Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 5 - Louisa du Toit - Страница 14
11
ОглавлениеDaar is belewenisse wat bestem is om ’n herinnering te word, en jy weet dit meteens. So het Elna geweet, toe sy die huis in Sedersingel 16 betree, nie net vir ’n kort aandjie nie maar vir ’n volle, geseënde naweek, dat sy dit nooit weer sou kon vergeet nie.
Met hulle aankoms vind hulle die sprinkelaar in die voortuin aan. Die koel, stuiwende vog verras hulle. Elna het lus om daarin te bly vertoef. Dit voel of die sweet en die hitte, die verdriet en die twyfel van hierdie afgelope middag soos ’n dik, tweede vel aan haar kleef. Die pragtige, slanke kolhond kom hulle met besadigde blydskap tegemoet.
Hulle eet buite. Dun skyfies kouevleis, tamatie, blaarslaai en agurkies by vars growwebrood en regte botter. Ek het reg onthou, dink Elna. Ek het reg waargeneem, ’n paar dae gelede: die son is so luierend en deurskynend, die skaduwees so mild hier. En die musiek, gedurig op die agtergrond. As dit stil raak, staan iemand op om iets anders te gaan opsit.
Sal Phoebe ook weer kom? Nee, want Christopher praat dat hy soontoe gaan. “Skaak met oom Ruben,” sê hy. “Ons gaan nou maar nie dikwels uit nie.”
Sy weet nie heeltemal wat hy bedoel nie, maar sy ouers knik begrypend. Sy dink aan haar en oom John se dambord, aan die skuif en teenskuif. Toe sy vanmiddag haar klere inpak, was Johnny en sy ma ook pas terug van die begrafnis af. Sy het half skuldig gevoel omdat sy nie saam met hulle teruggery het nie. Sy het in elk geval daar by die graf vir hulle gesê dat sy uitgenooi is vir die naweek, en dat sy sommer saam met haar oom-hulle ry.
Johnny het nie vrae gevra nie, net gestaan en kyk toe sy weer met haar tassie te voorskyn kom. Sy weet nie wat om te doen nie. Hy is so geduldig, en sy hou hom so aan ’n lyntjie. Hy reken skynbaar dis haar goeie reg, en sy verdiende loon, dus kla hy nooit. Hy kyk net na haar met langer, sprekender blikke, dra meer koffie aan, hou haar saans op die rusbank stywer vas. Sy laat hom nie veel soene toe nie, ook nie te innig nie, voor sy hom liggies wegstoot. Dit laat haar skuldig voel. Skuldig, skuldig. Is dit die mens se motto? Voel andere ook so?
“Ek het gedink jy sal langs my en Ma staan,” het hy haar darem aangespreek toe sy met haar tas uit die kamer kom. “Ek het bedoel om jou te ondersteun.”
“Dankie, Johnny. Maar familie is nou maar familie, so met ’n begrafnis veral.”
“Ja,” het hy saamgestem. “Dit is waar. Bloed kruip waar dit nie kan loop nie.”
Sy het gewonder of hy weet hoe betekenisvol sy woorde werklik is. Dis waar, die oorerwing lê in die gene, die chromosome, en nie in die bloed nie, maar by wyse van spreke dan.
Toe sy die voordeur agter haar toetrek en na die Ligtharts se motor stap, was daar ’n soort verligting in haar, waaroor sy weer eens skuldig moes voel. Die Ponters is immers so goed vir haar. En as hulle eng horison haar soms benou, watter reg het sy om te verwag dat hulle horison breër moet wees as oom John se verswakte bene, Johnny se skofwerk, die blou koppies teen die kombuisrak, die daaglikse porsie vleis op die tafel?
