Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 5 - Louisa du Toit - Страница 7
4
ОглавлениеMakkie bly maar klaerig, wat ’n ondraaglike toestand in die huis skep. Sy is moeg, en raas meer namate sy minder doen. As hulle haar eindelik so ver kry om ’n dokter te gaan sien (en hoe lank moes sy nie wag voor dit haar beurt was nie), is dit eintlik ’n verligting dat hy haar vir ’n onbepaalde tyd in die bed sit.
Dit skep vir Elna ontsaglik veel werk en verantwoordelikheid, maar sy sien kans hiervoor wanneer sy op haar eie kan wees. Na hartelus ruim sy op wanneer sy saans van die werk af kom. Sy maak net die middeldeur toe en sorg dat sy saggies te werk gaan, sodat Makkie nie hond se gedagte kry nie.
Maar Makkie gee nie juis om nie. Sy lê daar in die bed, moeg en traak-my-nie-agtig. Dit is asof sy sommer ten volle ingegee het noudat sy ’n wettige aanleiding gevind het.
En Elna maak huis skoon. Dose, blikke, houers, jare en jare se opgegaarde briewe en nuttelose kennisgewings, brosjures, advertensies. Sy werk soos ’n besetene, merk met genoegdoening hoedat die rakke leër word sodat daar oplaas vir alles plek is. Met oorreding en geldelike bydrae van haar kant het sy vir Ossie en Boet so ver gekry om buite hand by te sit en selfs ’n tydelike tuinhulp te huur. Dit lyk reeds aansienlik beter. Die gras is natgelei nadat dit gesny is met die argaïese grassnyer wat onder stof en spinnerak weggepak gestaan het. Nou het die kikoejoe weer ’n kans om die wildekweek in te haal.
Die paadjie word gelyk gemaak, sodat die hekkie kan toemaak. Met alle onkruid verwyder, lyk dit sommer leefbaar. Elna koop kappertjiesaad en plant dit aan weerskante van die paadjie wat stoep toe lei. Dit sal sorg vir ’n paar spatsels kleur.
Want die lente begin aanbreek – vanjaar nogal vroeg.
Waarom doen jy dit? vra sy haar af. Wil jy jou bloot onder werk begrawe, of het jy dalk ’n voorgevoel dat die huis in die een of ander stadium netjies sal moet wees? Sy probeer nie antwoord nie, want dit sal beteken dat sy te diep in haar eie gemoed moet delf. Of te diep in die toekoms – wie weet? Sê nou maar net die jong Ria trap oor die tou, soos Malie, en moet getroud kom? Dan moet dit tog netjies wees. Of as die nuwe baba van haar ma kom … bure sal heeltyd kom inkyk.
Nietemin trek sy nog meer van haar spaargeld, aangesien Ossie en Boet steeks begin word vir hierdie “onnodige” uitgawes. Sy laat die dak verf en die huis se buitemure afwit. Binne kan sy nie laat verf nie, dit is ’n saak van onmoontlikheid. Nie sonder haar pa en broer se ondersteuning nie. Johnny Ponter het wel oorgewillig aangebied om eiehandig saans te kom verf, maar sy wil haar liefs nie te diep in die skuld by hom steek nie.
Dus was sy maar net die mure, en selfs die luie Ria doen mee, teen betaling natuurlik. Maar sy is so lomp en slaphandjie dat sy kort-kort óf die emmer water omstamp óf die skuurpoeier laat val met wit wolkies tot gevolg.
“Los tog maar,” sê Elna een aand moedeloos. Ria is so bly dat sy die lap net daar langs haar neersmyt. Dus sukkel Elna alleen voort. Sy het ’n doekie om haar hare gebind en ’n oorjas en langbroek aangetrek. Haar hande beskerm sy met kombuishandskoene. Haar lyf pyn later tot in elke spier, maar dis ’n heilsame pyn.
