Читать книгу Skepelinge - Karel Schoeman - Страница 18

OOP SEE

Оглавление

Die kajuit was ’n groot vertrek wat op ’n seilskip die volle breedte van die agterskip beslaan het en was die normale woon- en werkplek van die Kommandeur van die vloot, die Onderkoopman en die skipper. Diegene wat ’n passaat op ’n Oosindiëvaarder bespreek, kon betaal om in de Cajuijt gelogeert en getracteerd te werden, alhoewel die konstabelskamer in ander gevalle gespesifiseer is.

Predikante en sieketroosters het gewoonlik die voorreg van ’n klein kamertjie geniet wat hulle vir studiedoeleindes kon gebruik, en toe die Duitser Peter Kolb op die Unie uitseil, voorsien van aanbevelings en introduksiebriewe, was een van sy vele versoeke aan die VOC ‘dat ik een klein kamertje op het schip voor mij alleen mocht hebben, tot mijne studie, en dat ik in de kajuit met den Kapitein en andere Officieren mocht eten’. Hiervoor is hy aanvanklik 285 gulden gevra, alhoewel hy 50 gulden afslag gekry het.

As voorbeeld van die gebruiklike kajuitgaste noem Nicolaus de Graaff mans met die rang van Koopman, Onderkoopman, Boekhouer, Assistent, Skipper, Opperstuurman, kommandant van die soldate, sieketrooster, ‘en soms ook die onderstuurmanne en derdewaak, as daar genoeg plek of ruimte is’.

Die kajuit is dienooreenkomstig uitgerus, met ’n tafel waar 24 persone kon aansit en wat oordag skynbaar met ’n ‘groen gebloemd tafeelkleed’ bedek was, maar vir maaltye van ’n tafellaken voorsien was. By hierdie geleentheid kon dit gedek word met die tinware wat teen die agttiende eeu ouderwets begin raak het, maar waarskynlik as meer duursaam vir skeepsgebruik beskou is, naas borde en skottels van wit erdewerk; onder die tingerei val soutvate en mosterdpotte steeds op.

Weerskante van die kajuit was daar langs die skip ’n uitbousel wat as die galery bekend was en soms ook rondom die agterkant van die skip geloop het. Hier was die ‘sekrete’ (gemakke of latrines) van die kajuitgaste, en ’n eietydse handleiding vir skeepsbou verwys na ‘2 secreten met haare deksels’.

Geen film en geen foto’s bestaan van dit alles nie, en die moderne verbeelding is vir sy stimulusse afhanklik van die skilderkuns van die Nederlandse Goue Eeu met sy gestileerde realisme. Dog vir hierdie era, en op hierdie spesifieke gebied, is daar ook die aanvullende stimulus van meerdere handleidings by die skeepsboukuns, so belaai met sorgsame en noukeurige detail dat die sinne feitlik lewe kry, orent staan op die bladsy en driedimensioneel raak terwyl jy hulle lees, heeltemal los van enige illustrasies of diagramme wat moontlik ook aanwesig is.

So byvoorbeeld die Nederlandsche scheepsbouw-konst open gestelt van die skeepstimmerman Cornelis van Yk, ’n publikasie uit 1697, ‘vertoonende naar wat regel of evenredenheyd in Nederland meest alle scheepen worden gebouwd, mitsgaders masten, zeylen, ankers en touwen daar aan gepast’.

Inderdaad word iets hier onthul, geopenbaar, blootgelê en ten toon gestel: die toneel staan leeg in die skynsel van die voetligte, agterdoek, coulisse en rekwisiete almal glansend uit die hand van hul vervaardigers, wagtend op die spelers om hul verskyning te maak van waar hulle nog besig is om hulle te grimeer. Die pruike, aangeplakte baarde en snorre, aangehegte lokke, vals neuse, gewatteerde baadjies en koturne.

