Читать книгу Dr. Eve se Seksboek - Marlene Wasserman - Страница 11
Sosiale boustene
ОглавлениеOm geen keuse te hê nie, laat jou sonder ’n stem. Jy het nodig om bokant jou vriende se stemme in jou kop uit te skree en te kies wat jý wil hê.
In hierdie stadium is vriende amper belangriker as jou ouers. Hulle is jou tweede familie, die mense met wie jy verkies om uit te hang. Hulle verstaan jou, julle deel geheime, julle is lojaal teenoor mekaar en julle skend nie mekaar se vertroue nie. Ongelukkig kan vriende ook ’n groot hindernis wees wanneer jy aan jou selfbeeld bou.
Groepsdruk is ’n werklikheid. Daar is ’n “pas in of gaan vlieg”-mentaliteit. Dit is hoekom dit so belangrik is om goeie vriende te kies. As jy uithang saam met mense wat eksperimenteer met dwelms en alkohol, sal jy ook daarby betrokke raak. Jy voel dalk dit is erger om uit die groep gelaat te word as om in ongewenste aktiwiteite gedwing te word. Maar is dit reg?
As jy voel jou vriende plaas druk op jou, is jaloers op jou, kompeteer met jou, vry jou kêrels/meisies af of skinder agter jou rug, los hulle. Hulle sal net jou selfbeeld skade doen en jou laat sleg voel oor jouself.
Jong meisies en ouens leer by hulle vriende oor seksualiteit – deur pornografiese materiaal, hoorsê, die media en hulle eie seksuele ondervindings. Dit skep soms ’n verwronge beeld – wat jy dalk as die waarheid aanvaar omdat ’n beeld van gesonde seksualiteit nie vir jou bestaan nie. Vriende spog oor hulle seksuele prestasies en gewildheid, en dit laat jou onbevoeg voel. Baie keer wil jy sommer opsetlik probeer om jou maagdelikheid te verloor, sodat jy kan byhou by jou sogenaamde seksueel aktiewe vriende. Om geen keuse te hê nie, laat jou sonder ’n stem. Jy het nodig om bokant jou vriende se stemme in jou kop uit te skree en te kies wat jý wil hê.
Bou met jou sosiale stene aan jou selfbeeld deur jou vriende met wysheid te kies: vriende wat jou aanvaar en jou belangrik en gewild laat voel. Hierdie vriende moet jou ook goed behandel, vir jou drukkies gee en jou status erken. Hulle moet jou beskerm en jou nie forseer om dinge te doen waarmee jy ongemaklik is nie. Ondersoek jou huidige vriendskappe en vra jouself af of hulle waarde in jou lewe bring. Onthou die samelewing is krities en beoordeel graag tieners. Besluit of die groep saam met wie jy uithang goed is vir jou reputasie. Ek moedig jou nie aan om ’n “loser” te wees nie. Ek wil hê jy moet ’n wenner wees, iemand wat goed voel oor wie hy/sy is.