Читать книгу Skepelinge - Karel Schoeman - Страница 9

WERWING

Оглавление

Dit was bowenal in die groter stede van Europa dat die VOC sy werknemers gevind het, waar die getalle so groot was, die werksoekendes so talryk, die kompetisie so meedoënloos en die armoede en werkloosheid so nypend, en waar immigrante, sover dit Amsterdam betref, bowenal daagliks aangekom het om die getalle werksoekendes te laat aanswel, vernaamlik van die Nederlandse platteland, die Duitse grensgebied en Skandinawië.

Die wydverspreide stede van Europa wat deur lede van die bemanning in Van Riebeeck se tyd aan die Kaap verteenwoordig is, één hiér en twee of drie dáár, het feitlik die hele kaart van Noord-Europa gedek: Antwerpen, Bremen, Brugge, Brussel, Danzig, Dresden, Emden, Genève, Gent, Glasgow, Hamburg, Keulen, Leipzig, Lübeck, Rouaan. Dan in tweede plek, in groter getalle, die meer welvarende stede en stadjies van Holland en die ander Nederlandse provinsies: Alkmaar, Delft, Deventer, Groningen, Haarlem, ’s-Hertogenbosch, Middelburg, Rotterdam en Utrecht, ten slotte gevolg deur dorpe en gehuggies waarvan mens sonder verdere ondersoek nie meer weet waar hulle geleë was en of hul name selfs by benadering reg gespel is nie: Archadsen, Bebbeer, De Cuynder, Drinoute, Hooglee, Sande. Is dit Bergen op Zoom wat in ’n gegewe geval bedoel is, Bergen in die Suid-Nederlandse Henegoue, of Bergen in Noorweë?

In die stede het die VOC bowenal sy werksmense bekom, en bowenal die wêreldstad Amsterdam. Hiér strek hulle duisendvoudig, duisendkoppig uit, skouer aan skouer sover die oog kan sien, om hul dienste aan te bied, talryk soos die graankorrels in die pakhuise van die stad. Daar is mans onder hulle wat diens sal doen aan die Kaap en dáár miskien ’n skamele graf in die soldatekerkhof sal vind, mans wat koloniste sal word, vryburgers en stamvaders van die toekoms, maar aan niks kan hulle nog uitgeken word nie, onvindbaar soos graankorrels, onherkenbaar in die verborgenheid van die tyd, onnaspeurbaar nog which grain will grow and which will not.38

Die toekoms van ’n hele wêrelddeel lê in die hande van hierdie anonieme menigte vir wie daar nog geen vooruitsigte bestaan en aan wie geen verantwoordelikhede nog toegeken is nie.

Die meeste mans in Amsterdam, om maar by hierdie onweerstaanbare en onkeerbare wêreldstad te bly, en by die ongedifferensieerde massa ambagsmense, arbeiders, armes en werkloses wat hulle hoopvol hier saamgeskaar het; die meeste mans het hulle met behulp van seisoensarbeid, geleentheidswerk, ongeskoolde arbeid en dagtakies op ’n manier aan die gang gehou, en werksoekendes het daagliks op die markpleine en brûe hul dienste vir los werkies aangebied, waarvoor hulle dan per ‘skof’ gehuur en betaal is.

Hoe groot die verskeidenheid take in daardie voorindustriële en ongemeganiseerde era beskikbaar was, kan ook die beste geïllustreer word aan die hand van die grootstad Amsterdam, waar daar naas die honderde bakkers, slagters, skoenlappers, kleremakers, tekstielwerkers, timmermans, touslaers, seilmakers, kuipers en andere vir wie se beroep formele opleiding geverg is, ook tallose onopgeleide arbeiders werksaam was.

So was duisende mense byvoorbeeld betrokke enkel by die ontlading en vervoer van die massas koring wat deur Nederlandse skepe uit die Oosseegebied aangevoer is: koringligtermans wat dit met ligters van die skepe moes bring, koringdraers wat die sakke na die pakhuise vervoer het, koringmeters en -setters om die gewig en volume te bepaal, en die vroue aan wie die sogenaamde verschieten opgedra is, die gereelde omroer van koring in die pakhuise om te verhoed dat dit bederf.

Die skeepschirurgyn Nicolaus de Graaff verwys in sy boek oor Oos-Indië geringskattend na slotmakers, bontwerkers ‘en diergelijke geringe hantwerks- en ambagtsluyden’, en in terloopse verwysings na mense wat in opstootjies en straatoproer betrokke was, is daar vermelding van ’n mesmaker, ’n hoedemaker, ’n kousmaker, tekstielwerkers, sierbandwerkers en wolkaarders.

Die mans wat oor die tydperk 1693–1778 in die openbaar in Amsterdam tereggestel is vir uiteenlopende oortredings, en wat waarskynlik ’n redelike dwarsdeursnee deur die stedelike arbeidersklas bied, was onder andere ’n trekwerker, plaatsnyer, katoendrukker, tapper, meulenaarskneg, visskoonmaker, liedjiesanger, steenkruier, chirurgynskneg, hoenderkoper, kammaker, sleperskneg, wolspinner, wewerskneg, en ‘geweezene droogscheerder, maar laastelyk tapper in St. Jacobstraat’. ’n Negentienjarige Duitse immigrant is in hierdie konteks beskryf as ‘langs straat loopende met muysevallen’, en daar is melding van ’n Amsterdammer van ‘omtrent 40 jaar, zynde een ombrenger der Couranten’.

Beeldend en veelseggend skryf Derek Phillips in hierdie verband van ‘dead-end, semi-skilled or unskilled, often temporary, low-paid jobs, bad working conditions, and tight supervision; and what de Vries and van der Woude term an “employer of last resort: the VOC”.’39

Bostaande inligting is verkry uit die Naam-lyst van alle persoonen, die binnen Amsterdam, zedert het jaar 1693 tot 1778 in cluis, door scherprechters handen zyn ter dood gebragt, ’n bygewerkte nuwe uitgawe van ’n bruikbare werk wat op sy dag skynbaar ’n gewilde publikasie was. Dit verstrek naamlik in elke geval nie net besonderhede van oortreding en straf nie, maar gewoonlik ook die ouderdom, bynaam en beroep van die betrokkene, en voorsien sodoende summiere lewensketsies van mense oor wie daar normaalweg geen inligting bewaar sou gebly het nie.