Hulle huishoudinkie lê voor haar oopgevlek in al sy eenvoud en mededeelsaamheid. Daar is geen skuilhoeke, letterlik of figuurlik nie. Sy ken hulle drome: dat Johnny nog skofbaas sal word, dat kospryse sal afkom. Daar is geen intriges, uitdagings, geen duiselingwekkende ideale nie. Dis ’n vlak poeletjie, waar jy elke klippie op die bodem kan sien; ’n klein stillewe, waar elke penseelstreep staties bly, nooit van skakering verwissel nie.
“Jy is ingedagte, Elna,” sê Klaas. Christopher het reeds verskoning gemaak om te ry. Daar kom ’n byna tasbare leemte nadat hy weg is.
“Ek dink sommer,” sê sy. Wat waar is. Behalwe haar ma en die baba, het sy veel om oor te dink. Soos oor Christopher. Hy hou hom so half afsydig, in teenstelling met sy driftige verklaring van nou die aand. Elke woord van wat hy gesê het, is onuitwisbaar: dat sy die aanvoeling wat daar tussen hulle is, probeer ontken. Hy het sterk taal gebruik. Hy het gesê sy probeer die gloed van die opkomende son met sand toekrap. Hy het gesê daar moet ’n manier wees.
Het hy nou anders besluit, veral nadat hy weer haar familie voltallig en van aangesig tot aangesig gesien het? Op geen manier het hy sedertdien haar aandag probeer trek nie. Nie met ’n aanraking, ’n woord, ’n oogknip nie. Reken hy dalk dat haar teenwoordigheid hier by hulle huis onnodig en onvanpas is?
Sy besef hoe vervlietend woorde is. Niks van wat hy gesê en verklaar het, is eintlik geldend nie. Dit kon ’n blote opwelling van gevoel gewees het. Mense moet blywende sielskontak met mekaar hê om hulle woorde bindend te maak.
“Ek en jy kan gerus na my studeerkamer toe gaan,” stel Klaas voor. Corlia het gesê dat sy vroeg wil bad en in die bed klim, aangesien sy ’n hoofpyn opgebou het. Die son was warm daar langs die graf. Dat al die vreemde, goedkoperige laventel- en deodorantreuke meegehelp het, is seker ’n moontlikheid, dink Elna. Maar tog, dis Corlia se eie suster wat daar toegegooi is. Hulle het as kinders dinge gedeel waarvan niemand ooit sal weet nie.
Met Corlia stil in die binnehuis en Christopher weg, kom daar ’n vredigheid oor die twee mense in die studeerkamer. Hier is minder boeke as in hulle sogenaamde biblioteek langsaan, maar dit bly ’n verleiding. Elna weerhou haar daarvan om weer tussen die boeke te begin krap. Sy wil nie alte leergierig lyk, soos ’n skoolkind wat guns soek nie. Sy wil ook nie hê die gesprek moet wegslinger na onpersoonlike aangeleenthede nie. Sy het ’n diep, innige behoefte om oor haar probleme te gesels.
Klaas Ligthart kon dus nie ’n beter tyd gekies het om te sê wat hy wil sê nie. Hy stop sy pyp deeglik en as hy uiteindelik daaraan teug, sprei die soet, warm geur om Elna.
“Jy gee nie om vir die ou pyp nie, nè.”
“Nee, glad nie. Vars, warm rook ruik altyd vir my lekker.”
“Ek gaan darem elke keer die asbak leegmaak as ek pyp uitgekrap het. Dis óú tabak wat stink. Christopher preek natuurlik vir my oor die rokery. Om redes van gesondheid. Weet jy, Elna, ons gesprek van nou die aand het in my kop bly draai.” Sy swaaistoel kraak liggies onder hom. Alles in hierdie huis klink vir Elna anders. Selfs die gekraak van die stoel het persoonlikheid, waar dit anders bloot ’n irritasie weens ’n gebrek aan olie sou wees.
“Een van die woorde wat jy gebruik het,” vervolg Klaas, “het ’n diepe indruk op my gemaak: onterfde.”
“Dalk was ek maar net dramaties.” Sy voel nou skaam daaroor. “Die onderskeid was maar net vir my skreiend toe ek die eerste keer in ’n lang tyd by julle aan huis kom.”
