Читать книгу Skepelinge - Karel Schoeman - Страница 12

VERMAAKLIKHEDE

Оглавление

Laat ons nog een keer na Nederland kyk, die Nederland wat daardie immigrante en Kaapse koloniste opgelewer het; die Nederland waar hulle gebore is en opgegroei het en waardeur hulle gevorm is, ervarings, menings, gevoelens, gedagtes, vooroordele, waardes, persepsies en al; die Nederland wat hulle agtergelaat het; die Nederland wie se skaduwee anderhalwe eeu lank skuins oor Suid-Afrika geval het.

As jong man het die Switserse geleerde Albrecht von Haller soos so baie buitelanders in Leiden studeer, waar hy in 1727 sy doktorsgraad behaal het. Die Spaanse Suksessieoorlog was nog nie lank verby nie, en Nederland, wat deur Groot-Brittanje en Frankryk in die oorlog uitoorlê is, het sy status as Europese mag verloor. Niemand het die feit of sy implikasies egter nog ten volle besef nie, nog minder dat die agttiende eeu vir Nederland ’n eeu van relatiewe stagnasie sou wees, ook vir die magtige VOC. Oor die jare 1720–30 het die Kompanjie selfs ’n rekord-skeepvaart onderhou, met 382 skepe in totaal na die Ooste en 319 terug, syfers wat nooit weer geëwenaar sou word nie.

Ook Haller is as besoeker nog deur die Kompanjie en sy prestasies beïndruk, en verwys bewonderend na Oos-Indiëhuis in Amsterdam, ‘wat die aangrensende strate met die geur van sy speserye in alle rigtings vul’, en die hawe, waar skepe ‘die ganse see bedek’.

Die eenvoudige, ingetoë lewenstyl van die Nederlanders met wie hy in aanraking gekom het, het ’n indruk op Haller gemaak, maar hy verwys ook meermale na die ‘aangename tuine’ en die feit dat die mense geld aan hul tuine bestee, terwyl hy die streek langs die Vecht waar ryk Amsterdammers buiteverblywe besit het as ’n ‘betowerde land’ beskryf het, ‘die ene tuine’. Ten slotte noem hy ook die ‘uitsonderlik baie digters’ wat Nederland besit; dog niks hiervan, ingetoënheid, tuine of digters, het helaas ’n noemenswaardige invloed gehad op die verre kolonie wat besig was om aan die Kaap te ontstaan nie.

Wanneer mens Haller se eensydig geesdriftige berig lees, kan jy slegs wonder waar hierdie welvarende land wat hy uitbeeld die honderde en duisende desperate mans gevind het wat verplig was om jaarliks ’n heenkome by die VOC te soek.

Laat ons dus nog ’n blik op die moeder- en stamland werp soos dit in 1773 in ’n reisgids vir die vreemdeling en besoeker aangebied is, ’n blote kwarteeu voor die ondergang van sowel die Nederlandse Republiek as die Kompanjie, toe ook die ontwikkelingsgang van die Kaapkolonie ’n nuwe rigting sou inslaan.

NIEUWE GEOGRAPHISCHE NEDERLANDSCHE REISE- EN ZAK-ATLAS, BEVATTENDE REISTOGTEN VAN BUITEN ’S LANDS DOOR DE VEREENIGDE PROVINCIËN NAAR AMSTERDAM (1773)

Wanneer men in Gorkum op den stads kloktooren klimt, kan men van daar 22 bemuurde steden en ontelbare dorpen, heerenhuizen en boerewoonings zien. Voorts vind men in deze stad fraaije huizen, en buiten zeer vermakelyke tuinen, aan welken het oog der reisenden wel mag gegund worden. De burgers en inwoonders zyn hier meest kooplieden en schippers tegelyk.

Van Doesburg kan men met den postwagen op Zutphen voortreisen; dog veel vermakelyker des zomers dan in de winter, doordien de wegen dan zeer ongemakkelyk en vuil zyn. Men ziet daar ter wederzyde van den weg verscheidene dorpen, adelyke landhuizen, aangenaame bosschagies en vruchtbare landen, die den reisenden den weg zeer verkorten.