Het beschot voor de hut, 2 opslaande deuren en 7 tralien daarin, 2 banken daarvoor, aan ieder zyde 2 kamertjes, ieder met een venster en een kribbe, mitsgaders 4 kooyen in de voorhut, een gang om in de Schippers kamer te komen, aldaar een ledekant met een tafel te stellen; een luik om in de kajuit te treden, en aldaar al de ramen en blinden te maken; racken om tin en glasen op te setten, mitsgaders om geweer op te leggen; racken om pistolen op te hangen; nog 2 kasjes met schuiven daarvoor; 2 ledekanten in de kajuit. Alle de deuren te hangen, en met slot en grendel wel te sluiten.104

Daar staan dit dan gereed, die hut met sy afskortings, traliewerk en rakke, en die eerste karakters tree op. Steek die kerse aan, skink die wyn: die drama of komedie kan begin. Skipper, Onderkoopman of Matroos; Salome, Judit of die koningin van Skeba. Klink daar miskien ook ’n klavesimbel op die agtergrond? Gou, kyk wat sê die toneelaanwysings, die rekwisietelys. Anderkant die klein ruite van die vensters, glas-in-lood, glans die see haas roerloos in die maanlig. Wat kan mens meer van die lewe verwag, verlang of eis?

Sommige van die skeepsoffisiere wat in die kajuit geëet het, soos die chirurgyns, sieketroosters en die kommandant van die soldate, is ondergebring in hutte op die agterdek, bo die kajuit. Die Duitser Wurffbain verskaf die interessante inligting dat die kajuit 9 Schuh hoog was en die hutte 7 Schuh, maar ongelukkig het die Duitse Schuh, soos ander mate en gewigte in daardie tyd, volgens plek gewissel, en byvoorbeeld 28 sentimeter bedra in Sakse, 29 in Beiere, en 31 in Pruise. Mens kom by ongeveer 2,7 en 2,1 meter onderskeidelik uit.

By gebrek aan genoeg ruimte moes skeepsoffisiere ook in die konstabelskamer slaap, agter op die oorloopdek, onder die kajuit, wat ’n ruim vertrek was waar passasiers ook dikwels ondergebring is. In een spesifieke geval was naas die konstabel en sy maat ook ’n predikant met sy swanger vrou en hul diensmeisie, die sersant en die opperbarbier hier gehuisves. ‘There are fifteen passengers,’ skryf Bernardin de Saint-Pierre oor die Franse skip waarmee hy na Mauritius uitgeseil het,

most of whom are lodged in the Gun-room, the place where they keep the cartouches and ordnance stores. The Master Gunner has the care of this part, and lodges here, as do also the Secretary, Chaplain and Surgeon. Above this is the Great Cabin, where the passengers dine with the Captain.105

Onder die halfdek het die skipper se hofmeester en kajuitwagters of -bediendes geslaap, saam met die trompetters, die mans wat die hoenderhokke aan boord versorg het, en die skeepsjongens.

In die kajuit het hierdie bevoorregte opseilendes dus ook hul maaltye genuttig. ‘Wanneer die kajuitstafel met vrouens belemmer is,’ merk De Graaff op, ‘is daar ook nog ’n na- of tweede tafel, en ’n derde op die halfdek, waar die onderstuurmanne en ander geplaas word’. Ook is daar melding van ’n tafel met banke in die konstabelskamer waar die konstabel en sy onderhoriges geëet het.

Op die Vrije Zee waarop Simon van der Stel, die nuwe Kommandeur van die Kaap, uitgeseil het, is twee tafels in die kajuit bedien, met aan die skipper se tafel die belangrikste van die passasiers, synde Van der Stel self met sy skoonsuster en sy twee oudste seuns, naas ’n boekhouer, ’n sersant, ’n chirurgyn, ’n sieketrooster en die ‘meester van die bergwerkers’ oftewel mynwerkers, vermoedelik op pad na die goudmyne op Sumatra.

Die orige Van der Stel-kinders en ander jongmense, tesame met een van die vroue se dienstmeid, is aan ’n tweede tafel bedien, sodat altesaam 18 mense in die kajuit aangesit het.

Verder is daar vermelding van ’n tafel boven, waar onder andere ’n onderstuurman, ’n derdewaak, twee korporaals en twee lanspassate (onderoffisiere) geëet het, en die hofmeester se tafel. Elders word daar weer na ’n ‘kajuits natafel’ verwys, en hoe irrelevant hierdie onderskeidings miskien lyk, was dit vir die betrokkenes van die grootste belang as aanduiding van hul presiese plek in die klein wêreld van die skeepsgemeenskap, en die regte en voorregte waarop hulle aanspraak kon maak en wat tot hul aansien aan boord bygedra het.