“Nee, ek dink nie dis dit nie. Hier was dalk net ’n prikkel om ’n vergete behoefte in jou wakker te maak. Al die boeke. Ek weet jy was ’n slimkop op skool.”
“Wat help dit? Die onderwysers wou my help om verder te studeer. Hulle wou beurse en lenings probeer kry. Maar my pa-hulle het gevoel ek moet begin verdien. Ek het hulle later geglo dat dit leeglêery is om te studeer.”
“Jy is nou maar een-en-twintig.”
“Dis te laat, oom Klaas.” Sy klink oortuig.
“Maar hoe kan jy so sê?” Hy lag. “As ek maar weer een-en-twintig kon wees, sou ek dink ek het ’n fopspeen nodig.”
“Nee wat, dit is te laat. Ek sal nou moet aanhou verdien, onthou, daar is ook die baba.”
“Ek is nie seker of jy dit jóú probleem moet maak nie. ’n Maatskaplike werker moet daar leiding neem.”
“Ek kan nie van haar ’n weggooidingetjie maak nie.”
“Wees dan deel van die besluitneming, maar moenie jou hand verder uitsteek as wat jy dit kan terugtrek nie. Wag eers en kyk. Dalk trou jou pa weer goed. Die wêreld wemel van weduwees.”
“Dalk nog erger. En Malie en Mien …” Die waarheid is dat albei swanger is, maar sy wil dit nie vir Klaas sê nie. “Ek voel dat net ek in daardie gesin sterk genoeg is om daardie verantwoordelikheid te vat. Is dit aanmatigend?”
“Nee, maar beslis baie dapper. Wat het jy gedink om te doen?” vra hy.
Sy huiwer lank, maar nie vanweë ’n gebrek aan woorde nie. Miskien is daar te veel, waarvan sy net die nodigstes wil uitsoek. Want toe sy weer praat, is dit amper te nugter: “As ek met Johnny Ponter trou, sal daar geen probleem wees nie. Sy ma kan bedags die baba oppas terwyl ek by die werk is.”
“Het jy die man lief?”
“Ek het erg geword oor hom. Ons kom baie goed klaar.”
Wie weet of dit nie genoeg is nie, dink Klaas. Sy het ten minste nie illusies oor ’n opwindende storm-en-drang-liefde nie. Hy en Corlia se liefde het sekerlik eers diepte gekry toe die ergste verliefdheid begin plek maak vir lojaliteit en volharding.
“Jy moenie te haastig wees nie.”
“Ek is nie, oom Klaas. Ek en Johnny ken mekaar al ’n redelike tyd. Sy pa en ma is soos my eie. Johnny het nooit die geleentheid gehad om met skool klaar te maak nie, maar hy is intelligent. Nie intellektueel nie, maar ek is seker ook nie. Daarvoor het ’n mens verdere ontwikkeling en stimulasie nodig, of hoe? Of is dit dalk ’n kwessie van persoonlikheid? Dat ’n mens ’n intellektuele skaapwagter kan kry en ’n geleerde dwaas?”
Klaas glimlag warm oor haar raak manier van kyk en opsom. Maar hy wil niks sê om haar vertroulike ontboeseming aan bande te lê nie. Hy onthou die Ponter-kêrel soos hy vanmiddag saam met sy ma by die graf aangekom het. Die jongste kind van ouerige ouers, soos Phoebe ook, maar dis waar die vergelyking ophou. Heel duidelik, egter, is hy hulle trots en steun. So kon hy aflei uit die brokkies inligting wat hy versamel het, veral tydens die koppie tee en toebroodjies wat die kerkvroue verskaf het. En sy waarneming, natuurlik. Die jong Ponter is fors, seker duiwels sterk, met ’n bulnek en bonkige skouers. Onwennig in die beste klere, asof dit hom knel. Soos dit dikwels met sulke besonder fris manne gaan, is hy skynbaar baie sagmoedig. Hy sal ’n goeie versorger wees. Is dit nie wat die natuur in die eerste plek vereis nie, om die oorlewing van die spesie te verseker? Dat hy vir Elna aanbid, is ooglopend. Maar van hoër denke kon Klaas nie veel gewaarword nie. Weer eens is dit nie ’n stigma om onmiddellik en aards te lewe nie, maar hy en Elna is ’n onpaar paar.
