Читать книгу Skepelinge - Karel Schoeman - Страница 11

DIE VERSONKE WÊRELD

Оглавление

En hier waar die mans op die uitseilende skepe op die punt staan om hul geboorteland te verlaat, of in elk geval die vasteland waar hulle gebore is, en in baie gevalle sonder enige waarneembare gevoelens van dankbaarheid, verbondenheid of geneentheid, inteendeel, dikwels eerder tot wedersydse verligting: hiér het die moeilikste oomblik aangebreek.

Dit is naamlik nie die skeepsreis wat hier so uitvoerig bespreek word wat eintlik van belang is nie, al het dit die essensiële voorwaarde vir die koms van die immigrante uitgemaak, en die uitreis is trouens ál wat hulle gemeen het, daardie duisende en tienduisende mans van veelvoudige herkoms, die paar maande van hul uitreis en die gedeelde lewe van bakdek, oorloop en koebrug. Met die aankoms is hulle verstrooi, matrose, soldate, ambagsmanne en immigrante, versprei, elkeen na sy eie noodlot en bestemming, slegs nog gebind deur die feit dat hulle gesamentlik verantwoordelik gehou moet word vir die totstandkoming van hierdie land waar ek twee of drie eeue later wakker lê in die nag, wakker gehou deur die gewig, die las van hul nalatenskap of die bewussyn van wát daarvan oorgebly het: voetstukke van standbeelde, die herinnering aan ou plekname, koerantberigte oor feesvierings en gedenkdienste waaraan niemand meer herinner wil wees nie, die biografieë van politici, predikante en Boeregeneraals in naslaanwerke wat niemand meer raadpleeg nie.

Wat die uitreis betref, kan mens met gerustheid veralgemeen, en met betrekking tot hul verblyf in hierdie land kan ten minste ’n buitelyn van elke afsonderlike bestaan gewoonlik met behulp van amptelike dokumentasie soos monsterrolle, boedeldokumente en die jaarlikse opgaaf geskets word. Die probleem kom by die Europese agtergrond, die wêreld waaruit hulle gekom het, die lewe waarin hul grootgeword het, want hieroor het min van hulle ooit iets prysgegee, en in baie gevalle seker ook nie sonder rede nie.

Die Nederlandse kusprovinsie Zeeland, wat so ’n leidende rol in die sake van die VOC gespeel het, bestaan grotendeels uit eilande, en was verplig om oor die eeue ’n ononderbroke stryd teen die see te voer, in die loop waarvan groot stukke land, die sogenaamde ‘verdronke lande van Zeeland’, permanent onder die water verdwyn het:

Het verdronken land in de provincie is heel verschillend. Sommige gebieden zijn helemaal verdwenen, zoals het Zuidland van Schouwen. Andere bestaan voort als schorren en slikken die bij vloed (gedeeltelijk) onderlopen, zoals het Verdronken Land van Saeftinghe in de Westerschelde. Weer andere zijn herdijkt en opgenomen in nieuw polderland—zoals Noord-Beveland.76

Oor die eeue het meer as ’n honderd Zeeuwse dorpe onder die vloedwaters verdwyn, en so ook ’n enkele stad, Reimerswaal, op sy dag die derde stad in die provinsie. Met ingang van 1530 is die land rondom die stad in ’n reeks verwoestende storms en oorstromings heeltemal oorspoel, in 1557 het die stadsmure ingestort, en teen die begin van die agttiende eeu het ál wat nog oorgebly het, ’n eilandjie met ’n paar bouvalle, ook onder die golwe verdwyn. In 1978, berig Wikipedia, ‘bouwde Rijkswaterstaat een schutsluis (de Bergse Diepsluis) op een van de rijkste archeologische monumenten van Nederland, als onderdeel van de Oesterdam. De restanten liggen vanaf die tijd onder een laag asfalt.’77

Maar mens kan in Zeeland verder teruggaan as dit, na die Romeinse nedersetting Ganuenta aan die suidelike oewer van die Schelde. Hier het daar ’n tempel ter ere van die godin Nehalennia bestaan waar talle seereisigers tussen die Ryngebied en Britannia vir ’n goeie reis kom bid het, totdat dit omstreeks 300, ná die Romeinse tyd, ook onder die golwe verdwyn het.

