Читать книгу So was dit - Johan van Wyk - Страница 9
ОглавлениеDie Ondervelders gaan stad toe
Die kruik bewaar lank die geur
van waarmee dit deurtrek was toe dit nog nuut was
Horatius
“ONDERVELDERS”, soos die Noordweste se boeremense ’n geslag gelede bekend was, het nie juis gereis nie. In ’n swaarkrytyd het hulle ook nie die geld gehad om dit te doen nie. Hulle was tevrede om hul lewe op verafgeleë plase en klein dorpies te slyt. Hulle was ook bang vir vreemde, gevaarlike stede, hoewel toe veel kleiner en veiliger as vandag.
Die boere se afgesonderde lewe is bepaal deur die gang van die seisoene en die eise van lamtyd, saaityd en oestyd. Dit is slegs afgewissel deur dope, troues, begrafnisse en om maandeliks dorp toe te gaan vir negosieware.
Toe ’n nuwe predikant op huisbesoek, nadat hy tydens ’n swaar droogte Habakuk se gebed voorgelees en vir reën gebid het, by Annie Geelhoek wou weet of sy al in die Kaap was, het sy haar arms oor haar borste gevou en gelate geteem: “Nee, dominee, hier by ons is dit maar net ‘Geelhoek op’ en ‘Geelhoek af’.”
As dit moet, het net die dapperstes dit buite die grense van hul distrik gewaag. Meestal vir ’n operasie, ander mediese behandeling of “om onder die ligte te kom”, soos hulle na die neem van x-straalfoto’s verwys het. Daarvoor – en vir kwaai oujongnooimatrones, vreemde reuke, smaaklose hospitaalkos en geleerde dokters in lang wit jasse – was hulle nog banger as vir die stad. Toe my suster in 1947 ’n operasie in die Volkshospitaal in Kaapstad moes ondergaan, het my ma, met spesiale toestemming van die matrone, op ’n mat voor die bed in haar kamer geslaap en vir haar kos ingesmokkel wat van die plaas af saamgebring is.
Met die groot wol boom in die 1950’s het boere ryk begin word en is lekker karre kontant gekoop en die lang pad aangedurf. ’n Nuwe wêreld – die groot stad met sy blink liggies, hotelle, bioskope en winkels – het vir hulle oopgegaan. Toe Willem Naald op sy eerste besoek in Kaapstad rondgeneem is, het hy verwonderd uitgeroep: “Vandag doen ek wêreldkennis op!”
By strandoorde het boervroue wat dit voorheen nie sou waag om meer as ’n enkel te wys nie, in stemmige two piece-baaikostuums op lilo’s in die branders gebaljaar terwyl die “bediendes” – die rokspante by hul bloomers teen die bobeen ingedruk – met die kinders in die vlak watertjies gespeel en sandkastele gebou het.
Laatmiddag is sundowners op hotelstoepe gedrink. Saans is by keurige spyskaartetes, bedien deur kelners met wit handskoene, aangesit vir sop, vis, drie soorte vleis, vegetables in season, geskep uit ’n silwer bak met afskortings, twee soorte poedings en kaas en beskuitjies by koffie en likeur. ’n Gewilde gebruik was om die vleiskosse saam te voeg. Toe Jannie Blomfontein die eerste keer in die White House-hotel in die Strand eet, het hy die spyskaart net een kyk gegee en gesê: “Combine!”
Die spyskaart is van bo tot onder deurgewerk. Seelug gee jou eetlus. Daarna is stof uitgedans tot ligdag toe op die musiek van regte orkeste. Alles vir ’n oulap en ’n bokstert vergeleke met vandag se pryse.
In Kaapstad was die Carlton Hotel, aan die onderpunt van Adderleystraat, ’n gewilde blyplek vir boere uit die Noordweste wat in die stad gaan vakansie hou het. Daar het ek my eerste Engels gebesig: “Waiter, please bring me a glass of water.” Waarna my suster my probeer oortref het met: “Waiter, please bring me some tomato sauce.”
Ons kon nie genoeg kry van die outydse hysbak met sy traliedeur nie wat bedryf is deur ’n wit hysbakdrywer in ’n uitspattige uniform. Ons het op en af tussen die verdiepings gery. Hotelle het doormen gehad wat die groot glasdeure by die ingang en jou kar se deure vir jou oopgemaak het wanneer jy voor die hotel stilhou. Dit was nou veral by die grênd hotelle soos die Bordeaux en Arthur Seat in Seepunt, die Barberzon Plaza in Groenpunt en die Grand in Adderleystraat.
Toe Klein Willem Ramskop se seun, Kallie, in 1954 in die Kaap trou, is die onthaal in die Grand Hotel gehou. Met die koffiekoppies nog uitstaande, het ant Hettie Rooiwal ’n kelner nadergeroep en gesê: “Waiter, please bring the kips and the what’sie me call it.” Sy kon nie die Engels vir “pierings” onthou nie. Sy en oom Isak het op die ou Kaapse breekwater gaan wandel waar ’n man met ’n drabord aan ’n tou om sy nek op-en-af gestap het terwyl hy kort-kort “Dates!” uitroep. Oom Isak het aan ant Hettie gedruk en gefluister: “Hy sê hy praat Duits.” Die man was ’n straatsmous wat pakkies dadels verkoop het.
