Читать книгу So was dit - Johan van Wyk - Страница 4
Оглавление“As ek wil vis hê, gooi ek my seën uit in die vlei waar die springers en harders boer, en as ek vleis wil hê, vat ek my haelgeweer en loop hier oor die rant. Daar is my trapvloer en perdemeul, hier my melkstal. My meubels maak ek met ’n dissel en my knipmes, my velle vir my tuie brei ek self. In my voorhuis staan ’n wireless en hier onder is ’n phone. In my tuiekamer staan my houtbaadjie [doodskis] en daar onder die bome lê my kerkhof. Ek skuld niemand niks . . .” *
* Só het oom Theunis van Zyl, tuie- en sweepmaker van Verlorenvlei aan die Weskus, in die 1960’s sy eenvoudige, maar onafhanklike boereleefwyse aan my beskryf toe ek hom op sy lappie grond, Muishoek, besoek het. Die foto van hom en sy rooi konsertina is op 2 Mei 1967 op die voorblad van Die Landbouweekblad gebruik. Die tydskrif het toe agt sent gekos. – Johan van Wyk