In 1970 het ’n plaaslike visserman stukke van ’n Nehalennia-altaar in sy nette na die oppervlak gebring, en doelgerigte ondersoek op die plek het oor die volgende paar jaar ongeveer 240 altare, beelde, votiefstene en restante van bouwerk opgelewer; ’n ander bron verwys na 330 altare wat teen 2003 hier teruggevind is, ‘naast negen grote godinnenbeelden, waarvan drie bijna volledig’.78

So, by wyse van spreke, lê die Europese verlede van elkeen van daardie Kaapse immigrante van weleer intak onder die water, altare, votiefstene, boufragmente en groot godinnebeelde, ingebed in modder, slik en gruis, onherwinbaar, onredbaar, vir alle praktiese doeleindes vir goed buite bereik.

Instort, ineenstort, in duie stort, inkalwer. Waarom resoneer die woorde só in my verbeelding?

Het volk dan juichte, als zij met de bazuinen bliezen; en het geschiedde, als het volk het geluid der bazuin hoorde, zo juichte het volk met een groot gejuich; en de muur viel onder zich, en het volk klom in de stad, een ieder tegenover zich, en zij namen de stad in.79

Oorstroom, oorspoel; stortvloed, watervloed, oorstroming.

dat die nag

soos watermure oor my vloei …80

’n Verbygaande vraag, ’n verbygaande gedagte wat skielik by my opkom, maar eggo roep eggo op, soos waters wat teen mekaar raas, en aanhaling is aan aanhaling gekoppel in bykans eindelose string.

Oorstroming. Oorspoeling. Oorgawe.

A condition of complete simplicity

(Costing not less than everything) …81

Ek lees nie meer in al daardie boeke wat ek oor die jare hier opgegaar het, slaan niks meer na nie; wat ek self weet, wat ek self onthou, is al klaar genoeg, méér as genoeg, om my heelnag besig te hou, wakend en alleen in hierdie slapende stad.

In die verslag oor die ondersoek wat gedoen is om die presiese ligging van die VOC-skip ’t Vliegend Hart onder die seebodem te bepaal, lees ek van side-scan sonar images, multibeam images en seismic networks, om veiligheidshalwe maar by die Engelse terminologie te bly. ‘In marine seismic imaging,’ verneem ek hier,

an acoustic source and receivers are towed behind a ship. The source emits an acoustic pulse that travels through the water and is reflected from the seabed and subsequent layers of the subsoil. The reflected signal then travels back through the water to the receiver. The received signals are recorded, and as the ship constantly moves, this will result in a vertical cross section through the seabed.82

Oorstroom, oorspoel, oordek lê die verlede daar, aanwesig maar onsigbaar en onbereikbaar in die donker dieptes onder die glansende watervlak nes enige wrakstuk van ’n skip, bedek met slik en modder of ingebed in asfalt, maar in hierdie geval onredbaar buite die bereik van enige tegniese apparaat. Dog skryf is ’n eensame werk waarvoor daar min hulpmiddels is, en in teenstelling tot al die moderne apparatuur waaroor ek lees, moet ek dink aan die argaïese Engelse idioom van ploughing a lonely furrow (‘het alleen opknappen’ is die Nederlandse ekwivalent, moet ek uitvind, en op sý manier is dit seker ook akkuraat genoeg), en hiér kan slegs geheue, inlewingsvermoë en verbeelding nog die buitelyne aftas en onduidelike seine uit die diepte opvang.

Maar dit is tyd om terug te keer na daardie eerste immigrante, daardie vroeë burgers of koloniste met hul versweë en versluierde Europese verlede wat bedolwe en oordek lê onder die water, onder die aanslibsel van die eeue. Voordat die beeldspraak al te verwikkeld en verwarrend raak, sou dit seker egter prakties wees om te erken dat die probleem hier van literêre en nie marine aard is nie, en in dié trant verder werk.

Die probleem is literêr, en dit is dus nodig om literêre middele in te span, en as ’t ware ’n reeks Frankenstein-monsters as skimsubstitute in die lewe te roep wat by gebrek aan outentieke woordvoerders darem in hul plek kan dien, namens hulle optree en met buiksprekerstemme gepaste antwoorde op gestelde vrae lewer.

I seemed to have lost all soul or sensation but for this one pursuit. It was indeed but a passing trance, that only made me feel with renewed acuteness so soon as, the unnatural stimulus ceasing to operate, I had returned to my old habits. I collected bones from charnel-houses and disturbed with profane fingers the tremendous secrets of the human frame. In a solitary chamber, or rather cell, at the top of the house, and separated from all the other apartments by a gallery and staircase, I kept my workshop of filthy creation; my eyeballs were starting from their sockets in attending to the details of my employment. The dissecting room and the slaughter-house furnished many of my materials; and often did my human nature turn with loathing from my occupation, whilst, still urged on by an eagerness which perpetually increased, I brought my work near to a conclusion.83

Wat is skryfwerk anders as dit; wat is énige skeppende werk anders as dit, teensin, weersin, afkeer en al?

