Читать книгу Die wolkversamelaars - Nadia de Kock - Страница 16

11

Оглавление

Talla sit by die internetstasie, ’n beker stomende chaikoffie langs haar. Sy het Zani se oudste e-pos, die een wat Saterdagoggend gestuur is, oopgemaak:

Het die bak dig toegebly? Hoop vir jou part so. Jitte, dis grim. Maar ek glimlag tog.

Talla trek haar mond onwillekeurig op ’n plooi. Die bak was Zani se idee. Willie, soos gewoonlik ongeorganiseer en laat, het Vrydagmiddag, twee uur voordat Zani haar lughawe toe moes neem, die fles met Theresa se as vir haar gebring. Zani was ook al by die huis.

“Die metaalfles gaan nie werk nie,” het Zani gesê en die fles by Willie aangevat. “Dit kan nie scan nie en buitendien, aan die vorm is dit duidelik watter soort fles dit is. Kon jy nie maar ’n meer moderne een gekies het nie, Willie?”

“Mag ’n mens dan nie as oorsee vat nie?” Talla was reeds senuweeagtig oor die vlug en die vreemde, sy het nie hierdie potensiële komplikasie nodig gehad nie.

“Ek weet nie.” Willie het op sy selfoon geklik. “Ek sien niks op SAA se website nie.”

“Moet ons hulle nie bel nie?” Talla het na die fles in Zani se hand gekyk. Liefste Theresa, ek gaan my bes doen.

“Moenie slapende honde wakker maak nie,” het Willie gesê.

“’n Mens moet seker ten minste Theresa se doodsertifikaat saamvat. Willie, het jy dit?” Zani, prakties soos gewoonlik. “En papierwerk van die krematorium af?”

“Nee, dis by die huis.” Willie het op sy horlosie gekyk. “Dis nie ’n probleem nie. Ek gaan haal dit gou. Sien julle oor ’n uur.”

’n Uur later het hy gebel. Hy het sy huis omgekeer; hy kry nie die doodsertifikaat nie en kan nou nie onthou of die krematorium wel vir hom iets gegee het nie. Sy nuutste minnaar, Cedric Iemand, het met die reëlings gehelp, dalk het hy iets. Maar hy is in ’n belangrike vergadering met voornemende kliënte en sy selfoon is af.

Op ’n Vrydag? wou Talla vra. Seker ’n liquid meeting. Haar maag het luide draaie gemaak.

“Is dit jou maag?” het Zani gevra en Talla het haar oë gerol.

“Ontspan,” het Zani getroos en ’n bottel wyn oopgemaak. “Ons het dit nodig. Ons gaan die as in ’n gewone houer sit, jy gaan dit in jou tas sit en alles gaan goed afloop. Indien daar ’n probleem is, is ek mos op die lughawe. Dan haal ons die as uit jou tas en ek bring dit terug huis toe. Maar die eerste prys is dat jy Theresa se as in ’n spesiale plek in Skotland strooi.”

“Ek kan dit nie doen nie. Hoe kan ek die as net so oorgooi in ’n ander houer? Dis makaber.”

“Dis hoekom ons wyn drink.”

“Ek sien nie kans nie, Zani.”

Zani het lig gefrons en haar glas wyn in een teug afgesluk. “Bring vir my ’n groterige houer wat dig toemaak.”

“Hoe groot?”

“Ek weet nie!” Zani het ook gespanne begin klink.

Talla het in die kombuiskas gaan krap en ’n tweeliter-roomysbak uitgehaal.

“Is daar nie ’n ordentlike houer nie?”

“Wat’s fout met dié een?”

“Het ons nie Tupperware nie?”

Talla het weer haar oë gerol en na Zani gestaar. Toe vat Zani die bak en fles by Talla aan en stap by die voordeur uit na die gemeenskaplike tuin toe. Sy was bleek toe sy terugkom. “Done.” Sy het nog ’n glas wyn geskink. “Fokkit. Ek sal waarskynlik ’n sielkundige na dié ervaring moet gaan sien.”

“Op Theresa.”

Talla het haar glas in Zani se rigting gelig en skuldig gevoel. Theresa was so ’n grasieuse vrou.

“Jip. In liefde.”

Talla loer vinnig na die oorblywende tyd op die internetmeter en beantwoord die e-pos. Toe maak sy die een wat Zani gisteraand vir haar gestuur het oop.