“Vir wat dollie jy alles so op?” wil Boet weet. Sy het nie gesien dat hy teen die kosyn kom stelling inneem het nie.
“Ter wille van ordentlikheid,” jak sy hom af.
“Dan sal ek liewer nie ordentlik wees nie, dankie.”
“Dit is jy buitendien nie.” Sy het baie lus en vee die seperige dweil deur sy gesig.
“Wat kry jy nou eintlik daarvoor?” Hy beduie met sy skouer na die mure.
“Satisfaksie.”
“Hú?” Mens weet nooit hoeveel hy verstaan en hoeveel hy nie wil verstaan nie. Dom is hy beslis nie. Sy breinkrag is net ongeoefen.
“Jy kan jou verwyder, Boet, as jy nie wil help nie.”
“Ek’s buitendien op pad na my pelle toe.”
“Jy begin weer soos ’n klompie jare terug. Jy moet oppas. En ek sien jy vat vir Berrie partymaal saam. Waarom los jy hom nie uit nie? Hy’s nog ’n skoolkind.”
“Hy moet ook leer,” sê Boet.
Hy lyk opeens so baie na haar pa, noudat sy van bo op hom afkyk. Sy staan op ’n tafel, want ’n trapleer is ’n onbekende luukse. Sowaar, Boet se hare begin ook al yl word bo. Wat ’n seën om te dink dat hy daardie ongewaste kuif later heeltemal kan verloor. En sy maagspiere wil-wil begin verslap. Hy, wat die meeste met sy pa bots en die minste met hom kan saamstem, gaan uiteindelik net soos dié word, besluit Elna met iets soos heimlike vermaak.
Dan, as Boet weg is, gebeur die onvermydelike: Malie en Sjert kom kuier. Duiwel weet waarom hy nou juis “Sjert” moet wees, die onaardige swaer van haar. Dit stam glo uit sy kleintyd, toe hy self nie “Gert” kon sê nie. En dis by “Sjert” dat hy staan of val. Jy kan hom nie ’n groter oneer aandoen as om hom op die oorspronklike vorm te wil aanspreek nie. Hy het een aand, reg in die begin, ’n vreeslike uitval met Elna daaroor gehad. ’n Man se noemnaam is sy erenaam, so glo hy.
“Ek hoor Ma is siek,” val Malie met die deur (en die kind) in die huis. Die kind het die ewige mussie op sy kop, omdat hy dan maklik steek in die oor kry.
“Jy versmoor die arme kind. Dis mos nie nou meer koud nie,” sê Elna, sonder om van die tafel af te klim.
“Wat weet jy nou van kind grootmaak?” wil Malie geraak weet. Die kleintjie wat wydsbeen oor haar heup sit, lyk nogal effens op ’n robkalfie. Probeer soos sy wil, kon Elna nog nie lief raak vir hom nie. Seker omdat hy nooit skoon en babageurig is nie.
“Ek sê, wat makeer Ma?” dring Malie aan.
“Ma-griep,” antwoord Elna. Soos sy gehoop het, verstaan Malie “maaggriep”. Sy lyk teleurgesteld, aangesien sy op meer drama gehoop het. Sy het reeds vandag vir haar buurvrou in die skakelhuisie vertel dat haar ma ernstig is. Siekte en haar kind is van die min dinge waarmee sy kan spog.
“Sy moet ’n goeie purgasie vat,” meen Malie sonder erg.
Elna glimlag.
“Wat lag jy? Jy kan ook gerus van die tafel afklim.”
“Ek werk.”
“Ons is vervlaks darem gaste,” opper Sjert. Om die een of ander rede glo hy vas dat hy en Malie vir Elna ver voor is in die lewe, en hulle probeer haar aldus knaend onderrig in hierdie einste lewe se kronkelgange. “Klim af en maak vir ons iets te drinke, sê ek.”
