Читать книгу Skepelinge - Karel Schoeman - Страница 14

DIE SPAANSE SEE

Оглавление

‘De vloote gaende uyt Nederland naar Indien,’ het die ‘Seynbrief’ van die VOC bepaal, ‘zal by den anderen blyven tot zy de Canaal gepasseert zyn, en in de Spaansche Zee omtrent 40 mylen buiten Engelands End ofte by gissing op de lengte van de Cabo Finisterre gekomen zullen zyn.’

Skepe van Nederlandse hawes het uitgeseil in die Noordsee, wat vroeër as die Mare Germanicum of ‘Germaanse See’ bekend was. Op 29 Mei het Albrecht Herport op die Malakka hiervandaan vertrek, vroeg in Junie het hulle ’n aanval deur ’n ‘Turkse roofskip’ onder Franse vlag afgeweer, en op 10 Junie het hulle die ‘Spaanse See’ bereik, soos die Noord-Atlantiese Oseaan destyds aangedui is. Soos sy tydgenoot Johan Nieuhof opgemerk het, beteken die naam van Kaap Finisterre, die uitstekende hoek van Spanje, ‘einde van die wêreld’. Herport se reaksie was dat hulle ‘die Christendom’ nou geleidelik uit die oog verloor.

Vervolgens het skepe op hul suidwaartse gang die Suid-Atlantiese Oseaan binnegeseil, die Mare Aethiopicum soos dit genoem is, die ‘See van Aethiopia’ of Afrika.

Want de oude schrijvers hebben Africa afgedeelt in vier hooftdeelen, in Barbaryen, Numidien, Lybien, ende Æthiopien, ofte der Swarten landt, uytsluytende Ægypten ende Abexin, nu Priester Johans land.88

Die See, met één naam die Oseaan genoem, wat die ganse aardbodem soos ’n windsel omvang, kry aan die hand van die vier gewestes van die wêreld of na sy verskeie eienskappe of na die lande wat hy bespoel verskeie benamings, soos die Onstuimige See rondom Afrika na die suide.

Met die titel Etiopiese of Moorse See skei die Oseaan voor die kuste van Abessinië van die Rooi See af, krom rondom die uiterste punt van Afrika, Cabo de Bonae spei, na die noorde, en stoot byna teen Spanje aan voordat hy hierdie naam agterlaat. Tussen die engte van Gibraltar, waar hy die naam Etiopiese See verloor, kry hy ’n ander, naamlik die Spaanse See, na die Koninkryk Spanje.89

Skepelinge

Подняться наверх