Die huis is stil sonder jou. As jy jou selfoon saamgevat het, het ek jou beslis al gebel. Ek mis selfs jou en jou kliënte se geselsies saans. Hier het ’n helse bos blomme aangekom van daardie bleeksiel met die goth T-shirt, kan nie sy naam onthou nie. Die kaartjie – dit was oop, ek het nie geloer nie – sê: “Dankie vir die skemermense wat voor die droom van dromend lewe swig, Talla.” Is dit uit ’n gedig? Was dit die bleke se keuse? Ek’s beïndruk.

’n Vlaag yswind laat Talla omkyk. Die bos rooikoperkleurige hare is die eerste wat sy raaksien, gevolg deur ’n lenige figuur in jeans en ’n bruin kabeltrui. Connor maak die deur agter hom toe voordat hy haar raaksien. “Haai!” groet hy en dit lyk asof hy verby gaan stap, maar dan gaan staan hy. Hy steek sy hand na haar uit. “Connor Kirkpatrick.”

Dit voel asof ure verbygaan voordat sy haar hand uitsteek. “Talla,” sê sy en neem sy gelaatstrekke in. Fyn neus, fyn vel, mond wat maklik glimlag. En sy oë is so glashelder soos net blou oë kan wees.

“Jy is van Suid-Afrika, nie waar nie?”

Talla knik haar kop en probeer normaal glimlag. Dit voel egter vir haar of sy grynslag. Haar lippe is droog. Sy het in jare nie so ’n aantreklike man gesien nie.

“Ek hoop jy kuier lekker. En ek hoop ons gaan mekaar gereeld hier in Munro’s raakloop.”

“Dankie, ek hoop ook so.” Talla voel hoe haar gesig begin gloei. “Ek bedoel, ek hoop ook ek kuier lekker,” hakkel sy. Shit.

Connor se oë blink en hy glimlag effens.

Kan hy sien hoe sy verkrummel onder sy helder blik? Talla probeer herstel. “Jy het mooi gespeel gistermiddag. Ek hou van die doedelsak.” Sy hoop dit klink gelykmatig. Sy voel soos die spreekwoordelike bokkie wat in sterk kopligte vasgevang is. Connor se oë mis niks, daarvan is sy seker.

Sy glimlag strek breër. “Dankie, jy is goed vir my ego. Ek oefen heeltemal te min.” Daar is ’n kepie in sy ken.

“Dit klink nie so nie.”

Connor vervat die greep op sy rugsak se band. “Sal jy my verskoon? Dit was lekker om jou te ontmoet, Talla. Sien jou later.” Met dié verdwyn hy by Munro’s in. Maar nie voordat hy ’n laaste keer oor sy skouer na haar kyk nie.

Talla sit en staar onsiende na die rekenaarskerm en begin eers fokus toe die horlosie die sekondes krediet wat sy oorhet stelselmatig aftik. Sy gooi inderhaas nog ’n pond in die gleuf. Hierdie internetstasie is honger vir ponde. Haar geld vloei vinniger as wat sy gedink het dit sou. Vanoggend se inkopies was aansienlik duurder as wat sy verwag het. Sy sal moet briek aandraai, sy is nou amper deur ’n tiende van haar sakgeld en moet nog byna drie maande hier aan die lewe bly.

Daar is nog ’n paar e-posse, meestal van tatoeëerkliënte. Talla stuur vir almal ’n kort boodskap terug waarin sy sê dat sy vir drie maande landuit is. Hopelik wag hulle almal op haar terugkoms.

Sy kyk na haar weerkaatsing in die rekenaarskerm, maar al wat sy sien, is Connor se helderblou oë wat terugkyk. Sy ruk haar reg. Ná Richard, die lenige langafstandatleet en motorfietsryer, haar vyf jaar gelede sonder seremonie gelos het, het sy besluit genoeg is inderdaad genoeg. Haar lewe is nou ongekompliseerd. Uiteindelik.

Die internetmeter wys sy het nog dertig sekondes tyd oor. Sy tik Astian se webwerfadres vinnig in. Hy het een nuwe foto gelaai, ’n reusewolkformasie wat bo ’n dorpie op die horison dryf. Dit lyk soos ’n groot pienk roofvoël wat sy vlerke sprei, enige oomblik op die dorpie gaan afpyl en dit met sy sterk kloue ontwortel en opraap. Dan sal die honger voël boontoe skiet en met ’n wye draai oor die oseaan wegvlieg, die dorpie en al sy vreesbevange inwoners in sy kloue vasgevang.

Die wolkversamelaars

Подняться наверх