“Hoe ’n soort lewe sal julle saam hê, Elna?” vra hy versigtig.
“Hy het in gedagte om vir ons ’n goeie huis in ’n nuwe uitbreiding te kry. Of liewer, dit was die plan. Maar ek weet nou nie, as die baba moet bykom. Dan sal dit beter wees om saam met sy ma-hulle in die huis te bly. Dalk kan hulle by ons kom bly, as die huis groot genoeg is.”
“Jy klink nie entoesiasties nie.”
“Wat is entoesiasme, oom Klaas? Dis vandag daar, en môre is dit uitgebrand. Moet ’n mens nie liewer nugter besluit oor die mees praktiese reëling nie, een wat jy weet bevredigend sal uitwerk?”
Toe kry Klaas Ligthart ’n gedagte, hy weet self nie waarvandaan nie. Miskien het daar tog ’n verborge iets van haar na hom toe uitgereik. “Is daar iemand anders oor wie jy sterker voel?”
Nou het hy haar vas, dit sien hy alte duidelik. Sy byt haar onderlip effens vas en kyk op haar hande. “Sou dit ’n verskil aan die kwessie van praktiese reëlings maak?” ontwyk sy.
“Jy weet goed dit sal, Elna.”
Maar sy bied hom geen verdere antwoord nie, en hy dring nie aan nie. Dit voel amper of hy op verbode gebied oortree het. Miskien het hy haar reeds ’n guns gedoen bloot deur te luister.
Corlia, snoesig in ’n kamerjas, kom haar by hulle voeg. “Ek dag julle sit voor die televisie,” lag-vra sy.
“Nee, maar Elna kan gerus soontoe verskuif as sy wil.”
“Ek hou meer van die musiek, veral vanaand.”
“Hoe lyk dit, drink ons nie iets nie? ’n Koppie lekker vars, sterk tee?” vra Corlia.
“Ek sal gaan maak,” bied Elna aan.
“Lekker om ’n groot dogter in die huis te hê,” sug Corlia liggies nadat die meisie uit is. “Weet jy, Klaas, daar was ’n tyd toe ek vir Makkie-hulle wou vra of ons nie vir Elna kan grootmaak nie.”
Hy kyk verbaas na haar. “Dis veilig om nou daaroor te bieg,” sê hy. “Vroeër sou ek jou dalk aangemoedig het.”
“Jy hou van haar, nè, Klaas?”
“Ek het ’n slag om sulke meisies uit te soek, onthou jy nie?” Dis een van die min verwysings wat hy ooit na haar herkoms gemaak het. En dis terselfdertyd ’n vermaning aan haar om te onthou dat, waar Elna nou staan, sy self ook eenmaal gestaan het.
Al verlang Corlia ook gedurig na haar man se teenwoordigheid, is sy die afgelope dae bangerig om alleen met hom te wees. Sedert hy gesê het dat hy met Christopher wil praat, het die huiwering haar beset. Met Christopher is ’n mens nooit seker van die afloop van enige gesprek nie, wat te sê nog ’n ingrypende een.
“Gaan gerus voort as jy nog werk het, Klaas,” sê sy toe Elna die tee inbring. “Ek gaan saam met Elna iets op televisie kyk, dan gaan ek bed toe.”
“Hoe is die hoofpyn nou?” vra Elna met opregte besorgdheid.
“Beter, dankie. Die bad het my laat ontspan.”
“Ek dink ek gaan ook eers bad, en dan sal ek ’n bietjie kom sit en kyk. Dalk die nuus.”