Om ’n steekproef te doen aan die hand van die teregstellings oor die tydperk 1693–1700, toe Simon van der Stel Goewerneur was aan die Kaap en sy seun hom opgevolg het: hiér verskaf die lys die volgende name:

Abraham Reyniersz de Vos, alias Bram den Uil, van Amsterdam,

letterzetter, oud 24 jaaren

Kasper Karts, van Bronswyk, zand kruyder [sandkruier]

Francisco Colonius, van Venetien, een zee-man

Joseph Martinus, van Venetien, een zee-man

Pieter Veldhuyzen, van Rosendaal, bakkers knegt

Cornelis Nebbes, van Vlissingen, knoopmaker

Pieter Janzen, van Duynkerken, varends gezel [matroos]

Daniel Reynierzen, van Erkelens, oud 32 jaar, kuyper

Hans Jurg Baalgen, van Gorselaar [Goslar?], chirurgyn

Jacob Jacobzen Bos de oude, van Amsterdam,

grynwerker [tekstielwewer], oud 58 jaaren

Jacob Jacobzen Bos de jonge, van Amsterdam, oud 34 jaar, kousewever

Pieter Jacobzen Bos, van Amsterdam, oud 27 jaar,

hoede schoon-maker

Koenraed Meyer, van Amsterdam, oud 20 jaaren, zylemaker [seilmaker]

Barend Koenraeds, van Hanover, oud 38 jaaren, chirurgyn

Hendrik Beene, alias Jurriaan de Dood, van Amsterdam,

trekwerker [wewersassistent]

Abraham Chraujas, alias Bram de Smous, van Amsterdam,

oud 19 jaaren, tabakspinder [tabakwerker]40

Van die 16 mans, was 6 sover geoordeel kan word van buite die Nederlandse Republiek afkomstig, en ‘Bram de Smous’ volgens sy bynaam ’n Jood.

Soms gee die Naam-lyst egter meer prys, en ontstaan daar in sy inskrywings iets wat mens in die omstandighede selfs minibiografietjies sou kan noem, of aanduidings van ’n voller lewe waaroor jy graag meer sou wil weet. So vind mens hier byvoorbeeld verwysings na ’n timmermanskneg wat onthoof is nadat hy sy geliefde, die dogter van ’n turfdraer, vermoor het, of die 28-jarige Lodewyk Drezen van Hamburg, wat beskryf is as ‘Hoerewaard in ’t Speelhuis De Bogt van Guinee, op de Zeedijk’.

Of dan is daar is Jan Hendrik Pols, ‘van Halberstad in Brandenburg, een barbier, oud 22 jaren, die in de Moddermolensteeg, alwaar hy in slaapstee lag, zekere Barend Visser met rottekruyt vergaf, waarover hy werd geradbraakt’.41 Pols was met ander woorde ’n jong Duitse immigrant wat as barbier hare gesny, geskeer en eenvoudige mediese dienste verrig het, en ’n slaapplek in die stad gehuur het, wat dui op ’n taamlik prekêre bestaan. Sy motiewe vir die moord is nie opgeteken nie, maar dat hy rotgif gebruik het om Visser te vergiftig, dui ewe goed op ’n skemerwêreld van armoede, en selfs die naam Moddermolensteeg dra tot die geheelindruk by.

Die name van die twintigjarige Koenraed Meyer en die negentienjarige Abraham Chraujas in bostaande lys kondig reeds die feit aan dat ’n beduidende aantal mans wat in die vroeër tydperk tereggestel is jonk was, en selfs verrassend jonk, soos ‘Jan Kerkhoven, alias Groote Jan, van Amsterdam, oud 17 jaar’, wat vir ‘kelderbraaken’ opgehang is. In 1724 is die veertienjarige Barend de Jong, ‘alias de Bolleman’, wat as ‘nog tenger van gewas’ beskryf is, weens sy jeug van radbraak vrygestel, maar opgehang as straf vir die ‘veele dieveryen’ waaraan hy hom reeds skuldig gemaak het.

Terwyl moord en doodslag wel voorkom, lyk die oortredings wat in Amsterdam met die dood bestraf is vir moderne oë dikwels minder ernstig. Meestal het dit gegaan om huis-, kelder- en tuinbraak, of ‘straatschenderij’, waarmee in hierdie tyd straatroof van een of ander aard bedoel is: ’n eietydse geskrif verwys na ‘Boosdoenders die zich niet ontsien de menschen op ’s heeren straaten van het haare te berooven, en alsoo openbare straatschenderyen aan te regten’.

Vroue kom hier selde voor, maar ’n interessante uitsondering is die negentienjarige Anna Hoogendorp, ‘alias De Verlooren Bruyd’, ’n sogenaamde ‘turfmeyd’, ’n vrou wat met ’n kruiwa op straat turf verkoop het, wat met die dood gestraf is vir huisdiefstal.

En verder het mens nog altyd die name en evokatiewe byname, al is dit sonder stemme of gesigte, en al het die detail van hul lewens verlore gegaan: Jacob Jonasz, ‘alias Jaap met de Paruik’, Klaas Augustus Jansson, ‘alias Kattedief’, Mattheus de Roo, ‘alias Dolle Teeuwis’, of Jacobus van Geldert, ‘alias Koo Lamhand’.

Dog ook elders in bronne van die tyd kom mens soortgelyke sketsmatige aanduidings teë van lewens waaroor jy graag meer sou wil weet. Wat byvoorbeeld van Michiel Straatsburg wat hom in 1658 ‘met een strop van sijn cousebant gemaeckt’ in sy slaapkamer opgehang het?

Hierdie verwysing is uit regsbronne afkomstig, en in die aantekeninge van Hans Bontemantel, lid van die Amsterdamse stadsbestuur, kom op soortgelyke wyse ’n evokatiewe sketsie van ’n selfdoodgeval uit 1668 voor, dialoog en al. ’n Man wat sy vrou in die verlede meermale reeds vergeefs geld vir brandewyn gevra het, het by die weiering van twee stuiwers vir dieselfde doel uitgeroep, Ick sal my verhangen of de duyvel sal my haelen, waarop sy geantwoord het, Loop, geck, loop, dat sech ghy altyd, ‘waer nae sy wederom ging haer goet schoonmaecken’. Dog hierdie keer het hy sy dreigement uitgevoer. Hoe graag sou mens daardie stemme nie wil hóór nie, die gesigte sien, en die vertrek waarin hul dialogie plaasgevind het.

In moderne oë sou die meeste van hierdie mense waarskynlik klein, bleek en swak gebou lyk, en in baie gevalle was hulle ook misvorm of liggaamlik ontsier deur ragitis, breuke, boggelrûe, klompvoete, katarakte, skrofulose of skorbuut, bes moontlik ongewas, en heel waarskynlik onwelriekend.

Dit is ’n punt waarby mens in jou betragting van die verlede met voordeel kan stilstaan, want onder géén sosiale klas in énige land was persoonlike sindelikheid in hierdie tyd algemeen nie. Soms is die gesig gewas, voor ete die hande, by besondere geleenthede die voete; soms is die mond uitgespoel, en in die geval van die baie rykes of adel was die wasskottel en -kan in hierdie geval van soliede silwer. Die lyf het deurgaans egter ongewas gebly, alhoewel die stank van ongewaste liggame in die geval van gegoede mense oordek kon word met parfuum: muskus of chypre, Keulse of Hongaarse water. Lodewyk XIV van Frankryk het sy hemde met ’n mengsel van aloëhout, muskus, lemoenbloeisel, rooswater en speserye laat geur.

