Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 5 - Louisa du Toit - Страница 13

10

Оглавление

Eers as Elna in haar ouers se slaapkamerdeur staan en die leë dubbelbed sien, glo sy waaragtig. Sy het tog maar vir Makkie onthou soos sy haar laas gesien het: daglank in die bed, op doktersbevel. Dit, die leë plek, oortuig haar meer van die finaliteit van haar ma se heengaan as wat Malie se luidrugtige geween kan doen.

Malie lê behoorlik teen Sjert en huil hom amper onderstebo. Sjert moet sy staan ken. Die huilery, so vind Elna, het sedert haar aankoms vererger. Dis dus as ’n soort aanklag bedoel.

Ook Boet se vroutjie, Mien, is daar. Met ’n slap, koue handjie ontmoet sy vir Elna, wat nie anders kan as ’n soort patos voel nie. Johnny het vertel sy was in ’n kinderhuis omdat haar ma dood is en haar pa nie alleen vir die kinders kon sorg nie. Dit lyk dan ook of sy benou word deur die droefheid en geween. Dalk was Makkie haar enigste kans op ’n soort moederfiguur. Dit blyk nogal dat sý die een is wat Makkie se foonboekie beetgehad en die Ligtharts gebel het.

Ossie sit sigaret na sigaret en rook sonder om ’n woord te praat. Anders as gewoonlik is die stompies in die asbak nie tot teen die kurk gerook voor dit doodgedruk is nie, merk Elna. Daar is ’n snaakse, versteende huiltrek om sy mond. Berrie is nêrens te sien nie, en Ria 1ê op haar bed met ’n boek en ’n bord kleinkoekies, ’n ongekende weelde.

Christopher het weer in die stoel langs Ossie neergesak, en sy blik volg Elna toe sy kamer toe gaan en terugkom. “My ma is in die kombuis,” sê hy, asof hy agterkom hoe vreemd sy in haar eie ouerhuis voel.

In die kombuis is Corlia weliswaar aan ’t koffie maak, want ’n gedurige stroompie bure en bekendes beweeg deur die huis. Hulle bring iets te ete, wat Ria se bord kleinkoekies verklaar, en hulle praat in gemoffelde stemme, hou Ossie se hand lank vas en snuif aangedaan te midde van allerlei laventel- en tabakreuke.

“Jy moet opstaan en sterk wees ter wille van die kind van julle liefde,” sê een tannie huilend aan Ossie. Elna herken haar as die buurvrou wat so ’n rusie met Makkie gehad het oor ’n geleende eierklitser.

Haar woorde herinner nietemin vir Elna skerp aan die baba wat die lewe behou het. “Het tannie Corlia gehoor dat die baba lewe?” vra sy in die kombuis, waar Corlia haar vas en warm gedruk het om te simpatiseer.

Corlia word bleek. “Nee,” fluister sy geskok.

“Op ses maande. In die broeikas.”

“Dis ’n wonderwerk. Hoe taai kan die lewe soms wees. En ander kere, al pas jy jou hoe goed op … Ek het ’n handvol miskrame gehad, Elna.”

“Ek weet tannie het baie gesukkel om vir Christopher te behou.”

Corlia byt op haar lip. “Jou ma moes ’n voorgevoel gehad het. Kyk hoe netjies is al die rakke. Dis net vir vat. Dis ’n plesier om hier koffie te maak.”

Elna sê liewer niks. Dat dit sy is wat so reggemaak het, is op hierdie oomblik tog nie belangrik nie. En dit sê darem ook veel dat dit nog steeds ordelik is. Dit wil lyk of dit Boet se vroutjie is wat nogal so netjies is. Sy en Boet het die garage vir hulle ingerig. Met haar aankoms het Elna ’n blik gehad deur die oop deur, en gesien hoe sindelik en leefbaar dit lyk. Maar die magie laat haar vermoed dat die bruidjie reeds swanger is.