Twee seuns van Brandvlei het weer op ’n keer ’n geleentheid saam met ’n Engelssprekende handelsreisiger Paarl toe gekry om hul hoërskoolloopbaan by Boys’ High te begin. Die Engelsman het verskriklik op die stofpad Calvinia toe gejaag en hulle angsbevange gemaak. Hulle wou die man stop sodat hulle kon uitklim, maar weet toe nie hoe om dit op Engels te sê nie. Toe hulle die gejaag nie langer kon verduur nie tik die dapperste een, bang om aanstoot te gee, die Engelsman versigtig op sy skouer en sê: “Mister, just laai we here off.”
Die Carlton was naby groot winkels soos Stuttafords, Spracklens, Fletcher & Cartright, Garlicks en die OK en C to C Basaars. Ek dink dís waar spaarsamige boervroue leer shop het. Die OK se roltrap was ’n groot avontuur en is voetjie vir voetjie bestyg. Oor Kersfees het flikkerende neonliggies op die OK se balkon ’n slee uitgebeeld, getrek deur rendiere terwyl Kersvader die leisels vashou. Kinders wat saam met hul ouers kom inkopies doen het, het ’n lucky dip gekry. Binne-in was ’n jojo, klappers en lekkers vir die seuns.
Saans is window-shopping in veilige strate gedoen. Die laaste keer wat ek dít in Kaapstad gedoen het, was ná die moord op dr. Verwoerd in 1966 in die Parlement. Sy foto, gedrapeer in lanfer, is in die vensters van winkels in Adderleystraat uitgestal. Mense het verslae deur die glas daarna gestaar. Party het gehuil.
Ná 60 jaar onthou ek steeds die kosreuk in die Carlton se houtgepaneelde eetsaal, die reuse-waaiers teen die versierde staalplafon, die wit damastafeldoeke en -servette, die swaar silwer eetgerei en die rooi fez op die hoofkelner se kop.
Om die hoek was die Metro-, Alhambra-, Colosseum- en Van Riebeeck-bioskope waar meisies in kort rokkies, bekend as usherettes, jou met ’n flitslig na jou sitplek begelei het en almal na hartelus kon rook. Niemand het gekla nie. ’n Rookwolk het permanent in die projektor se ligstraal gehang. Ná ’n spanningsvolle oomblik in die riller Whatever Happened to Baby Jane, met Joan Crawford en Bette Davis, kon my pa nie verder rook nie. Hy het van pure senuwees sy pyp se steel afgebyt.
In die bio-cafes, vlooiflieke met verversings, het jy ’n milkshake of ’n ice-cream soda op ’n skinkbord gekry terwyl jy na cowboy-flieks van Roy Rogers en Gene Autrey gekyk het. Partykeer was daar double features (twee prente ná mekaar) plus ’n voorprent van “The Three Stooges”, ’n cartoon van Bugs Bunny of Mickey Mouse en tydens die pouse samesang terwyl ’n tafeltennisballetjie in pas met die wysie van liedjies op Springbok Radio se treffersparade op die skerm gehop het. Liedjies soos “Sail alone silvery moon”, “Cruising down the river on a Sunday Afternoon” en “Red sails in the sunset”. In die agterste rye het jy vir die Springbokspan gevry.
Ander nabygeleë kuierplekke was die beroemde eertydse Waldorf Café en die guitige Del Monica waar Eve Boswell, Cherry Wayner en die beroemde tromspeler Don Storer mense in die 1960’s aand ná aand vermaak het. Offisiere van Duitse duikbote wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in Tafelbaai geskuil het, het glo saans met ’n roeibootjie aan wal gegaan en in burgerlike drag in die Del Monica gekuier.
Nie alle besoekende Ondervelders het in hotelle tuisgegaan nie. Toe jong mense die platteland verlaat en in die stede gaan werk het, het hul ouers by hulle gaan kuier en só met die stad kennis gemaak. Só vat ant Hannie Stofkraal toe eendag kort ná die Tweede Wêreldoorlog die trein Kaap toe om vir haar dogter, Florrie, te gaan kuier wat toe al lank daar gewerk en vanweë ’n huwelik met ’n Ier, met kleuter en al, verengels het. Florrie sleep haar bejaarde ou moeder stad toe.
Tuis ná ’n uitputtende inkopiedag, waartydens sy die OK Basaar se roltrap drie keer ná mekaar gery het, vra die bekkige klein Florence: “And how was granny’s day in town?”
Ant Hannie, wat tot standerd twee in die plaasskooltjie op Klipwerf gevorder het, het haar beste Engels bymekaargeskraap: “Oh, granny se baains paains so much from shops den in and shops den out.” Sy het haar geswelde voete in ’n skotteltjie lou soutwater gehou, gaan lê en gewens sy is terug op Stofkraal.
Tuis het sy tot en met haar sterfdag voor sy saans gaan slaap ’n paar druppels van die bottel 4711 Eau de Cologne wat Florrie vir haar by die OK gekoop het, op haar bulsak uitgegiet. Sy het die Kaap nie weer gesien nie. Ná die begrafnis het mense by koffie en melktert gefluister ’n laventelreukie het oor die graf gedraal toe die kis in Stofkraal se blou Hantam-gruis afgesak het.