Hulle herinnerings dus, al is dit noodgedwonge skimme en fantasie: dit wat hulle met hulle saamgebring het op die skepe en saamgedra het in die binneland, of in elk geval ’n redelik oortuigende benadering daarvan.

—Die valkejag. Van agter ’n heining, uit die skuiling van ’n modderige sloot, neem die seun waar, onsigbaar, die dames en here met hul perde, hul wit hande en leerhandskoene, die selfversekerde stemme waarmee hulle opdragte gee aan knegte, asof hierdie land in sy geheel aan hulle behoort, wat sover dit hierdie landgoed en hierdie jaggebied betref, toevallig ook die geval was: die heer en sy vriende het kom jag. Om verby te kan jaag soos die ruiters, dink hy by homself, om weg te kan peil soos die valk, weg van modderige paaie en slote, van rokerige kroeë, die groot wit kerk en die dreigende galm van die predikant se stem.

Ék ook, ék ook, het hy gedink, verskole tussen braamtakke en dooie blare in die modderige sloot, en nie verstaan wat hy bedoel nie, nie daardie geweldige hartstog en begeerte en verterende ambisie verstaan nie, so buite verhouding was dit tot alles wat deel van sy daaglikse lewe op daardie verslae dorp uitgemaak het. Jare later aan die Kaap wanneer die Goewerneur met sy rytuig en lyfwag verbykom en hy langs die pad moes bly staan tot die klein stoet verby is, moes hy by die aanskoue van daardie afgeskaalde heerlikheid dink aan die jagters van sy jeug, of wanneer ’n besoekende kommissaris deur die gesamentlike koloniale bevolking by die hawehoof ontvang word met ’n vertoon van wit linne, kant en pluime. Self het hy nooit ’n wit hemp besit nie.

Dít was bowenal die dinge wat hom bygebly het; en almal wat daardie lewe eens in Europa geken het, sy dit van naby of op ’n afstand, sou dit later in die verre Afrika met wisselende mate van welslae probeer naboots, namaak en in ’n slawegemeenskap omtower, en hul vrouens nog harder. Die Goewerneur se verjaardagviering in die Kasteel, die ontvangs van ’n kommissaris by die hawehoof, die rituele kerkgang Sondag, en daardie hele ritueel van deftige klere en statige gebare, eens waargeneem vanuit die skuiling van ’n modderige sloot.

—Die oorvol, benoude klaskamer, die stank van ongewaste liggame, die skoolmeester vergeefs besig om orde te probeer handhaaf. Seuns in fries- en linnebaadjies, met ongekamde hare en kaal voete of op houtklompe. Skelle kinderstemme wat psalms leer, dreunende kinderstemme besig om verveeld, onverskillig, onbegrypend en ongeïnteresseerd, alfabet, vermenigvuldigingstafels of Tien Gebooie voort te dreun.

As kinders het hulle koeie opgepas, brandhout en riete aangedra, turf aangery, are op die land opgetel in die oestyd en akkers bymekaargemaak om as voer vir die ganse verkoop te word. Sodra hulle groter word, moes hulle egter by die huis en op die boerdery hul deel van die werklas dra, takke saag, riete sny, slote grawe, en was daar geen tyd meer vir leerdery nie, behalwe miskien in die winter.

Dit was die uiteenlopende aard van die werksaamhede, die nimmereindigende reeks take waarmee daar gepoog moes word om ’n karige bestaan te maak en die noodsaak vir gedurige improvisasie en gedurige meet en pas wat hom en talle boereseuns soos hy later aan die Kaap sou help om in hul sukkelbestaan op soortgelyke wyse van dag tot dag te oorlewe. Moderne skrywers het dit oor die ‘unspecialized, indeed improvised, peasant household economy’, die ‘unspecialized nature of the peasant’s labor’, en die ‘low marginal returns to the peasant’s labor on the ill-drained, oft-flooded fields’.84 Húlle het egter die praktyk leer ken, nie die netjiese teorie nie; in sy hande en voete, rug en bene, en in sy oë, brandend van slaaploosheid.

