Читать книгу Skepelinge - Karel Schoeman - Страница 8

SEEKASTELE

Оглавление

Die seilskepe van die sewentiende en agttiende eeu was opgetimmer uit planke rondom ’n houtraamwerk, met ’n hoog opgeboude voor- en agterskip, en is deur middel van plankvloere verdeel in ’n reeks dekke, soos verdiepings die een bo die ander opgestapel, onderling verbind deur middel van luike, trappe, steil steektrappe en klimpale.

In 1614 het die grootste klas skepe wat deur die VOC gebou is ’n hoogte van 150 voet, ’n breedte van 33 voet en ’n holte van 13 voet gehad, waarby die Amsterdamse voet gelyk aan 28,3 sentimeter as standaard gebruik is. Met ‘holte’ is die ‘hoogte’ of ‘diepte’ van die romp van die skip bedoel, of effens meer vakkundig uitgedruk, die ruimte tussen die bodek en die bokant van die kiel.

In 1626 is ’n maksimumlengte van 160 voet egter goedgekeur, en die Batavia wat eerlank voor die kus van Australië skipbreuk sou ly, is dieselfde jaar gebou met hierdie lengte, ’n breedte van 36 en ’n holte van 12½ voet, alhoewel die onafhanklike Kamer Zeeland vir skepe van 170 voet verantwoordelik was.

Gesien die hoë eise wat aan hulle gestel is, was die skepe noodgedwonge swaar, stewige konstruksies, en die wande van die romp, vanaf die huidplanke aan die buitekant tot die beplanking aan die binnekant, die sogenaamde wegering, was byna ’n halwe meter dik. Hulle was voorsien van twee of meer maste met ra’s of dwarshoute wat die seile gedra het, en ’n ingewikkelde stelsel van toue, die want, touwerk of tuigasie, het deels gedien om die maste stabiel te hou en dit deels moontlik gemaak om die seile te bedien.

Wanneer dit behoorlik onderhou is, kon so ’n skip vir meer as tien jaar diens lewer en drie of vier retoerreise onderneem. Die rekord word skynbaar gehou deur die Meijenburg, wat in 1713 deur die Kamer Zeeland gebou is en altesaam elf retoerreise afgelê het.

Die minimumwaarde van ’n nuwe skip in hierdie kategorie is bereken op sowat 80 000 gulden vir die romp, 4000 gulden vir die takel- of touwerk, en 200 gulden vir die ankers.

Hierdie seilskepe was groot krakende, kreunende, wiegende, deinende houtkonstruksies, donker, vogtig, kloustrofobies en benoud vir diegene wat dit vir maande aanmekaar moes bewoon, met rotte in die donker hoeke, en gevul met die stank van afvalwater, en meestal ook van siekte en ekskrement. ’n Era wat nog nie so ’n uitgesproke natuurgevoel besit het nie, en sy bewondering eerder vir ’n ryperd of ’n degen bewaar het, het behoorlike waardering vir vakmanskap besit, en ’n sierlik gekonstrueerde, deskundig getuigde en funksioneel seilende skip kon ewe goed bewonder word, soos die ‘cloecke schip’ Hellevoetsluus waarvan die Bataviase Dagregister in 1678 meld dat dit die uitreis in 4½ maande afgelê het. ‘Kloek’ was ’n woord wat aan die Kaap veral ten opsigte van slawe gebruik sou word: ‘een kloeke mansslaaf’.

So lees mens ewe goed van die ‘fraai nuwe skip Azië’ of van ‘’t schone Retourschip d’ Eendracht’, soos dit in die resolusies van die Kaapse Politieke Raad genoem word, terwyl Wouter Schouten, skeepschirurgyn in diens van die VOC, dit in sy treursang op die ryk retoervloot van 1662 wat in ’n storm in die Indiese Oseaan omgekom het, het oor ‘schepen als kercken, ieder om ’t schoonst en van de grootste welck ooyt Nederlanders op de wateren voerden’.