Onder het gelommer van digt gebladerd geboomte komt men meerendeels den weg over, daar dan veele fraaije hofsteden en meerdere lust-tuinen den wandelaar den weg zeer kort maaken.87

Hierdie aanhalings uit ’n agttiende-eeuse reisgids dien ’n dubbele doel. Dit het verskyn kort nadat Rijk Tulbagh ná ’n lang dienstermyn as Goewerneur van die Kaap oorlede en deur Joachim van Plettenberg opgevolg is, en hoewel albei mans lank in die vreemde deurgebring het, was albei Nederlanders van geboorte. Hierdie uittreksels herinner aan dié feit, en aan die Nederland waar mans soos hulle grootgeword het en gevorm is.

Daarby herinner dit ook aan die feit dat daar ten spyte van die agteruitgang wat die agttiende eeu meegebring het, soos besonderlik in die sake van die VOC getoon, en ten spyte van ontvolking, bedreigde handel en nywerheid, ekonomiese agteruitgang en groeiende armoede, nog altyd ’n opvallende mate van welvaart en voorspoed vir besoekers aan die Republiek sigbaar was. Die magistrate, koopmanne, Bewindhebbers van die VOC en afgetrede Goewerneurs van die Kaap het nog altyd vir hulle groot stadshuise met marmervloerportale aangeskaf, siertuine met vywers en urne rondom hul buiteverblywe laat uitlê, knegte in diens geneem en in livrei geklee, perde en rytuie gekoop, en hulle saam met hul gesinne in formele portrette laat verewig, in gepoeierde pruike, sykouse en hoepelrokke.

En dan bowenal, vir diegene wat iets weet van die eenvoudige Kaapse immigrante van hierdie tyd, bevat hierdie reisgids vir gegoede reisigers ewe goed herhaalde herinnerings aan hul bestaan, al word dit nêrens genoem nie. Besonderlik word mens egter herinner aan die mans wat uit die Duitssprekende gebied langs hierdie selfde paaie en deur hierdie selfde stede en dorpe opgetrek het na Amsterdam om hul heil by die Kompanjie te gaan soek, nie in hul eie rytuie nie, wat hulle na willekeur kon verlaat as ’n wandeling van ’n uur of twee vir hulle ‘vermaakliker’ gelyk het, maar die hele ent te voet, in hitte en stof en reën en ryp, met ’n bondel klere of ’n sens oor een skouer, skuilend onder afdakke en slapend onder struike, onseker of hul skoene sou uithou, of hul geld sou uithou.

In die dekade 1770–80 toe hierdie reisgids verskyn het, het die VOC altesaam 75 500 mans na die Ooste uitgestuur, en mens moet wonder hoeveel van hulle Duitssprekendes was wat te voet die roete gevolg het wat hier vir welgestelde toeriste uitgestip is, die stede en dorpe wat daar beskryf word met heel ander oë gesien het, en heel ander ervarings daar opgedoen het, met agterdog en onwil begroet waar hulle kom.

Watter herinnerings sou hierdie mans oorhou aan die stadjies wat in die gids vanweë hul adellike landhuise as besienswaardig aangedui is, ’s Heerenberg, Seventer, Deutekom, Ligtenvoort, Breevoort, Grol, Borculo en Lochem? Hiér is die honde op ons aangehits, hiér het ’n vrou in die kombuis ons kos gegee, hiér was daar ’n fontein met koel water onder het gelommer van digt gebladerd geboomte, en het die wind deur die blare geruis. Hiér het ons uitgerus totdat ons weggejaag is, verder gejaag is.

Dog terwyl die roetebeskrywings in die gids in hoofsaak op vermakelykheid ingestel is, ’n woord wat by herhaling in sy aanbevelings voorkom, dra dit ten minste genoegsaam kennis van die minder idilliese aspekte van die somerlandskappe wat dit uitbeeld om aan te teken dat die paaie in die winter zeer ongemakkelyk en vuil is.

So dus, en daarmee is dit afgehandel. Nou is daar net nog hiérdie land.

Skepelinge

Подняться наверх