—Die seun van ’n venter wat gedurig in die omgewing op pad was om kleinhandel met die boere te dryf in band, garing, plaaslik gebreide wolkouse, ongebleikte linne en veerpenne. Hy gaan weg, dink hy, soos daardie mense by wie sy vader soms aan huis kom, gedwee en op sy plek, en wat soms vir hom, die kind, ’n kleinigheid of ’n soetigheid stuur.

Hy gaan ook weg, dink hy, soos sy pa, wat deur die land swerf en die grootste deel van die jaar afwesig is met sy venterspak; maar tog ook nie so nie, nee, nie soos hý hier in die kring van plaaslike dorpies en boerderye, van vertroude weilande, bosse en heideveld nie. Vérder.

—Die seun van ’n predikant, van ’n notaris, ’n geleerde man, ’n gegoede man, en lid van die notabeles van daardie klein gemeenskap, wat van tyd tot tyd in ’n eie of gehuurde rytuig weg is stad toe vir sake, na Arnhem, Utrecht, Deventer.

Die aardbol in sy vader se kamer, tussen die swaar foliante met hul leerbande, vir die kinders alles eweseer verbode, sodat slegs die name van verre en eksotiese lande in onstilbare verrukking en verlange op die rûe gelees kon word: Nauwkeurige beschryving van de Guinese Goud-, Tand- en Slave-kust; Naukeurige beschrijvinge der Afrikaensche gewesten van Egypten, Barbaryen, Libyen, Biledulgerid, Negroslant, Guinea, Ethiopiën, Abyssienie; Beschryvinghe van de gantsche custe van Guinea, Manicongo, Angola, Monomotapa. En nóg was dit maar net Afrika, nóg was dit nie die Ooste nie.

—Die koster het ’n paar boeke besit waarin ek soms mog lees, onder sy oplettende oog, in die enkele rommelige vertrek wat hy bewoon het, boeke oor skeepsreise en verre lande, alhoewel hy self kruppel was van die rumatiek en nooit veel verder gekom het as die kerk nie. ‘Het Koningryk Cananor,’ het ek gelees,

brengt suiker, gember, kaneel, amber, peper, robynen, granaten en hyacinthen voort. Het Koningryk Calicut brengt peper, gember, aloë, ryst en boomwol voort; ook zyn er papegaaijen en apen in menigte. Het Koningryk Golconda is groot en magtig, en ook ryk in ryst, gierst, vee, edelgesteenten en zout.85

‘Het Koninglyk Paleis is prachtig,’ lees ek van die stad Golconda, ‘waar zich eene grote menigte ontuchtige vrouwspersonen ophoud’, terwyl die ou man sit en hoes en spoeg voor die karige vuur, en dan het ek opgekyk en die modderige dorpstraat buite gesien, die smidswinkel en die huisies weggeduik agter hul heinings onder die lae winterlug. Wie by ons het in daardie jare porselein of syklere besit, wie het ’n diamant selfs maar net gesién, laat staan nog ape of papegaaie?

Was dit altyd winter? Dit is ál wat ek onthou, met die bitter wind wat reën oor die vlak land aanwaai. Was ons altyd koud, altyd honger?

—Die kantoor, die geboë hoofde van die klerke, die gekras van veerpenne. Die kwynende lig op ’n wintermiddag, en die ontoereikende flakkering van kerse. Die uitsig buite die venster verdonker, los op, verdwyn. Slegs onrus bly, hunkering, verlange: Goud-, Tand- en Slawekus, Egipte en Barbarye, Ethiopië en Abessinië, Angola en Monomotapa.

Die roerlose koue van die winter, jou hande sonder gevoel. Soms, wakker van die koue in die nag, het jy gemeen jy sal nooit weer warm word nie. Die ou vrou wat Mooye Neel genoem is, is een oggend dood gevind in haar hutjie, tussen die opgehoopte vodde wat haar bed uitgemaak het, dood aan die koue, het sommige mense gesê, en ander weer van die drank. Vroue wat hout sprokkel in die bos en kinders wat huis toe kom met bondels brandhout op hul koppe. Mans wat op die landgoed strikke stel vir hase of fisante om kos vir hul gesinne te kry, en voor die regter gesleep of deur die landheer se wildopsigter informeel afgeransel word. Soms is een van hierdie mans as strafmaatreël op ’n skip van die Oos-Indiese Kompanjie gesit om in die Ooste so goed doenlik reg te kom of nié, al na gelang van die geval.