Terwyl die werksaamhede van die ryk en flambojante Kamer Amsterdam nouliks as ‘tipies’ van die VOC beskou kan word, illustreer dit op doeltreffende wyse die wye verskeidenheid vaartuie wat in hierdie tyd beskikbaar was. Onder die meer as ’n honderd skepe wat hy oor die tydperk 1656–88 gebou het, was naamlik fluite, jagte, katte, fregatte, hoekers, pinasse, spieëlskepe, galjote en hekbote, waarvan die lengte tussen 65 en 170 voet gewissel het.

Sover dit die VOC betref, is bowenal gebruik gemaak van groot spieëlskepe, die Oosindiëvaarders by uitstek, wat in die glorietyd van die Kompanjie as sy retoerskepe gedien het, vragskepe vir die skatte van Asië wat na Europa teruggebring moes word, gekenmerk deur die plat, reghoekige afsluiting aan die agterkant wat die spieël genoem is, ryk versier met uitgesnyde beelde en ornamente, tritons, saters, dolfyne, leeus, gode en godinne, ranke, slingers en gierlandes, en skitterend met verguldsel.

’n Ander gewilde skeepstipe was egter die fluit, ’n vragskip wat goedkoop was om te bou en te bedrywe en ’n aansienlike laaivermoë gehad het, sodat dit in die Ooste op groot skaal gebruik is om rys, peper en graan te vervoer.

Die uitseilende skepe van die VOC was swaar beman, aangesien hulle naas hul eie bemanning ook nuwe werknemers vir diens in die Ooste vervoer het, met inbegrip van amptenare, ambagsmanne, matrose en soldate. Op die uitreis moes daar ook voorsiening gemaak word vir dikwels beduidende sterftes as gevolg van skorbuut en ander siektes onderweg, en vanweë die hoë sterftesyfer in die Ooste was daar ook nooit so baie terugkerende soos uitseilende personeel nie. Daar is selfs sprake van twee keer soveel bemanningslede op skepe van die VOC soos wat op die Europese vragvaarder gebruiklik was, en drie keer soveel op sy uitseilende soos op die retoerskepe, in albei gevalle om vir die waarskynlike verliese voorsiening te maak.

Die gemiddelde besetting vir ’n groter skip was 180 man, alhoewel die syfers kon oploop tot 300. Toe die Vlissingen vroeg in 1734 uitseil, was daar 182 mense aan boord, saamgestel uit onder andere 123 seemanne, 51 militêre en 7 ambagsmanne, maar toe die skip in 1747 op die uitreis spoorloos verdwyn, het die bemanning daarenteen 227 bedra, waarvan 139 seemanne, 60 man militêre personeel en 4 ambagsmanne, in hierdie geval ’n smid, 2 messelaars en ’n timmerman.

Natuurlik moes die skepe voorsien wees vir voldoende voorrade vir al die honderde opseilendes vir ’n tydperk van meerdere maande, veral groot lêers met water wat in die ruim van die skip bewaar is, en materiaal wat onderweg vir herstelwerk benodig sou kan word, soos ekstra seile, maste en ander houtwerk.

Vir die werksaamhede van die Kompanjie in die Ooste is gemunte en ongemunte goud en silwer saamgeneem, in hoeveelhede wat oor die jare gestadig toegeneem het, die ekwivalent van meer as 8 miljoen gulden in totaal oor die dekade 1650–60, en meer as 29 miljoen in 1690–1700.

Ook het die skepe voorrade gebring vir die Europeërs wat die Kompanjie se handelsposte in die Ooste beman het, Europese stowwe waaruit swaar Europese klere gemaak kon word, leerskoene, skoen- en soolleer, manshoede, vate met Franse, Spaanse en Rynwyn, vate met Duitse bier en met ingemaakte vleis en spek, vaatjies Hollandse botter en kaas, skryfbehoeftes, Bybels en psalmboeke, en gereedskap vir die ambagsmanne. Pieter van Dam het dit oor ‘provisien als vleesch, spek, wijnen en diergelijke, sonder dewelke onse natie daar geensins kan bestaan’, en spesifiseer ‘insonderheid mom’, wat dui op ’n swaar, soet biersoort, naas ‘allerhande scheepsbehoeften en gereetschappen’, onder andere pik, teer, harpuis, touwerk, ankers, maste, staal, ysterspykers, ysterleggers, hoepels, seildoek, smeekole, talk en traan.

