Читать книгу Skepelinge - Karel Schoeman - Страница 19

SKEEPSVOLK

Оглавление

Dog die passasiers op die agterskip, wat in die kajuit bedien is en op die halfdek die aandkoelte kon geniet of die maanlig bewonder, die kajuitgaste met hul boeke, musiek, kaartspel, doellose gesprekke, groot maaltye, triviale tydverdrywe en algemene verveling, is hier nie eintlik ter sake nie, en is slegs volledigheidshalwe genoem.

Wie was dit wat die Swellengrebels se maaltye op die Liefde voorberei het, wie het die roer van die skip en die seile bedien terwyl daar in die kajuit of op die halfdek elegant gekonverseer word om die tyd te verdryf?

Dit was natuurlik die gewone seemanne, en in die meeste gevalle die mense in die Noord-Europese samelewing wat in Nederlands deur hul sosiale meerderes indertyd neerhalend die gemeen of gemene volk genoem is, of skerper nog aangedui met name soos grauw, gespuis, geboefte, rapalje of kanalje; ‘maatschappelijk uitschot’, soos ’n agttiende-eeuse Nederlandse skrywer hulle noem,

straatslijpers, vagebonden, geboefte en aan lager wal geraakten die geen andere kans meer hadden om zich op de been te houden; kadraaiers, baliekluivers en rabauwen, van wie stad en land niet anders dan leed en armoe te wachten hadden; de door de zielverkoopers opgepikte schooiers en zwervers.122

Om kort te gaan: die volk.

Van die hoër geleë dekke van die agterskip kon die kajuitgaste in die mees letterlike sin op hulle neersien waar hulle op die voorste gedeelte van die dek voor die groot mas op ’n veilige afstand gehou word.

Volk, znw. (onzijdig). 1. Mensen, onderworpen aan het gezag van God, een souverein overheid, vaak zoveel als onderdanen: Het is zeker dat onder Gods volk alle schone en overvloedige plaatsen genoemd plachten te worden Paradijsen (1634).

2. Gezamenlijke mensen die door afstamming, taal, organisatie enz. zich onderscheiden van een andere dergelijke verzameling: De Heere onze God heeft ons ende onze vaderen uit het land Egipti geleid, ende ons bewaard op alle de wegen dien wij gereisd zijn ende onder alle volken door welke wij gegaan zijn (1526).

3. Aantal mensen met een gemeenschappelijke kenmerk, doel of beroep: De schepen H., H. en L., boven ’t varend volk versterkt met 82 soldaten (1648).

4. In sociaal opzicht. De lagere stand in tegenstelling tot de elite; de gewone mensen; vaak enigszins met de bijgedachte van onbeschaafd: Gemeen volkske, arme menschen die noch edele lieden noch kooplieden en sijn (1562); ’t Slecht volkje, the rabble, base people (1691); ’t Is schorremorre van volk, dat is, de heffe of droesem (1726); ’t Is schuim van volk (1726).

5. Mensen in een bepaalde beroepsmatige hoedanigheid: De schepen die men als gemonteert soude reeckenen, moeten volck, geschut ende ammunitie aan boord hebben (1621); Den stuurman wert genootsaeckt door ’t afsterven sijns volcks eenige Portugysen tot scheepsdienst te bewilligen (1646).123

Volk (-e, -ere; -ie). 1. Groep mense wat deur eenheid van taal en historiese ontwikkeling ’n duidelike besef van samehorigheid besit: Ras is ’n biologiese, volk ’n kulturele eenheid, nasie ’n politieke eenheid.

Volksaak; volksaard; volkseie; volksgees, volkswil; volksheld; volksiel, volksleier; volksman; volksmening; volkstem; volksvader; volksmoeder; volksvyand; volksvreemd.

[Ensovoorts.]

2. Laer stande, klasse: Die hoë lui meng hulle nie met die volk nie.

3. Nie-blanke arbeiders—tans sterk gestigmatiseer en dus te vermy. Die volk werk op die lande. Die volkies is darem gedaan; ai, hulle is pootuit (Boerneef).124

Zeevolk; scheepsvolk; bootsvolk; schuitsvolk; varend volk; baksvolk; werfsvolk.