“Trek sommer ook jou slaapklere aan, dan hoef jy nie twee keer te verklee nie.”
Elna voeg die daad by die woord en geniet die weelde van ’n bad in die keurige badkamer wat sy ’n vorige keer so kalmerend gevind het. Daar brand ’n kers in ’n silwer blakertjie. Dis uiters strelend, hoewel dit lyk of die blinkblaarplante met mekaar fluister oor die verbreking van hulle nagrus.
Sy doen soos Corlia aangeraai het en trek haar shortie-pajamas aan, maar met die lang kamerjas ewe kuis bo-oor. Vir oom Klaas is sy nie skaam nie, en Christopher is uit vir die aand.
Tot haar verleentheid het sy haar misreken. Sy is naamlik kwalik rustig voor die televisie saam met Corlia, besig om na ’n insetsel oor tuinmaak te kyk, of Christopher verskyn in die deur.
“Hier sal iemand kan inbreek of afbrand, en niemand sal snuf in die neus kry nie,” spot hy.
Sy blik flikker vinnig oor Elna. Sy is bly dat die hoofligte van die vertrek afgeskakel is, maar instinktief trek sy met een hand haar kamerjas deegliker toe.
Die gebaar ontgaan nie vir Corlia nie. Elna speel geen prikkelspel nie, besef sy met verligting. Maar dat sy van Christopher as man bewus is, kan ook nie weggeredeneer word nie.
Dieselfde geld vir hom. Hy is deeglik van Elna bewus. Corlia kan nie anders as om dit aan te voel nie. Dis weer daardie sterk, diep onderstroom wat haar verwar en knaend oor haar seun se intensie laat wonder. “Jy’s vroeg terug?” sê-vra sy.
“Die Van Duifhuise het mense,” sê hy. “Naweekgaste. Ek het gedink hulle wil dalk alleen wees.”
Asof hy hiermee alles verklaar het, swyg hy verder en raak sigbaar verdiep in die nuus wat voor hom afspeel. Ek kan tog nie vir my ma die res van die waarheid vertel nie, dink hy egter krampagtig. Ek kan nie vir haar sê dat ek swak geselskap was, omdat my hele hart vanaand hier gebly het nie.
En noudat hy hier is, vind hy ook geen rus en vrede nie. Hy is hom knellend bewus van Elna se nabyheid, van haar skugtere stilsit omdat die intimiteit van slaapklere haar selfbewus laat voel. Net so asof sy nie van kop tot tone bedek is nie! Die syige kamerjas, enige tyd net so mooi soos sy ma s’n, reik tot op haar voete. Dis sag, so sag soos ’n droom. Hy sou haar graag wou vashou om hom van daardie feit te vergewis. Dit prikkel hom veel meer as wat uitlokkende skrapsies sou doen. Wat sy, so vermoed hy, wel onder die kamerjas aanhet.
Waarom moes sy die naweek hierheen kom om sy teistering te verhoog? Terselfdertyd sou hy bitterlik teleurgesteld gewees het as sy geweier het. Hy weet nie meer wat hy dink en doen nie. Elna Osman het hom beset, volkome.
Hy dink teen ’n muur vas. Soms, veral snags as hy uit onrustige drome opkom, voel dit of hy vleuels kry. Dan dink hy: Wat kan ons belet? Hy het vir Blomerus Graham gevra, wat hom verseker het dis geen onwettige verbintenis nie. Volgens wet sou hy met Elna kon trou. Graham het dit selfs vir hom neergeskryf. Met die onderskrif: NS: Dis die wetlike deel. As jy genetiese vrae het, gaan na Sitokinetika.
Dan kom die daeraad, en besinning. Hy is ’n medikus … indien nie sintuiglik nie, dan wel vanweë die deeglike onderrig, beide prakties en teoreties. En hy het vanmiddag die Malie-niggie se kind gesien. Terwyl die ma so vreeslik huil, het hy amper die oop graf ingeduiwel. Die kind moet onmiddellik ’n goeie bril kry, al sal hy dan lyk soos ’n muggie met ’n duikbril op.
