Читать книгу Die wolkversamelaars - Nadia de Kock - Страница 9

4

Оглавление

Die kamer is spartaans. Daar is twee stapelbeddens, twee kleinerige staalkaste, ’n stoel en ’n wasbak in die hoek. En sy moet vir drie maande in hierdie skunnige plekkie bly. Dan onthou sy haar eerste kamer in die Christelike jeugtehuis in Visagiestraat, in die laat tagtigerjare toe sy pas begin werk het. Dit was nóg kaler en kleiner as dié gaatjie. Buitendien, die kamer by Munro’s is al wat sy kan bekostig.

En gelukkig sal sy omtrent nooit hier wees nie, sy gaan mos stories soek. Buite, in temperature rondom vriespunt. Sy trek haar baadjie uit, hang dit oor die stoel en trek die gordyn voor die klein venster oop. Dit is donker. Al wat sy sien, is haar eie bleek gesig in die venster. Daar is diep skaduwees onder haar wangbene en haar hare is teen haar kop vasgeplak. Sy lyk so moeg as wat sy voel.

Talla trek die gordyn toe en sluit haar tas oop. Die roomysbak is onder die handdoek bo-op haar klere, en nog bottoe.

“Ons is in Munro’s,” sê sy en haal die bak uit. “Die kamer lyk soos ’n koshuiskamer. Het jy hier oorgebly, Theresa? Dis vir my moeilik om te glo.” Sy maak seker dat die deksel styf toe is voordat sy dit terugsit in die tas.

Vir die soveelste keer wonder sy hoekom Theresa haar juis hierheen laat kom het. Theresa het geweet Talla was nog nooit oorsee nie en toe stuur sy haar na hierdie godverlate deel van Skotland. Praat van hard aan die kraag uit die gemaksone gepluk word.

“Jy moet saamkom na die prokureur se kantoor vir die lees van my ma se testament,” het Willie, haar baas en eienaar van Oranges and Purples, haar ’n paar weke gelede kort ná Theresa se dood ingelig. Sy was verbaas. Sy het Theresa langer as twintig jaar geken, maar nie gedink sy sou iets erf nie. Sy het dit nie eens oorweeg nie.

Talla se erflating was ’n vliegtuigkaartjie na Glencoe in Skotland. Van al die plekke waar die berese Theresa al was, het sy Glencoe-vallei in die Hoogland gekies. Skotland maak sin, dit was haar gunstelingplek. Maar die afgesonderde Glencoe?

Die testament het ook bepaal dat die besoek binne tien maande ná Theresa se afsterwe moet geskied en dat Talla minstens drie maande moes bly. Die prokureur het die retoerkaartjie daarna in oorleg met Talla gekoop en die datums vir haar aankoms en vertrek is van toe af vas. Theresa het ’n bietjie kontant nagelaat wat Talla as sakgeld moes gebruik. Dis die geld wat sy vir die eerste maand se akkommodasie en Ma se meniskusse gebruik het.

Talla was seker Willie sou nie te gelukkig wees met een van die voorwaardes wat Theresa aan hom gestel het nie: Staan Talla se verlof toe en betaal haar vir die tyd. Sy het nie gewaag om in Willie se rigting te kyk toe die prokureur die voorwaarde lees nie. Willie het nie ’n sprak gesprook nie, maar sy kon sy blik op haar voel. Toe sy later die moed bymekaarskraap om na hom te kyk, het hy kopskuddend geglimlag. “Jy en my ma darem.”

Theresa het ook ’n brief vir haar gelos, maar die prokureur gaan dit vir haar gee wanneer sy terugkom uit Skotland.

Talla is doodmoeg, knip die tas toe en gaan lê op die bed. Sy mis Theresa vreeslik.

Die wolkversamelaars

Подняться наверх