Heimlik is Elna bly dat sy die soengroetery misgeloop het. Maar klim sy hierbo van die tafel af, kry Sjert dit dalk in sy kop om haar nogtans te groet. En sedert hy sy tande laat trek het, soen hy soos een wat ’n eier uitsuig.
“Ek is amper klaar,” wen Elna tyd. “Gaan julle solank na Ma toe in die kamer. Pa is ook daar …” Aan ’t leeglê, voeg sy amper by, maar hulle is al op pad soontoe.
Dis nie honderd jaar nie, of Malie is snuiwend terug, kind nog steeds oor die heup: “Sies, Elna, ek sal my skaam as ek jy is, waarvoor belieg jy my so?” Sy dwing trane na haar oë. “Arme Ma. En jy sê dis haar maag. Weet jy wat sy deurmaak? Weet jy wat vir haar voorlê? Nee, jy sal nie weet nie. Maar vra vir my, ou sussie, vra vir my. ’n Dag en ’n nag in kraam, met al die dokters later rondom my bed.”
“Ek het nie vir jou gejok nie,” probeer Elna vir Malie van haar geliefkoosde onderwerp af wegsleep. “Ek het gesê Ma het ma-griep, verstaan? Maaaaa-griep.”
“O,” gaap Malie oorbluf, en moet erken dat Elna een keer in hierdie ou lewe ouliker as sy was. Terwyl sy hierdie suur pruimpie kou, klim Elna van die tafel af en neem familie-onthalwe die kleintjie van Malie se heup af oor. Sy moet seker begin oefen as sy haar ma moet bystaan. Watter keuse sal sy eintlik hê? Sy trek die mussie van sy kop af, en nou lyk hy ineens beter. Hy het nogal mooi, krullerige haartjies. “Is hy gesond?” vra sy die enigste vraag waaraan sy eintlik kan dink.
“Ja, behalwe sy oë. Die dokter reken hy moet ’n bril kry, maar sal hy dit met sy vuil handjies nou uitlos, vra ek. Die dokter sê dis iets soos … ’n Bybelboek …”
“Genesis,” help Sjert slim.
“O, geneties,” sê Elna koud. Sy gee die kind terug aan Malie. “Ek maak tee. Gaan sit jy tog nog ’n rukkie by Ma, Malie. Jy weet hoe om haar moed in te praat. Jy het dieselfde deurgemaak.”
In haar skik, en in alle nederigheid oor hierdie prestasie, gee Malie pad.
Dus bly Elna alleen in die kombuis agter, dankbaar oor die verposing. Hoe klein het haar vreugdetjies ingekring. Dat sy nou waarlik sielsbly is om enkele minute vir haarself te hê, waarin sy kan nadink.
En waarin sy tot haarself kan probeer kom. Die skok van Malie se eenvoudige Genesis-mededeling werk in haar na. Geneties. Gene is kragtig en onomseilbaar.
As ’n mens in Malie en Sjert se genealogie krap, sal jy seker uitvind hulle is “cousins three times removed”, of so iets. Die meeste Afrikaners deel gene uit die een of ander gemeenskaplike poel. Wat te sê sy en Christopher, wat direk verwant is. Maar hulle hoef mos nie kinders te hê nie, as …
Sy roep die ruwe astrantheid van haar gedagtes tot stilstand. Koester sy, Elna Osman, tog nie in haar diepste hart ’n gedagte aan Christopher Ligthart nie? Ruk dit dan weg, skeur dit uit met wortel en tak, dra sy aan haarself op. Het jy tog dalk gedink dat daardie omhelsing van hom in die motor iets beteken, iets meer as net ’n vermetele set van sy kant? Buitendien, sy ma sal die bloue aapstuipe kry.
Sedert die stel wat sy met Christopher afgetrap het, het sy hom nie weer gesien nie. En dis reeds bykans ses weke gelede. Die herinnering aan daardie aand het reeds sodanig vervaag dat sy hoogstens die atmosfeer daarvan bly behou het. Ja, die skerp rande van belewing is uitgewis, sodat sy dit in allerlei mooi kleure kon begin verf. Redes vir sy optrede kry … hy het haar tog aantreklik gevind, sy was vir hom onweerstaanbaar; hy was eensaam, sy meisie verstaan hom nie.