Baie van die materiaal wat vir plaaslike herstelwerk aan skepe benodig is, moes ewe goed aan die Ooste voorsien word, aangesien geskikte ekwivalente nie daar verkrygbaar was nie, en volgens Robert Parthesius het die Kompanjie soms selfs goedkoop ou skepe net vir hierdie doel aangekoop.28

Die nadeel van hierdie afhanklikheid was dat die nalatigheid en versuim van die Kompanjie se amptenare dikwels tekorte laat ontstaan het soos dié wat in die sogenaamde ‘eis’ van die eiland Ambon aangedui is.

30 witkwasten, ten hoogsten benodigd

60 bladen bordpapier, ten hoogsten benodigt

60 verfkwasten in soort, seer benodigt

24 vaten teer, ten hoogsten benodigt

1 chialoup [skeepstipe] met een mast, ten hoogsten benodigt

1 ankersmid, ten hoogsten benodigt29

Ten slotte het die uitvarende skepe die enkele Europese handelsgoedere vervoer waarvoor daar in die Ooste belangstelling bestaan het, en meer spesifiek items wat as geskenke vir hooggeplaastes bedoel is, soos vermiljoen, kwik, optiese instrumente, aard- en hemelbolle, nogmaals manshoede, en die ‘lange roode mutsen’ wat ook onder die inboorlinge van Suider-Afrika gewild was.

Ondanks die feit dat uitseilende skepe swaar belaai is, moes hulle ook met ballas in die vorm van sand, klippe, boustene of yster beswaar word om die nodige stabiliteit te verseker. In die wrak van ’t Vliegend Hart, wat in 1735 verongeluk het, is lood aangetref in die vorm van ballasrolle wat spesifiek vir hierdie doel vervaardig moet gewees het.

Wat boustene betref, het dit dikwels gegaan om Leidse moppe en klinkers en Goudse en Friese klinkers, betreklik klein stene, grys, bruin, geel of rooi van kleur, wat by aankoms in die Nederlandse handelskolonies afgelaai en daar vir boudoeleindes gebruik is. Soms is boustene spesifiek aangevra, soos in 1656, toe 100 000 stene uit Nederland gespesifiseer en 106 000 gestuur is. Die Vergulde Draak was op sy eerste uitreis met 26 000 Friese klinkers bevrag, en die Vrede dieselfde jaar met 15 000.

Op die retoertog was salpeter ’n gunstelingitem om vir ballas gebruik te word, vanweë die hoë prys wat dit in Europa behaal het, maar daar is ook gebruik gemaak van kauri-skulpe, wat noodsaaklik was as ruilmiddel in die slawehandel van die Nederlandse Wes-Indiese Kompanjie (WIC) in Wes-Afrika.

Met die oog op die kosbare vragte wat hulle uit die Ooste teruggebring het, was die retoerskepe van die VOC so swaar bewapen soos oorlogskepe, ten einde hulle teen seerowers, kapers, handelskonkurrente, en in oorlogstyd teen vyande te kan verdedig en waar nodig ook aggressief te kan optree.

Hiervoor het daar amptelike voorskrifte bestaan: die kleinste vaartuie wat van Nederland uitgeseil het, dié met ’n laaivermoë van 40 tot 50 last (ongeveer 80 tot 100 ton), moes byvoorbeeld ’n minimumbemanning van 7 man en ’n jonge hê, naas 2 gotelinge, 2 steenstukke en 4 kamerstukke, alles tipes geskut, 4 muskette of roers, en 6 lang en 12 kort spiese. Vir skepe van 150 last en meer was die voorskrifte 8 gotelinge, 6 steenstukke, 12 muskette of roers, en 2 dosyn lang en 3 dosyn kort spiese, en so verder na verhouding.

Die kundige verspreiding van bemanning, bagasie, vrag, voorrade, onderdele en ballas oor die skip om dit stabiel te hou, het heelwat oordeel en bedrewenheid geverg, alhoewel die omstandighede en vereistes op die uit- en die retoerreis verskil het, aangesien daar op laasgenoemde byvoorbeeld aansienlik meer vrag van uiteenlopende aard vervoer moes word.