“Tannie Corlia, sal dit reg wees as ek vir Christopher vra om my iewers heen te vat? Ek wil graag na die baba gaan kyk.”

“Enige tyd,” sê Corlia. Sy is aan ’t skink, en die tee wasem voor haar gesig. “Hy is dalk die regte een, hy sal nie emosioneel raak nie. En hy ken die omgewing van die hospitaal, hy kry tog opleiding daar. Wag, ek sal hom sommer roep as ek die tee invat.”

Christopher kom, en hy frons hewig toe hy die versoek hoor. “Die baba? Wil julle tog nie vir my sê …”

Hulle vertel hom.

“Sjoe …” Hy vee oor sy voorkop asof daar sweet moet wees. “Die lewe is ook snaaks.”

“Dis wat ek nou-nou vir Elna gesê het.”

“Ma wil nie ook saamgaan nie?”

“Nee, ek bly maar en help skink. Malie …” Sy swyg veelseggend.

“Malie is te besig om te huil,” voltooi Elna met ’n tikkie bitterheid. “En die gevolgtrekking is natuurlik dat ek niks voel nie. Ek is mos die wegloper.”

“My pa was besig met ’n fakulteitsvergadering toe Boet se vrou na ons huis toe bel,” vertel Christopher as hy en Elna op pad is kraaminrigting toe. “Ek kon eers nie mooi uitmaak wie sy is nie. In elk geval, toe los ons maar ’n boodskap by my pa se sekretaresse, en ek en my ma kom solank.” Nou, in die helder daglig, en met al die emosionele ontwrigting, vind hy dit skynbaar maklik om nugter te wees. “Ek self het vandag stokkies gedraai,” voeg hy onpeilbaar by.

“Maar toe is jy darem tuis. Dit was bedagsaam van julle om dadelik te kom.”

Hulle ry in stilte verder.

Die staatshospitaal is inderdaad vir Christopher bekende terrein en hy neem die leiding. Die diensdoende suster is gaaf en simpatiek en lei hulle tot by die broeikaste. Half verwilderd staan Elna, want daar is meer as een baba wat, pure arms en bene en pensie en nawel, soos voorwêreldlike wesentjies in die beskutte ruim van ’n broeikas lê.

Toe hulle eindelik voor die regte een staan, oorval ’n nuwe verdriet vir Elna, ’n grenslose soort wêreldsmart. Sy kyk na die ampermensie, wonder twyfelend of “Baba Osman” kan bly lewe.

“Dis ’n dogtertjie,” sê sy onnodig aan Christopher. Haar pa sal die geboorte moet registreer, sy sal hom moet herinner en bystaan. Makkie se naam. Magdalena. Dalk net Magda, vir so ’n kleine wesentjie.

“Ja, dis ’n klein split.” Sy stem klink heserig, sodat sy wonder of dit billik was om hom hierheen saam te sleep. Dis op sy beste nie ’n mooi verskynseltjie nie. Maar hy is ’n mediese student. Die wete maak haar uiteindelik meer tevrede, maar sy kan nie help dat trane in haar oë pêrel nie. Sy steek haar hand in die sak van haar tweestuk se baadjie.

Eers as sy die sakdoek in haar hand voel en na haar oë bring, kom sy agter dat dit Neil Collins s’n is. Vervaard bêre sy dit weer en diep ’n snesie uit die ander sak op.

’n Verpleegstertjie loer in. “Weet suster julle is hier?” vra sy snipperig, hoewel haar oë goedkeurend oor Christopher dwaal.

Hulle knik.

Sy staan nader. “Sjym. Dis ons kleinste prem op die oomblik. Is dit julle s’n?”

“Nee,” sê Elna. Te laat ontdek sy dat haar stem heftig was.

Hulle voetstappe klink solied in die gang toe hulle na buite gaan; Christopher knik beleef as hulle by die suster se kantoortjie verbystap. Hy word skynbaar herken.

