Читать книгу Die wolkversamelaars - Nadia de Kock - Страница 11

6

Оглавление

Dit is net ná sewe toe Talla die kamerdeur agter haar toetrek en na die eetvertrek stap. Sy het die enigste romp aan wat sy ingepak het. Die kreukels het nog nie uitgehang nie en dit is duidelik dat die lang bruin romp uit ’n tas kom. Daarby het sy haar stapstewels aan. Die enigste ander skoene wat sy saamgebring het, is goedkoop tekkies.

Voordat sy eetkamer toe stap, gaan kyk sy eers in die groot spieël in die badkamer hoe sy lyk en draai amper om terug kamer toe. Sy het haar eie kuif gesny net voordat sy gevlieg het en lyk soos een van daardie klein Chinese kinders met die kort, reguit kuifies en hartseer gesiggies wat ’n mens op ou foto’s sien. Haar ensemble lyk ook maar arm en goor. Sy hoop nie Burns Nicht is ’n grand affêre nie.

Toe sy met die gang afstap, klink ’n doedelsak meteens hard op. Sy gaan staan, die ene hoendervel. Die klank gaan haar hart uitmekaar ruk. Die volle wete dat sy ver van die huis af is, in ’n vallei vol geheime waar sy niemand ken nie en waar die temperatuur tot benede vriespunt daal, tref haar skielik op die krop van haar maag. Sy probeer haar asemhaling beheer. Sy voel so alleen soos nooit tevore nie. ’n Man met ’n sterk en moeilik verstaanbare aksent is ál mens wat sy nog in hierdie groot ou plek met sy vodde matte gesien of mee gepraat het.

Dalk het sy ’n fout gemaak, dalk moes sy iemand saamgevra het Skotland toe.

Talla trek haar hande deur haar hare en lek oor haar droë lippe. Toe begin sy aanstap, vasberade om die gevoel van verlorenheid af te skud. Burns Nicht het begin en sy is laat.

Die branddeur aan die einde van die gang is swaar en sy lê daarteen aan om dit oop te stoot. Van hier boaan die trap sien sy die gedempte lig van die eetvertrek en is die doedelsakklanke nou baie skril.

Sy stap met die paar trappies af. Die eetvertrek se ligte is dof gestel en oral brand kerse. Talla bly in die ingang staan en staar. Die plek is vol deftige mense en almal sit en kyk na ’n klein optog wat deur die vertrek stap. Voor stap ’n bebaarde gryskopdoedelsakspeler en sy wange bol rooi wanneer hy blaas. Agter hom volg ’n jongman met ’n wit sjefhoed op en ’n wit voorskoot wat oor sy kilt vasgemaak is. Dis Hoodie. Hy dra ’n enorme blink skinkbord wat hy soos ’n offerande voor hom uithou. Hy lyk Slawies met sy amandelvormige oë en breë gesig. Sy poniestert is laag in sy nek vasgemaak.

Neil is ook uitgevat in ’n kilt en leersak om die heupe en loop agter Hoodie. Hy het twee vol whiskybottels wat hy voor hom in die lug gekruis hou terwyl die prosessie deur die vertrek stap. Hy glimlag en lyk anders as gister. Hy wip minder, dalk anker die bottels hom.

Talla skeur haar oë van die prosessie weg en kyk die gaste vinnig deur. Die mans is kraaknetjies in kilts, donker baadjies, sporrans en lang wit kouse. Die vroue se gesigte is blink gegrimeer en hul juweelkleurige rokke glinster dof in die weerkaatsing van die gedempte ligte. Dit is ’n spoggerige affêre en Talla vryf selfbewus oor die kreukels in haar romp. Niemand kyk egter na haar nie, hul aandag is by die verrigtinge in die middel van die vertrek. Hulle begin ritmies hande klap. Die prosessie marsjeer nou ’n paar keer om die hooftafel. Die doedelsakspeler stap tot in die hoek, draai om en laat sy instrument sak. Hy vee een maal oor sy baard en knik vir ’n statige vrou aan die punt van die hooftafel. Dit lyk vir Talla asof die vrou haar moet keer of sy gee ’n koninklike wuif.

Hoodie sit sy skinkbord op die tafel neer en tree terug. Neil tree vorentoe, sit sy twee bottels langs die bord neer en beduie aan die man wat langs die statige vrou aan die hooftafel sit.

Die man het ’n maag soos ’n groot strandbal. Sy grys hare is dun en hy kam die slierte oor sy kaal kop. Hy staan op en stap stywebeen na waar die skinkbord is. Hy kyk na die gaste voor hom en dan na die skinkbord waarop iets lê wat soos ’n vleisrol lyk. Hy lig sy hande en ’n korte oomblik lyk dit asof hy ’n seën oor die vleisrol gaan uitspreek. Toe dawer sy sterk stem deur die vertrek. “Fair fa’ your honest, sonsie face,” sê hy dramaties en streel oor sy linkerarm terwyl hy na die skinkbord kyk.

Die man praat met die vleisrol. Talla kyk vinnig na Neil. Hy staan met ’n glimlag op sy gesig. Sy weet nie watter soort ritueel hom hier voor haar afspeel nie. Dit lyk asof ’n offer gebring word, maar Neil lyk nie vir haar na die tipe wat offers bring nie. Hoodie, ja, maar nie Neil nie.

Toe almal gaan sit, kom haal Hoodie vir Talla. “Neil het vir jou plek gehou. Ek is Teodor,” sê hy oor sy skouer terwyl hy na ’n tafel langs die hooftafel stap. Die plek ruik na duur parfuum en formele baadjies.

Talla knik vir haar tafelgenote en gaan sit. Daar is vier van hulle: ’n skraal man met ’n prominente kakebeen, ’n glimlaggende vrou wat ’n blink koningsblou rok aanhet en harder praat as wat nodig is, ’n ouer man in ’n tweedbaadjie en ’n tingerige meisie met kort, ligrooi hare. Sy is jonk, vier- of vyf-en-twintig en so bleek, sy is amper deursigtig.

Die sesde plek is Neil s’n, maar hy is besig en kan nie heeltyd by hulle sit nie. Talla probeer aan die gesprek deelneem, maar kry nie behoorlik gefokus op die vreemde aksente om haar nie. In ’n poging om te ontspan sluk sy haar eerste glas whisky vinnig weg. Sy voel ongemaklik alleen tussen die klomp vreemdelinge. Dit sou lekker gewees het as Zani nou hier was. Of selfs Willie. Iemand om die nuwe ondervinding mee te deel.

Die wolkversamelaars

Подняться наверх