Die name van die eertydse geurmiddels is net so evokatief soos ou liedere of musiek, maar die geure self is vervloë, vergete. Net so evokatief soos die stank van ongewaste liggame, kamerpotte, sekrete en stalle. Nie die een méér as die ander nie, die ander méér as die een. Die wérklikheid, dit is al. Soos dit was; of so ná genoeg.

Die mans wat werk by die VOC gesoek het, kon aansoek doen in enige van die ses stede waar daar Kamers bestaan het. Die betreklik klein jaarlikse groepie Vlaminge, Brabanders en Wale uit die Suidelike of Oostenrykse Nederlande en die aangrensende gebied het dikwels by die Kamer Zeeland in Middelburg in diens getree, maar die meeste vreemdelinge wat hul herinnerings opgeteken het, het die wêreldberoemde Amsterdam verkies.

Stad van skepe en skuite, van touwerk, seildoek en teer, skeepswerwe en pakhuise, paksolders en pakkelders, bale, vate en kiste, van gedurige rumoer, getimmer, geskreeu, skuite wat kom en gaan, en sleë, karre en kruiwaens, kruiers, slepers en draers wat met hul vragte onophoudelik oor die kaaie heen en weer beweeg tussen skepe en pakhuise, waar kiste en bale gelaai of afgelaai en vate oor die keistene gerol word, met die klank van kerkklokke en die kenmerkende geroep van straatventers tussen die rumoer, bó die rumoer: ‘Mooye ochtendmelck!’, ‘Mosselen, mosselen!’, ‘Rottevallen en muysevallen!’, ‘Hael besemen, coopt gy geen besemen?’; die geteem van straatsangers en -musikante en van bedelaars.

Oorweldigend moet dit alles gewees het vir die vreemdeling, die nuweling wat die taal en die gebruike nie ken nie, vir die swerwer sonder heenkome of geld. ’n Stad van smal strate, stegies, brûe en onwelriekende kanale in die nabyheid van die hawe, soos hy dit sou leer ken het, van reën en modder, kelderkroeë of goedkoop losieshuise en slegte kos in obskure eethuisies. Kroeë, herberge, logemente waar seemanne tuisgaan, wynhuise, brandewynhuise, biertapperye, bordele, dans- en speelhuise wat dikwels niks meer as vermomde bordele was nie, kaatsbane, dobbelhuise, en kelders en aptekerswinkels waar drank te koop was, ’n wêreld waar gewese seemanne en oudwerknemers van die VOC ’n prominente rol gespeel het, saam met werwers, swendelaars en bedrieërs van alle tipes, manlik en vroulik, op soek na goedgelowige vreemdelinge.

Is dít miskien die aangewese plek om die name van enkele Oosindiëvaarders in te voeg wat voorkom onder diegene wat in die loop van die agttiende eeu in Amsterdam tereggestel is? Nie met die oog op hul kriminaliteit nie, nog minder om hulle as ‘tipies’ van die hele groep te probeer aanbied, maar omdat dit op beskeie wyse bydra tot die skamele biografiese gegewens wat oor hierdie groep beskikbaar is, en op sý manier tewens ook iets tot die geheelbeeld toevoeg.

Lucas Sanders van den Berg, van Amsterdam, bootsmansmaat op die Oos-Indiese Kompanjie se skip Arion, wat in Texel gelê het om uit te seil, het omrede ’n bepaalde verwyt die bootsman, skieman en opperseilmaker al drie in hul kooie doodgesteek, waarvoor hy geradbraak is, sy kop afgekap en buite die stad op ’n pen bo sy liggaam geplaas.

—Hendrik Janssen, alias Hein de Oost Indisch-vaarder of Hein Knoop, van Brunswyk, oud 29 jaar, vanweë straatskendery en die doodsteek van ’n vrouspersoon gehang, en sy kop op die galgeveld afgekap, die liggaam op die wiel en sy kop op ’n pen daarbo gesit.

—Cornelis Pieterzen, alias Jan Oostindiën, oud 23 jaar, synde ’n seeman, vanweë verskeie moorde, huisbrake en diefstalle lewendig geradbraak.

—Eldert Kool, van Amsterdam, oud 32 jaar, Oosindiëvaarder, weens begane manslag onthoof, sy kop op ’n pen op die skavot ten toon gestel, en so ook buite die stad die liggaam op ’n wiel en die kop op ’n pen.

—Huybert van Ies, van Amsterdam, oud 22 jaar, Oosindiëvaarder, is weens verskeie afpersings in die openbare strate gehang, en begrawe.

—Pieter van Rhyn, van Amsterdam, oud 22 jaar, timmermanskneg; hy het saam met ’n metgesel op diefagtige manier ’n burgerman nie slegs in die openbare straat aangerand en van sy geld beroof nie, maar met ’n duimstok sy keel toegedruk sodat hy geen geluid kon maak nie; waarvoor hy, nadat hy op Texel van ’n skip afgehaal is, opgehang is, ook búite die stad.

—Pieter Jurriaants Smit, van Tongeren, oor die 30 jaar, seeman, wat weens die pleeg van die verfoeilike sodomie op die Oos-Indiese Kompanjie se skip Rijnsburg van die skip afgehaal en opgehang is, sowel binne as buite die stad. Dog ’n seun van 16 jaar wat deur hom daartoe mislei is, en besonder onnosel bevind is op dié gebied, is van die galg verskoon, maar veroordeel tot streng geseling en langdurige gevangenis in die tughuis.

—Abraham Mozes, alias Bram de Pypeman, synde ’n smous, oud 32 jaar, van Amsterdam, en matroos op ’n oorlogskip, weens moord op sy bysit (by wie hy twee kinders gehad het), geradbraak. Sy misdaad was nie sonder skyn van regverdiging nie, want dit het daaruit voortgespruit dat sy bysit terwyl hy op reis was met ’n Oosindiëvaarder getroud is.42

Noodgedwonge het die oorgrote meerderheid van hierdie mense van dag tot dag geleef en was nooit seker wat die volgende dag vir hulle inhou nie. In die winter het die kort dae en slegte weer byvoorbeeld meegebring dat baie werkers afgedank is, terwyl oorlog elders, ’n slegte oes, die verlies van ’n skip of selfs ’n eenvoudige verandering in die mode honderde mense, waaronder ook redelik gegoedes, skielik in onheil kon dompel, en waar so iets eenmaal gebeur het, was rehabilitasie moeilik.

Dit was uit hierdie milieu of een soortgelyk daaraan dat ’n aansienlike deel van die VOC se werknemers afkomstig was of dat hulle vir werk by die Kompanjie gewerf is. Dit was in hierdie omstandighede dat die VOC uitkoms gebied het, met werk, kos en inwoning vir ’n vasgestelde aantal jare, en die moontlikheid om gedurende jou dienstyd bowendien ’n deel van jou loon aan jou naasbestaandes te laat uitbetaal vir hul onderhoud.

