Читать книгу So was dit - Johan van Wyk - Страница 15

Оглавление

’n Long drop sonder weerga

Van al die teleurstellings wat ’n boer kan tref, is ’n nuwe, droë boor­gat sekerlik een van die ergstes. Die enigste water wat so ’n gat op­lewer, is die trane wat uit jou oë drup terwyl jy die boorman se tjek uitskryf.

Die alternatief is trane van vreugde wanneer ’n straal helder, vars water uit ’n nuwe boorgat borrel en jy in jou verbeelding groen lu­sernlande onder ’n vol dam water sien. Of droom hoe jou vee dik gesuip om die krippe lê terwyl die windpomp se wiel van lekkerte sing en jy die koel water diep uit die aarde by die uitlooppyp se bek skep.

Dit is een van die wonderlike vreugdes van boerdery.

Nog ’n lekkerte was die vroeëre gebruik onder Karooboere om, wan­neer hulle in die veld boor en goeie water kry, ’n ranktuintjie met vrugte- en koeltebome en ’n paar akkertjies lusern by die nuwe gat aan te lê – as hospitaalkampie vir siek of swak diere. Jy sien dit nie meer nie.

So ’n groenigheidjie en koeltetjie met geriewe vir skaapwerk was in ’n barre, stowwerige wêreld ’n klein oase. ’n Bykomende lekkerte het daarin gelê dat jy somertyd, nadat ’n trop skaap deurgewerk is, in die dam kon afkoel en ’n waatlemoen uit die ranktuintjie oopsny. Be­halwe vry is niks lekkerder nie as ’n stuk soet, rooi kroon onder ’n koelteboom op ’n Karooplaas ná ’n voormiddag se rugbreekwerk, ter­wyl jy kyk hoe jou ooie rustig die rante in wei.

Maar dit alles bly net ’n droom wanneer jy boor en die gat is droog. Of dit word ’n nagmerrie wanneer die watertafel in ’n erge droogte sak en die veldwater begin ingee. Dis wanneer die waterwysers en die boormanne ingeroep word.

Terwyl die waterwysers met ’n mikstokkie of ’n bottel water rondloop en die boormanne vir die aanwysing wag, begin die spanning op­laai namate die beitel dieper deur die ysterklip sak terwyl die volgende drom diesel nader gerol word en jy weet dat jy voor die bankbestuur­der sal moet kniel om die boorman te kan betaal.

Al die tyd is die groot vraag in jou gemoed: Wanneer moet ek die boordery stop as die gat droog bly? Dis die handewringende besluit wat veeboere moet neem elke keer wanneer hulle boor, want sê nou maar jy sak net nog ’n meter en slaan dalk ’n aar raak wat die water bo by die bek laat uitspuit of die stampboor se skepper laat oorloop?

“Sak!”

En die beitel boor dieper die onbekende in. G’n wonder die NG Kerk het boerdery tot dobbelary verklaar nie.

Ek weet nie wat ’n lugdrukboor jou vandag kos nie, maar dit moet sekerlik, soos die Engelse sê, ’n “arm and a leg” wees. Hoewel dit nie van vandag af is dat boordery ’n duur storie is nie.

Die bekende prof. Francie van Zyl, eerste dekaan van Stellenbosch se mediese fakulteit, het op ’n keer op ’n boorman se vrou geopereer. Ná die operasie wou die boorman by hom weet waarom die rekening so hoog is. Hy moes toe hoor dat dit ’n “baie spesiale” operasie was.

Die boorman se kans het gekom toe hy later op die professor se toentertydse plaas, Van Zylsdamme by Ladismith, vir water moes boor. Toe die snydokter kla oor die hoë rekening, sê die boorman droogweg: “Professor, dit was ’n baie spesiale gat . . .”

Wat my weer laat dink aan die ou boer wat, om darem ’n bietjie nut uit ’n droë boorgat van meer as 200 m te hê, sy kleinhuisie soontoe geskuif het vir ’n long drop sonder weerga. Maar ná die eerste sit kom die ou nie uit nie. Toe die tante gaan kyk, sit hy morsdood op die troon. Potblou in die gesig. Toe onthou sy: Die oom het altyd sy asem opgehou totdat hy hom hoor val.

Terloops, wat het geword van die duisende stampboormasjiene – waarvan baie ook as staatsbore gedien het – wat die legendariese Willem Dreyer van Bloemfontein gebou het en waarmee Suid-Afrika oor baie jare heen vrot geboor is? Ek hoop daar is iewers een in ’n museum.

Daar behoort ook ’n monument opgerig te word ter ere van daardie spesiale spesie: die geharde boorman en sy smerige, kaalbolyf handlanger met sy hand om die boortou van ’n stampboor op soek na lewe­gewende water op die eensame vlaktes van hierdie wye, droewe en dorre land.

Party was geswore skelms, maar darem.

So was dit

Подняться наверх