Читать книгу So was dit - Johan van Wyk - Страница 18
ОглавлениеKoning van die kombuis
Wanneer die winter sy kloue inslaan, verlang ek na die warmte van ’n stoof in ’n plaaskombuis en wonder ek terselfdertyd in hoeveel daar nog ’n regte kool- of houtstoof staan. Baie, indien nie die meeste boervroue nie, het lankal van hierdie wonderlike, hoewel ietwat morsige, staatmakers afstand gedoen en dit met elektriese of gekombineerde krag-en-gasstowe met vinnige gasbranders en elektriese oonde vervang.
Die nuwe stowe is ’n windmaker-affêre in blink afgewerkte, vleklose staal – teen ’n prys wat ’n kar nie so lank terug nie gekos het. Ek gun dit vir vroue wat oor jare met primitiewe hout- en koolstowe moes klaarkom, maar treur oor die verlies aan karakter – en natuurlik die snoesige warmte in die winter – waarmee dié stowe plaaskombuise, die hart van die huis, vroeër gevul het.
Behalwe miskien nog in die mees afgeleë, koudste dele van die Karoo, die Oos-Kaap, Vrystaat en die ou Transvaalse Hoëveld, is ’n swart Bolinder, Dover No.10, ’n wit-en-groen Farmer en ’n roomkleurige Esse of Aga deesdae slegs ’n herinnering uit die verre verlede – nes ’n vuurherd en ’n waterbalie met geelkoperhoepels. Laat staan nog die dae van mis- en perskepitvloere wat sement geword het, toe bont linoleum, later novilon en uiteindelik teëls. Van hierdie lot was misvloere die warmste. In my grootwordjare was daar nie meer misvloere in plaaswonings nie, maar ek onthou die warmte wat dit afgegee het, ook danksy ’n oop vuurherd, uit die strooise van my kinderdae.
Op ’n misvloer het niemand koud gekry nie en nog te meer nie rondom ’n konka vol gloeiende miskoeke wat van nat beesmis gemaak en in die son uitgedroog is nie. In die ou dae het stapels miskoeke, gepak in ronde hope en toegemaak met ’n sinkplaat om dit teen reën te beskerm, op elke plaas in Suid-Afrika om arbeidershuise gestaan. Vroue met kleintjies agter op hulle rûe het die nat mis daagliks in krale en stalle opgetel.
Jy sien dit waarskynlik nêrens meer nie. Die meeste arbeidershuise het vandag elektrisiteit en die geriewe wat daarmee saamgaan. Tog wonder ek of hulle nie – soos die boervroue wat deesdae op wintersoggende in ’n koue kombuis sonder ’n hout- of koolstoof moet gaan koffie maak – nie met ’n tikkie nostalgie aan daardie dae terugdink nie. Waarskynlik nie. Die sogenaamde “goeie ou dae” was dikwels niks anders as ’n moeisame gespartel nie, al onthou jy merendeels net die goeie en die lekker. Gelukkig het niemand van beter geweet nie.
Wat ek wel weet, is dat my hart met ’n punt na die vervloeë dae trek wanneer ek in die winter soggens my huis se koue, kliniese kombuis betree. Dan wens ek ek kan weer die blink, ronde deksel van ’n Aga-stoof se warm plaat oopklap en met my rug daarteen staan terwyl ’n ketel koffiewater singend op die gloeiende rooi gietysterpot dans.
Die Aga was ongetwyfeld die koning van stadig brande antrasietstowe. Vra enige boervrou wat die grootste deel van haar lewe met een deurgebring het en jy sal net lofsange hoor. My vrou het my oor ’n tydperk van 30 jaar herhaaldelik verseker dat sy enigiets sal prysgee ter wille van huislike geluk – behalwe haar Aga. Gaan die Aga, loop sy ook! Die les is: Gee jou vrou ’n Aga en jy het ’n minsame, dienende Martha vir die res van jou lewe. En die lekkerste, safste boerekos.
Natuurlik nie sonder moeite nie. Die soggens en saans se stook met antrasiet om hom dag en nag aan die gang te hou, as uitkrap en fyn spinnerakke teen kombuismure en plafonne was deel daarvan.
Maar dit was ’n kleinigheid in vergelyking met die hitte wat die hele huis gevul het, die voortdurende beskikbaarheid van warm water en die manier van stadig kook op die lou plaat, of oornag in die lou oond. Geen afval smaak soos dié wat oornag in ’n Aga se lou oond malsig gaar geword het nie. Of ’n viertandmofhamel se boud of rib. Kyk hoe water my mond nou!
So was dit – totdat Eskomkrag plase bereik het en baie boervroue ná jare sonder die gerief van elektrisiteit en elektriese toebehore meegesleur is deur vernuwing en die versugting na ’n gemakliker lewe met elektriese stowe, yskaste, vrieskaste, wasmasjiene, skottelgoedwassers en stofsuiers. Vra ’n huishulp toe glo een dag in ’n werkonderhoud of al dié geriewe beskikbaar is. “Ja,” sê die huisvrou, “maar sê my, is jy musikaal, want dan kan jy klavier speel terwyl ek die huiswerk doen!”
In die euforiese tyd ná die koms van elektrisiteit, is Aga’s en ander stowe links en regs uitgegooi. Jy kon tweedehandses vir ’n appel en ’n ei optel. Dikwels vir so min as ’n paar honderd rand. Nuwes wat op bestelling uit Engeland ingevoer is, het in die 1970’s R20 000 gekos. Maar niemand het een gekoop nie. Almal wou elektriese stowe hê. Een van die laaste vieroonders waarvan ek weet, is in die 1970’s in die hoofregter se toe nuwe ampswoning in Bloemfontein geïnstalleer. ’n Vieroonder kos nou R150 000.
Ek dink baie van die plaas- en stadsvroue wat hulle stowe prysgegee het, huil vandag lang trane wanneer hulle die pragtige nuwe Aga’s in artikels oor mooi, karaktervolle kombuise in oorsese glanstydskrifte sien. ’n “Farm kitchen” is nou weer hoogmode en ’n statussimbool. Aga’s pryk opnuut in rykes se kombuise.
As jy dus nog een het, hou en geniet jou Aga.