Soos gesê, wil dit voorkom dat die matrose en soldate van die VOC oorwegend uit ’n grootstedelike milieu afkomstig was, maar toe vryburgerskap in 1657 aan die Kaap ingestel is en die owerheid in Nederland landbou onder hulle wou bevorder, het hulle die Kaap laat weet dat hulle verskeie mans aangestel het ‘die haer op den landbouw ende boerenwerq verstaen’. Van Riebeeck self het in hierdie tyd berig dat hy ‘boeren’ van verbygaande skepe gelig en aan die Kaap agtergehou het.

Die feit dat ’n boerdery normaalweg aan die oudste seun bemaak is en die ander seuns ’n heenkome elders moes soek, dikwels op baie vroeë leeftyd, kan kandidate vir die VOC uit hierdie bron opgelewer het, asook misoeste of die verskynsel dat die tradisionele klein boerderytjies in hierdie tyd al hoe meer tot groter eenhede saamgevoeg is. Gesien die kleinskaalse en onekonomiese aard van boerdery in hierdie tyd, was daar op die platteland egter ook nie veel spesialisasie nie, maar inteendeel ’n groot mate van diversifikasie, en De Vries & Van der Woude het dit oor die ‘unspecialised, indeed improvised, peasant household economy’.43

Bowendien was daar ’n aansienlike groep ‘grondlose plattelanders’ wat vir boere gewerk het en van die landbou afhanklik was, en al die mense wat by die onsekere plattelandse ekonomie betrokke was, het uiteindelik miskien in Amsterdam of ’n ander stad beland en sou werknemers vir die VOC kan oplewer.

Ten slotte het die haas ononderbroke opeenvolging van Europese oorloë die VOC ook van ’n deurlopende kwota oudsoldate uit alle dele van die vasteland voorsien, en ’n moderne skrywer het dit in hierdie verband ewe lewendig en neerhalend oor buitelandse huurtroepe,

die als afgedankte of gedeserteerde militairen of om andere redenen de wijk naar Holland hadden genomen. Platzak, het hoofd vol muizenissen, zonder werk door onze havensteden rondslenterend, vielen dezen gemeenlijk in de handen van den een of anderen volkhouder of zielverkooper.44

Oorlog is in daardie jare grotendeels met behulp van buitelandse huursoldate gevoer, en ongeveer 600 000 het altesaam oor die sewentiende en agttiende eeu in die leër van die Nederlandse Republiek diens gedoen, waar die eed van trou in Nederlands, Duits, Frans of Engels afgelê kon word. Dit kan help om die aanwesigheid van buitelanders onder die werknemers van die VOC te verklaar, en ’n verskynsel soos die groot aantal Skotte wat op een tydstip onder Van Riebeeck se groepie aan die Kaap aanwesig was.

Ewe goed moes ’n aansienlike aantal bedrywe wat oorlogsbehoeftes en -voorrade aan die leërs verskaf het, sluit of drasties afskaal. Volgens Florike Egmond het baie van die nuwe werkloses in vredestyd werk gesoek ‘als matroos, losse landarbeider, venter, marskramer of knecht’,45 en by hierdie moontlikhede moet die VOC vanselfsprekend bygevoeg word.

Sover dit sin het om van ’n ‘tipiese’ dienaar van die VOC te praat, en sover so iets trouens bestaan het, was dit, sover dit matrose, soldate en werksvolk betref, waarskynlik ’n betreklik jong Duitssprekende wat sonder geld in Amsterdam aangekom het met die bedoeling om daar werk te soek, nie noodwendig by die Kompanjie nie, en deur laasgenoemde as soldaat in diens geneem is. So ’n individu verteenwoordig in elk geval ’n aansienlike groep mense, en bowendien die grootste enkele groep waaroor nadere inligting bestaan en waaroor dit dus moontlik is om te veralgemeen.

Die Duitser O.F. Mentzel, wat waarskynlik uit persoonlike ervaring geskryf het, het dit in hierdie verband oor aspirantsoldate wat ‘sonder geld’ na Holland kom, en ‘volkome vreemde, onbekende en onbemiddelde mense’ is. De Graaff het in sy boek oor Oos-Indië vehement teen hulle uitgevaar in ’n passasie wat, soos alles wat hy geskryf het, verdien om onvertaald aangehaal te word. Hier beskryf hy hoe vreemdelinge uit Noord- en Oosseehawens en die Duitssprekende grensgebied in ontredderde toestand in Amsterdam aanland,

alwaar sy dan met hooyvorken worden opgestoken, of met bootshaken worden op de wal gesleept, en so smerig en ellendig uitsien dat een mens sig moet erbarmen; dus gaande langs de straten by heele troppen als verdwaalde schapen, sommige met een bolster, sommige met een knapsak, en eenige met een maaiers seis op den trek.46

Nuwe aankomelinge soos hierdie is ingewag deur werwers, vryskutagente van sogenaamde volkhouers wat ’n bestaan gemaak het deur ’n handel in kandidate vir diens by die VOC. By die stadspoorte van Amsterdam en die plekke waar trekskuite en passasierskippies van elders aangelê het, en op die stad se brûe, wat ’n gebruiklike bymekaarkomplek was, het hulle mans ingewag wat klaarblyklik vreemdelinge was, en dan toegesak.

Die Duitser Wintergerst beskryf die Nieuwe Brug, vlak by die oop hawefront langs die IJ, in ’n besonder bedrywige deel van die stad, en omring deur skepe en skeepsbedrywighede, as ‘die werfplek vir skeepspersoneel’; ’n ander Duitse besoeker omtrent dieselfde tyd het dit oor ‘die Haringpakkers- en die Nieuwe Brug, waar talle duisende mense hulle ten alle tye bevind. Ons het dikwels in hierdie omgewing gaan stap vanweë die skepe wat daar lê en die mense wat daarop besig was, wat baie plesierig is om te sien.’

Mentzel gee ’n voorbeeld van die soort opportunistiese gesprek wat so ’n werwer dan aangeknoop het.

Vriend, kan jy vir my sê waar Gerrit de Buys se huis is

(of ’n ander iemand onder ’n denkbeeldige naam)?

—Nee, my vriend, ek is hier vreemd en het nou eers aangekom.

—Toe nou, dit het ek nie geweet nie. Neem my nie kwalik nie.

Waar kom jy vandaan?

—Uit Duitsland.

—Van watter deel?

—Van Magdeburg (of ’n ander stad en streek).

—Kyk nou net! Liewe Vader, as jy gister gekom het, sou jy iemand

uit dieselfde geweste by my gekry het.

—Wat was sy naam?

—Dit was ’n Duitse naam wat ek nie kan onthou nie, maar hy

was ’n kuiper van beroep. Het jy ook ’n beroep?

—Nee, ek soek werk.

—Watter soort werk? Voel jy lus om te seil?

—Ja, as ek werk by die Oos-Indiese Kompanjie sou kan kry.

—As matroos of as soldaat?

—Soldaat.

—Het jy geld? Kan jy jou onderhou tot die Kompanjie weer

soldate soek?

—Nee, my geld het langs die pad opgeraak.