Die Duitser Von Wurmb noem maaltye wat aan dek in die skadu van ’n seil genuttig is, terwyl daar seremonieel musiek gemaak word op twee trompette of ander ‘dissonerende instrumente’, soos hy dit noem. Daar word verwys na ’n ‘zonnedek’ wat vir die hitte opgerig is en skynbaar soos ’n soort paviljoentjie met seildoekgordyne was, en in die verslag van die stranding van die Naarstigheid is daar melding van ‘onze zonnetent, welke met yzeren stutten op het boord en halfdek vast was’. Hiér was daar ook ’n tafel met twee banke ‘waar die kaptein en onderoffisiers hulle met mooi weer vermaak het’.

Slegs 30 van die 245 opseilendes op die Vrije Zee het die voorreg geniet om soos die Van der Stels in die kajuit aan tafel bedien te word, en in eerste instansie gaan dit, soos duidelik is, om die hoogste skeepsoffisiere. Op die meeste skepe was daar egter ook ’n aantal passasiers, meestal senior amptenare of ‘offisiere’ van die Kompanjie, waaronder predikante, met hul gesinne wat uitreis of terugkeer na die Ooste of die Kaap, soos die Van der Stels in hierdie geval, wat ’n betreklik groot geselskap uitgemaak het.

Hóé die sogenaamde kajuitgaste aan boord geleef het, word in detail beskryf in die dagboek van die Swellengrebel-susters wat saam met die verdere lede van die gesin met die Liefde na Europa vertrek het nadat hul vader, ’n wewenaar, as Goewerneur van die Kaap bedank het en besluit het om in Nederland te gaan woon.

Sondag, 7 Maart. Seesiek gewees, soggens is die gebed deur die boekbinder gedoen en ’n predikasie gelees uit Jesaja 43:1–2. Teen vieruur het ons op die halfdek gaan sit, elk op ’n leunstoel, maar die skip het so geweldig geslinger dat ek, Helena, met stoel en al omgeval het, ek het my hand seergemaak, vanaand het ons in die passaatwind gekom, ons het met Leertouwer, ons tweede luitenant en die dokter in ons eetsaal koffie gedrink en oor die Kaap gesels, dog was vir ’n tydjie benoud en seesiek, ons het gesukkel om weer onder te kom.

Maandag, 8 Maart. Teen vieruur weer boontoe en het tot die aand op die halfdek bly sit en naderhand in ons eetsaal, het musiek gehad, die Hofmeester op sy harp, benewens die ander musikante op hul instrumente, Suster Stansie, Johanna en die sekretaris het Lutherse liedere gesing, naderhand het ons konsert gehou, Suster Johanna en ek op die fluite en ’n musikant op die viool.106

Die Swellengrebels het veral belanggestel in kos, en verstrek uitvoerige besonderhede van hul eweneens uitvoerige maaltye in dagboekinskrywings waarin die woord gegeeten soos ’n refrein terugkeer: ragout van hoender, soup van kervel, pruijmen gestooft, gans gebraden, schapebout, roode suurkool.

Die predikant, volgens Nicolaes Witsen se handleiding oor skepe en skeepvaart, ‘wort onthaelt aen de tafel van de Kapitein, en heeft zijn verblijf in de hut of galderye’. Eerwaarde François Valentijn het ‘een apart kamertje boven in de hut’ gehad, maar hy het in die kajuit geslaap saam met die skipper, wat sy eie hut aan drie vroulike passasiers afgestaan het.107

Van sy tweede reis na die Ooste, op die Hof van Ilpendam, skryf Valentijn:

Ik voer op dien bodem als predikant, by my hebbende myn huisvrouw, Cornelia Snaats, 5 kinderen, een neefje, Simon de Brievings, een Kapiteyns soon, en juffr. Aletta Beck, nevens een dienstmaagd. De voornoemde juffrouw ging onder myne bescherming na haren broeder, predikant op Stellenbosch, over.108

Ook sieketroosters, wat die predikant as ’n soort lekeassistent in die gemeente bygestaan het, het voorregte van hierdie aard geniet, ‘kajuittraktement en ’n eie kamertjie aan boord om na te dink oor die aand- en oggendgebed en die psalm wat hulle moet sing’, soos die chirurgyn De Graaff dit gestel het.

