Читать книгу So was dit - Johan van Wyk - Страница 12
ОглавлениеDans in gebukkende tye
Swart Sak Niekerk van Koringhoop in Namakwaland was reg toe hy in Die Manakwalanners op televisie na droogte as “gebukkende tye” verwys het. Dis wat veeboere in die Karoo en Boesmanland gereeld beleef.
Nog ’n Van Niekerk, Neels van Ratelfontein, Calvinia, bel die ander dag en vertel met die kenmerkende lag-met-’n-traan-humor van die Noordwesters dis nou so droog daar by hulle, as jy die blase op ’n kind met waterpokkies stukkend druk, kom daar stof uit.
In my verbeelding het ek ’n maer mofooi gesien wat aan ’n verdorde gannastingel kou. Dis nie ’n mooi gesig nie.
In sulke omstandighede is vakansie uit. Jy bly maar by die huis, loop daagliks die veldwaters om en sit lek, mielies en lusern uit terwyl jy die wolke dophou. Jy bid ook.
Om ’n plaas in die feestyd aan die genade oor te laat, bly mos maar ’n groot risiko. Groot ellende kan op jou wag as jy ná die vakansie tuiskom. Wanneer my nog aktief boerende familie by die see vakansie hou, staan hulle voortdurend selfoon-in-die-hand en vra vrae soos:
“Het dit al gereën?” “Wat! Het die pype in die boorgat geval? Was die hek dan nie toe nie?” Die laaste paar dae van die vakansie groei die kommer op hulle gesigte.
Maar dans behoort daar op Oujaarsaand gedans te word. Al is die tye hoe gebukkend, jy dans die Nuwejaar in.
Wanneer die krismiswurm se klank bokant die balke van ’n skeerstoor uitstyg, die mieliemeel wit lê op die dansvloer, mense die lusernbale vol sit, die braaivleisvuur se vlamme in die aandlug knetter en die wingerdvoggies begin vloei, is daar “lewe in die huisie waar die liggie brand”. (Ek verbeel my daar was so ’n liedjie.)
Die plesierigheid help om jou probleme vir ’n oomblik te vergeet. Jy kan selfs moed skep met die versterkinkie in jou glas. Wanneer my pa ná ’n lang dag in die son – moeg van skaap voer tydens ’n droogte en vaal van die stof – in sy stoel neergesak het, sou hy sê: “Gooi vir ons ’n ietsie dat ons kan moed skep.”
Dan kom die bottel Limousine uit die spens verby. Dit was in die dae toe boere brandewyn by kraanwater gedrink het. Hulle het nie van Coke geweet nie.
Ek het ’n vermoede Oujaarsaanddanse op plase bestaan eintlik nie meer nie. Gemeenskappe het gekrimp, die ou mense is weg, baie jongeres het stedelinge geword. Dié wat oorgebly het, ry dorp toe as hulle wil gaan dans. Dié wat gelukkig genoeg is om waaksame bestuurders te hê, gaan hou vakansie by die see. Droogte of te not.
Die grootste rede is waarskynlik dat daar nie juis meer musikante op plase oor is nie. Nou praat ek nie van orkeste nie. Dié bestaan nog hier en daar. Ek praat van gewone boere wat hulself met verstommende talent leer musiek maak het of hoogstens Jannie Raath se korrespondensiekursus gevolg het. Jannie was ’n klavierspeler wat beweer het dat hy selfs ’n bobbejaan kon leer klavier speel. Sy advertensie in Die Huisgenoot het ’n foto bevat van ’n mak bobbejaan wat “Boegoeberg se dam” op ’n Steinway speel.
Elke omgewing het sy musikante gehad wat nie note kon lees of ooit formele onderrig ontvang het nie, maar ’n klavier, kitaar, bekfluitjie, viool, pensklavier, banjo en later elektroniese klawerborde en orrels – op baie plase het ’n Lowrey in die voorhuis gestaan – so goed kon bespeel dat dit menige professionele musikant jaloers sou maak. Van sommige kon gesê word soos van die beroemde Amerikaanse pianis Carmen Cavallaro, “He plays the white notes, the black notes and the ones in between.”
Niemand kon stilsit wanneer hulle losgetrek het nie. Nie eens die wallflowers nie. Hulle het mekaar gegryp en vrou saam met vrou het die dansbaan gevat, so lekker en aansteeklik was die musiek. Wanneer wit salpetersweet tussen hulle blaaie uitgeslaan het, moes die voordansers onder die manne kort-kort buite toe om asem te skep.
Dit was ook die geleentheid om by ’n oop kattebak ’n ekstra versterkinkie te kry vir moedskep. ’n Plaat Fords en Chevrolets het gewoonlik die werf by die skuur langs die stalle volgestaan. Die manne is stalle toe as hulle ’n draai wou loop. Kinders het wegkruipertjie om die karre gespeel en in die gate geskuil wat perde in die kafhok se mied gevreet het en waarin weglêhenne graag hulle eiers gelê het.
Die maan het die vlaktes verlig. Die musiek het in die stil, sterbelaaide nag weerklink. Af en toe het ’n strooishond in die verte geblaf.
Daar was nie trombome, saksofone of Franse horings nie en die voet van die kitaarspeler – wat terselfdertyd ’n bekfluitjie bespeel het – was in ’n velskoen, terwyl die bekfluitjie met ’n tuisgemaakte kontrepsie aan sy kitaar se blad vasgemaak was.
Wanneer ’n stowwerigheid in die lug gehang het, is die dansbaan liggies natgesprinkel. Wat ek wel nooit gesien het nie, is hoe dansers by die uitroep “Balke toe!” aan die dansplek se balke gehang het sodat die vloer natgemaak kon word. Boere het in my tyd al staalskure gehad en dit sou maar gelol het om daardie hoë balke by te kom.
Toe my pa ons kontrei se voorste kitaarspeler een jaar bel om te vra wat hy vir hom van die dorp af moet saambring vir die komende Oujaarsdans op Matjiesvlei, het hy gesê: “Net ’n stel nuwe kitaarsnare, ’seblief ou broer.” Met só min was hulle tevrede, sommige musikante in die mees afgeleë streke met selfs nog minder. En waar is die outydse grammofone waarop 78-spoed-plate van ou Boeremusikante soos Chris Blignault, die Briels, die Vier Transvalers en ander gespeel is: “Maanlig op die Vaalrivier”, “Boereseun”, “Boereplaas”, “Grootrivier se voël”. Nog ’n skat wat feitlik verlore is. Daar is heelnag lank op gedans.
Dit lê so ver terug in die verlede en is so totaal verwyder van die tydvak waarin ons leef dat ek nie eers probeer om dit te onthou nie. Maar die herinnering aan mense wat om ’n tafel op ’n eensame plaas daarna sit en luister, bly helder.
Só was dit en is dit nie meer nie.