—Luister, vriend! Dis ten minste nog ses of agt weke voordat

die Kompanjie soldate aanneem. Ek sal jou na een van my vriende neem wat jou kos en inwoning sal gee en ook by die Kompanjie help.47

En so verder dan; en die dankbare nuweling het in die val geloop, op ’n brug of langs die waterkant in Amsterdam tussen die stuwende voetgangers, die geroep en gekletter van die bedrywige stad.

Die werwer het sy prooi vervolgens langs onbekende strate en stege na die sogenaamde volkhouer, kostbaas of slaapbaas geneem namens wie hy optree, waar hy volgens Mentzel dan met ’n glas brandewyn en ’n paar gulden vir sy bemiddeling beloon is.

Volgens Mentzel was hierdie werwers bekend as kattenhonden, alhoewel laasgenoemdes volgens De Hullu, wat hulle ‘het uitvaagsel van de hele ronselaarsbende’ noem, hoofsaaklik koopvaardyskepe van bemanning voorsien het. ‘Zij liepen dan de kroegen af om geschikte sujetten op te sporen en ontvingen tot beloning voor elken persoon dien zij aanbrachten een dukaton of drie gulden.’48

In Willem Schellinger se lewendige digbundel is daar ’n interessante ‘t’samen-spraeck’ tussen ’n skipper wat vir drie jaar na die Middellandse See vertrek en bemanning soek, die eienaar van die herberg wat skynbaar as sy hoofkwartier dien, en die kattenhonden wat die werknemers moes vind. ‘En haelt jou Kattenhonde / Al van de Nieuwe-brug,’ spreek die skipper die herbergier aan, terwyl laasgenoemde die kattenhonden op dieselfde manier aanspoor.

In die geval van die VOC het die volkhouers, wat dikwels vroue was, ’n bestaan gemaak deur aan werksoekendes by die Kompanjie en nuwe werknemers kos en onderdak te verskaf tot die vertrek van hul skip, wat altesaam soms ’n paar maande geduur het. In ruil hiervoor het hulle die skuldbrief of cedel oorgeneem wat die nuweling van die Kompanjie ontvang het, wat hulle dan teen kontant verkoop het om hul uitgawes te dek.

Dit was ’n onsekere manier van bestaan, maar minder gewaagd as dié van die cedelkoper, wat geen sekerheid gehad het dat hy of sy die skuldbrief wat hulle aangeskaf het ooit in geld sou kan omsit nie. Waar hierdie handel op groot skaal bedryf is, met die nodige waagmoed en ondernemingsgees, kon dit egter ’n voltydse bedryf word en ’n bron van aansienlike rykdom. Jaap Bruijn verwys byvoorbeeld na Maria van Dijkhuizen, ’n voormalige prostituut uit Amsterdam, wat omstreeks 1720 die handel in transportbriewe van die Kamers Hoorn en Enkhuizen bedrywe het, en met haar dood kort hierna meer as 40 000 gulden nagelaat het.49

SCHEY-LIEDT, ’T WELCK GESONGEN WERT WANNEER IEMANT UYT ZIJN VADERLANT NA HET GOUTRIJCKE ASIA IS VARENDE

Op de stemme van t’Sa t’sa, mijn herders riet

Adieu, Europia,

nu wil ick reysen ga

na dat rijck Asia

om te besien:

ick heb soo lang gedacht,

mijn vrolijck hart dat lacht,

dat ick werde verwacht

te Batavia.

Ick sal niet sijn gerust

voordat ick sie mijn lust

aen de vermaerde kust

van Cormandel,

vol wondren, het is een vreugt

om te aenschouwen

haer edele landt-douwen

voor die jonge jeugt …50

In ’n beduidende aantal gevalle, indien nie die meeste nie, wil dit voorkom dat die nuwelinge wat in hierdie bedryf opgevang geraak het skaamteloos deur die volkhouers uitgebuit is, terwyl die naam cedel- of ceelverkoper gou tot zielverkoper verbaster is, waaronder hierdie mense dan ook die geskiedenis sou ingaan. Deur honderde mans wat bitter berou gely het oor die feit dat hulle hul aan die VOC verplig het, is die sielverkopers verantwoordelik gehou vir alle onheil wat hulle te beurt geval het, en dienooreenkomstig verwens en vervloek.

‘De zielverkoopers,’ het die Rotterdamse geneesheer Johannes Veirac teen die einde van die agttiende eeu opgemerk,

zyn menschen by welken het meeste scheepsvolk in Holland zich ophoud. Zy doorwandelden gragten en bruggen en vragen de aankoomende gasten of zy al van een herberg voorzien zyn? Ingeval zy berooide [hawelose] menschen aantreffen zyn zy beiden geholpen. Zy herbergen niet alleen allerlei slegt volk en zulken die hun geld by hoeren en in de kroegen verspild hebben, maar ook zomwylen deugdzaame jongelingen. Men vind er die wel 20 dergelyke persoonen de kost en slaapplaats beschikken, hoewel beiden zeer soberlyk.51

Volgens die Duitser Wintergerst is hierdie mense gedurende die wagtyd van kos voorsien, ‘en daarby elke dag ’n ons tabak, ’n glas brandewyn en ’n nuwe tabakspyp’, dit met verwysing na die feit dat die kleipype van die tyd net een keer gebruik en daarna gebreek en weggegooi is.

Aanvanklik het dit nog om betreklik beskeie getalle gegaan en Wintergerst noem teen die einde van die sewentiende eeu 15 of 16 mans, Mentzel so ’n dertig jaar later 15 of 20 mense per volkhouer, en G.B. Schwarz omstreeks dieselfde tyd ‘10, 20, soms ook 50 tot 60’.

Die anonieme ‘Amsterdammer’ wie se boek in 1775 verskyn het, gee ’n beskrywing van toestande by ‘de grootste zielverkooper van Amsterdam’ wat moontlik gefingeerd is, maar besonder beeldend, en waarskynlik akkuraat genoeg.

Wy gingen een trap op tot dat wy een solder kregen, daar sloot hy de deur van open, Ga daar maar op, zeyde hy tegens my; en ik ging er op, en hy sloot de deur weer digt.

Maar wat stond ik te kyken dat ik daar zo veel volk vond, en van allerhande Natie, daar zaten daar een party te speelen op de kaarten die zo zwart waaren als de schoorsteen, een party samen te damme, andere weer te zingen, weer andere te leezen, en zommige te huylen.52

Namate die koste toeneem of die volkhouers inhaliger raak, het die normale syfer tot 20 mans of meer gestyg, soos Veirac noem, terwyl daar elders na 40 tot 80 verwys word, en selfs groter getalle.

B. Hussem, ‘heelmeester by die Admiraliteit in Amsterdam’, wat in dieselfde tyd soos Veirac die verskynsel van ‘rotkoors’ of vlektifus op die Kompanjie se skepe ondersoek het, merk op

dat daar baie van dié huise was waarin daar op die solders of in onderaardse kelders dikwels ’n besonder groot aantal mense geskik vir die bevolking van skepe vir ’n lang tyd, ja vir maande agtermekaar opgesluit is.