Nou, vanaand, ses weke later, raak dit tyd vir volkome eerlikheid: dis uit minagting dat hy dit gedoen het. Met sy Phoebe sou hy nie die eerste aand al so ’n sinnelike soen gewaag het nie. Phoebe het ’n naam en eer om beskerm te word. Sy is die moeite werd vir ’n man om hom te beheers. Maar as ’n man nou elders ’n plesiertjie kan vind, waar gevolge jou nie bra kan seermaak nie … Daar is Malie Osman, en wie sê die jonger sussie is veel anders as sy? As hy enigsins spyt oor sy optrede gehad het, kon hy ten minste ’n briefie in die pos gooi. Maar hy wis natuurlik nie wat om daarin te sê nie. Hy het eintlik gekom om sy ma se onbeleefdheid reg te stel, en toe doen hy erger aan haar as wat Corlia kon droom om te doen. As sy hom toegelaat het, wie sê hy sou nie verder gegaan het, enduit, en haar verkrag het nie? Dit was of hy buite homself was.
En tog, en tog … sy worstel om te vergeet, en sy poog om te onthou. Sy wil dit nie werklik vergeet nie, daardie oomblikke wat sy wederregtelik in Christopher se arms was. Sy wil haar wysmaak dat sy die soen nie beantwoord het nie, maar het sy nie tog nie? Oomblikke lank was sy ook blind. Sedertdien, as Johnny Ponter haar net aanraak, wil sy knaend vergelyk. Hoe onhandig is hy tog. Goed, die drif is daar, maar dis blote instink en geen liefdeskuns nie. Maar Christopher dan? Was dit nie ook brute instink nie? Met die binnekant van ’n goeie motor as voorwendsel?
Sy probeer hierdie gedagtes besweer. Johnny is ’n goeie ou. Sowaar, hy behandel haar met respek. En hy is goed grootgemaak, vroom en sober. Tot haar verbasing moes sy uitvind dat Boet se invloed hom geensins aftakel nie. Hy staan sterk by sy beginsels: rook ’n sigaretjie, vat een dop, en verder niks. En ofskoon hy beleef glimlag vir Boet se grappe, vertel hy niks van sy kant af wat onkuis is nie.
Sy het beter verstaan nadat sy by hulle aan huis was. As jongste kind is hy lief vir sy ouers, en sorgsaam. Die oom is ’n invalide, en die tannie seur aanhoudend op ’n lae, eenderse toonhoogte. Maar dis netjies by hulle, kraakskoon, en dis duidelik dat hulle oorleg ken. En naasteliefde. Hulle vat gereeld saans boeke, buig of bars. En in die nederige kring in die skoon slaapkamer van die oumense, rondom die geopende Bybel, het Elna ’n mate van sielsrus kon vind.
Sy probeer om Johnny lief te kry. Ja, sy probeer. Sy hou alreeds veel van hom. Soms kry sy uit haar eie ’n aandrang om haar arm om sy nek te sit, hom teen die slaap te soen. Hy hou daarvan, en na so ’n geleentheid wil hy die grond aanbid waarop sy loop. Sy weet ook dat hy nie sal afstomp tot ongevoeligheid soos haar pa nie. Sy eie pa, gestrem soos hy is, vat dan nog soms die tannie om die nek as sy nader kom, en noem haar “my lief”, bedank haar vir die gunsies wat sy vir hom doen.
Elna neem die tee kamer toe, waar Sjert en Malie en Ria sommer op die bed gestrooi sit, met die kleintjie heen en weer oor Makkie. Ossie sit ongepla op die enigste stoel en rook.
