Читать книгу Dr. Eve se Seksboek - Marlene Wasserman - Страница 16
Jou beeld
ОглавлениеStel jou voor jy loop by ’n partytjie, ’n jol, ’n klub in. Jy kyk om jou rond. Jou oë beweeg oor almal in die vertrek en jy staar so ’n bietjie langer na die mense wat jy aantreklik vind. “Aantreklik” vir jou kan die meisie in die kort rompie en die oop skouers wees; of die een met die jeans en die wit toppie. “Aantreklik” kan die ou wees in die stywerige broek en die T-hemp of die ou in die kakiebroek en baadjie. “Aantreklik” is erg persoonlik. Tog is daar sekere algemene kenmerke wat die meeste mense aantreklik vind. Heel bo aan die lys is liggaamsvorm – meisies moet maer wees met die regte kurwes en ouens moet ’n gespierde maag of “Levi-lyne” hê.
Die meerderheid mense is nie van nature so perfek nie. ’n Kombinasie van gene, hormone, lewenstyl, emosionele welstand en fisieke gesondheid help om jou liggaamsvorm te bepaal.
Jy kom dit sekerlik nou agter, maar jou liggaam verander konstant soos jy van puberteit na adolessensie beweeg. Daar sal tye wees dat jy vreeslik onaantreklik voel. Maar die druk om “aantreklik” te lyk, hou nooit op nie. Elke keer dat jy deur ’n tydskrif blaai of na ’n televisieprogram, musiekvideo of fliek kyk, word jy daaraan herinner dat as jy aantreklik is, jy die perfekte ou of meisie sal kry, saam met ’n duur motor en huis en wonderlike seksuele aksie. Jou selfbeeld word deur die media geskep, asook deur jou vriende en die verdraaide beeld wat jy van jouself het as jy in die spieël kyk.