Maerten Jansz het na die Ooste gegaan, nooit teruggekom en nooit van hom laat hoor nie; sy vrou het alleen gewoon in ’n huisie aan die rand van die dorp en is spottend die Weduwee genoem. Allert Jansz het as matroos na die Ooste geseil en nooit teruggekom nie, maar daar is vertel dat hy met ’n swart vrou getroud is, ’n dogter van een van hul prinse, en baie ryk geword het. Praatjies vir ydele ure, saans voor die vuur of in die kroeg. Ek was ’n kind toe ek die eerste keer van hierdie dinge bewus word, maar ek het alles gesien en gehoor, ek het dit alles onthou. Dit was geen plek vir my nie.

—Verkwiste jare op universiteit, in Harlingen, in Franeker, in Groningen. Gesang en gedrink in kelderlokale, gesang op straat, lank ná middernag, dronkemansrusies onder ’n straatlantern. Studente wagtend op geld van die huis wat nooit gestuur word nie, toegewikkel in mantels in ’n onverwarmde kamer, voor ’n leë kaggel. Van studie het daar nie veel gekom nie.

Of anders miskien in die geskreeu en rumoer en klokkespel van een of ander stad, om oor die rand van ’n brug te leun en in die olyfgroen water van ’n grag of ’n vaart neer te staar, te kyk na die skuite en bote wat verbygaan en die bedrywigheid rondom die ophaalbrûe gade te slaan; om op ’n markplein teen ’n muur aan te leun, tussen bedingende mans, kywende vroue en markafval. ’n Kamer in een of ander donker en onwelriekende stegie, op ’n solder, bokant ’n stal, los werkies as kruier of bode, bemiddelende takies in een of ander transaksie van twyfelagtige aard wat met gesteelde goedere of smokkelware te make het, met diefstal uit ’n pakhuis, inbraak in ’n leegstaande huis. Los werkies as sleper of kruier of laaier, as skinker in ’n goedkoop taphuis of kombuiskneg in ’n bordeel. Maaltye in obskure eethuisies; meestal honger, dikwels koud, dikwels deurweek. ’n Pyp tabak, ’n glasie brandewyn.

Kom en gaan van mense, kruiers, matrose, mans met pruike op pad na beraadslagings in Oos-Indiëhuis, prostitute met opsigtige maskers en sluiers. Pakhuise gevul met die bedwelmende swaar geur van neut of kaneel en skatte van onberekenbare waarde. Samedromming van toeskouers op die Dam wanneer misdadigers gebrandmerk of gegesel word, op brûe wanneer ’n liggaam of ’n lyk in die water ontdek, ’n vermeende sakkeroller tussen die voetgangers gevang is. ’n Bedelaar wat op ’n straathoek ’n ballade oor die nuutste veldslag voordra, musiek van ’n lier of ’n skel viool. Dobberend, drywend, ’n man met geen eie stem of gesig nie, slegs ’n naam van twyfelagtige geldigheid, dobberend, drywend, slenterend deur die stad, besig om van dag na dag te probeer oorlewe, drywend al hoe nader aan die werkingsveld, die onweerstaanbare magneetveld van Oos-Indiëhuis, aan die Montelbaanstoring waar die ligters wag om die mans op te laai, na Texel en die oop see, na die Tafelbaai en die aankoms, die seevoëls en die berg.

Soms onthou ek nog Latynse vervoegings, Griekse frases, wat op niks meer van toepassing is nie. Soms, skielik, onverwag, kom verlange tog, kortstondig maar intens. Die klompe op ’n ry in die portaal van die kerk, voor die deur van die skool; die gekletter van klompe oor die plaveisel. Die mense in hul donker mantels wat ná die Sondagdiens buite tussen die grafstene vergader, onder die kaal bome, om nuus oor bure en afwesiges uit te ruil; almal seker lankal dood; Andries Muurlinck en Aeft Pieters, Hiltjen Gijsberts en Melis Thijsz; hul stemme kom van ver. Die silwer skynsel van die ysvlak in die dalende skemer van die Sondagaand.

Buite die venster het die dag donker geword, die lang kantoordag loop ten einde, die landskap los op in duisterheid, die herinnering in al sy helderheid verdwyn. Die wind en wolke, die rimpeling van die water, die skittering van die lig. Die ry knotwilge langs die sloot, die ry popliere langs die pad. Veldblomme in die lente. Die wieke van die windmeulens wat skielik lewe kry wanneer die wind opkom, en krakend begin draai. Nooit weer nie.

