Читать книгу Dr. Eve se Seksboek - Marlene Wasserman - Страница 21
’n Onfeilbare higiëniese roetine
ОглавлениеDink aan ’n advertensie. Ek is seker die eerste een wat by jou opkom, adverteer skoonheidsmiddels soos seep, sjampoe, tandepasta of parfuum. Ons dink ons ruik nie lekker nie, en dit is hoekom ons outomaties hierdie produkte koop. Volgens Moeder Natuur ruik ons nie regtig sleg nie. Dit is wel belangrik om “heerlik” te ruik – dit beteken nie jy moet skaam wees oor jou natuurlike liggaamsreuke nie, maar dit kan vir pret en verskeidenheid versterk en verander word.
Tieners se reukproduseerders werk behoorlik oortyd. Hormone produseer verskillende vaginale vloeistowwe, jou sweetkliere werk teen ’n tempo en jy verloor jou onskuldige, baba-reuke. Mense kan jou ruik voordat hulle jou sien ná ’n warm dag, ’n lekker oefensessie of van die liefde wat jou hart vinniger laat klop. Goeie higiëne is belangrik vir ’n goeie selfbeeld. Vroue hou van mans wat hulle liggame respekteer deur aandag daaraan te gee. Dit is nie meer net ’n meisieding om skoon te wees en lekker te ruik nie – dit moet deel vorm van jou daaglikse gesonde lewenstyl.
Hare
Ouens moet hulle hare daagliks was en meisies so gereeld as nodig. Hare is baie sexy en een van die eerste dinge wat iemand raaksien. Hou dit mooi netjies, blink en gestileer.
Mond
Slegte asem is gewoonlik die skuld van tandbederf of hardlywigheid. Gereelde besoeke aan ’n tandarts en mondhigiënis is nodig. Borsel en flos twee maal per dag vir ’n aangename en vars asem en ’n mooi glimlag. Gebruik mondverfrissers om ontslae te raak van goor kosnasmake en reuke. Dit sal jou glimlag ook sommer helderder maak.
Vel
Stort of bad ten minste een maal per dag. Sweet pak saam op jou liggaam en maak nie saak hoeveel parfuum of deodorant jy aanspuit nie, dit gaan nie help om die reuk ná ’n lang dag “heerlik” te maak nie. Dit is altyd lekker om room aan jouself te smeer ná ’n bad of stort. Kies ’n room met ’n kleur en geur waarvan jy hou. Jou keuse kan jou liggaam laat ruik na mango, kiwi, botter – net wat jy wil. Dit sal jou lyf gesond laat voel en beslis sagter. Hierdie daaglikse roetine van room aansmeer, kan ’n sensuele ondervinding wees – dit laat jou toe om agter te kom hoe elke deel van jou liggaam voel. As jy lief is vir jou lyf, sal dit makliker wees vir iemand anders om dit lief te hê wanneer jy reg is om dit te deel.
Onder die arms
Ouens, en meisies wat nog nie skeer nie, moet veral maar deeglik onder hulle arms was, want die bedompige sweetreuk klou aan die onderarmhare vas. Gebruik eers seep en water en dan deodorant. Antiperspirant deodorant-op-’n-stokkie werk goed en as jy boonop nog gewone deodorant aanspuit, maak jy sommer dubbeld seker. Dra ’n toiletsakkie met seep, sjampoe en deodorant in jou skooltas saam. Meisies moenie te veel verskillende lekkerruikgoed aanspuit nie – ’n mengelmoes van geure kan aaklig ruik.
Geslagsdele
Waar daar hare is, is daar sweet en reuke. Kombineer dit met die natuurlike daaglikse vaginale afskeidings en nattigheid van vroue, of ’n bietjie piepie wat ’n ou nie van sy penis afgeskud het nie en jy sit met geslagsdele wat sleg ruik. Gereelde seep en water is baie belangrik vir geslagsdele. Meisies moenie parfuum of rome vir hulle geslagsdele gebruik nie. En nooit enigiets anders as tampons, seksspeelgoed, vingers of ’n penis in hulle vaginas druk nie. Moet nooit jou vagina uitspoel om dit skoon te maak nie, tensy jou dokter dit voorskryf. Die vagina se spesiale selfreinigende meganisme (suurbalans) sal versteur word, wat kan lei tot slegte reuke en jeukerigheid. Hou die geslagsdele se hare kort en netjies (ja, julle ook, ouens!) – dit is meer higiënies en lyk net soveel aantrekliker.
Naels
Dit is jou keuse hoe lank jou naels is en of dit geverf is of nie – alhoewel jy meestal die reëls van jou skool of werkplek moet respekteer. Goedversorgde hande en naels skep altyd ’n goeie indruk. Toonnaels het konstante aandag nodig. Moenie dink jy kan wegkom deur net mooi te lyk nie. As jy lang, slordige en verwaarloosde toonnaels het, is dit allesbehalwe sexy.
Hande en voete
Sagte, versorgde en aantreklike hande en voete wys jy is iemand wat goed na hom- of haarself kyk – van kop tot tone. Kan jy jou voorstel hoe aaklig dit moet wees as iemand sy of haar gebarste hakke op en af teen jou been skuur? Hakke kan gerus weekliks met ’n puimsteen geskuur word. Hak- en voetroom is wonderlik om in jou “lyflaai” te hou en moenie van die handeroom vergeet nie.