As die motordeure agter hulle toeklap, voel albei vreemd verlig sonder om dit aan mekaar te sê. Die hospitaaltuine is ’n gloed pers vygies op aardbruin rotstuine.

“Hoe voel jy?” vra Christopher.

“So verdrietig ek kan sterwe.”

“Ek kon jou troos, maar dit lyk my jy is alreeds getroos.”

Sy weet dat hy na die mansakdoek in haar sak verwys. Dus het hy gesien hoedat sy dit vinnig weer wegstop. Dit was veelseggend. Sy moes maar gemaak het asof dit sommer niks is nie, en dit gebruik het om haar trane af te vee. Sy besluit om stil te bly. Enige kommentaar kan opsetlik klink en die verdagtheid net vererger.

In stilte, soos hulle gekom het, ry hulle terug. Oor die toekoms van die baba, as dit aan die leef sal bly, wil sy amper nie dink nie. Op die oomblik is dit so swak … word kunsmatig gevoed, met pypies lewend gehou soos ’n kooltjie wat saggies aangeblaas word om te bly gloei.

Later daaroor dink, besluit sy. Later, nie nou nie. Tussen nou en later kan die hemel en aarde verbygaan. Elke dag het genoeg aan sy eie bekommernis, en vandag van alle dae trek swaar.

“Wil jy nie maar vannag by ons kom slaap nie?” vra Corlia toe hulle terug by haar pa se huis is. Sy voel duidelik dat sy iets prakties moet kan doen in die heersende ontwrigting. Ja, sê haar hart, en sy roep haar ’n visioen op van die stil, smaakvolle huis en die skemerige boekrakke, die gedempte badkamer, die musiek wat op die agtergrond swel en breek, soos golwe op ’n ver strand.

Nee, sê haar verstand. Nie na wat Christopher gisteraand aan jou verklaar het nie. Dat hy vanmôre niks daarvan herhaal het nie, doen nie daarmee weg nie.

“Dankie, maar dit sal regtig nie nodig wees nie,” sê sy en hoop dat dit nie ondankbaar klink nie.

“Dit lyk my nie jou pa is in staat om reëlings te tref nie,” bevind Corlia. “Klaas moet maar kom hoor wat is wat, en met alles help.”

“Ek sal ook doen wat ek kan.” Sy sien ewenwel nie kans om hier oor te slaap nie. Maar na die Ligtharts toe durf sy nie gaan nie. Sy besef dat sy eintlik geen vaste tuiste het nie. Die Ponters bied haar nog die meeste huislikheid en darem ’n woonadres, maar sy besef dat dit nie net so kan aan- en aangaan nie. As sy nie finaal kan besluit om met Johnny te trou en daar aan te bly nie, moet sy elders verblyf vind. Finansieel weet sy nie wat vir haar voorlê nie, met die ellende hier by haar mense. Sy kan nie sommer ’n woonstel huur nie. Wat bly oor?

Soos ’n blink, syige spinnerak het die goedwilligheid van die Ponters haar vasgespin. Die dambord met sy geel-en-swart blokkies het ’n soort lewenspel geword, waar elke skuif van haar opgevolg word deur ’n wederskuif van die knokkelrige hand van oom John Ponter. Skuif, teenskuif … totdat een van hulle se laaste skuif noodwendig die totale vasgekeerdheid van die ander een sal beteken.

En Johnny wat grinnikend sit en toekyk. Hy hou daarvan dat Elna wen, maar is te lojaal aan sy pa om dit te wys. Uit die klein kombuis word elke koppieklank ’n ghongslag … elke keer ’n uur later, ’n uur verder by omdraai verby.

Corlia en Christopher groet vir Elna buite op die paadjie. Sy staan op ’n veilige afstand en wuif net tot siens. Om elke keer te moet soengroet, kan ongemaklik raak. Sy wil ook nie belaglike familiepikkies aan Christopher uitdeel nie. Nie na die soen van daardie aand nie.