Die lang kerkdienste op Sondae, die lang preke, die verveling van die kind wie se voete nie eers die vloer geraak het nie waar hy in die hoë kerkbank sit en die rouborde teen die muur bestudeer om wakker te bly. Die lang geïmproviseerde gebede by die huis, die lang stigtelike voorlesings, die lang uittreksels uit die Bybel en kategismusse wat van buite geleer moes word om ydele jong gemoedere besig te hou. Die massiewe volume met die kategismusse wat Jacobus Koelman, Dienaar des Euangeliums, versamel het, gevolg deur twintig voorbeelde van Godsalige en vroegsterwende kinders. Nóg kan ek hele passasies daaruit aanhaal, maar van wat dit beteken, weet ek vandag so min soos toe. Soms verras die woorde my egter nog altyd waar dit onverwag in my geheue opkom en herhaal ek dit by myself by die skape in die veld of op pad na een van die veeposte te perd.

‘Gaat ergens in een hoek,’ het ek daar geleer en onthou ek nou weer waar ek oud word in ’n vreemde land,

en werpt u neder voor den Heere, en bidt Godt dat hy u gevoelig maake van uw verloorene staat van natuure, en van de uitneementheidt en noodzaaklijkheidt van Christus; zegt: Heere, geeft my ene verbrooken hart, verzacht en smelt my; laat alles gaan in de wereldt zo gy wilt, zo ick maar bequaam mach worden om Christus te waardeeren!86

Dit het my bygebly, woorde en vrome frases; maar wat dit beteken, het ek nooit geweet en is ook nooit vir my verduidelik nie.

Toe ek veertien was, het ek van die huis weggeloop: ek het gewag tot die boerekarre opnuut begin inkom stad toe as bewys dat die paaie weer begaanbaar was, want sóveel gesonde verstand het ek wel besit, alhoewel ek verder in onnoselheid en onkunde die reis onderneem het, onbewus van die moontlike gevare wat my inwag, en oor die hele lang pad beskut en beskerm: dat Hij Zijn engelen van U bevelen zal, en dat zij U op de handen zullen nemen, opdat Gij niet te eniger tijd Uw voet aan een steen aanstoot. Met boerewaens het ek saamgery na Harlingen, en ’n skipper het my op sy skuit oor die Zuiderzee na Amsterdam geneem.

Een van die kinders van die burgemeester van ’n provinsiestad, waar die gesin groot aansien geniet het, is na die Latynse skool gestuur, en vervolgens na Hamburg om ’n handelsopleiding te volg. As gevolg van ’n reeks episodes en insidente, sowel in Hamburg as Nederland, wat deur die familie verswyg is, en dreigende skandale wat hulle afgekoop het, is hy by die VOC in diens geneem en met die rang van Assistent na die Kaap gestuur. Hier is hy agtereenvolgens getroud met drie plaaslike vroue, die dogters van gesiene burgers, wat een ná die ander in kraambed oorlede is, en het hy gestadig in aansien en rykdom toegeneem.

—(Op sy dag was hy veral bekend vir die aantal buite-egtelike kinders wat hy met slawevroue gehad het, sy eie en dié van sy bure, wat hy meestal op ’n manier as syne erken het deur sy lukrake en impulsiewe geskenke aan die moeders. Die biografiese woordeboek ken hom as ouderling, kaptein in die burgermilisie en burgerraad, wat op sy dag aanspraak kon maak op die titels de Edele, de Manhafte en de Achtbare Heer, maar sê niks oor die kinders nie, want dit was ’n naslaanwerk vir Afrikaanse lesers, wat feite gesoek het en geen irrelevante detail nie. Wát van hulle geword het, is deurgaans onbekend.)

Toe ons in Amsterdam kom, het ek na die IJ gegaan waar die skepe met hul hoë maste voor anker lê, al langs die oewer van die groot rivier, dobberend op die water. Ek onthou die geur van teer en speserye, die wind langs die rivier, die water wat glans in die son. In die kerk by ons by die huis is daar soms gebid vir mans uit ons stad of ons gemeente wat in die Ooste werk gekry het, en dit was waar ék ook wou wees, so ver doenlik van daardie stad en hierdie mense. Ek sal na die Ooste gaan of na Afrika, towerwoorde, towername: dit het ek geweet. As ek nog te jonk was om as matroos uit te seil, dít het ek ten minste ook geweet, kon ek nog altyd as skeepsjonge gaan. En só is ek dus weg, al het ek nooit van Koelman se stem weggekom nie, alleen tussen die skape op die veld.