Die grootste en mees indrukwekkende retoerskip waaroor die VOC ooit beskik het, was ’n vaartuig met ’n klinkende naam as getuienis van sy tyd, die Prins Willem, vermoedelik vernoem na die destydse Stadhouer, prins Willem II, wat in 1650 deur die Kamer Zeeland gebou is en tot 1662 in gebruik was. Dit was, in moderne mate, 68 meter lank, 14 meter breed en 4 meter hol, met ’n laaivermoë van 1200 ton, en teen aanvalle bewapen met 24 kanonne, later na 40 vermeerder.

Die Prins Willem het die Kaap gedurende die eerste jare van die nedersetting drie keer aangedoen. ‘’s Avonts wiert een groot schip gesien voor de baay,’ het Van Riebeeck in die winter van 1658 in sy Dagregister opgeteken, ‘’t welcq onder ’t Robben-eylandt ten anker liep, sullende apparent wesen Prins Wilhem van Zeelandt.’ Die volgende dag het dit in Tafelbaai anker gegooi, en kon die opseilendes van groente, ’n bees, ’n skaap ‘ende een geschoten reebockjen’ voorsien word.

Drie weke later weer: ‘’s Morgens helder weer ende redelijcke stijve ZZO winden, waermede meergemelte schip Prins Willem is t’seyl ende fraay buyten in zee geraeckt. D’Almogende verleene deselve een geluckigen, voorspoedige, behouden reyse na Batavia.’30

En in die winter van 1661:

Uyt Noortwesthoek is het vrij blijven waayen en regenen, waermede ’t schip Prins Willem ’s middags te 2 uyren hier wel te rheede g’arriveert is, uytgevaren met 392 coppen, daeronder 15 overleden, ende noch wel 50 à 60 tegenwoordig aen ’t scheurbuyck siek te cooy leggende.

Die retoerskepe kon met behulp van die roer gestuur word, en die seile kon gestel word om die beskikbare wind te benut en die maste selfs verleng ten einde ekstra seile te kan aanbring waar nodig. Volgens Robert Parthesius was ook die kleinste van die VOC se vaartuie uitgerus om indien vereis die tog na die Ooste te kan onderneem, en was selfs hul galjote van drie maste voorsien, wat nie in Europa gebruiklik was nie.31

In laaste instansie was skepe egter onredbaar afhanklik van die grilligheid van passaatwinde en seestrome, en hulpeloos uitgelewer aan die geweld van wind en weer en die woede van die golwe, waarteen selfs die stewigste houtkonstruksie nie altyd bestand was nie. Ewe goed was hulle egter hulpeloos teenoor die windstiltes wat hulle veral in die trope kon oorval: volgens J.H. Schröder van Thüringen is die Ananas vir ‘’n hele maand en drie volle dae’ op hierdie wyse lam gelê.

By alle kundigheid en kunssinnigheid wat aan hul konstruksie en afwerking bestee is, was hierdie seilskepe stadige, logge, onhandige vaartuie, moeilik om te maneuvreer, beperk in hul moontlikhede. Desondanks was hulle met hul hoë maste in hul eie tyd ’n formidabele verskyning, wat in digterlike taal meermale as kastele beskryf is. In die militante sewentiende eeu:

Men rukke een donderbaare vloot,

Van hondert zeekasteelen groot,

Galeijen, scheepen, en maoonen …32

Maone was ’n skeepstipe.

En ’n honderd jaar later, in ’n eleganter tyd, maar met ongewysigde beeldspraak:

Myn Waternimfen, dartelt bly

Rondom de trotsche Zeekasteelen

Der achtbare Oostermaetschappy … 33

Die motief kom selfs voor in ’n Duitse quodlibet of mengelliedjie van rondom die wisseling na die agttiende eeu wat met Johann Sebastian Bach in verband gebring word:

Was sind das für große Schlösser,

Die dort schwimmen auf der See,

Und erscheinen immer größer

Weil sie näher kommen her …34

En hoe sierlik vertoon hulle nie met hul maste en seile op die honderde seetonele wat in hierdie tyd geskilder is nie, trotse hoë vaartuie met die Nederlandse driekleur, die Prinsevlag, hoog aan die groot mas, wat sereen oor die glansende see van die herinnering en verbeelding voortgly.

