Читать книгу Dr. Eve se Seksboek - Marlene Wasserman - Страница 17

Die skoonheidsmite

Оглавление

Die seksuele rewolusie van die sestigerjare en die feministiese beweging van die sewentigerjare het vroue se lewe en die verhouding tussen mans en vroue daadwerklik verander. Blameer die feministiese beweging as ’n vrou vir jou sê sy wil as jou gelyke behandel word of as sy voel sy moet dieselfde salaris as jy vir dieselfde tipe werk verdien. Sy is sekerlik ’n jong vrou wat bewus is van haar eie waarde.

Die voordele van die seksuele rewolusie en die feministiese beweging word egter ondermyn deur die skoonheidsmite. Nog nooit was daar so ’n aanslag deur die media wat vir ons vertel hoe ons veronderstel is om te lyk nie. Die skoonheidsmite vertel ’n storie: vroue moet die mite verpersoonlik en mans moet vroue wil hê wat dit verpersoonlik. Dink aan enige advertensie. Daar sal ’n beeldskone vrou wees wat baie lyf wys. Sy sal suggestief oor die geadverteerde motor, boot of bed lê. Die media is besig om haar seksualiteit te gebruik om ’n produk te verkoop – wat ’n belediging vir al die trots wat die feminisme vir vroue geleer het!

Die “ideale” vroulike liggaam word gereduseer tot ’n objek en oral uitgestal. Vroue word grafiese detail van perfeksie voorgehou waaraan hulle hulself moet meet. Sowel ouens as meisies kyk krities na hulle liggame in die fynste besonderhede. Hulle glo hulle moet daardie beeldskone gesig en lyf hê om die ideale maat te kry en suksesvol te wees.

Ouens verkeer in ’n effense krisis oor hierdie skoonheidsmite. Hulle is meestal net geïnteresseerd in ’n meisie se lyf en maak nie tyd om haar te leer ken vir wie sy regtig is nie. Mans word geleer ’n vrou se waarde lê in haar skoonheid. Hulle sien mans op die televisie wat hierdie skoonheidsmite beliggaam en hulle wil ook soos die sterk, aantreklike ou lyk wat die huis, die motor en die kredietkaarte het – want hy is mos die een wat die meisies kry!

Pyn en uithongering is letterlik die voorland vir baie ouens en meisies en dit alles as gevolg van hierdie skoonheidsmite. Eetsteurnisse getuig daarvan.

Wat gebeur as jy jou gunsteling-glanstydskrif oopmaak? Jy is dalk tegelykertyd woedend en verlei. Dalk is jy dankbaar om vir ’n oomblik na hierdie paradys te ontsnap waarin jy die middelpunt van die heelal is. Ek wil hê, ek wil hê … Maar terselfdertyd is jy ook vies oor die onbereikbare standaarde van weelde, rykdom en skoonheid wat jou en meeste mense wat jy ken, uitsluit. Jy wil mooi wees. Terselfdertyd voel jy om beeldskoon te wees, een van die domste ideale ooit is.

As ’n jong, ontwikkelende volwassene moet jy deur al hierdie boodskappe oor skoonheid sif, dit bevraagteken en hiperbewus daarvan wees. Wees dus wakker en paraat en skep ’n gemaklike ruimte vir skoonheid in jou lewe. Ja, fisieke skoonheid is iets om te bewonder, maar dit is tog net veldiep, dit verdwyn met ouderdom en is definitief nie ’n waarborg vir ’n wonderlike lewe as ’n volwassene nie.

Dr. Eve se Seksboek

Подняться наверх