“Die stomme kind,” sê Corlia toe hulle terugkyk en haar alleen daar op die harde grondpaadjie sien staan. Ossie het nou nooit eers ’n strook sement gegooi nie, dink sy vies. Watse lewe het haar suster by hom gehad?

“Dis nie dat Elna te bejammer is nie,” sê Christopher onpeilbaar. “Soos sy nie daar lyk nie, is sy ’n pilaar van sterkte.”

Corlia laak dit as hy in hierdie gemoedstemming verval. Soms kan hy ineens terugsink en broeiend, onverstaanbaar word. Dan verskil hy van alles wat sy sê. Laat dit hom beter voel? Vind hy in sy ma ’n wryfpaal? Dis seker logies. ’n Ma het die liefste en vergewe die meeste.

“Ek het nie bedoel dat sy swak is nie. Ons weet tog sy is die sterkste een in die gesin. Sy sal maar sekere verantwoordelikhede op haar moet neem. Kon jy agterkom of sy al gedink het aan die toekoms van die babetjie?”

“ ’n Mens kan dit skaars so noem,” brom hy. “Maar ek dink in elk geval die hele tyd nog aan niks anders nie. Ma wil dit nie dalk vat nie? Dis ’n dogter. Ma wou altyd graag ’n dogter gehad het.”

Sy weet nie of hy haar sommer aan ’t uitlok is nie. Sy wil liefs nie iets sê wat hom dieper in homself kan terugdryf nie. Maar sy wil ook met geen woord te kenne gee dat sy kans sien vir die jongste spruit van Ossie Osman nie. As hy voorheen genoeg domastrantheid gehad het om te kom geld leen op grond van familieskap, hoeveel meer kanse sal hy nie waag as hy so ’n sterk nuwe aanspraak vind nie? En sy is ook nie meer so jonk dat sy kans sien vir pajamadril en kindersiektes nie. Aan arme Klaas durf sy dit ook nie doen nie.

“Nie in honderd jaar nie, dit verstaan jy tog,” antwoord sy reguit. Verder sit sy stil. Die bekende verligting stroom deur haar as hulle Sedersingel nader. Breër, lugtiger is die strate, mooier die huise en tuine.

“Ek ry sommer kampus toe,” sê Christopher toe hy haar aflaai. “O ja, ek vergeet elke keer: ek dink ons moet my verjaardagstorie maar uitlos.”

Sy kyk net na hom deur die oop motorruit. Sy kan vir hom sê sy het reeds reëlings begin tref, sy kan sê …

Maar sy sê ten slotte niks.

Haar swye laat hom verduidelik, half skuldig: “Sien, Elna sal tog nie nou kan kom nie, met die begrafnis en alles. En Phoebe wil soveel moontlik tuis wees met die siekte van haar pa.”

“Goed,” sê Corlia skynbaar inskiklik. “As jy dit so verkies.” Sy stap die huis binne, en voel so moeg, so moeg. Hoeveel van ’n mens se daaglikse gedagtes, kwellinge, handelinge en voornemens is nie maar net uitlopers van ’n diep, woekerende gewas van onvolkomenheid nie.

Die dood van Makkie het haar geslaan met ’n krag wat sy nie moontlik geag het nie. ’n Knaende verlies lê in haar. In die dood is ons eintlik een, besluit sy met stil skrik terwyl sy kombuis toe gaan om te kyk of Margaret regkom met die middagete. Hoeveel beter sal professor Van Duifhuis in die dood daaraan toe wees as Makkie, byvoorbeeld? Net mooi niks. Die dood is die groot gelykmaker. Christopher het hulle vanoggend aan die ontbyttafel vertel van Ruben se siekte. Hy het ook die prognose vir hulle geskets, en dit lyk nie goed nie. Dit blyk dat Klaas min of meer geweet het, maar dit vir homself gehou het. Hy kan swyg soos ’n sfinks waar daar aanspraak op sy vertroulikheid gemaak word.