Eintlik behoort die kwessie van kinders geen rol te speel in ’n moontlike huwelik tussen hom en Elna nie. Hulle is albei blakend gesond en kan, soos hy vir haar gesê het, superieure kinders hê. Of hulle kan, soos hy ook gesê het, besluit om geen kinders te hê nie. Glipse buite rekening gelaat. Dis nie die einde van die wêreld nie. Hulle kan saam haar babasussie grootmaak, dink hy roekeloos. En as die samelewing sy neus wil optrek oor die stukkie ondertrouery, is dit hulle probleem, nie syne en Elna s’n nie.
Maar Elna voel skynbaar anders. Sy het baie subtiel te kenne gegee dat sy nie ’n liefdeslewe met voorwaardes en beperkings verlang nie. En as sy met die Ponter-vent trou, verwag sy miskien om kleine Einsteins voort te bring?
Ag, hy word so moeg vir hierdie getob, dink Christopher Ligthart. Wat ’n parodie het sy naam geword. “Swaarhart”, moet hy eintlik heet.
Klaas kom by hulle aansluit, wat vir Corlia die geleentheid bied om kamer toe te gaan. Sy het tog gevoel sy stel die twee jongmense in ’n verleentheid deur hulle alleen te los.
“Nou ja, nou is jou ma ook nie meer daar nie,” meen Klaas tydens ’n musiekverposing voordat ’n speurreeks begin.
“Ja. Tog snaaks om te dink dat sy vanaand daar onder die elemente lê, grond en wind en weer en donkerte, en dit maak nie saak nie.”
Dis vir hulle duidelik dat haar ma se dood voorop in Elna se gedagtes gebly het tot nou toe. Hoe anders dan? Dis tog ’n ingrypende ding om met jou te gebeur. Christopher kan hom nie indink hoe dit moet wees om sy ma te verloor nie. Dit sal voel of ’n ster op die aarde geval het om ’n dooie kol te maak waar niks ooit weer sal groei nie.
Ook in Corlia se gedagtes bly die gebeure van die afgelope dae voorop. Iewers is daar verband en samehang tussen alle dinge, besef sy. Die dood van Makkie het vanaand vir Elna onder hulle dak ingebring. En Elna se teenwoordigheid het vir Christopher vroeg teruggebring van Phoebe van Duifhuis af, daarvan is sy oortuig. Eenmaal hier, het hy sit en smeul van donker, ingehoue gevoelens wat selfs sy as moeder nie kon peil nie.
Sy het bedoel om te kom slaap, maar nou is die slaap ver van haar af. Sy staan op en haal haar fotoalbums uit die kas. Hoe lank laas het sy hierna gekyk? Die foto’s van haar en Makkie is nog geneem met ’n bokskamera, ’n Brownie as sy reg onthou. Die hoekies wat die foto’s moet vashou se gom begin losgaan, sommiges is vermis. Hoe bly is sy dat sy nie in latere tydperke van ontkenning die foto’s vernietig het nie.
Hoe verstoke was hulle tog. Kyk die armoedige rokke, kyk die armoedige huisie op die agtergrond, met die bamboesheining wat die slordige voorstoepie moet wegsteek. En tog was hulle twee mooi meisietjies. Makkie die jongste maar ook die stewigste van die twee, met blink, gesonde vel. Sy was lui vir skool, vroeg reeds vol muisneste wat verhoed het dat sy matriek kry. Waar sy vir Ossie uitgekrap het, sal niemand ooit weet nie. Hulle ouers het nog gelewe toe sy trou, maar voor Corlia se troue is hulle dood, vyf maande uit mekaar. Die huwelik met Ossie Osman het Makkie baie gou fleur-af gemaak.