Verder was daar onder die amptenare in die kajuit dikwels een of meer met die titel Onderkoopman, wat as rang in die hiërargie van die Kompanjie ’n betreklik onbeduidende onderskeiding was, maar aan boord skip ’n sekere status verleen het. ‘Zulke leeglopende Onderkooplieden,’ het ’n moderne skrywer geringskattend verklaar, ‘waren gewoonlijk jongelui van goeden huize en geringe bruikbaarheid, die dan in Batavia veelal werden aangesteld als gecomitteerde in de pakhuizen, een “luij baantje”.’109 Volgens ’n skrywer aan die einde van die agttiende eeu het hulle in die amptelike samelewing in Batavia ’n baie beskeie rol gespeel.

Wie goeie kontakte besit en die regte beskerming geniet het, kon met bevordering egter die groter heerlikheid van ’n Koopman en Opperkoopman bereik en ver kom, in elk geval sover dit gebore Nederlanders betref, aangesien dit vir buitelanders hier soos elders by die VOC moeiliker was om posisies van aansien en gesag te bereik.

Brief geschreven door den Boekhouder op de Gouden Buis, aan zyn vader, Zacharias Lepie, meester chirurgyn.—Zeer beminde Vader, saluyt. Myn laatste aan UE. was den 12 dezer op ’t schip de Purmer gedestineerd na Suriname. Deze gaat met het schip de Faam na Guinee. Het gaat my so wel als ik van Godt zoude konnen wenschen, want ik ben zo gezond als een mensch zyn kan. Wy konnen ook de teyd hier also wel passeeren als t’huys, vangen dagelyks zeer delicate vis, die ons wel smaakt ende bekomt, en drinken daar zomtyds een glaasjen op, so ter gezondheyd als te gedenke de welstand van de vrienden in ’t Patria. Verhoope en bidde dat Godt ons vorder wil geleyden en bewaren en geven een voorspoedige reyze, en dat wy na het volbrengen derzelve malkanderen te zyner teyd in gezondheid mogen zien. ’k Zal niet nalaten om by alle occasien en gelegentheden te schryven. Groet alle vrienden ende bekende. Hiermede afbrekende, UE. benevens myn susters en broeders bevelende in de genadige bescherming Godes. Van UE. onderdanigen zoon, Jacob Lepie.

Soos die chirurgyn Ferdinand Dejean, ’n kajuitgas op die Drie Papegaaien, opgemerk het: ‘Ik beschouwde deze reis als een plezierreisje met een goede tafel, goed wijn en passabel gezelschap.’ In die kajuit was daar nie net betreklike gerief nie, maar het alles in beginsel ook besonder wellewend toegegaan, in ’n styl wat mens soms nog in die brieweboeke, dialoogboekies, romans en toneelstukke uit hierdie tyd teëkom.

Koopman. Ik heb de Eer van Mynheer en Mevrouw te verwelkomen.

Mev. A. Mevrouw, uw Dienaresse. Het is my lief dat ik uw wederom

hersteld zie.

Mev. L. Ik ben Mevrouw verplicht voor haar Beleeftheyd. Ik verzoek

Mevrouw van te gaan zitten.

Behalwe wanneer frustrasie, irritasie of gekrenkte eergevoel die oorhand kry en ’n individu se ware geaardheid by die aangekweekte wellewendheid deurbreek. Dan is pruike of hooftooisels afgeruk en is daar met die naels gekrap of met die vuis geslaan, messe of degens uitgepluk of krasse taal gebruik ewe goed soos op die oorloopdek.

Die kajuitgaste se vernaamste weermiddels teen die verveling en beklemming van die lang en eentonige reis in ’n beperkte geselskap en ruimte, naas konversasie, was kaartspel en musiek.

‘Die de eerste maal de kaart geeft,’ lees mens in De hoofsche welleventheid, ’n handleiding uit 1733, ‘wenscht aan de mede speelders, met een vriendelyke buiging, een goed spel; aan de andere veel vermaak en voordeel,’ en ’n hele wêreld van formele hoflikheid word opgetower. ‘Indien er by het spelen eenig verschil van meening ontstaat, moet men niet hardnekkig zyn, maar indien men eindelyk gehouden is zyn stuk staande te houden, moet men het bezadiglyk doen, zonder luid en hard te roepen.’110

Verder het hulle musiek gemaak.

