Читать книгу So was dit - Johan van Wyk - Страница 11
Оглавление’n Koekie lekkerruikseep
TOE DIE SAKRIVIER die jaar mooi afkom en sy saaidamme volstoot, maak Gert Kriedoring ’n oesie.
Die dag toe die laaste mudsakkoring by die koöperasie op Kootjieskolk ingelewer is, het hy met ’n lied in sy hart in sy afgeleefde Dodge-bakkie – met die koöperasietjekkie, minus die jaar se skuld, in sy sak – plaas toe gery.
By die huis het hy by die witgeskropte kombuistafel gaan sit, sy sweetdeurdrenkte hoed agtertoe gedruk, die tjek uit sy kakiehemp se bo-sak gehaal en effens huiwerig vir sy vrou, Let, gesê: “Hartjie, as dit na jou sin is, kan ons vir ’n paar daggies ’n bietjie Strand toe gaan.”
Let het van die stoof af weggedraai, haar sagte oë vraend, en die koffiekan voor Gert neergesit. “Strand toe?”
“Netso,” het Gert gesê en die tjek trots oor die tafel gestoot. “Die oes se geldjie.”
“Moet jy nie eerder mielies koop nie? Die ooie begin lam ná Nuwejaar. Sê nou dit word droog?” Anderkant die onderdeur het ’n noordewind verdroogde rolbosse oor die werf gejaag.
Asof hy wou bevestig dat hy seker is van sy saak, het Gert sy hoed weer oor sy voorkop – wit soos die driehoekie onder sy keel – getrek en gesê: “Ons sal deurkom.”
’n Skamerige tinteling het deur Let se skraal lyf gegaan toe sy vir hom koffie skink.
Op hulle eerste oggend in die gewilde losieshuis Die Afrikaneroord in die Strand, het Gert vroeg opgestaan, die gordyne weggetrek en die venster oopgestoot. ’n Vars seebries het die kamer gevul. Hy het die stoel met sy broek daarop nadergetrek, ’n tienpondnoot uit sy beursie gehaal, dit vir Let gegee en gesê: “Hartjie, koop nou vir jou net wat jou hart begeer.”
Sy het die noot in ’n vierkantjie so groot soos ’n Wilson-toffie gevou, in die een hoekie van ’n kantsakdoekie met die reuk van Three Flowers-poeier toegeknoop en dit bo by haar rok ingedruk.
In Friedman & Cohen se winkel in die Strand het sy aan die geblomde, kraaknuwe lakens gevoel; die sagte, wit donskussings opgetel – en weer neergesit. In die klerasie-afdeling het sy na die rye en rye rokke gekyk.
“Jy koop niks nie?” het Gert gesê-vra.
“Ek dink nog.”
Toe het hulle op ’n bank aan Kusweg gaan sit en lank oor die see uitgekyk, sonder om ’n woord te sê.
Op pad terug plaas toe, terwyl hulle deur Brandvlei ry, het Let gesê: “Hartjie, stop bietjie hier by die koöperasie.”
Gert het in die Dodge bly sit. Toe sy terugkom en hy wou weet wat sy gekoop het, het sy geantwoord: “’n Koekie lekkerruikseep. Vir ’n halfkroon.”
Ek het weer hieraan gedink toe ’n bottel verouderde Skotse whisky onlangs vir R240 000 opgeveil is, daar R26 miljoen vir ’n buffel betaal is en dit bekend geword het dat dit sowat R250 miljoen gekos het om pres. Jacob Zuma se landelike woning by Nkandla op te rig.