—Garnizoensvolk; krijgsvolk; voetvolk; wachtvolk.

—Treinsvolk; bosvolk; werksvolk; postvolk; vrouwvolk.

[Ensovoorts.]

‘De gemeene man, die in ’t Hollandsch schertsend Jan Hagel genoemd wordt, terwijl men hun meesters Jan Donder noemt.’125

Jan Hagel. In toepassing op een, of op de, grote menigte (des) volks, in de collectieve eigennaam Jan Hagel.

1. (Het) gepeupel, (het) grauw, (het) gemeen.

2. Gespuis, geboefte.

3. In ’t bijzonder, als collectieve benaming voor het gemene scheeps-

volk en de mindere schepelingen: matroos.

In niet-collectieve zin, als typische benaming voor een man uit het volk, al of niet met een verachtelijke, smadelijke bijbetekenis.126

Janmaat. Benaming voor een of voor den matroos, en als collectief voor de matrozen, het mindere scheepsvolk als geheel.

Maats. Onder matrozen: makker, kameraad, met wien een matroos in nauwere betrekking staat; verg. b.v. baksmaat: die met een ander aan dezelfde bak eet.

Veel van de maats vielen in de kooy en verscheiden stierven.

Om sy groot vloot skepe te bedien en sy werknemers, voorrade en handelsgoedere te vervoer het die VOC bowenal matrose benodig, en namate dienskontrakte afloop of mans te sterwe kom of dros, terwyl die werksaamhede van die Kompanjie steeds in omvang toeneem, moes hul getalle steeds aangevul word. Die Kompanjie se behoefte aan mannekrag was in feite onstilbaar, en hy moes bowendien kompeteer met ander instansies in Nederland wat van seemanne gebruik gemaak het.

In 1725, toe ’n totaal van 49 500 mans in Nederland by die seevaart betrokke was, was 22 000 van hulle by die koopvaardyvloot, 11 000 by die Kompanjie en 9000 by die walvisvaart, die drie grootste werkgewers op hierdie gebied, naas 4000 by die seevissery en 3500 in die landsvloot. In oorlogstyd het die situasie wel dramaties verander, aangesien die Staat se behoeftes dan voorrang moes geniet, en ánder instansies ewe goed seemanne benodig het, sodat die VOC met ernstige probleme gekonfronteer is.

Gedurende die Spaanse Suksessieoorlog het die vloot byvoorbeeld soveel soos 17 000 man verslind, terwyl soveel soos 7000 by die kaapvaart in Zeeland betrokke was. Ook die uitwerking van die Sewejarige Oorlog in 1756–63 is byvoorbeeld dadelik deur die VOC gemerk deurdat ‘de Deenen, Zweeden, Jutten en andere braave matroozen’ vanweë die hoër soldy verkies het om voorlopig in Britse of Franse diens oor te gaan en die Kompanjie gebrek aan ‘goed bevarene matroozen’ gely het.

Die groot voordeel wat die VOC in hierdie kompetitiewe wêreld besit het, ondanks sy swak reputasie as werkgewer, was dat hy vaste werk met kos en inwoning gebied het vir die volle kontraktyd, en bowendien die moontlikheid vir die mans om gedurende hul afwesigheid ’n deel van hul gasie aan ’n familielid in Nederland te laat uitbetaal. Daarenteen was dit wat sy mededingers gebied het seisoensarbeid wat vir ’n deel van oorlogvoering afgehang het, terwyl alles op see in die winter tot stilstand gekom het.

Die spesifikasies waarmee werwers vir die VOC teen die einde van die agttiende eeu gewerk het, het mans vereis wat ten minste 5 voet (1,5 meter) lank was, gesond en sonder gebreke, en tussen 18 en 40 jaar oud.

Aan die hand van kledingstukke en skoene wat teruggevind is op die slawe- en seerowerskip Whydah, wat in 1717 voor die kus van Massachusetts ondergegaan het, was die opseilendes gemiddeld 1,4 meter lank, klein soos die mense van hul tyd.