En hulle het gesing.

‘Nederlanders uit de Gouden Eeuw,’ skryf Natascha Veldhorst,

zongen van de wieg tot het graf, en er was voorlopig niemand die ze van die energieke en troostende bezigheid af kon brengen. ‘Wie sal dan onse Nederlanders het singen kunnen ofte mogen verbieden?’ had de rooms-katholieke priester-dichter Salomon Theodotus zich in zijn liedboek Paradijs der gheestelycke en kerkelijke lofsangen (1621) al verwonderd afgevraagd.111

’n Onlangse bibliografie, die Short-title catalogue Netherlands, bied vir die sewentiende eeu 5000 titels onder die lemma ‘liedboek’, en alhoewel dit nie as ’n finale gesaghebbende statistiek beskou kan word nie, gee dit ten minste ’n aanduiding van die gewildheid van hierdie tipe publikasie, en toon dit by implikasie hoe algemeen daar gesing is.

Die predikante van die tyd was eenstemmig gekant teen hierdie verskynsel. ‘Wat vir ’n menigte en verskeidenheid van sulke sangh-boeckjens word daar nie daagliks gedruk en herdruk nie,’ het die plattelandse predikant-digter Willem Sluiter byvoorbeeld uitgeroep, ‘met name soos Minne-boekjes, Lust-hoven, Zangh-prieeltjes, Nachtegaeltjes en dergelike meer.’112

Sluiter se Rooms-Katolieke tydgenoot, die Suid-Nederlandse priester-digter Daniel Bellemans, het nie anders geoordeel nie.

Tot my groot droefheid word daar aan alle kante liedboekies aangetref wat deur hul bedrieglike soetigheid en haatlike venyn die harte van die mense trek, nie tot God nie, maar na die ewige verdoemenis; want indien hulle deur hierdie skadelike vrolikheid oorwin is, bly hulle vassteek in die vuiligheid van die wêreld, en maak vir hulself ’n ketting waarmee hulle in die ewige brand van die hel ingesleep sal word.113

Die singende gemeenskap het hulle egter geensins hierdeur van stryk laat bring nie. ‘Zo ’t gebeurt dat men een goede stem heeft,’ het De hoofsche welleventheid beslis,

of indien men op eenige speeltuig kan roemen of ook indien men de bequaamheid had van vaerzen te maken, moet men dat door geene teekenen immermeer laaten blyken; maar indien ’t bekent en openbaar is, en dat men gebeden werd, moet men zich in het begin beleefdelyk ontschuldigen; en zo het gezelschap zich daarmede niet laat vergenoegen, dan voegt het voor iemand die wel opgebracht is niet langer te wachten met zingen, of om dat speeltuig te spelen, of eenig gedicht van zyn maaksel op te zeggen.114

Kolb beskryf die feestelikheid op die Unie met ses vroue onder die passasiers: ‘daar werd dapper wyn en bier gedronken en gedanst’. Of soos ’n toneelaanwysing uit ’n eietydse toneelstuk dit saamvat:

In de Kajuit beneden word getrompet, getrommelt, en op instrumenten gespeeld, alsmede gezongen. De zangmeester zingt een Italiaanse air, en daar word intussen gespeeld. Nadat het gedaan is, klappen ze in de handen, en de trompetters blazen.115

Daar was saamsingliedjies en rondeliedjies, komiese liedjies en liedjies op geskiedkundige gebeurtenisse soos dié wat die Nederlanders se vryheidstryd teen Spanje gekenmerk het, stigtelike liedere en berymde psalms, liedjies vir seemanne en krygsmanne, en natuurlik was daar uitgesproke liefdesliedjies in alle grade van speelsheid of erns, stemmigheid, dubbelsinnigheid of onwelvoeglikheid. Hier onder die opvarendes in die kajuit dink mens egter veral aan dit wat destyds ‘amoureuse liedere’ genoem is, romantiese sange, dikwels met erotiese ondertone, waar moontlik begelei deur die musiek van ’n klavesimbel, ’n luit of ’n ghitaar, stemme in die nag. Schoon lief, wilt mij troost geven, Toen Daphne d’overschoone, Orpheus droef van sinne …

Ik kan uw schoon gezicht niet langer derven,

uw afzyn is my wreeder als de dood,

moet ik in uw byzyn sterven,

ik wensch, ik wensch, de laatste zucht te geeven in uw schoot …116

Die Nederlander Jacob Haafner skets ’n aantreklike prentjie van die kajuitgaste saans ná die ete op die dek van die Bleijenburg, wat hy danksy sy posisie as kajuitwagter of -bediende van naderby kon meemaak: ‘Al de passagiers en de officieren vermaakten zich op het dek met zingen, en hun schaterend gelach klonk in de wijde eenzaamheid totdat, tegen tien ure, de eene voor, de andere na aftrok, en zich ter ruste begaf.’

