Читать книгу So was dit - Johan van Wyk - Страница 17

Оглавление

Agter die toonbank van ’n plaaswinkel

Elke keer wanneer ek ’n groot supermark binnestap, dink ek aan die winkels op klein plattelandse dorpies en op die plase van my kin­­­der­dae in die verwegwêreld van ou Suid-Afrika. Ek mis veral hulle stoepe.

’n Winkelstoep was toe ’n gewilde kuierplek. Op die meeste was daar ’n hortjiesbank of twee onder ’n rooi veranda wat gestut is deur gegote ysterpale versier met Victoriaanse tierlantyntjies. Dorpenaars het graag daar gesit. Sulke winkels bestaan lankal nie meer nie. Vyf­tig, sestig jaar gelede het plattelanders se daaglikse bestaan egter om hulle gedraai.

In die straat voor die winkel sou ’n verflenterde kind vroegoggend sy groottoon verveeld in die stoflaag teen die stoep boor. Hy wag vir ’n aalmoesie van mense wat kom inkopies doen. As hy gelukkig is, kry hy ’n pennie. Teen ’n oortjie vir een kon hy daarmee vier nigger balls koop. (Voor desimalisasie in 1962 toe ’n pennie met die koning van Engeland se kop daarop ’n sent geword het, was ’n oortjie ’n kwart­pennie en ’n stuiwer ’n halfpennie.)

’n Verbleikte uithangbord met die winkel se naam bokant “Alge­mene Handelaar” wieg knarsend heen-en-weer in ’n ligte warrelwindjie wat straataf ritsel deur ou, krom peperbome langs ’n droë leivoor vol rooi pitjies.

Dit gaan warm word. ’n Boer se 1947 Fleetline Chev staan klaar in die koelte van die peperbome.

Teen die witgekalkte muur rondom die winkel se voordeur is daar emalje-advertensieborde vir Cooper’s Little Dip (’n middel teen skaap­­brandsiekte), Ouma Mazawatee-tee, Voortrekker-koffie, Millborrow-speensalf, Flag-sigarette, Assegaai-roltabak, Cobra-vloerpolitoer en His Masters Voice-grammofoonnaalde. Nog ’n bord vertel dat die win­kel ’n agent is vir FCU (die Farmers’ Co-operative Union van Port Elizabeth) vir die aankoop van wol en velle.

In ’n hoek staan ’n rooi Avery-platformskaal wat boere se produkte in ponde en onse weeg. Ronde ystergewiggies, elk met ’n gleuf, sit van klein tot groot in ’n ry op die skaal se weegbalk. Brommers zoem om die skaal. ’n Vleisgeurtjie aan die growwe sout, afgeskud van nat, vars­gesoute velle, het hulle aangelok.

Op die winkelstoep kry ’n grysaard sy sit en tuur met skrefiesoë verby die kerktoring na tekens van reën op die horison. Dis droog. Uit gewoonte tik-tik hy met sy kierie se punt teen die leiklip onder sy velskoene voor hy sy hande sluit en sy duime ritmies vorentoe en ag­tertoe in sy skoot begin draai. Dit gaan ’n lang, stil, eensame dag wees.

Vir vandag se gejaagde mense, gedryf deur ambisie en die sug na meer, kan dit dalk vreemd klink. ’n Geslag of twee gelede was so ’n to­neel egter deel van die gewone gang van die kleindorpse lewe. Vandag stroom moeë stedelinge na die platteland om vir ’n wyle rus en stilte te vind.

In die winkel sou ’n seuntjie ’n sjielingstuk (oftewel 10c), wat toe­geknoop is in ’n sakdoek se punt, loswikkel. Dan sou hy dit skuif oor die houttoonbank, wit geskrop met Vim, terwyl die klerk ’n pond sui­ker met ’n skeppertjie uit ’n ry bliktrommels vol suiker, meel, rys, droë boontjies en lensies skep en in ’n bruin papiersak uitgooi. Dis nou nadat die bestelling onder die wakende oog van die Joodse winkeleienaar op ’n skaal afgeweeg is. Dié het altyd by sy tafel op ’n ver­hogie, afgeskort met glas, gesit.

Die toonbankklerk sou sy baas as “Mister” Katz, Rabinowitz, Cohen, Sack, Sher of Rosenblatt aangespreek het. Van dié Jode het ’n mengelmoes van Engelse en Afrikaans gepraat. In die middel van die toonbank was ’n valdeurtjie wat opgelig kon word vir deurstap.

Toe ’n boer in die tyd voor gereelde koerante en die draadloos vir die Joodse winkeleienaar op Die Bos in die Ceres-Karoo vra wat nuus is, het hy geantwoord: “Og, Miester Pogpoel, de news is tog very bad. Die Prins van Koerland ies gaskiet mette laweller.”

Hy het skouerophalend afgesluit: “En tog die place waar hy wer, wir veilag!”

