Читать книгу So was dit - Johan van Wyk - Страница 5
ОглавлениеVoorwoord
Jare lank was Johan van Wyk een van die Vrystaat se swaks bewaarde geheime. Hoe anders, terwyl sy rubriek die mees gelese en besproke item in dié provinsie se geliefste koerant was?
Hy sal dadelik daarop wys dat hy nie eerstens ’n Vrystater is nie, maar ’n Noordwester: ’n man uit die Hantam, wat saam met sy buurman Namakwaland ’n wêreld van storiemakers en -vertellers is. Droogte en swaarkry is klaarblyklik vrugbare grond vir die verbeelding. (En vir eiesinnigheid, erken hy.)
Johan het 25 jaar lank elke weekdag die rubriek Stop van Myne vir Die Volksblad (vandag net Volksblad) geskryf wat ’n rekord van een of ander aard moet wees. Daarmee saam het hy agt jaar lank die rubriek Potjiekos vir Beeld behartig. Deesdae skryf hy ’n gereelde rubriek vir Landbouweekblad en minder gereeld bydraes vir Weg, Die Burger en By. Dis ongeveer 7 400 joernalistieke rubrieke en bydraes van bykans vyf miljoen woorde! Maar dit het vir Johan nog nooit oor kwantiteit gegaan nie, soos blyk uit die FAK se Prestige-prys vir uitmuntende Afrikaanse joernalistiek wat in 1992 aan hom toegeken is.
Vir hierdie bundel is net die room van sy skryfwerk afgeskep. Boonop is daar ’n bonus:’n paar sketse wat hier vir die eerste keer gepubliseer word. Die eindproduk is ’n versameling waarmee hy die wyer blootstelling kry wat hom – en alle Afrikaanse lesers – lankal toekom.
Johan se voorliefde is die landelike milieu en sy bewoners van ’n vergange era wat hy aards, eerlik en onthullend skets. En wanneer sy ongeëwenaarde geheue hom dalk in die steek laat, staan ’n meer as gewillige verbeelding hom by!
Hy is onbeskaamd nostalgies oor sy wêreld en sy land waarvan flarde reeds weggevoer is op die winde van verandering. Sy verhale word egter nie bloot ter wille van hulle (voort)bestaan vertel nie – hoewel dit rede genoeg sou wees – maar ook ter wille van wat dit hier op ’n unieke manier van die “menslike toestand” verklap. Krisjan Houmoed, Willem Naald, Stefaans-sonder-sokkies, Giel Hardehand, Jan Teelepel, Hennerik Nag, Hannie Stofkraal en al die ander sou minagtend gesnuif het oor dié kamma-geleerde stelling.
Nogtans.
Sy stories word vanweë hul her-ken-baarheid geborge eilande wat hy uit ’n see van dreigende vergetelheid laat herrys. “Ek rebelleer teen die genadeloosheid van die lewe, maar ek onthou die mooi dinge wat nie meer bestaan nie,” is ’n uitspraak van ’n ander Calvinianer, die komponis Arnold van Wyk, wat ’n rigsnoer vir sy gemoed bied. Nie ’n swaar en donker gemoed nie; allesbehalwe.
’n Sêding van Namakwalanders oor vry is hier gepas: “As jy eers gesta’-en-lê-en-proe het, word jy meer erg.”
Met hierdie versameling wys Johan van Wyk op sy onnabootsbare manier dat die lees van ’n goeie storie minstens net so lekker soos vry kan wees. Daarvan word ’n mens ook meer erg.
Dis nie net ’n waarskuwing nie, maar veral ook ’n belofte.
Tobie Wiese (samesteller),
Kaapstad