Geestesgoedere is eintlik al wat saak maak, en sy wat Corlia is, het so min daarvan vergader. So koorsagtig het sy dit nagejaag om die “regte” soort lewe, “regte” soort vriende, “regte” soort klere te bekom. Alles dinge wat deur mot en roes bygekom kan word.

Onuitwisbaar bly Elna se figuurtjie, so alleen, op haar gemoed gegraveer. Dit het ’n sekere atmosfeer losgemaak in die motor waar sy en Christopher die deure veilig agter hulle toeklap. Soos die teewasem in die kombuis van oorlede Makkie, het dit om haar en haar seun geswewe. Gaan dit van hom af uit, hierdie swaar melankolie, het sy gewonder. ’n Vorige keer wou sy ook bewus word van hierdie swaar intensiteit wanneer hy met Elna te doen het.

Klaas moet ook iets gewaargeword het tydens Elna se besoek gister, want vanmôre toe hy haar soen en sy tas vat, het hy peinsend gesê: “Mens vind eintlik nooit die tyd om tot die wese van dinge te kom nie.”

“Wat dan?” wou sy ietwat onrustig weet, met haar hande om die lapelle van sy baadjie gevou.

“Ag, die seun van ons …”

Dan wil hy praat, oor Christopher praat. Of mét hom? Wil Klaas hom kwytskeld van die mediese studie, vir hom sê hy moet sy eie hart volg? Hy wil tog seker nie oor Elna praat nie? Wat is daar om oor te praat?

Die onrus was soos ’n lewende, logge dier in haar. Toe bel Ossie se nuwe skoondogter, en gee die foon vir Ossie, en Corlia moes hoor van haar suster se dood. Alles, alles op hierdie helder, sonnige dag voel deurmekaar en ongesorteer. Wat meer is, dit voel vanmôre vir haar of ’n mens nooit die lewe uitgesorteer sal kry in netjiese hopies van oorsaak en gevolg nie. O, sy wil sulke tye net vir Klaas naby haar hê.

Toe Klaas huis toe kom vir middagete, ’n gewoonte wat vas staan aangesien hulle naby genoeg aan die kampus woon en hy buitendien dikwels tuis werk, snel sy hom dankbaar in die oprit tegemoet. Dinge het ’n manier om helderder te raak as hy sy opwagting maak.

“Het jy my boodskap gekry?” wil sy weet.

“Ja. Die stomme Ossie en die kinders. Ek kon ongelukkig nie wegkom nie.”

“Natuurlik. Ek en Christopher het gegaan. Die ergste is, die baba lewe, Klaas.” Sy voel haar lippe beef.

“Wat?” Hy maak spytige klikgeluidjies met die tong. “Maar jy kan nie sê dis die ergste nie, Corlia. Dit gaan om ’n lewe.”

“Ja. Ek weet dis waar, Klaas, maar waarheen moet die ou dingetjie?”

“Kom tyd, kom raad. En ek wou juis met jou oor Elna praat.”

“Wat van Elna?” ’n Hand sluit om haar hart, ’n groot, onsigbare hand, want Klaas wil seker sê dat Elna en Christopher … dat daar nie in hulle pad gestaan moet word nie as …

“Ek voel ons moet iets vir Elna doen, Corlia. Sy is in ’n krisissituasie.”

“Het sy iets met jou gepraat, gisteraand?” Sy weet nie wat om te verwag nie. Volgens haar was Elna nog altyd in ’n krisissituasie. Noudat sy vandag weer in die Osman-huis was, besef sy dit beter as ooit tevore.

“Sy soek na sterk, volwasse leiding, en dit was nooit daar nie. Ek dink natuurlik sy doen goed, sy is reeds in haar werk bevorder. Maar sy wil só graag studeer, en dis nog nie te laat nie. Sy sal ’n besonder toegewyde student wees.”