—(’n Lyk op die veld, waar dit nooit gevind is nie, maar tussen die renosterbos vergaan het.)

In die stad het ek ’n bed gehuur by ’n arm gesin in ’n kamer in ’n steeg naby die Oude Kerk, in ’n hoek van die kamer waar hulle self gewoon het en ek vir agt uur elke nag kon slaap. Baie gou het ek mense leer ken, op brûe in gesprek verwikkeld geraak met kêrels wat gesien het dat ek nuut en vreemd is, en deel geword van die bende van Freek Spanjaart, een van die gróót mesvegters van die tyd. Almal in Amsterdam het hom geken en uit sy pad gebly wanneer hy met sy maats op straat of in ’n tappery verskyn. Óns, die jonger mans en seuns wat saam met hulle optrek, het groente en vrugte en ander koopwaar van stalletjies en buite winkels gesteel, en sodoende die hele groep onderhou.

Toe is Freek egter in ’n mesgeveg dood, een wintersnag onder ’n straatlantern naby die Lommertsbrug doodgesteek, en daarna is ek twee keer by die stelery gevang en op die Dam saam met ander veroordeeldes uitgelooi. Gelukkig het hulle my nie ook gebrandmerk nie, maar ek is toe weg uit Amsterdam na Breda en Middelburg. Nadat my maat met wie ek saamgewerk het in Breda opgehang is, het dit beter gelyk om weg te kom uit die land, want hulle het van my geweet, en dis toe dat ek in Middelburg by die Kompanjie aangesluit het, matroos vir sewe gulden per maand. Niemand weet van hierdie dinge, nie my vrou en kinders nie, en my agterkleinkinders sal eendag kan glo dat hulle van ordentlike mense afstam, deftige mense selfs as hulle daarna voel. Die littekens het ek nog op my rug, maar hiér het ek nooit nodig gehad om my hemp uit te trek nie.

Toe ek klein was, het ons geen kombers in die huis gehad nie; óns kinders het in ons klere geslaap, op ’n bondel saam in die bedstee, en só probeer warm bly. Toe ons ouer word, is die seuns uitgestuur om êrens op ’n markstalletjie iets te probeer steel, liefs kos, maar anders iets wat dalk verkoop kon word by die pandjieswinkels in die Jodebuurt. Die kermis was natuurlik meer lonend. Ek onthou nog al die markte van Amsterdam, Botter- en Kaasmark, Vis-, Turf-, Osse- en Beestemark, die stegies waarlangs ons kon wegkom as ons betrap word, die binnehoffies waar ons kon wegkruip. Klokkespel. Stemme, venters wat roep. Ek onthou die voetstappe op die trap, die ander bewoners van die huis waar ons gebly het wat kom en gaan. Snaaks wat mens alles onthou; daardie steil, donker trap byvoorbeeld.

Toe ek so tien of twaalf was, het ek werk gekry by die hoere wat onder in die huis gebly het, los werkies, op krediet drank vir hulle en hul besoekers by die taphuis haal en die glase en kanne uitspoel, sulke dinge. Dit was daar dat ek vir die eerste keer my gesig in ’n spieël gesien het; maar hoekom sou ek myself ook wil sien? Daar was maar net drie of vier vroue, en dit was meestal seemanne wat by hulle gekom het, naby die Zeedijk, vreemde mans met snaakse klere en oorringe, bruingebrand. Hulle het baie gesing en geskreeu en geld rondgesmyt, en by hulle het ek vir die eerste keer van Afrika gehoor, die naam self en die verhale van swartmense en leeus en goud. Oor Indië het hulle seker ook gepraat, maar Afrika was die eerste vreemde geweste waarvan ek ooit gehoor het, daar in die hoerhuis tussen die leë glase en braaksel en gevloek.

—(’n Soldyboek is vir hom uitgemaak, as matroos wat in diens van die Kamer Amsterdam uitgeseil het, maar dit verraai min genoeg: Reden uit dienst: Onbekend. Waar uit dienst: Kaap de Goede Hoop. Is hy in die hospitaal dood en in die matrosekerkhof begrawe sonder dat ’n rekord daarvan bewaar gebly het, of het hy gedros, die binneland in? Dit is egter onmoontlik om vas te stel wáár in daardie dor en klipperige wêreld hy hom later bevind het en vermoedelik ook dood is.)