“Julle kan darem gerus kyk dat die kind nie so oor Ma klouter nie,” vermaan Elna. Oor die sigaretrook sal sy maar liewer nie eers praat nie, dit sal tog nie help nie.
“Ag, los hom, hy weet sy ouma het net ’n bietjie vrolikheid nodig,” pamperlang Sjert met die pap mond. “Hulle moet mekaar nou gewoond raak. Malie, vertel vir Elna die nuus.”
“Ja, Elna,” neem Malie oor met ’n hartlike poging tot oortuiging, “ons het gedink dit sal baie vir Ma beteken as ons in hierdie tyd by haar in die huis is. Hier lê sy bedags, met geen sorg nie.”
“Ek versorg haar voor ek werk toe gaan,” weerlê Elna met ’n gevoel van onheil.
“Almiskie. Wat weet jy van ’n vrou se behoeftes in daardie omstandighede? Ma sê dan die dokter het gesê sy durf nie opstaan nie, dan verloor sy dit.”
Vir die beste, wie weet, dink Elna, maar weerhou wyslik dié stukkie wreedheid van die ander. “En nou?” vra sy, in afwagting van die ergste.
“Nee, Malie moet hier wees, dat sy kan help regvat,” plaas Sjert se manlike wysheid die seël. “Ons sal nou maar eers ’n bietjie hier intrek tot dit weer beter gaan.”
Dit voel vir Elna of daar ’n waas van woede en frustrasie voor haar oë inskuif. “Ek sal jou sê wat dit is, Sjert,” loop sy hom blindweg trompop. “Julle móét hier intrek, nie waar nie? Sit natuurlik op straat. Nie huur betaal nie, nè? Uit die werk uit, nè?”
“Jy’s besimpeld,” sê Sjert, en sy sien vlugtig die wit van sy oog soos hy na Ossie loer om ondersteuning. Maar Ossie is geen vegter nie. Na ’n geveg sal hy kyk of hy iets kan buit, maar in die hitte van die veldslag staan hy liefs in die koelte.
“Skaam jou, Elna.” Dis Makkie wat intree. “Is julle nie bloedfamilie nie? En is dit nie ’n bestiering dat Malie-hulle juis nou teenspoed kry nie, noudat ek haar so nodig het? Hier is toesig in die huis nodig, dit gaan net soos dit wil. Elke aand spring jy hier in soos ’n orkaan en jy smyt alles wat ek bymekaargemaak het in die jaarts uit, dis vir jou mos alte lekker.”
“Dit is nie so nie, Ma. Ek het net rommel uitgesmyt, en dit was hoog tyd ook.”
“Rommel? Is ek dan vuil?”
“Dit het ek nie gesê nie. Maar om te dink dis hiervoor dat ek so geswoeg het om die huis skoon te kry.” Vir Sjert, met sy pap mond, en Malie met haar vuil kleintjie. “Trek julle in, dan trek ek uit,” sê sy afgemete met ’n moed wat sy wie weet waarvandaan kry.
“Ag, my liewe kind, dan moet jy tog maar uittrek,” meen Makkie en sy sug met al die smart van moederskap. “Maar jy sal gou weer terugkom na jou ouerhuis toe.”
“Ek sal nie terugkom nie,” roep Elna uit en sy verlaat die kamer in blinde woede.
In haar snode kamer wat seker nou Sjert en Malie s’n sal word, ruk sy tasse uit en begin inpak. Dis nie ’n oorweldigende taak nie: sy het nie baie klere nie. Wat sy het, is wel van die beste gehalte. Dit is ’n reël wat sy vir haar geskep het sedert sy haar eie geld verdien, en wat sy deurgaans handhaaf. Het sy nie genoeg geld vir die beter produk nie, spaar sy nog ’n rukkie eerder as om die tweede beste te kies.