“Ek weet nie hoe die jongste omstandighede haar sal raak nie, Klaas,” sê sy flouerig. Verder kan sy niks teen Elna se wens inbring nie. Was sy, Corlia, nie self ’n volwasse vrou toe sy met inspanning iets in die akademiese lyn verwerf het nie? Nou kan sy eerlik sê dat dit nie juis ’n ander of beter mens van haar gemaak het nie. Ja, haar verwysingsveld is verbreed in ’n bepaalde vakrigting, maar hoeveel onthou sy eintlik daarvan? Dis seker maar soos Klaas eenmaal gesê het: opvoeding is wat oorbly as jy lankal die leerfeite vergeet het.

“Ons sal haar seker kan bystaan. Maar Christopher, Klaas … jy het vanmôre gepraat asof iets in verband met hom jou ook hinder.”

“Ja, ek dink dit raak tyd om hom onder vier oë te spreek. Dit word vir my duidelik dat hy hoegenaamd nie ernstig oor sy studie voel nie.”

Dan is dit soos sy gedink het. “Maar al die geleenthede wat hy het. Ek dink ons het hom bederf, Klaas. Moet hy nie net meer gemotiveerd raak nie?”

“Die waarheid, Corlia, is dat medies eintlik jóú wens vir hom was, nie syne nie.”

“Ek sien kans om met daardie verwyt saam te lewe. As hy tog maar net klaarmaak, hy is nou so ver. En hy presteer goed.”

“Ek is ook maar skuldig. Ek sou hom weer in die rigting van geesteswetenskappe wou stoot. Tale. Hy het wel van joernalistiek gepraat. Maar hy wou altyd nog lugmag toe. Dit was toe nie net ’n seunsdroom nie.” Hy kyk diep in haar oë.

“Wat kan beter werk as ’n vlieënde dokter?” Sy probeer opgeruimd klink.

“Dalk is die probleem dat ons nog altyd vir hom wou dink. Het ons hom nie ook maar liggies gestoot in die rigting van ’n verhouding met Phoebe nie?”

“Wat bedoel jy, daar is tog nie sprake van dat hulle uitmaak nie?”

“Hy voel oor haar net so lou soos oor sy studie. Dis tyd dat ons praat, Corlia. Diep praat. Raak praat. En Christopher sal saampraat. Sy stem sal die hardste tel.”

Dit slaan haar stom. Hoe is dit dan vanmôre? Baiemaal wou sy haar tog verbeel dat haar wêreldjie rond en veilig en matematies wentelend is. Hoe kantel dit dan nou so half buite beheer?

Die dag van Makkie se begrafnis breek aan met ’n drukte in die huis en ’n swoelte in die lug. Die Osmans, aangetroudes inkluis, sweet ongewoond in pakke met gedateerde lapelle: Ossie, Berrie, Boet en Sjert.

Johnny Ponter en sy ma is daar. Sy pa sal die rukkie alleen tuis bly, want hy kan tog nie bra loop nie. Verder is dit vriende, bure, bekendes wat saam met Ossie werk.

Die Ligtharts kom laaste by die familiehuis aan, en hulle verskyning, so sereen en beheers, veroorsaak ’n klein beroering. “Die professor,” fluister Ossie terwyl hy oorleun na ’n buurvrou met rookplooie en rooibruin tuisgekleurde hare.

Malie huil sidderend teen Sjert, wat eintlik skuins staan soos ’n boompie wat in sy groeijare te sterk wind moes verduur. Boet se Mien frommel haar snesie totdat klein balletjies daarvan op die deurgetrapte linoleum sif.

“Ons moet laaste in die kerk instap,” sê Sjert sonder tande. “Die ander mense sal dan opstaan as ons inkom.” Dit klink vir hom nie te sleg nie. Geen vergadering van watter aard ook het al ooit vir hom opgestaan nie.

