Читать книгу So was dit - Johan van Wyk - Страница 16

Оглавление

Die diep spore van Boerejode

Daar is nie meer baie van hulle oor nie . . . Jode wat teen die einde van die vorige eeu as verstrooide, dikwels verstote, armlastiges uit die verre Oos-Europa na Suid-Afrika gekom en veral in plattelandse boeregemeenskappe diep spore getrap het.

Die ouer geslag is feitlik almal oorlede en die geleerde jonger ge­slag het die platteland verlaat en hulle in die stede of in die buiteland gevestig en in ’n groot mate hul bande met Afrikaanse mense verloor. Om nog van “Boerejode” te praat, is dus amper nie meer geldig nie. Hulle is, soos die enkele oorblywende Jode op die platteland, so skaars soos hoendertande.

Daar was egter ’n tyd toe Jode hulle so met Afrikaners en Afrikaans vereenselwig het – talle het selfs met Afrikaanse vroue getrou – dat hulle die erenaam “Boerejode” gekry het. Vandag word hulle vaag­weg onthou as die smouse, spekulante en latere winkeliers, hoteleienaars, dokters, prokureurs, tandartse en aptekers waarsonder talle platte­landse dorpe amper nie kon funksioneer nie. Party het selfs groot grondeienaars en uitmuntende boere geword.

Een van die laastes van hierdie merkwaardige mense was Abe Friedman, grootbaas van die gewilde afdelingswinkel Friedman & Cohen in die Strand, waarvan die deure ná 104 jaar steeds oop is. Dit is ook die enigste oorblywende groot afdelingswinkel in Suid-Afrika wat nog in private Joodse familiebesit is.

Nie net vir die Strand se mense nie, maar ook vir baie wat jaarliks daar kom vakansie hou, is Friedman & Cohen ’n geliefde baken in Kusweg. Die eerste ding wat baie boervroue doen nadat die gesin in die Strand aangekom het vir die vakansie is om in F & C se restaurant, met sy seeuitsig oor Valsbaai, te gaan tee drink. Daarna sal hulle met die hulp van personeellede, van wie baie al ’n leeftyd daar werk, “shop till they drop”.

Alles het plaasgevind onder Abe Friedman se wakende oog, terwyl hy in die groot winkel rondloop en oral geselsies in sy mooi Afrikaans aanknoop. Soos net ’n ouwêreldse gentleman, so in sy netjiese pak met ’n kleurvolle das en wit sakdoek in die baadjie se bo-sak, dit kan doen. Waar kry jy dit nog?

Hy het dit 76 jaar lank elke dag tot op die laaste oomblik van sy 97ste lewensjaar gedoen. Abe het die bestuur van die winkel in 1931 oorgeneem by sy pa, ’n immigrant uit Lituae wat die winkel in 1903 begin het. Daar word vertel dat hy nooit huis toe is na sy woonstel in Kusweg voordat die dag se inkomste nie getel en gebank is nie.

Hoe dan anders? Soos goedig met Jode se sakevernuf gespot is: “Bieznies ies bieznies”. Dit was sekerlik ook die geheim van Abe Friedman se sukses wat vandag deur sy twee seuns, Barry en Benjamin, voortgesit word. Die Strand se mense kan hulle die dorp nie sonder dié instelling voorstel nie en vir dekades lank ook nie Kusweg sonder Abe op sy daaglikse wandeling langs die see nie. Hy is in 2007, op kort duskant 100 jaar, oorlede.

Wys jou hoe ons, te midde van moderne ontwikkeling en ’n nuwe wêreld wat daagliks om ons ontvou, verknog raak aan die bekende: die mense, uit ’n ander era, en die instellings wat hulle tot stand gebring het. Wanneer hierdie seders onvermydelik val, verdwyn ’n hele tydperk saam met hulle en bly slegs die nostalgiese herinneringe later oor – voordat dit ook uiteindelik vervaag.

My geboortedorp, Calvinia in die noordweste van die ou Kaapland, is ’n voorbeeld van wat met die Boerejode gebeur het. Daar was destyds soveel Jode op die dorp dat ek te min vingers het om almal op te noem: Helfet, Berelowitz, Danske, Reeff, Sher, Merrin, Klein, Rosenblat, Saunders, Sachs en talle ander.

Vandag is nie een meer oor nie. Maar die goue era wat beleef is met hulle aan die stuur van sake word steeds onthou in ’n dorp wat nou slegs ’n skadu is van wat dit toe was. Soos op talle ander dorpe is al wat van hulle oorbly die vervalle murasies van hul eens florerende ondernemings. Daar is destyds ’n klas diens gelewer waar­van die besigheidjies wat in die plek daarvan gekom het slegs kan droom.

Die Boerejood wat ek die beste uit my kinderdae onthou, is Benjamin Norwitz. Hy was ’n eselsmous in die tyd toe goudmyne in Suid-Afrika dié taai diere gebruik het om koekepanne, gelaai met erts, in myntonnels te trek. Hulle is ondergronds aangehou. Eenmaal daar het hulle nooit weer die son gesien nie.