Corlia, oftewel “Struisie”, se eerste regtige kêrel was Klaas Ligthart. Sy was pas in Pretoria toe sy die jong student by ’n kerkjeugaksie ontmoet. Hy het hom nie daaraan gesteur dat sy in ’n apteek werk nie, terwyl studentemeisies dwarsdeur haar kon kyk. Vir hom is niks of niemand benede peil nie. Hy was trots daarop dat sy so goed met die publiek kommunikeer. Sy, Corlia, was vir hom die mooiste ding op aarde.
Die herinnering maak haar hande tussen die swart blaaie stil. Miskien is dit die rede waarom sy so onrustig was toe sy hoor dat Christopher en Elna albei na die jeugsaamtrek toe gaan. Toe het sy die dwase ding gedoen om vir Elna te gaan verneder. Sy besef nou dat sy weinig kan doen om daardie wond te heel. Die roof moet met die tyd maar dik genoeg word. Dit hoef nie te verhinder dat gesonde nuwe weefsel groei nie.
Elna is onder haar dak, vriendelik en gaaf, maar sy is soos ’n wildsbokkie wat ’n skok teen ’n elektriese heining opgedoen het, en nou versigtig daarvan wegskram. En miskien het sy, Corlia, in haar waanwysheid juis die teenoorgestelde bereik van wat sy wou, en het sy vir Christopher op ’n sekere manier van die meisie bewus gemaak.
Met hande wat amper huiwerig is, haal Corlia die volgende album te voorskyn. Dit is die verhaal van haar eie gesin; van Klaas se gradeplegtighede, hulle troue, al die baie funksies wat hulle moes bywoon.
Dan kom Christopher by. Eers net ’n toegerolde wit papie, met ’n kwassie babahare wat bo uitsteek. Of ’n kaal boepenslyfie met wegstaantoontjies, heerlik uitgestrek op sy badhanddoek. Talle foto’s tuis met ’n flitskamera geneem deur haar en Klaas. Christopher in talle speelsituasies, met modder, met die sproeier, skoppelmaai. Ook die eindelose skoolfoto’s. Etlike pragtige ateljeefoto’s met spesiale geleenthede. Miskien het ons Christopher uit die staanspoor tot afgod gemaak, besluit sy week. Sy het tog so gesukkel om kinders te hê.
As sy klaar deurgeblaai het, besluit sy om hierdie album op haar seun se bed te gaan neersit. Miskien sal hy graag weer daarna wil kyk, dit môre dalk vir Elna wys.
Omdat sy bed so netjies is, sit sy die album op sy lessenaar neer. Sy sien dieselfde koevert daar lê wat sy vriend, Blomerus Graham, nou die dag hier afgegee het. Buite-op het in Graham se handskrif gestaan: Pêl, hiermee die gevraagde. B.
Dit was al, en sy het nie verder daaroor gewonder nie. Nou sien sy die punt van ’n opgevoude, gedrukte stuk uitsteek, en sy onthou dat Blomerus ’n student in die regte is. Hulle is nie mense, hulle Ligtharts, wat in mekaar se besittings krap nie.
Dis vir Corlia meteens asof sy onder ’n groot, helder, ontledende lig verkeer. Oomblikke lank staan sy so.
Dan trek sy die vorm uit en vou dit oop. Daar is penmerkies op aangebring, waarskynlik deur Christopher? Boaan staan: VERKLARING VIR DOELEINDES VAN ’N HUWELIK. En onder, bo vier fyngedrukte kolommetjies: VERBODE GRADE VAN VERWANTSKAP. Sy begin lees, en spoedig verstaan sy waarom die penmerkies daar is. Dis afgemerk soos ’n OXO-spel: Vader se vader se vrou; suster se dogter se dogter; seun se dogter se man; vrou se …
Sy strompel terug kamer toe. Wanneer sy reeds die bedlampie afgeskakel het, marsjeer die sinsnedes nog deur haar brein: Vader se vader se … dogter se … broer se … suster se seun se …
Corlia Ligthart smoor haar gesig diep in die kussing.