Dit was sy weergawe – aan die hand van ’n derdehandse medede­ling deur ’n besoekende handelsreisiger uit die Kaap – van die sluipmoord op die Oostenryks-Hongaarse kroonopvolger, aartshertog Franz Ferdinand, in Sarajewo in 1914. Dié sluipmoord het tot die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog gelei.

Elke dorp in Suid-Afrika het so ’n winkel gehad – wat ligjare verwyder is van vandag se supermarkte. Mense wat op die platteland grootgeword het, onthou nog hoe daardie winkels na ’n mengsel van lampolie, Hollandse medisyne, gebrande koffie en “Dubbin” – ’n leer­middel vir perdesaals en tuie – geruik het. Soos dié van perdestalle en begrafnisblomme is dit ’n reuk wat jy nooit vergeet nie.

Behalwe negosieware is hardeware, skoene, mans- en vroueklere en rolle materiaal ook aangehou. Vroue het toe self klere gemaak. In die haberdashery-afdeling was dikwels ’n advertensie vir Singer-naaimasjiene met die volgende byskrif onder die skets van ’n vrou wat by ’n flikkerende kers met die hand naaldwerk doen: “Moeder se Naaityd is Verby.” Dit is nou as sy ’n Singer sou koop.

Lekkergoed, suurklontjies, pepermente, toffies en swart drop is uit groot glashouers afgeweeg en verkoop teen ’n tiekie en ’n sikspens as jy die dag in ’n spandabele bui was. Dis gegooi in ’n tregtertjie wat uit ou koerantpapier gedraai is. Fietsbande, ploegskare en saals, tooms, halters, rieme en tuie het aan die dakbalke gehang.

Gereelde kliënte kon op skuld koop met ’n order-boekie. Boekies is soggens by huise afgelewer sodat huisvrouens hulle bestellings kon plaas. By die winkel is dit “opgemaak” en later die dag op ’n drie­wiel­fiets, met ’n groot gevlegde mandjie aan die voorkant, by die huis se agterdeur afgelewer. Op groter dorpe is aflewerings gedoen met ’n molwaentjie wat deur ’n perd getrek is.

Daar was ook winkels op plase wat veral in werkers, wat selde op die dorp gekom het, se basiese behoeftes voorsien het. Op die rakke was daar buiten die gewone dinge soos koffie, suiker, boermeel en kerse ook snuif, pruimtwak en Cavalla-sigarette, asook medisyne soos kas­terolie, lewensessens, Lennon se staaldruppels, Zambuk-salf, Vicks, kanferolie en Borstol.

Op sommige plase het dit ook as ’n agentskap van die Poskantoor gedien. ’n Bordjie met die woorde “Telefoon/Telephone” het aangedui dat jy daarvandaan kon bel.

Oom Willem Kortnek het so ’n winkel op Matjiesvlei bedryf. Die winkel was in ’n buitekamer teenaan die plaashuis. Met uitvaltyd teen sononder het die plaaswerkers nadergestaan op die stoep om hulle goedjies “op die boek” te koop. Van heeldag skaapwerk in die son het hulle na stof, bitterbos en kraalmis geruik. Die “boek” was die agterkant van oom Willem se pakkie 50 Rembrandt Plain. Elke werker se aankope is met ’n pers indelible-potlood, waarvan hy die punt natgelek het, aangeteken.

Die winkel was so winsgewend dat hy elke jaar ’n nuwe Ford-kar kontant kon koop. Hy het sy tiekies ’n hele paar keer omgedraai. Om op kerse te spaar, het hy byvoorbeeld skaapkutteltjies in paraffien ge­­week en dit langs sy bed in ’n Nugget-skoenpolitoerblikkie se dek­sel­tjie laat brand. Hy het saans sy Bybel daarby gelees. Wanneer hy sy Rembrandt-stompie weggeskiet het, was net die kooltjie oor. ’n Dosie Lion-vuurhoutjies het hy verdubbel deur dit met sy vlymskerp Joseph Rodgers in die middel deur te sny.

In sy winkel is ’n span pruimtabak op ’n geelkopermaatband op die toonbank afgemeet en met ’n biltongkerwer tot die vereiste lengte af­gesny. So presies was oom Willem, het die bure gespot, dat sy lin­ker­­hand se duim later net so kort soos sy nek was. Petrol is in 44-gelling-dromme aangehou en met ’n handpomp deur groot glasbottels in karre se tenks getap. Daar het altyd ’n bietjie vir oom Willem se kar in die bottels agtergebly.

Ek was 14 jaar oud toe ek in skoolvakansies af en toe skelm­pies ’n los Cavalla vir my en my speelmaat, Piet Rissant, uit die plaas­winkel op Matjiesvlei gegaps het. Oom Willem was slim, maar ek was slimmer – hy het dit nooit agtergekom nie.

So was dit

Подняться наверх