Ek weet uit persoonlike ervaring dat daar onder andere in een van hierdie huise op ’n besonder lae solder bykans 300 van hierdie mense opgesluit was wat dag en nag daar moes deurbring, hul natuurlike ontlasting verrig, en geen plek gehad het om te slaap nie, maar op en onder mekaar moes lê, en onder wie daar baie was wat teen hul wil daar aangehou is.

Elders het ek gesien dat daar in die kelders van sulke huise ewe goed ’n groot getal van hierdie mense opgesluit was, sommige van wie reeds byna vyf maande daar was, en gedurende daardie tyd ’n besonder besmetlike en slegte lug moes inasem.53

In 1770 skryf die Amsterdammer Bicker Raye in sy dagboek van ’n sielverkoper wat in Amsterdam in die openbaar gegesel en gebrandmerk is, ’n man ‘die seer gruwelijk met seer veele menschen geleeft heeft en haar tegens haar sin, nadat hy haar schrikkelijk geslaagen en getormenteert had, na Oost- en West-Indien gesonden heeft’.

Normaalweg het die skepe van die VOC drie keer per jaar in ’n groot vloot uitgeseil, omstreeks Kersfees, Pase en die tyd van die Amsterdamse kermis in September, datums wat bepaal is deur praktiese oorwegings soos die beskikbaarheid van vars kosvoorrade ná die oes- en slagtyd, die verwagte weer langs die roete en die beskikbaarheid van handelsgoedere in die Ooste.

Op vasgestelde tye is daar dan bekendgemaak dat die Kompanjie personeel soek vir die volgende uitseilende vloot. Soos J.F. Müller van Hildesheim oor die prosedure in Amsterdam berig: ‘Op 18 September is hier in alle strate en stege met trommels en pype, skalmeie en trompette openlik soos gebruiklik uitgeroep dat wie lus was om hom na Oos-Indië te begewe hom by die Here Bewindhebbers van die Edele Kompanjie kon aanmeld.’

Gewoonlik het daar dan ’n groot gedrang van werksoekendes by die onderskeie Oos-Indiëhuise ontstaan, en Schwarz noem dat daar in Rotterdam bykans 800 mans saamgedrom het toe hy self aansoek probeer doen, alhoewel net 250 aangestel sou kan word, en dat slegs 3 van die 13 kandidate van die volkhouer by wie hy self ondergebring was, vir diens aanvaar is. Schwarz en Mentzel verklaar albei dat meerdere mans in die menigte beseer of versmoor is.

Gesien die VOC se behoefte aan mannekrag was die keuringsproses egter nie streng nie, en Müller self is vir diens as soldaat aanvaar, met die beskeie rang van adelbors.

Komt al die mee wilt varen,

Maeckt kist en bultsack ree [gereed],

Hoort wel na mijn verklaren,

Oostinjen die wil t’Zee.

Men monstert nu het Volck goet,

En morgen de Soldaten.

Na Boort toe metter spoed.54

Die laer militêre range, skryf Mentzel, is onder gunstelinge van die Bewindhebbers van die Kompanjie verdeel, of moes gekoop word: volgens hom het dit 500 gulden gekos vir ’n sersant, 200 vir ’n korporaal en 50 vir ’n lanspassaat of onderoffisier, ‘maar dit alles net in die geheim’. Elders word 2500 gulden vir die pos van opperstuurman genoem.

Op 24 September, om voort te gaan met Müller se verhaal, is die mans wat vir diens aanvaar is op dieselfde wyse as voorheen na Oos-Indiëhuis ontbied, waar die Artikelbrief, die algemene wetboek van die VOC, vir hulle voorgelees en hulle daarop beëdig is. Dit is twyfelagtig of baie van die mans iets daarvan kon verstaan, maar waarskynlik was hulle net te dankbaar dat hulle werk gekry het. ‘Toe daar van ons ’n antwoord verlang word,’ skryf Müller, ‘het almal met opgehefte hand met die grootste vreugde Ja Ja geantwoord.’

By hierdie geleentheid is bekendgemaak dat die mans op 28 September met hul besittings gereed moes wees om oor die Zuiderzee na die eiland Texel vervoer te word, van waar skepe van die Kamer Amsterdam in die Noordsee uitgeseil het.

In ’n pikareske roman uit die middel van die agttiende eeu waarin besluit is om die hooffiguur te probeer hervorm deur hom na die universiteit in Leiden te stuur, verklaar hy self dat hy uitgerus is ‘en van alles zo wel verzorgd als of ik een Oost-Indische reis zou aengenomen hebben’.55 Dit verwys egter na gegoede mans en diegene wat deur liefdevolle familielede uitgerus is.

Teen die einde van die eeu het ’n standaarduitrusting vir ’n Nederlandse seeman na bewering bestaan uit 2 blou hemde, 2 kamisole en linnebroeke, ’n hoed, ’n pijrok, 2 paar skoene en kouse, ’n paar slaapmusse, ’n kopkussing, ’n perdekombers, 6 pond tabak, ’n vaatjie brandewyn, 12 kleipype, papier, penne, garing, naalde, ’n paar skoenmakerselse en ’n riksdaalder drinkgeld. ’n Kamisool was ’n tipe baadjie, in hierdie geval vermoedelik die sogenaamde ‘seemanskamisool’, en ’n pyrok ’n jas wat van pylaken gemaak is.

Mentzel spesifiseer dat die baadjies en broeke gestreep was, en noem ’n bykomende aantal kleinighede soos ’n bliklepel, ’n tinbeker en ’n mes. Soms het opseilendes ’n viool, ’n psalmboek of een of ander stigtelike werk saamgeneem.

Brandewyn en tabak was skynbaar ’n basiese deel van die uitrusting: ‘by stormweer is ’n sluk brandewyn en ’n pyp tabak beter as kos en drank,’ merk J.W. Vogel op, en daar is beweer dat die bemanning liewer sonder ’n maaltyd sou bly as om dit te ontbeer.

Ook is daar sprake van ’n bulsak of matras, volgens Mentzel met koeihaar gevul, alhoewel varkhaar of strooi elders genoem word, en Georg Meister dit oor ’n ‘haarkombers en opgestopte strooisak’ het. J.C. Hoffmann verwys na watte, en ’n eietydse beskrywing noem spesifiek ’n Oosterse palempoer, ’n dun gewatteerde sisdeken wat onder die VOC ook in algemene gebruik was in Kaapse huishoudings.

Die Noor Frederik Bolling is deur die Kompanjie voorsien van ’n ‘kis en bulsak om op te lê, tesame met ’n hangmat’. Die bulsak en kussing het saam uitgemaak wat destyds ’n ‘bed’ genoem is, en deur matrose ’n ‘kooi’ of ‘kooigoed’. Teen die agttiende eeu maak Mentzel melding van ’n hangmat, wat teen daardie tyd al hoe meer algemeen begin raak het op skepe.

