Читать книгу So was dit - Johan van Wyk - Страница 6
ОглавлениеSkrywersnota
Lank gelede, toe dit nog so moeilik was om te katkiseer dat ’n hele geslag plattelandse Afrikaners wat nie juis geleerd was nie dit as ’n “Boerematriek” beskou het, wou die predikant by ’n katkisant weet wat die apostel Paulus se belangrikste taak op aarde was. Dit was nadat hy Paulus se uitgebreide sendingreise breedvoerig behandel het.
Die jongeling, wat halfpad deur die langdradige uiteensetting vol onuitspreekbare name van vreemde plekke aan die slaap geraak het, het ’n rukkie nagedink. “Dominee, hy het gereis en geskryf en gereis en geskryf.”
Dit is die beste opsomming van Paulus wat ek nog gehoor het. Dis min of meer ook wat ek ’n leeftyd lank al doen. Niks in hierdie bundel sou tot stand gekom het as ek nie gedoen het wat ’n joernalis veronderstel is om te doen nie, naamlik om te reis en te skryf sodat ander kan deel in dít wat hy ervaar het. Om boonop daarvoor betaal te word – hoewel nie juis so dat jy dit kan agterkom nie – maak van joernaliswees ’n voorreg.
Maar dit maak egter nog nie van jou ’n skrywer in die ware sin van die woord nie. Ek durf my dus nie as een uitgee nie, maar ek kan beaam wat Wilbur Smith oor skryf gesê het: “Writing is my excuse for living.”
Dis ’n baie goeie verskoning, maar hy kon gerus bygevoeg het dat skryf nog nooit maklik was nie. Soos goeie wyn en goeie seks is goeie skryfwerk ’n beleë kuns, geslyp deur jare se ervaring en ’n dwingende begeerte na die onbereikbare. Hopelik skemer iets daarvan deur in So was dit.
Dankie aan my jare lange oudkollega, Hennie van Deventer. Sonder sy aanstigting en aanvoorwerk sou hierdie bundel nie verskyn het nie; sy aandrang het my onwilligheid verslaan. Ek is ook dankbaar teenoor Tobie Wiese, samesteller/redigeerder en my mede-biker op ver paaie, wie se joernalistieke vernuf net deur sy getrouheid oortref word. Toe ons mekaar by geleentheid weens ’n misverstand op die pad verloor, het hy – uit vrees dat ek in ’n ongeluk was – van Citrusdal tot op Klawer gery om my te gaan soek. Ek ken min sulke mense. En dankie aan knap Annie Olivier van Tafelberg vir haar afrondingswerk.
Johan van Wyk (jvwstop1@telkomsa.net),
Strand
Naskrif: Omdat ’n goeie storie nie deur die feite bederf behoort te word nie, bevat van die verhale, hoewel rofweg gegrond op werklike mense en gebeure, hoogstens ’n element van waarheid. Hier en daar moes ek ook die naam van ’n plaas of ’n mens verander om die skuldiges te beskerm. Die helfte van die stories het ek inderdaad by ander mense gehoor en die ander helfte is bygelieg. Joernaliste kan verskriklik lieg, vra my, maar darem só dat jy hulle kan glo.