Ook Ria huil. Sy het haar boek gisteraand eers klaar gelees, maar daar was ook so baie onderbrekings. Sy het selfs ’n pikswart rok aan. Boet se vrou ook. Hulle kyk veroordelend na Elna, wat ’n roomkleur rok met swart strepies aanhet.

“Jy ry by ons,” sê Klaas vir Elna. Sy stem is gedemp, maar outoritêr. Sy knik dankbaar.

Die res van die middag, die uitbundige gehuil in die voorste banke sodat die dominee later half moedeloos wag om voort te gaan, die motorstoet in die son, die reuk van sweet onder warm klere, word vir Elna onwerklik. Soos ’n fort is die Ligtharts om haar, en hulle ruik na troos en vryheid en krag.

En, heel vreemd, oorheers die herinnering aan die ampermensie in die broeikas. Dis ’n beeld wat dag of nag nie uit haar gedagtes wil wyk nie. Sy wens dat sy met iemand daaroor kan praat, maar kry terselfdertyd nie die fort van haar gemoed oopgesluit nie. As die eerste handvol grond op die kis kletter, gevolg deur roosblare, stoot ’n swaar verdriet in haar op, swaarder as al die vorige. Dis deels gebore uit die wete van die futiliteit van haar ma se lewe, deels uit die wete van die noodsaak daarvan. Helder, so helder, sien sy haar ma se gestalte daardie aand toe sy haar dogter meegedeel het dat sy swanger is.

Hoe onsimpatiek was ek, dink Elna met warm berou, sodat sy nie meer weet of die trane wat oor haar wange stroom, van verdriet of berou is nie. Hoe min het ek geweet van haar werklike behoeftes, haar ware nood. Sy was vir haar kinders maar net ’n gebruiksding, een van wie jy verwag om te gee, maar van wie jy terugdeins as sy vra. En sy, eenvoudig soos sy was, het tot in haar dood lewe gegee.

“Kyk,” sê Klaas toe hulle wegry van die begraafplaas af, waar Malie nog teen Sjert staan en huil, “ons neem jou nou na jou losiesplek toe, dat jy vir jou ’n tassie pak. En daarna kom jy die naweek by ons deurbring.”

“Die Ponters is goed vir my,” verweer Elna flou. Durf sy uitreik, hierdie uitnodiging met gretige hande gryp? Die lewe het haar nog so min gebied, dat sy half suspisieus voel oor die oopmaak van die skatte.

“Ek glo jou,” sê Klaas. “Maar wat jy nou nodig het, is volkome verandering. Al is dit dan net vir een naweek.” Hy is skerpsinnig genoeg om te weet dat Elna se stil verdriet dieper gaan as die gejammer van haar susters, omdat sy veral treur oor die swaar lot wat haar ma gehad het.

Elna kyk na Corlia, asof dié die laaste woord moet spreek. Corlia en Klaas sit agterin die motor, terwyl Elna voor sit langs Christopher, wat bestuur.

Nooit weer sou Corlia die omkyk van die meisie kon vergeet nie … die amper smekende fluweelbruin van haar oë, asof sy wil sê: Asseblief, moenie net ja sê nie, vóél ook ja …

“Natuurlik …” sê Corlia. Toe bly sy sit en wonder of daar tog in haar stem ’n laaste skans was, ’n verweer wat uit gewoonte krampagtig geword het.

Miskien was dit nie die geval nie. Want by Spruitstraat klim die meisie wel af om die nodige te haal. Dis ’n klein, maar vrolik geverfde huisie, wat jou aan die verhaal van Hansie en Grietjie laat dink.

“Miskien moes ons ook afgeklim het,” bespiegel Corlia.

“Waarom sal ons veins?” antwoord Christopher bot. Hy kyk nie na sy ma nie. Dis op die huisie met die oopstaande voordeur wat sy blik broei.

Louisa du Toit Omnibus 5

Подняться наверх