Читать книгу Dr. Eve se Seksboek - Marlene Wasserman - Страница 14
Geloofs- en kulturele boustene
ОглавлениеMense word binne ’n sekere kultuur en geloofsisteem gebore. Daar is so baie verskillende gelowe: Christenskap, Judaïsme, Boeddhisme, Hindoeïsme, ens.
Sorg dat jou geloofs- en kulturele boustene vir jou werk. Leer genoeg daaroor om tergery, bespotting en selfs geweld te weerstaan.
Ons land het letterlik kulture vir Afrika. Wat meer is, elf amptelike tale, elk met hulle eie dialekte, maak Suid-Afrika een van die lande met die mees diverse en fassinerende boustene. ’n Wonderlike geleentheid vir jongmense om oor verskille tussen mense en leefstyle te leer. Ongelukkig veroorsaak hierdie diversiteit ook dat ons leer oor vooroordele, verkeerde oordeel en onverdraagsaamheid, en dit ook self ondervind – nie juis goeie boustene vir jou selfbeeld nie. As jy in ’n skool, buurt of gemeenskap is waarin jy en jou familie die minderheid vorm, kan jy dalk geweld en diskriminasie ondervind. Maar, dit kan jou ook die geleentheid gee om sterker te word, en vol vertroue oor wie jy is en op dié manier ’n baie sterk selfbeeld en selfvertroue ontwikkel.
Geloofs- en kulturele boustene kan positief tot jou selfbeeld bydra, omdat dit jou in ’n groep plaas. Elke familie beoefen hulle geloof en kultuur anders. Sekere families is dogmaties en baie fundamenteel, wat kan beteken dat jy na ’n religieuse skool gestuur word en selde kontak het met mense van ander kulture en gelowe. Ander families beoefen hulle kultuur weer op ’n informele manier. As jongmens aanvaar jy dalk jou kultuur en geloof sonder enige twyfel, maar onthou: tieners eksperimenteer, ondersoek en raak opgewonde. Jy kan dalk skielik baie van die idee hou om ’n Moslem te word, met verwoestende gevolge vir jou Christengesin.
Of jy raak verlief op iemand uit ’n ander kultuur of met ’n ander geloof. Dit maak dit dalk moeilik vir die hele familie.
Sorg dat jou geloofs- en kulturele boustene vir jou werk. Leer genoeg daaroor om tergery, bespotting en selfs geweld te weerstaan. As jy ’n lae selfbeeld het, sal dit help om ’n sterk bousteen in hierdie afdeling te hê. Ek bedoel nie spesifiek dat jy religieus moet raak nie, ek bedoel net dat jy jou eie unieke identiteit moet ontwikkel. Wat jy ook al doen – aanvaar jou huidige oortuigings of skep ’n nuwe een – laat dit ’n positiewe plek van aanvaarding word waar jy tuis voel. Terselfdertyd moet jy leer om ander se verskille te verdra, selfs die van jou eie familie.