Die Duitser David Tappe noem ’n skeepsuitrusting van 2 pakke klere van growwe linne, 2 hoede, ’n rooi wolmus, ’n paar skoene, 3 messe, 12 pype, 8 pond tabak, 3 kanne brandewyn, 2 steenwerkkanne, ’n ‘bont sigeunerkombers’, ’n kussing volgens hom met die kaf van heidekoring opgestop, en ’n matras met strooi gevul, naas penne, papier, ink, skoenveters en kousbande.56

Nie almal was egter so goed voorsien nie, en Nicolaus de Graaff het dit geringskattend oor ‘een vijf à ses kan brandewijn, een rolletje tobak, twee à drie hemde, een linne broek en rokje, met een strooijen bultsak’.

Vier weke nadat hy aangemonster het, skryf J.H. Schröder oor sy verblyf in Amsterdam, is ’n trommel drie dae lank dwarsdeur die stad geslaan, om die werknemers van die VOC op te roep, en op die vierde dag is die mans met hul kiste na die vertrekpunt geneem, op maat van wat hy as die ‘droewige klanke van ’n ou viool en ’n swak gestemde hakkebord’ beskryf.

‘Met fluite en dromme, skalmeie en trompette’, berig Müller, is hy en sy metgeselle op die dag van inskeping deur die strate van Amsterdam begelei na die plek van waar hulle na hul skepe gebring sou word in ligters, kleiner vaartuie met min diepgang wat vir die vervoer van passasiers en goedere gebruik is.

Dus siet men se dan voeren

Al na de Lichter hoort,

Dan roept men, Adieu, hoeren,

Wy gaan na Injen voort …57

Die gebruiklike vertrekpunt in Amsterdam was die Montelbaanstoring, ’n oorblyfsel van die ou stelsel van stadsverdediging, nie ver verwyder van die hoofkwartier van die VOC, aan die Oude Schans, ’n kanaal wat uitmond in die IJ en die Zuiderzee.

Die tog oor die Zuiderzee na Texel kon lank duur. Die Duitser C.C.F. Jänzsch en sy medesoldate het om drieuur smiddags vertrek, oornag voor anker gelê, en die volgende dag om vieruur hul skip bereik. In die geval van Albrecht Herport en sy maats was hulle twee dae en nagte onderweg, en so ook Peter Kolb en Christoph Frick; toe daar ’n sterk teenwind was, was dit selfs vier dae. Georg Meister, in ’n geselskap van 150 soldate en ewe veel matrose, verwys na drie ligters. Jänzsch noem 180 soldate in sy eie groep, wat in vier ligters vervoer is, en die Franse huursoldaat Jean Guidon de Chambelle het dit oor twee vir 199 man, waarin hulle twee weke lank moes bly wag voordat hulle aan boord kon gaan.

Die Duitser J.C. Wolf, wat as sieketrooster aangestel was, skryf dat die ruim van die ligter waarop hy passasier was, gevul was met soldate, wat meestal Duitsers was en meestal beskonke. Toe die vaartuig die see bereik, het hulle almal onpaslik geraak en het die matrose aan boord vanweë die stank na die oop dek gevlug, waar die stuurman die opdrag gegee het, ‘Maak toe die luike, laat die varke nou maar lê en maak soos hulle wil.’ Die soldate het 24 uur daar bly lê in hul eie vuil, berig Wolf: die agttiende eeu en lewe onder die VOC in hul onverbloemde werklikheid.

‘Ek het op 2 Mei 1757 diens gekry,’ het die Nederlander J.A. Hoorn op sy oudag onthou, ‘vir sewe gulden per maand, op die skip Leiden, by kaptein Middelmeer en die opperstuurman Vogelzang, bootsman Jan ter Burg; hierdie skip het nog 20 matrose benodig om in see te kan gaan.’ Die ‘Kalkmarkt’ waarna hy hier verwys, kom op dieselfde soos die Montelbaanstoring neer.

Ek het vyf dae by my broer in Amsterdam deurgebring, toe slaan die trom: ‘Alle offisiere en matrose wat aangestel is op die skip Leiden moet hede oor vier dae om 8 uur soggens op die Kalkmarkt wees, waar die laaste ligter sal aanlê om die skeepsvolk aan boord te bring.’ Ek en my broer was betyds daar, met my kis en kooigoed; om 10 uur was ons onder seil; die volgende middag om 5 uur was ons op die skip; ek was verwonderd oor die baie mense en die groot skip; my broer en ek het op ’n kis geslaap, en my kooigoed onder ons koppe.

Die volgende middag om 2 uur het my broer met die ligter teruggegaan na Amsterdam. Nou was ek op die skip waarna ek so lank verlang het. Ek het daardie dag menige sug geslaak; maar ek het gedink aan my God, en dat dit nog altyd my eie keuse was.

Die derde dag dat ek aan boord was, is my kis en kooigoed gesteel. Ek het trane gestort oor my goed; ek het niks oorgehou behalwe wat ek aan my lyf gehad het nie.58

Soms het nuwelinge op die ligters reeds kennis gemaak met die lot wat aan boord skip op hulle wag, soos Jänzsch, toe hy die skipper se aandag probeer vestig op die feit dat ’n beskonke passasier oorboord geval het, en toegesnou is: ‘Dat raakt mij niet al.’ Die offisier wat hulle aan boord skip ontvang het, het ewe min belanggestel.

Ook andersins is die nuwelinge nie altyd baie welkom gemaak aan boord nie, soos J.C. Raetzel toon wanneer hy die opmerkings aanhaal waarmee hy en sy metgeselle deur die skeepsoffisiere en matrose op die Voetboog begroet is: ‘Haha, daar komen de Oost-Indische landkrabben, de Franse baren, de Moffen, de hannekemeiers binnen scheepboord! Welkom, gij schobbejakken, gij rakkers, zoek elk zijn kisten en kooigoed, en breng ’t naar beneden en berg uw goed, want hier boven is wat anders dan omkijken te doen!’59

Volgens Bolling was daar 339 ‘koppe’ of mense op die Sticht van Utrecht waarop hy hom aangemeld het, ‘waaronder 14 vrouenspersone’, wat vermoedelik passasiers was, terwyl eerwaarde François Valentijn die Hof van Ilpendam beskryf as ‘een schip van 145 voeten, voorzien van 36 stukken, 8 bassen en 220 koppen, waaronder 88 soldaten’: die verwysings is na tipes geskut. Kolb se skip, die Unie, was 160 voet lank, en bewapen met ‘60 zware kanons, behalve de bassen of dobbelhaken’, wat na klein skeepskanonne verwys.

In die begin is daar elke dag onder die werksvolk geveg omrede daar soveel nasies was. Hulle was amper almal dronk, want baie van hulle het gedink dat hulle nooit meer wyn of ander sterk drank sou kry nie; daar het bote rondom die skip gelê wat verskeie dinge verkoop het. Dieselfde dag is vier soldate in boeie gesluit weens vegtery, maar gou weer vrygelaat op voorspraak van die vroue wat by ons aan boord was, sommige by hul mans en gesinne, ander by hul vriende.60

MATROOS AF-SCHEYT, VARENDE NA OOST-INDIEN

Stemme: Bocx-voetjen.

