Читать книгу Dr. Eve se Seksboek - Marlene Wasserman - Страница 20
’n Gesonde lewenstyl
ОглавлениеSien SASSI (South African Sports Science Institute), onder Bronne
Om mooi te lyk en gesond te voel, kom nie vanself nie. Sommige van ons word gebore met goeie gene, maar die res van ons moet seker maak ons lyk so goed en is so gesond as wat ons kan. Dit verg moeite en sorg. Jy moet ’n lewenstyl aanleer wat gesond, lekker en interessant is. Dit kan uiters moeilik wees om ’n gesonde lewe te probeer lei as die res van jou familie dit nie doen nie. Miskien het jy ’n ouer wat oorgewig is of ’n ma wat konstant op ’n dieet is. Dalk het jy ’n ouer wat sê jy is moeilik omdat jy gesondheidsbrood bó witbrood verkies. Maak oefening, gesonde kos en goeie slaappatrone nou al deel van jou lewe. ’n Gesonde lewenstyl gaan om keuses. As jy die regte keuses oor jou gesondheid uitoefen, sal dit jou help om ’n meer sexy persoon te wees. Dit sal jou ook leer hoe om gesonde seksuele besluite te neem. Glo my!
Dieet
Sien ‘Mind Over Fatter’, onder Bronne
Wie het nou net gevloek? Ek het! Ek het die D-woord gesê. Dit is ’n woord wat vrees, verskrikking, beloftes en angs uitlok. Daar is selde ’n glanstydskrif wat nie ’n wonderdieet adverteer nie. Die woord “dieet” verkoop aan ons ’n droom – ’n hoop dat die skoonheidsmite binne ons bereik is. Dit is nonsens. Ek glo as jy ’n bietjie swaarder of ’n bietjie ligter is, dan het jy dit nodig. Die gewig, of gebrek daaraan, beskerm jou teen een of ander kwessie wat jy nie aanspreek nie. Dit is hoekom diëte meestal nie werk nie. Dit takel oppervlakkige aspekte van gewig en liggame. Diegene wat die meeste by diëte baat, is maatskappye wat die dieetmiddels produseer, bemark en verkoop.
Kom ons gooi die D-woord uit, verander die taal en ek is seker jy sal beter resultate kry in jou poging om jou gewig te beheer. Die woord wat “dieet” vervang, is “gesondheid”. Ja, dis vervelig, maar dit werk. Dit gee jou nou die voorsprong wat jy as gesonde volwassene gaan nodig hê. Dit werk, want dit laat jou lewendig en energiek voel en jy lyk vars en gloeiend.
Om gesond te kan eet, moet jy jou hongerbehoeftes verstaan. Dit leer jou om jou eie kos en liggaam te beheer.
Jy is die een wat moet besluit:
•Is ek honger?
•Wat wil my kop en maag eet?
•Is ek lus om te eet of is ek net verveeld/alleen/kwaad/vryerig?
Kos behoort ’n heerlike sensuele ervaring te wees. Dit hou nou verband met jou seksualiteit, dat as jy jou aptyt vir kos onderdruk, kan dit lei tot die onderdrukking van jou seksuele aptyt.
Mense op ’n dieet eet wat die dieetkundige of eetplan voorskryf. Hulle word aangesê wat om te eet, hoeveel daarvan en wanneer om dit te eet. As jy nie jou eie hongerpatrone volg nie, sal jy bloot die dieetpad volg en steeds lus wees om in die geheim die kos wat jy mis, te eet. Om dieetpille en dwelms soos dagga of Tik te gebruik om jou eetlus te demp, is ’n dom ding om te doen – jy kan ’n verslaafde met ’n eetsteurnis word.
Kos behoort ’n heerlike sensuele ervaring te wees. Dit hou nou verband met jou seksualiteit, dat as jy jou aptyt vir kos onderdruk, kan dit lei tot die onderdrukking van jou seksuele aptyt. As jy nie wil erken jy is honger nie, sal dit vir jou moeilik wees om te erken jy het seksuele behoeftes en na watter seksuele bevrediging jou liggaam verlang. As jy jou liggaam verdoof met honger, sal jy die seksuele honger ook verdoof. Bou ’n gesonde verhouding met kos op – dit sal jou meer in voeling met jou liggaam bring. En dit is belangrik en die beste manier om te voel as jy dan kies om seksueel aktief te wees.