Sy bel ’n huurmotor en wag buite die voordeur met haar tasse. Nou eers kom sy tot ’n besef van die werklikheid. Sy is in haar twee-en-twintigste jaar, en vir die eerste keer verlaat sy haar ouerhuis. Sy was nooit eers in ’n skoolkoshuis nie, hoe graag sy ook wou gaan. Van naskools praat sy nie eers nie. Die hunkering om te studeer, moes sy maar kruisig. Sy het ’n indienskursus in kantoorwerk gedoen, en dis al.
Sy voel onvars, maar het nie nog kans gesien om eers te bad nie. Waarheen sal sy gaan? Om hierdie tyd van die aand na losies te soek, is laf.
In die huis van my tante is daar kamer op kamer, dink sy wrang. Wat sal sy doen as ou Elna daar aanklop en huisvesting vra? Alleen in die groeiende skemer buite, sniklag Elna onbeheerbaar. Sy ruk haar egter reg toe die huurmotor voor die hekkie stilhou.
Sy neem twee van die ligter tasse, en die man kom haar met die groter derde een help. Hy wag agter die stuurwiel dat sy die bestemming moet aandui. Die belaglike dwang bly in haar om te sê: Sedersingel 16. Net om dan tannie Corlia se gesig te sien. En Christopher s’n. Sy ruk haar reg, bedwing die histeriese klanke wat na haar lippe toe wil styg. Sy is oorspanne, dit moet sy besef en haar in bedwang hou.
Netnou, toe sy haar tasse deur die kort gang dra, was sy bewus van die steelse blikke vanuit haar ouers se kamer. Iemand, sy weet nou nie eers meer of dit Sjert, Malie of Ossie was nie, het gesê: “Moet haar net nie lek nie, wat. Sy sal g’n rêrig gaan nie.”
Sy leun oor na die bestuurder toe. “Spruitstraat,” versoek sy. Sy hoef nie die nommer te sê nie. Spruitstraat is ’n kort straatjie, net drie huise, waarvan die Ponters s’n die middelste een is.
Nadat die man weggetrek het, leun sy terug teen die kussing en sluit haar oë. Sy besef nou hoe moeg sy is. Vir soveel aande nou het sy bankvas in die huis gewerk as sy tuiskom. En op kantoor moet sy haar kouse optrek om by te bly. Die vrou in wie se plek sy waarneem, is na ses weke nog steeds uit die werk. Elna dra daagliks meer verantwoordelikheid as enige van die ander.
Sy is moeg, na liggaam en siel. Sy begeer om net iewers haar kop neer te lê, en te slaap en te slaap. Môre is dit Saterdag, dan kan sy laat slaap en ’n bietjie van die vermoeienis aflê.
Dat daar vir haar by die Ponters plek sal wees, weet sy. Die spaarkamer is daar, outyds versorg met hoë wit dubbelbed en linoleum; met geraamde afdrukke wat vertel van stil sneeulandskappe, gelukkige kinders, wit hondjies met linte om die nek.
Toe sy eenmaal besluit het, was sy meteens ook oortuig dat dit, wat vanaand betref, die enigste uitweg is. Sy wil nie verder dink, oor haar besluit redeneer nie.
Dis Johnny self wat die deur oopmaak. Sy gesig blom oop in eenvoudige blydskap. “Jy het gesê ek moenie vanaand kom kuier nie,” onthou hy asof dit sy skuld is dat sy hier staan.
“Ja, ek wou in die huis werk. Maar nou slaap Malie-hulle daar, en die plek is min. Het julle vir my ’n slaapplekkie vir die nag?”
“Of ons vir jou ’n slaapplekkie het,” sê Johnny Ponter met ’n stadige lag, en hy vat haar aan die skouers. Hy het vanaand ’n sweetpak aan, en hy lyk gemaklik hier in sy natuurlike tuiste. Aantreklik, selfs; hy het ’n mooi glimlag. En hy is vol vreugde. Sy voel dit na haar toe uitreik, om haar te omvou.
“Ma,” roep Johnny die huis in, “kom kyk bietjie wie’s hier!”