Dog waar daar eenmaal musiek gemaak en gesing is, is daar in ’n gemengde geselskap soos dié in die kajuit so dikwels was, nie minder gedans nie.

Wanneer daar hoë amptenare aan boord was, bewus van hul eie waardigheid en die noodsaak om hul medepassasiers daarmee te beïndruk, is voorkeur miskien gegee aan bourrées, gavottes, sarabandes, en later in die eeu minuette, wat alle ander dansvorms in gewildheid sou oortref; trae, formele, statige danse, met slepende passies en streng voorgeskrewe bewegings van voete, hande en arms.

Maar afgesien van diegene wat waarde aan hul waardigheid geheg en die statigheid dus gehandhaaf het, is daar vermoedelik gou tot meer gewilde danse oorgegaan, boeredanse, kontradanse, vrolike, lewendige danse wat vernaamlik bestaan het uit ’n huppel en spring en rondswaai in ’n warreling van rokke en onderrokke. Soos ’n eietydse digter uitgeroep het:

Laet ons wat lagchen, wat mallen, wat deunen,

Singhen en springen, ja, maecken een klanck

Dat er de kamer begint van te dreunen …117

En ewe goed die skeepskajuit.

Die arm om die middel of die skouers geslaan, die omarming, hande wat hande aanraak en sweterig verstrengelde vingers; die onvermydelike en vanselfsprekende intimiteit van vreemdelinge wat deur die maat van die musiek verenig is. Blanketsel smelt en teken strepe kleur oor die verhitte, verrukte gesigte, krulle trek los, kamme en spelde val uit die kapsels, en die lokke van pruike kleef aan beswete gesigte, totdat pruike en swaar baadjies albei eenkant gegooi word om die geselskap aan die verdere intimiteit van hempsmoue en geskeerde koppe bloot te stel.

Indien die hoë amptenare in die kajuit miskien van mening was dat danse soos hierdie hul waardigheid aantas, was die predikante van Nederland egter nog lewendiger besorg oor die skade wat wêreldse danse en liedere die onsterflike siel kon aandoen, en dwarsdeur die eeu het hulle daarteen uitgevaar. ‘De principale Auteur deser grouwelijcke sonde,’ verklaar eerwaarde Westerman byvoorbeeld met betrekking tot onkuisheid, ‘is de Duyvel’; en ánder oorsake wat hy noem, is ‘referynen, rondeelen, liedekens, ende vertooningen der onbeschaamde schilderyen’.

Bybel in die hand, met sitate van die grimmiger profete uit die Ou Testament het die predikante hul veldtog volgehou. ‘Gy quinckeleert op het geklanck der luyten en bedenckt u selven instrumente der musijcke, gelijck David’, het Amos byvoorbeeld reeds geskryf, terwyl Jesaja verwys het na ‘harpen ende luyten, trommelen ende pypen ende wyn in hare maeltijden’.

Dans was egter nog erger as bloot quinckeleeren, en hieroor het eerwaarde Westerman in ’n stigtelike werk wat vir seemanne bedoel was besonder welsprekend geraak:

Dat danssen, trippelen ende trepelen, hippelen ende springen, keeren ende draeyen op ’t geluyt van trommelen ende pijpen, vedelen en violen, luyten, schalmeien ende andere musicale instrumenten die daertoe misbruyckt werden. Marc. 6 vers 22. Doen ginck Herodias dochter in ende danste, ende behaechde Herodi.118

Die vrome Nederlandse amptenaar en ouderling C.J. Wits van Enkhuizen het die gevoelens van sy medegelowiges weer op rym uitgedruk in sy Stichtelijcke bedenckinge, wat op die vooraand van Van Riebeeck se vertrek na die Kaap in druk verskyn het.