GESONDE EETGEWOONTES
•Maak seker jy het maklike toegang tot die kos wat jy geniet. So kan jy vergryp-eet vermy. Jy sal meer dink en beter keuses uitoefen oor jou kos, eerder as om spontaan te reageer op jou hongerkrampe.
•Begin elke dag met ’n groot, gesonde ontbyt – jy moet daardie breinselle van jou voed!
•Voedingkundiges stel voor jy moet elke paar uur ’n happie eet, eerder as om jou liggaam tussen maaltye te laat honger ly. Hou gesonde peuselkos byderhand vir tye wanneer jy hongerig voel.
•Vrugte en groente is gesond, so maak seker jy eet elke dag daarvan.
•Vermy vetterige en ongesonde kitskos. Nou en dan is dit lekker as jy baie lus word daarvoor, maar dit moenie deel van jou gereelde eetpatroon vorm nie.
Sien Alkohol
•Drink baie water. Kies vrugtesap en gebottelde water bó gaskoeldrank en kafeïne. Probeer om minder koffie en tee te drink, maar kruietee is wonderlik. Alkohol is baie ongesond en maak beslis vet.
•Maak seker jy eet ’n verskeidenheid, gebalanseerde kosse en hou matigheid voor oë by die hoeveelhede wat jy eet.
•As jy ’n vegetariër is, maak seker jy neem vitamien- en mineraalaanvullings.
Oefening
Dis ’n moet! Oefening hou soveel voordele in dat dit moeilik is om hulle almal op te noem. Kom ons begin by die belangrikste, naamlik dat dit soos ’n voorkomende medisyne is. As jy gereeld sedert jou tienerjare oefening doen, verminder jy jou kanse op hartprobleme, vetsug, hoë bloeddruk en osteoporose.
Sien Menstruasie-manewales
Wanneer jy oefening doen, word endorfiene in jou bloedstroom afgeskei wat jou goed laat voel. Dit is ’n goeie teenmiddel vir depressie. Oefening verlig ook premenstruele pyne en krampe. Die belangrikste is hoe jy voel ná ’n oefensessie: lewendig, vol vertroue en trots op jouself dat jy in ’n gesonde lewenstyl belê. Boonop gaan jy ’n wonderlike, welgevormde lyf hê waarop jy trots is as jy mooi aantrek en uitgaan.
Oefening moet lekker wees, so maak dit vir jouself lekker: sorg dat jou vriende saam met jou gym toe gaan of aan sport deelneem.
Oefening moet konstant en doelbewus deel word van jou lewe. Maak dit deel van jou weeklikse program. Dit is moeilik om gereeld te gaan oefen, maar as dit deel is van ’n gesonde lewenstyl, sal dit makliker wees. Kies ’n tipe oefening wat jy geniet – dit sal verseker dat jy wel gaan oefen. Dit is nou baie gewild (en boonop beter vir jou) om weekliks verskillende soorte oefening te doen. Net soos met enige aktiwiteit (insluitende seks) kan oefening vervelig word as jy presies dieselfde roetine volg. Gaan byvoorbeeld twee maal per week gym toe, doen ’n sport een maal per week en gaan dans of probeer krygskunde (karate, judo, tai chi). Oefening moet lekker wees, so maak dit vir jouself lekker: sorg dat jou vriende saam met jou gym toe gaan of aan sport deelneem. As gymlidmaatskap vir jou te duur is, of jy het vervoerprobleme, trek jou tekkies aan en val in die pad of sit musiek op en dans by die huis.
Slaap
Jy mag dink slaap is vir babas en as ’n tiener steur jy jou nie daaraan nie. Jou liggaam dink wel daaraan – en gereeld ook. Jou lyf gaan deur ’n intense groeifase en slaap is baie belangrik. Navorsing toon tieners wat nie genoeg slaap kry nie, ontwikkel ’n slegte vel, het lae konsentrasievlakke en min energie, en is geneig om emosionele hoogte- en laagtepunte te beleef. ’n Middagslapie is ’n goeie idee, maar nie langer as twintig minute nie. As jy langer as dit slaap, sal jy nie later in die aand behoorlik kan slaap nie. Dit help ook nie om al jou slaap gedurende naweke te probeer inhaal nie – dit is nie so effektief soos gereelde slaap nie. ’n Gesonde lewenstyl sluit nie net oefening en goeie eetgewoontes in nie, maar ook ’n gereelde slaappatroon. Onthou om jou selfoon af te skakel voordat jy gaan slaap. Jou wakker vriende se sms’e kan jou pla en jou slaappatroon versteur.