Dog nie net die skepe nie, peinsend, mymerend in die nag in ’n slapende land, bewusteloos, onbewus, onwetend; maar meer nog die mense wat daarop uitgeseil het, na die Ooste vierduisend of vyfduisend mans in ’n enkele jaar, later sewe- of agtduisend, byna ’n miljoen mans altesaam in die loop van twee eeue, elk met sy eie gesig en stem, sy eie vingerafdruk en verlede.

Soms aarsel ek in my mymering, soms ontstaan daar uit die aarseling iets soos ’n vraag en soms ook kom daar dan uit die donker iets soos ’n antwoord, klink daar uit die donker rondom my ’n gedruis van stemme wat tot woorde, frases, sinne aangroei, tot verhale verdig. Die drywende, wuiwende skadu’s oorkant my vloei willekeurig saam en vorm patrone, neem gestalte aan, buitelyne wat slegs onduidelik sigbaar is, geen gelaatstrekke, geen gesigte nie, net die stemme, die geruis van stemme in die nag, die koor van stemme, soos ’n geritsel in ou briewe, broos papier, dooie blare, verdroogde blomme. Maar nee, dit is te romanties, en in hierdie verhaal, in hierdie kumulatiewe geskiedenis is daar geen plek vir romantiek nie en uit die staanspoor reeds moet dit geweer word. Geen hoepelrokke en bepluimde hoede, geen gefladder met waaiers of beduie met kantsakdoeke nie. Dit is geen amateuropvoering van Molière nie, maar die werklikheid van die koloniale verlede van Suid-Afrika.

As mens oor daardie lewens, daardie geskiedenisse nadink, of in elk geval aandagtig genoeg na daardie stemme luister in die donker, sal dit miskien moontlik word om iets te verstaan van wat in hierdie land gebeur het, hierdie land waar ek nou slaaploos lê en stemme oproep, na stemme luister, woorde probeer uitmaak, en moontlik iets vind wat indien geen troos nie, in elk geval darem tog iets soos begrip sou kan bemiddel.

Laat ons die vergelyking dienooreenkomstig wysig: eerder die geritsel dus van rotte in die donker van die skeepsruim, en in die nag kom hulle uit en soek na restante van kos tussen die skeepskiste en hangmatte van die slapende mans op die oorloop, hardloop oor die gesig van ’n man wat op die grond lê en slaap, sodat hy met ’n vloek wakker skrik.

Elke onderskeie man hier in die donker, tussen die skadu’s, het sy eie verhaal, elkeen ’n eie rede waarom hy Europa moes of wou verlaat, elk is van die ander onderskei deur doel en bedoelings, dit wat hy gehoop, beplan of gevrees, dit wat hy onthou en waarvan hy gedroom het: die vrou en gesin in Delft, die houvrou in Vlissingen, die prostituut in Bremen, die ouers op ’n boerdery in Holstein.

Die verlede kry ’n stem en begin praat, al daardie dooie geslagte, al daardie anonieme opseilendes van die eeue. Al wat nodig is, is ’n sekere inspanning, ’n sekere inlewing.

Tell my story! And mine! And mine! And mine!35

Anno 1669, den 1sten December, monsterde ik aan bij de Oost-Indische Heeren in Amsterdam als adelborst om naar Indië te gaan.

—In dien tijd als de vernielende pest mijn geliefde Vaderland, ’t keurvorstendom Saxen, had aengevallen, vatte ik ’t besluyt van vreemde landen te willen gaen besoeken.

—Den 15 November Anno 1675 ben ik van d’Oost-Indische Compagnie aengenomen voor soo genoemde adelborst, op een gagie van tien guldens te maend, Hollandsch geld.

—In myn jonkheyt, als myn ouderdom noch maar negentien jaren en eenige maenden bereikten, drongen en dwongen de reys- en leersugt myn gemoet soodanig dat ik my, door vrienden raet gestijft, na Amsterdam begaf, aldaer ik in dienst der Edele Maetschappye werd aengenomen.