Soete Jeucht, u danssen, springen,

Al u dertel mal gelaet,

En u geyl en ydel singen,

Voor Godt als een gruwel staet.119

Dog dit het nie gebaat nie, níks het gebaat nie: in die kajuit is daar gesing, gedans en gespring op maat van klavesimbel, viool, luit of fluit, en as daar ’n predikant en sieketrooster onder die passasiers was, kon hulle hul maar net vroegtydig terugtrek, wat egter ’n moeilike situasie geskep het wanneer hulle onder die passasiers was wat in die kajuit moes slaap.

Die heer met die wit hande, die sakdoek omsoom met kant, die handskoene van Spaanse leer wat met muskus gegeur is. Die heer met die lang askleurige krulpruik, die heer met die wakker, oplettende oë maar waaksame blik; hoflik aan die kaarttafel (Uw Dienaar wint het spel, Mevrouw); vaardig op die klavesimbel, met ’n aangename sangstem; swygend aan tafel, wellewend wanneer hy in die algemene gesprek betrek word, maar beleefd-ontwykend in sy uitlatings, sodat niemand veel van hom te wete kom nie en hy sommige van sy medepassasiers effens ongemaklik laat voel.

Onvermydelik maak hy dan ook die onderwerp van hulle gesprekke uit wanneer hy self nie aanwesig is nie.

‘In sy jong jare was hy glo ’n page van die Stadhouer.’

‘Van prinses Amalia …’

‘Verwant aan die Goewerneur-Generaal …’

‘Aan sy vróú …’

‘Die familie kom uit Vlissingen, het ek verstaan.’

‘’s-Hertogenbosch—vooraanstaande mense.’

‘Goeie konneksies, in elk geval.’

‘Is hy nie miskien uitgestuur as kommissaris nie, ’n geheime

sending …?’

‘Daar was ’n duel, het ek gehoor, met iemand uit die gevolg van

die Franse ambassadeur, in die Haagse Bos.’

‘Dóód.’

‘Dodelik verwond.’

‘’n Skandaal in elk geval, die hele Den Haag het daaroor gepraat.’

‘Breda.’

‘Uit die provinsie verban.’

‘Holland.’

‘Utrecht.’

‘’n Skandaal oor ’n vrou, die ambassadeur se vrou.’

‘In elk geval ’n skandáál van een of ander aard.’

‘Maar sy oë, so gevóélvol …’

Agter fladderende waaiers, oor die kaarte aan die kaarttafel by kerslig.

Zinkend.

Verdrinkend.

’t Verdriet, waer uyt // dat spruyt // mijn swaer benauwen …

Tot wie is die versugting gerig wat hy so elegant by kerslig voordra, geboë oor die toetse van die klavesimbel? Sy lippe glimlag, sy oë beweeg rond in die kring van sy reisgenote, maar bly op geen gesig rus nie, beweeg verder, en soek êrens anderkant die kring van die kerslig.

’t Verdriet, waer uyt // dat spruyt // mijn swaer benauwen …

Waar kom hy vandaan, wie is hy eintlik? Niemand kan met sekerheid sê nie, en ék mins van alle, voor wie se oë hy hier vorm aangeneem het in die loop van my oorpeinsings, uit wie se herinnerings hy opgerys het, in wie se verbeelding hy stuk vir stuk gestalte verkry het. Die aardse geur van muskus in die donker; die verre klank van stemme, singend in die nag of roepend.

In die skadu van die seil onder die sontent wat op die kampanjedek gespan is, waar die matrose op die voordek onder hom besig is of in die tuigasie klouter, naakte lywe blink in die son, en hare wat uitstroom in die wind. Teen die koelheid van die aand wanneer hul dienstyd beeindig is, luister hy graag hoe hulle saam op die voordek musiek maak of sing. Dit waarin hy behae skep, is kennelik van ’n persoonlike aard; onmeedeelbaar; ondéélbaar,

Ertrinken, versinken, unbewusst—höchste Lust.120

Eggo’s. Stemme in die verte, êrens in die donker.

‘’n Skandáál, dit weet ek seker. Wat sou hy anders in die Ooste gaan soek?’

