie ooplaat vir die duiwel en sy demone nie.

Bybelboodskappe

Подняться наверх