Maar dit is skryfstemme, boekstemme, nie praatstemme nie, al is dit dieselfde verhaal wat vertel word; en dit is dan ook praatstemme wat geleidelik vir my uit die omringende gedruis vorm aanneem, en stemme wat dinge noem wat deur die skrywers van boeke nooit belangrik geag is nie. ‘Ek was honger.’ ‘Ek was bang.’ ‘Die meisie in die kroeg.’ ‘Die voerman by die veer.’ ‘Toe die deur oopgaan …’, ‘Toe dit begin reën …’, ‘Geen sole aan my stewels’, ‘Geen knope aan my hemp’. Die vuur in die kaggel, die vleis aan die spit, die modder op die paaie, die man met die rooi baard, die vrou met die wit mussie. Reëndruppels op die troebel water van die trekvaart, meidoring wat blom langs landelike paaie, sonskyn wat die vergulding van ’n kerktoring in die verte vang en laat skitter. In die woud maak kinders brandhout bymekaar. Die struikrowers, die vroue wat wasgoed op die bleikveld uitsprei, die ou mans op ’n ry op die bank teen die muur. Die knuppel. Die leë sakke. Die watervat. Waar het al hierdie dinge dan gebly?

You know that I sit waiting that I may return to my place. That I may listen to all the people’s stories when I visit them; that I may listen to their stories that they tell; that I may listen to the stories which come yonder, which are stories which come from a distance. Then I shall get hold of a story from them, because they float out from a distance; while the sun feels a little warm; while I feel that I must altogether visit, that I may be talking with them, my fellow men.

I must first sit a little, cooling my arms, that the tiredness may go out of them; because I sit, I merely listen, watching for a story which I want to hear; while I sit waiting for it, that it may float into my ear. These are those to which I am listening with all my ears; while I feel that, I sit silent.36

’n Sekere inspanning, ’n sekere inlewing, en die stemme word sterker, die gefluister kry gestalte in woorde, in sinne, in hele brokstukke van verhale. ’n See, ’n oseaan van stemme, stemme gespan soos seile, soos tou- of takelwerk wat sing in die wind.

Al hierdie moontlikhede het ek dus van naby aanskou, al daardie lewensverhale het ek self uitgelewe en herleef ek nou, en daar bly niks anders oor nie as om die name te herhaal en die gesigte voor die geestesoog te laat verbytrek in die donker, die konfigurasie van maste en seile, die littekens, baarde, oorringe, dronkemanstemme, die geruis van ’n tabberd in die kajuit, die gekletter van houtmuile oor ’n dek, die gegil van ’n matroos of soldaat onder sy tugtiging, die geroep van matrose hoog in die want waar hulle die seile vasbind, hierdie terloopse detail ál wat oorbly van wat eens soos ’n helder en belowende avontuur gelyk het, aangevuur deur soveel winsbejag en ambisie, en vir ander weer so ’n donker onderneming, ingegee deur suiwer vertwyfeling.

Dit alles het ek meegemaak, ervaar, gely. Dit alles weet ek en moet ek nou in die donker herhaal, asof die blote herhaling genoeg is om dit van ondergang te red, teen verdere vergang te vrywaar; in die oortuiging of geloof dat as jy die las van inligting waaraan jy so swaar dra, die name, stemme en gesigte, die slagspreuke en krete, dikwels genoeg, aandagtig genoeg, noukeurig genoeg nagaan, jy daarin sin sal kan vind, of in elk geval ’n herkenbare patroon van een of ander aard wat indien verlang as sinvol vertolk kan word; wakker in ’n slapende stad, ’n slapende land, waar daar soveel rede bestaan om eerder wakend en waaksaam te bly, peinsend oor die verlede in die veronderstelling dat dit só moontlik sal word om die hede te verstaan of hoop te vind vir die toekoms.

In die donker, in hierdie slapende land.

Denk ich an Deutschland in der Nacht,

Dann bin ich um den Schlaf gebracht …37

In hierdie geloof moet jy volhard; of ten minste in hierdie hóóp. Dit kan tog nie alles verniet gewees het nie, dit kan nie sinloos wees nie. Of miskien tog wel?

Wakend in hierdie donker land.

So kan daar begin word.

Skepelinge

Подняться наверх