Betreklik min vroue het na die Ooste uitgereis, of na die Kaap, gewoonlik die eggenotes, dogters, ongetroude susters of diensmeisies van hooggeplaastes. Vroue kon heelwat onenigheid in die beknopte kringetjie van die kajuitgaste veroorsaak, sodat hul teenwoordigheid by die owerheid ongewens was; dog aan die ander kant kon hul aanwesigheid vir heelwat vrolikheid sorg, om te swyg van flirtasies, liefdesverhoudings, verlowings, huwelike, owerspel, verleidings en verkragtings.

Op die Batavia in 1629 het die skipper, Adriaen Jacobsz, eers probeer om een van die kajuitgaste, Lucretia Jansz, te verlei, ’n welgestelde jong vrou wat gaan aansluit het by haar man, Koopman in diens van die VOC in die Ooste, sodat sy die mees gesiene vrou aan boord was. In een stadium was daar onder die opseilendes, agter die waaiers of in die skadu van die sontent, gerugte van ‘groote familiariteyt’ tussen hulle; maar dit was skynbaar as wraakname vir ’n afwysing dat Jacobsz en ’n aantal ander lede van die bemanning haar een aand ná aandete in die skemer oorrompel en met uitwerpsels en pik ingevrywe het, en na bewering meer spesifiek haar geslagsdele, ’n tipiese voorbeeld van kru en hardhandige persoonlike wraakneming in die mannewêreld van die vroeë sewentiende eeu. Eietyds is daar verwys na mans ‘die aen Lucretia handdadig geweest waren’.

Intussen het Jacobsz se aandag gedurende die week toe die Batavia en sy metgeselle by Kaap die Goeie Hoop oorlê, oorgeslaan na Lucretia se diensmeisie, Swaentje Hendricx, wat geen bedenkings gehad het nie. Hy het haar met hom saamgeneem na feestelikhede op die ander skepe in Tafelbaai, waar daar nog geen nedersetting was nie, en die Onderkoopman Jeronymus Cornelisz het later getuig hoe hy in hierdie tyd in die kajuit van die Batavia gekom het, ‘ende ’t huysje onversiens in de galerije open doende, bevond hy den Schipper ende Swaentje malkanderen vleeschelijck te bekennen’: met ander woorde besig om gemeenskap te hê in die afsondering van die sekreet wat deur die kajuitgaste gebruik is. In die omstandighede was sulke episodes seker nie uitsonderlik nie.

Van Riebeeck teken die geval aan van Andries van Nesse, skipper van die Verenigde Provincien, wat onderweg na die Kaap deur die opperstuurman van die skip vervang is nadat hy aangekla is van owerspel met ene Cornelia van Savelpoel, eggenote van die Onderkoopman Huybrecht van Hocht, ‘ende andre vrouwen meer’. Van Nesse het beken dat hy ‘verscheyde malen des ondercoopmans vrouw vleeschelijck bekent ende beslapen heefft’, en is aan die Kaap agtergehou om met ’n ánder skip na Batavia aangestuur te word, terwyl Van Hocht aangesê is om vir die verdere reis beter op sy vrou te let.121

Ten slotte vertel Jacob Haafner van ’n insident op die Luxemburg toe daar een aand gesoek is na die opperstuurman, wat nie op sy pos was nie, maar in sy hut opgespoor is, ‘in de armen van Mejuffrouw H– ingeslapen’, ’n verwysing na die dogter van ’n Onderkoopman wat saam met haar ouers aan boord was. Dit het gelei tot heftige verdeeldheid en onderlinge getwis tussen verskeie groepe onder die offisiere en passasiers, en in die notule van die Politieke Raad is daar ná aankoms van die skip aan die Kaap ’n verwysing na ‘eenige disputen’, alhoewel geen besonderhede verstrek is nie.

Daar bestaan ’n neiging om sulke episodes soos klugte te beskou, maar dit kon ook klein tragedies vir die betrokkenes wees, veral ’n vrou, wat haar eer en reputasie maklik onredbaar kon verloor. Haafner vertel ewe goed van ’n predikant wat op die Bleijenburg uitgeseil het met sy vrou, vier kinders en ’n niggie, ‘een buitengewoon schoon meisje van bijna twintig jaren’. Die egpaar is albei aan boord oorlede, en die meisie is deur die onderstuurman verlei en swanger gemaak; ’n kind is ná die aankoms in Batavia dood gebore, en sy is self kort hierna ook dood.

Skepelinge

Подняться наверх