Читать книгу Dr. Eve se Seksboek - Marlene Wasserman - Страница 7
Inleiding
ОглавлениеSUID-AFRIKA VERKEER in ’n seksuele krisis. Ons is die wêreldleiers op byna elke gebied van seksuele probleme: die HIV/VIGS-pandemie, hoë getalle van seksueeloordraagbare infeksies, ongewenste swangerskappe, seksuele mishandeling, bloedskande, verkragting en seksuele geweld van disproporsionele aard. Dié wat die meeste onder hierdie omstandighede ly, is ons kinders. Hulle is die onskuldige slagoffers. ’n Mens sou verwag dat daar ’n massa-aksie sou wees om ons jeug te beskerm en te red, van sowel die privaat as regeringsektors. Sekere stappe is al gedoen, maar ongelukkig lewer die strategieë wat toegepas word, nie die gewenste resultate nie. In teendeel, die voorkoms van seksuele misdade word elke dag groter.
Miskien is dit omdat die blote gedagte om kinders en seksualiteit in dieselfde asem te noem, die meeste van ons baie ongemaklik laat voel. Dus skep ons nuwe wette en beleidsake, installeer ekstra sekuriteitstelsels om ons kinders veilig tuis te hou. Maar die een ding wat ons nie doen nie, is om werklik met ons kinders te praat en hulle in te lig oor hulle seksualiteit en verhoudings.
As ’n samelewing wil ons wegkruip agter indrukwekkende terme soos onthoudingsgebaseerde opvoeding; kinderbeskerming; goeie aanraking vs. slegte aanraking, ens. Ons wil selfs sensuur toepas op die media, as ’n desperate poging om hierdie seksuele krisis te hanteer. Bangmaaktegnieke word gebruik om tieners en jong volwassenes te keer om te doen wat tog so natuurlik vir hulle is. Ons vertel hulle dat hulle sal doodgaan, hel toe gaan, swanger raak of ’n slegte reputasie kry as hulle seksueel is. Ons voer hulle verkeerde inligting, maak hulle skaam, verban hulle van hulle rekenaars vir ’n week, skakel die televisie af as daar ’n seksuele toneel op is, met die hoop dat hulle verskrik en deurmekaar genoeg sal wees om vir nog ’n rukkie ‘rein’ te bly.
Dit veroorsaak soveel onnodige spanning, alles omdat ons as ouers nie regtig die korrekte antwoorde het nie, of weet wat die beste benaderings is nie.
Ek is ’n ma wat drie kinders grootgemaak het in, wat ek voel, ’n seksueel gesonde omgewing was. Ek is ook ’n kliniese seksuoloog, wat beteken dat ek heeldag met mense se seksualiteit en verhoudings werk. Miskien omdat ek professioneeel midde-in seksuele krisisse werk, het ek oor die jare seksualiteit op ’n baie gesonde manier in my lewe geïntegreer – dit beteken dat ek aan die etenstafel daaroor praat! Net so gemaklik as wat ons gesels oor die nuutste skindernuus by die skool of debatteer oor wêreldaangeleenthede, praat ek en my gesin oor ’n berig van ’n groep 12-jarige meisies wat orale seks aan hulle kêrels gee, sommerso terwyl ons die slaaibak aangee.
Ek het hierdie boek geskryf vir elke Suid-Afrikaanse tiener en jong volwassene. Elke keer dat ek ’n veilige en professionele platform skep waar mense kan praat oor seksualiteit, vind ek desperate, onsekere en diep bekommerde ouers en tieners wat na vore kom met ’n behoefte om ernstig opgeneem te word en om die korrekte inligting en opvoeding te kry. Dr. Eve se Seksboek: ’n Gids vir jongmense is ’n reaksie op hierdie oorweldigende behoefte en aanvraag.
Hierdie boek volg drie belangrike beginsels, naamlik: Regte, Verantwoordelikhede en Belonings. Dit is eintlik baie eenvoudig. As ’n tiener het jy die reg tot die inligting in hierdie boek. Maar tesame met regte, is daar altyd verantwoordelikhede. Jy is daarvoor verantwoordelik om nie net ingelig te raak oor die feite van seksualiteit en verhoudings nie, maar ook om denkvaardighede aan te leer wat jou sal help om belangrike besluite te neem. Dan sal jy die belonings ontvang.
Dr. Eve se Seksboek: ’n Gids vir jongmense verskaf hierdie vaardighede: vaardighede om te dink, uit te stel, te verhoed, jouself te beskerm en om vreugde te put uit enige verantwoordelike seksuele aktiwiteite wat jy kies – hetsy dit alleen of saam met ’n maat is.
As ’n ouer nooi ek jou uit om hierdie boek te lees. Dit sal jou inlig, jou verbaas en jou oë oopmaak vir ’n wêreld wat jy self dalk nooit ontdek het as ’n tiener nie – of dalk ontdek het, maar berou het oor jou ondervindings.
Ek glo dit is baie gevaarlik om nie ons kinders in te lig oor hulle seksualiteit en verhoudings nie. Ek stem saam met navorsing wat bewys dat kinders wat omvattende opvoeding oor seksualiteit ontvang, hulle seksuele debuut heelwat later het en meer geneig is om veilige seks te beoefen.
Dr. Eve se Seksboek: ’n Gids vir jongmense is in lyn met ’n omvattende seksualiteit- opvoedingsprogram: onthouding word spesifiek aangemoedig, terwyl inligting oor seksualiteit binne ’n vaardigheidskonteks aangebied word.
Om hierdie boek aan jou tiener of jong volwassene te gee, bied jou ’n wonderlike, leersame geleentheid om jou kinders toestemming te gee om hulle seksualiteit te verken op ’n veilige en verantwoordelike manier.
Ek wil jou regtig aanspoor om hierdie kans te benut. Lees hierdie boek en begin om met jou kinders, jou ouers en jou vriende te praat. Die alternatief kan veel erger gevolge hê.
As jy ’n tiener of ’n jong volwassene is, dankie dat jy hierdie boek gekoop het en belê in jou seksuele gesondheid!