Wat ouderdom betref, sou ouer mans nie bestand gewees het teen die eise wat die VOC aan sy werknemers gestel het nie. Gedurende die eerste halfeeu van die Kompanjie se bestaan was die gemiddelde leeftyd na bewering 24, en die oorgrote meerderheid van hulle was in die twintig.

Waar ouderdomme aangegee word wanneer mans verklarings aflê of in die huwelik tree, word hierdie indruk bevestig: Duitsers wat deur Roelof van Gelder nader bestudeer is, was gemiddeld 18 toe hulle die huis verlaat en 24 by indienstreding by die VOC, en waar daar in vroeë Kaapse dokumentasie ouderdomme vermeld word, gaan dit dikwels om mans van om en by die twintig, terwyl daar selfs ’n soldaat van 15 jaar voorkom. Die vroeë vryburger Hendrick van Surwuerden was byvoorbeeld 23 toe hy met ’n diensmeisie op ’n besoekende skip getroud is, en W.C. Mostaert in soortgelyke omstandighede ewe oud.

Oor die algemeen was die betrokkenes geen opgevoede en ontwikkelde mans nie, en waarskynlik kon die meeste van hulle nouliks lees en skryf, of glad nie. Afgesien van die feit dat hulle dikwels nie met die see of skeepvaart vertroud was nie, het ’n aansienlike deel van hulle waarskynlik ook geen Nederlands geken nie, al kon hulle in baie gevalle seker regkom met behulp van Neder- of Platduits, die dialek wat oor ’n groot deel van die huidige Noord-Duitsland en oostelike Nederland gepraat word.

Wel was daar ’n groot tegniese woordeskat wat aangeleer moes word ten einde bevele aan boord behoorlik te kan verstaan en uitvoer, maar skynbaar het dit geen wesenlike probleem uitgemaak nie. Die Noor Frederik Bolling verwys byvoorbeeld na twee Pole op die Sticht van Utrecht wat geen ander taal as hul eie geken het nie, en in kollektiewe optrede, soos byvoorbeeld die hys van die seile, was dit waarskynlik voldoende om die voorbeeld van die ander matrose te volg, en blindelings op bevele te reageer namate hulle met die klank daarvan vertroud raak, sonder om te verstaan wát presies beveel word.

EED VIR DIE BOOTSGESELLE

Ons beloof en sweer dat ons die Hoogmoënde Here State-Generaal van die Verenigde Nederlande as ons hoogste en soewereine owerheid, die Bewindhebbers van die Generale Geoktrooieerde Oos-Indiese Kompanjie in dieselfde land, tesame met die Goewerneur, sy ondergoewerneurs oor die ander stede, forte en verdere plekke in Oos-Indië, Direkteure oor die onderskeie kantore van die Kompanjie en voorts alle Rade van Indië onder wie ons aangestel word wanneer ons op genoemde plek aangekom het, asook die onderskeie kommandeurs, koopmanne, skippers, kapteins en ander owerhede en offisiere, onderweg op hierdie skepe of naderhand oor ons aangestel, getrou en gehoorsaam sal dien ter uitvoering van die werk waarvoor ons aangeneem en uitgestuur is.

Voorts dat ons die Artikelbrief, en alle ander bevele, instruksies, sein- en rantsoenbriewe en verdere ordonnansies waarna genoemde Artikelbrief verwys, wat deur genoemde Bewindhebbers gemaak is of nog gemaak sal word, of dié wat, sy dit te water op die skepe of te land, deur ons Kommandeurs, Koopmanne, skippers of ander bevelhebbers gemaak word, elkeen in sy amp so ver dit op hom betrekking het, sal gehoorsaam en na ons uiterste vermoë in alle punte getrouelik nakom.

Soo waerlyck helpe ons Godt Almachtig.

—Houdend die eed vir soldate verder die klousule of belofte dat hulle in alle nood te water en te land geen gevaar sal ontsien nie, maar hulle gedra en kwyt soos vroom soldate en krygsmanne verplig is en verwag word om te doen, sonder om deur vrees vir verlies van lyf of lewe of om enige ander rede, hoedanig dit ook mag wees, hul plig te versuim.

Soo waerlyck helpe ons Godt Almachtig.

Skepelinge

Подняться наверх