Esels, ook bekend as muile, geelbekke en botterkoppe, word geteel deur ’n don­kiehings met ’n perdemerrie te kruis. Die resultaat is ’n geharde, veelsydige dier wat groter en flukser as ’n donkie en kleiner en sterker as ’n perd is. Jy kon die wêreld met hulle aanvat – ás jy geweet het hoe om met hulle te werk. Jy moes op jou pasoppens wees vir ’n skop uit die bloute wat ’n wa se spatbord flenters kon laat.

Om ’n steeks wetter aan die gang te kry, is terpentyn onder sy stert gesmeer. Dit was juis wat ’n boer wou doen toe sy esels een oggend op pad dorp toe ’n ent van die huis af vassteek en verseg om ’n voet te versit. Sy vrou gaan haal toe die terpentyn, maar voor sy kon opklim, gryp hy die bottel en skiet van die terpentyn onder die esels se sterte in. Hulle vlieg met ’n vaart daar weg en los die vrou agter. Die oom is nie links nie en gooi die bottel vir haar: “Smeer aan en kom!” skrou hy.

Norwitz het ook by my pa esels gekoop. Hy was ’n gereelde besoe­ker op Calvinia en het later ’n minsame, hoewel eksentrieke, huisvriend geword. Op een van sy togte, toe hy esels wat hy by boere aangekoop het op die trein na Johannesburg wou laai, het hy by ons oorgebly en by my in die buitekamer geslaap.

Dit was wintertyd en my ma het melkkos vir aandete gemaak. ’n Bitterlik koue noordewind het om die huis se hoeke geswiep en teen die ratelende vensterrame geslaan. Toe ons gaan lê, het Norwitz sy gaberdene-pak uitgetrek en sy kamaste – hy het altyd, winter en somer, kamaste en ’n dik kakiejas oor sy pak (met kakiehemp en das) gedra – voor die bed staangemaak. Hy het sy jas oor die bont vel­kom­bers van gebreide boerbokvelle oor die voetenent gegooi en in sy wit langmoufrokkie en long johns ingekruip.

Ek was nege jaar oud en effens grieperig. Toe ek in die nanag huilend van ’n kwaai oorpyn wakker word, het hy die kers opgesteek en ge­vra wat verkeerd is. Ek het met my hand oor my een oor beduie. Hy het in sy geradbraakte Afrikaans na my pa geroep: “Miester Van Wyk, jy moet tog kom gou. Die helfte van Johnie se kop is seer!”

Nadat my ma lou olyfolie in my oor gedrup het, het ons weer gaan lê – ek met ’n plat Mellowood-brandewynbottel in ’n gebreide wol­jassie, volgemaak met warm water, teen my oor.

Douvoordag het Norwitz weer in sy pak, kakiejas en kamaste ge­klim. Ek het oor die buitekamer se onderdeur gelê en kyk hoe hy knar­­send oor die witgerypte klipwerf na sy esels in die kraal aan­stryk – ’n eensame figuur, vooroorgebuig teen die wind. Dit was my eerste kennismaking met ’n Boerejood.

Toe die posbode jare later met die klein leersakkie om sy lyf voor die hekkie van sy fiets klim, het ons geweet dis slegte nuus. Behalwe met ’n troue of geboorte het telegramme altyd slegte nuus gebring. Norwitz is yskoud en styf op ’n bankie op Johannesburg se Parkstasie gekry. In sy verslete kakiejas se binnesak was ’n swart boekie met my pa se adres in.

Oor die jare sou ek ’n steeds groeiende bewondering ontwikkel vir die merkwaardige vermoë van Jode, oor eeue heen verdruk en vervolg en tydens die diaspora oor die aarde verstrooi, om staande te bly en bo hul omstandighede uit te styg. Bewyse daarvan is die wêreld vol.

In Suid-Afrika het etlike meer as 100 jaar gelede met net die klere aan hulle lyf uit veral Oos-Europa hier aangekom. Hulle het as pakkiesdraers, vellekopers en smouse begin, maar binne ’n geslag die dryfkrag agter welvarende plattelandse gemeenskappe geword. In dié proses is ’n baie spesiale band met Afrikaners gesmee. Aan die Rand het sommige mynmagnate geword en ontsaglike rykdom vergader waarop steeds voortgebou word. Wanneer ’n ontheemde Joodse ma met haar kinders in ’n vreemde land aankom, haal sy haar swart boekie met die name en adresse van weldoeners en hulpvaardige fa­milie, vriende en kennisse uit. Jode is nooit alleen nie en staan mekaar by.

Op ’n onlangse reis deur die Noordweste hou ons op ’n Saterdagmiddag op die Roggeveldplato tussen Calvinia en Sutherland stil by die hotelletjie op Middelpos wat saam met ’n negosiewinkel en Ford-agentskap vroeër jare lank deur die Sher-familie bedryf is. Die be­roemde Britse Shakespeare-akteur sir Antony Sher het hier op Middel­pos grootgeword.

Op die stoep vertel die huidige eienares hoe van die Shers en hulle afstammelinge elke jaar nog terugkom Middelpos toe om die goeie tye wat hulle daar beleef het, in herinnering te roep en ou Boere­vriende op te soek. Soos ontwortelde Afrikaners wat uit die buiteland kom kuier, huil hulle telkens wanneer hulle moet afskeid neem.

Maar elke jaar is die groepie kleiner.

So was dit

Подняться наверх