Dan komen de meysjes en maken my bang,

Zy seggen, Buur-vryer, hoe kondy so lang

Gaen varen van huys,

’t Is een abuys,

Gy sult noch wel seggen, Och! was ick weer thuys.

Al lacchende seg ick, Meysjes, zwijgt stil,

’k Vaer omdat ick u niet hebben en wil:

Al varen wy veer,

Wy komen wel weer,

Dan nemen wy meysjes na onse begeer.61

Vanweë die etlike honderde mans wat aan boord moes gaan en die hoeveelheid voorrade en goedere wat gelaai moes word, het die voorbereiding en vertrek van die skepe met groot bedrywigheid gepaardgegaan en lank geduur, sodat dit ook familielede, vriende, venters en nuuskieriges aangelok het.

Dit lyk asof die hele see vol klein vaartuigies is, met ouers wat hul seuns begelei, vroue wat hul mans ewige trou tot in die ligter belowe, vriende wat hul kennisse met die begeleiding eer wil betoon; hele regimente bierverkopers verskyn op die water om die droewiges op te beur. Daar word gejuig, gesing, geskreeu, gehuil en gevloek. Om kort te gaan, dis ’n mengsel van alle toestande waaraan mens kan dink.62

Intussen het ligters steeds leggers water en verdere skeepsbehoeftes en voorrade aangevoer, wat gemiddeld 15 vragte bedra het, en moes die nuwelinge dag en nag gereed wees om dit te help aflaai. ‘Hierdie ware strafhuisarbeid op die skepe wat in Texel wag om te vertrek, duur gewoonlik 14 tot 18 dae,’ skryf Mentzel; ‘teen daardie tyd is die skepe meestal grotendeels in orde.’

Sodra die bemanning aan boord gekom het en roetinewerksaamhede op die skip begin, is die nuwelinge sover die tyd dit toelaat, onderrig in die bediening van die seile en geskut en die hantering van ‘handgeweer’, waarmee wapentuig soos vuurwapens en sabels bedoel is.

Die Duitser Mentzel gee ’n besonder beeldende beskrywing van die chaos wat in die oë van ’n onervare nuweling op ’n Oosindiëvaarder losgebreek het wanneer daar gereedgemaak word vir vertrek.

Binne ’n paar uur is die skip gevul met mans en hul kiste; die mans val oor mekaar. Die oorloopdek is met touwerk bedek; nêrens is daar vaste trapplek nie. Jy kry ’n tou of ’n dik sterk koord in jou hand, met meer as 100 mans moet jy daaraan trek, en weet en sien nie wát getrek word nie.

Die bootsman met die bootsmansmaat, die skieman met die skiemansmaat, die stuurmanne, die konstabel en al die ander dekoffisiere van gelyke rang is oral aanwesig, gee bevele, skreeu, roep, vloek en slaan. Vier kwartiermeesters, twee korporaals, twee lanspassate en die provoos, elkeen bewapen met ’n stuk tou 18 duim lank, so dik soos ’n vinger met die end in teer gekook, gaan onder die soldate rond, slaan blindelings, trek ewe goed los op diegene wat heelhartig hul werk doen as op pligsversuimers. Van tyd tot tyd deursoek die dekoffisiere elke hoek van die skip om vas te stel of enige man wegkruip om werk te vermy.63

In soortgelyke trant skryf J.F. Müller oor ’n ‘verwarde doolhof van kiste en beddegoed’ wat oral opgestapel staan, en lees mens in die geval van ’n Franse skip van ‘champagne, wine, trunks, chests and boxes everywhere about’.

Sailors swearing, cattle lowing, birds and poultry screaming upon the poop; and as it blows hard, we have the additional noise of the whistling of the ropes and the cracking of the timber and rigging as the ship rolls about at anchor. Several other ships lay near us, and we are deafened by the hallowing [sic] of their officers to us through their speaking-trumpets.64

Toe die Oudenaarde op die uitreis deur Franse seerowers aangeval is, berig J.G. Worm, was die dek so volgepak met kiste en ander kleiner items dat die bemanning moes wag totdat dit nag geword het om die ligte geskut wat hulle benodig het, bodeks te kan bring.

Die reis het begin, die tog langs dit woest en lang vaertwater, soos die skrywer-predikant Arnoldus Montanus die roete na Oos-Indië genoem het in ’n boek wat in 1651 vir die eerste keer verskyn het, die jaar waarin Van Riebeeck en sy mense hul tog na die Kaap aangepak het. Die avontuur het begin, sou mens kan sê; dog tesame daarmee het ewe goed die konfrontasie begin met die harde werklikheid van die lewe op ’n Oosindiëvaarder onder die VOC, waarop die meeste van die nuwelinge aan boord hoegenaamd nie voorbereid was nie, soos hulle by herhaling in hul herinnerings getuig.

In ’n era van seilskepe wat hoofsaaklik van wind afhanklik was, was dit nodig om op ’n geskikte wind te wag om in die Noordsee te kan uitseil, wat lank kon duur, en Peter Kolb moes drie weke aan boord deurbring, Johann Schreyer vier en J.H. Schröder vyf, terwyl die wagtyd in Jänzsch se geval nie minder as agt weke bedra het nie.

Dit was egter nie net die wind wat die afvaart kon teëhou nie, maar weersomstandighede oor die algemeen. ‘Ons het vertrou,’ het die Here XVII byvoorbeeld vroeg in 1660, tydens die Europese winter, vir Van Riebeeck aan die Kaap geskryf,

dat die Muskaatboom en die galjoot Het Parkietje, vir die Kaap bestem, wat hierdie skrywe sal besorg, voor die ryp op see sou wees, maar aangesien laasgenoemde skielik ingetree en alle vaarwaters gesluit het, is sommige ligters met manskappe en voorrade aan boord vasgevries, sodat hulle verplig was om terug te keer. Hierdie ramp was die gevolg van ’n tekort aan bemanning, sodat ons die skepe nie so gou gereed kon maak soos verlang nie.65

Meestal was dit gebrek aan die geskikte wind wat die vertraging veroorsaak het; maar, skryf Mentzel, ‘sodra die wind gunstig is en uit die ooste of die suid- of noordooste waai, of dit dag is of nag, word die ankers gelig, die seile gehys, die kanonne vuur ’n afskeidsgroet, en die skip vaar in Gods naam uit’.

Dit was in die allersoetste van die aangenaamste lentes, die 16de April 1658, dat ons die klein, wydberoemde Holland verlaat en buite die vaarwaters van Texel die oop see opgesoek het. Ons was drie skepe saam, die fluite Leerdam en Nieuwpoort na Oos-Indië, en die ander genaamd die Dolfijn na Guinee bestem. Saam het ons koers gekies na die Kanaal, wat met ’n gewenste noordooswind gebeur het, en langs die Engelse kus geseil, maar kon aan die ander kant vanweë die newelagtige lug geen land van die Franse koninkryk sien nie.66

Skepelinge

Подняться наверх