Ek het ’n vrou gehad wat in Deventer gewoon het toe ek weg is, maar van háár het ek nooit weer gehoor nie.

—Ek het ’n vrou wat in Amersfoort woon.

—’n Vrou in Zeist.

—’n Vrou in die Anjelierstraat in Amsterdam, met vier of vyf kinders, maar ons was nie régtig getroud en ál die kinders was ook nie myne nie.

—My vrou is dood, so het hulle vir my geskryf, en my kinders is in die weeshuis in Amsterdam. In Delft. ’n Paar van die kinders is glo dood.

—My ouers is dood, kort ná mekaar, in die winter nadat ek weg is. Daar is niemand meer nie, geen rede om te wil teruggaan nie.

Die uiteenlopende sterftes. Die onderskeid in die wyse van die dood.

Deur Boesmans vermoor op pad na die landdroskantoor; sy lyk het daar in die pad bly lê. Sy perd is nooit teruggevind nie.

Dood as burgerraad en ’n baie ryk man, wat plase vir al sewe sy seuns kon koop. Self die eienaar van vyf plase en veeposte, 3000 skape en 27 manslawe.

Dood aan kanker, ná ’n lang reeks slaaplose nagte by kerslig, kermend van die pyn.

Gedood deur ’n Boesmanpyl, op die wakis met die leisels in sy hande.

Tydens ’n jagtog in die berge verdwyn, en niks van hom is ooit teruggevind nie, perd, saal en toom of geweer.

Dood in armoede. Het hy dan nie eers ’n geweer besit nie? Ex nihilo nihil fit, het een of ander amptenaar in die Weeskamer op die inventaris aangeteken.

Op sy dag bekend as leier van strafkommando’s, ’n harde werkgewer en man met ’n vinnige humeur. Daar is nog restante van kleimure wat as dié van sy eertydse opstal uitgeken word, maar met elke reënbui spoel dit verder weg. Op die rant bokant die huis is daar ’n hoop klippe waarvan beweer word dat dit sy graf is, maar dit is al. Later het een van sy nasate wat sy lewe nagevors het, die plek besoek en niks meer as dit gevind nie; dit is byna asof hy nooit bestaan het nie.

Op sy dag het hy elf strafkommando’s aangevoer en is hy die ‘Groot Kommandant’ genoem; ouer geskiedenisboeke meld nog die aantal Boesmans wat hy na bewering self geskiet het, maar deesdae word hierdie statistiek gewoonlik agterweë gelaat. Dit is trouens selde genoeg dat sy naam of sy eertydse prestasies nog genoem word. Byna asof dit deur verswyging weggedink of ongedaan gemaak sou kan word.

Dood op ’n jagtog in Boesmanland.

Deur sy slaaf vermoor, wat ter dood veroordeel en geradbraak is.

Het sewe slawe besit, van wie vyf oor die jare na bewering geheimsinnig dood is.

Sy boedelinventaris meld slegs ’n ryperd, ’n geweer en ’n ou wa, geen trekdiere nie.

Dood aan tering; sy boedelinventaris verwys na vrou, kinders en timmermansgereedskap, maar geen slawe nie. Sy gesin is jare lank deur die diakonie onderhou.

Dood in ’n riethuisie êrens in die binneland. Sy weduwee en hul slaaf het saam ’n graf in die klipperige grond uitgehol en die lyk soontoe gesleep.

Ná sy dood het Boesmans die osse doodgemaak, die veewagter vermoor en die skape weggedrywe, en sy weduwee het die naaste bure te voet met haar kinders bereik.

’n Lyk in die pad.

’n Lyk teen die rant tussen die rotse.

’n Lyk van sy klere beroof en in ’n ystervarkgat verstop.

Deur ’n perd doodgeskop. Onder ’n wawiel geval. Dood waar hy die geweer laai, waar hy korrel, waar hy die sneller trek. Tydens ’n jagtog deur ’n leeu oorval. Tydens ’n jagtog deur ’n olifant bestorm. Verdrink toe die Gourits afkom. In die Groot Visrivier verdrink. Verdrink toe hy ná ’n storm deur Grootrivier probeer kom op pad terug van ’n jagtog. Dood met wrok of hoogmoed in die hart, met bloed op die hande.

Dood, een ná die ander, die band met Europa verbreek, die herinnerings aan die vreemde, die vorige, die verlede uitgewis. Saad in die nuwe aarde.

Skepelinge

Подняться наверх