Читать книгу Die wolkversamelaars - Nadia de Kock - Страница 21

16

Оглавление

Terug in haar kamer krap Talla in haar tas, op soek na niks spesifieks nie, maar dalk lê haar paspoort iewers weggesteek en kom dit nou uit. Sy vat die klein A5-fotoalbum raak wat tant Lettie vir haar gemaak het om saam te bring Skotland toe. “Van my en jou ma af,” het sy in die Modimolle-huis se skemer sitkamer gesê en die album aangegee. Haar ma het vir haar niggie geglimlag en toe weer na haar saamgevoude hande op haar skoot gekyk.

“Dankie, tant Lettie. En Ma.” Talla het die album op die dresser langs haar stoel neergesit, toe sy uit die hoek van haar oog die dun lêer met die woord Testament in oumensskrif daarop gewaar.

Dié verdomde huis. Die hartseer en onvergenoegdheid en ja, as sy moes eerlik wees, tant Lettie se kleingeestigheid, het soos ’n wolk oor haar ma se huis gehang. Van vreugde en ’n belangstelling in die wye wêreld was daar geen teken nie. Geen wonder sy gaan so sleepvoetend daarheen nie. En geen wonder sy beperk haar besoeke tot verjaardae en Kersfees nie.

Talla keer haar gedagtes weg van Modimolle terug na Glencoe. Sy blaai deur die fotoalbum. Daar is net ’n paar foto’s in, meestal van haar ma en tant Lettie toe hulle jongmeisies was, ’n swart-en-wit een van haar ma in ’n minirok voor ’n Valiant. Die foto is seker in die sewentigs geneem. Daar is ook ’n skoolfoto van Talla. Sy was in daardie dae se standerd agt volgens die bordjie voor haar en ’n tipiese tiener met vyandiggesinde oë en uitdagende houding. Rebel without a cause. Dit lyk ook asof sy met die fotograaf praat en haar mond is groot genoeg oop om haar oneweredige voortande te sien. Die een staan effens uit met een hoekie wat bo-oor die ander voortand lê. Haar tande lyk vandag nog so, sy het self ook nooit genoeg geld verdien om dit te kon laat regmaak nie. Astian was mal daaroor. Hy het hierdie klein onvolmaaktheid waardeer, gesê dit maak haar nog mooier. Sy het hom geglo.

Daar is nog ’n foto, ’n swart-en-wit een van die klein Talla in ’n wit valletjiesrok. Haar arms is gekruis en sy frons. Sy onthou die glibberige nylonmateriaal waarvan die rok gemaak was. Sy voel die materiaal onder haar vingernaels en ril. Sy onthou die rok nou baie goed, dit het deurskynende ligpienk rosies om die kraag gehad. Sy soek na die rosies op die dowwe foto en kry dit. Nie meer duidelik nie, maar dit is daar.

Sy haal die foto uit sy plastieksak en draai dit om. Atalia, 6 jaar, Warmbad, staan daar in haar ma se handskrif geskryf. Sy draai die foto weer om en kyk lank na die rok. Dan onthou sy hoe sy haar naels obsessief oor die rok getrek het en die vlae hoendervel wat daarop gevolg het. ’n Flerts herinnering kom vanuit nêrens by haar op en sy maak haar oë toe. Sy sit doodstil, bang dat iets haar aandag aftrek en die herinnering verwilder. Wit bobbysocks en nuwe swart blinkleerskoene. En ’n baksteentrappie, hard onder haar boude en bobene.

Sy onthou. Sy is ses jaar oud en sit in haar pienk partytjierok en blink swart skoene op die baksteentrap en wag. Haar trui is in die Valiant, maar sy mag dit nie gaan haal nie. Sy trek haar rok tot oor haar knieë en hoor manstemme agter haar. Hulle lag en een begin hoes. ’n Nat hoes, nes haar pa soggens hoes as die grootmense die vorige aand kaartgespeel het. Die man maak keel skoon en sy leun verder vorentoe, probeer haar rok laer oor haar bene trek. Agter haar breek iemand ’n wind op en die reuk van bier bly in die lug hang. Sy kyk om. Haar pa staan agter twee vreemde ooms op die stoep. Die een oom, die maer een, hoes weer en buk by haar. “Is dit joune, Johann? Oulike nooientjie.” Hy vryf oor haar hare. Sy asem stink na rook.

Talla spring op, hardloop na haar pa toe en draai haar onder sy arm in.

“Wag net nog ’n rukkie, meisie,” sê haar pa. “Ons gaan amper ry.” Hy en die twee ooms stap weer by die kroeg in.

Toe dié herinnering losruk en na die oppervlak dryf, trek daar ’n rilling deur Talla se lyf. Sy sit die foto in die plastieksakkie terug en druk die album onder haar matras in. Sy het al vergeet van daardie aand op die Warmbad Hotel se stoep en nou, dekades later, onthou sy dit. Sy was daardie dag by ’n verjaardagpartytjie en haar pa het haar kom haal. Hy het eers by die hotel stilgehou voordat hulle huis toe is. Darem vir haar ’n rooi koeldrank op die trap gebring, as sy reg onthou. Dit was al donker toe hulle huis toe ry.

“Moenie vir jou ma sê waar ons was nie,” het haar pa gesê en ’n sigaret aangesteek. Hy het die vuurhoutjie doodgewaai en by die venster uitgeskiet.

“’n Mens mag nie jok nie, Pappa.”

Die kar het na bier en sigaretrook geruik. “Dis ’n wit leuentjie, Atalia.”

“Maar dis jok.”

Hy het na haar gegluur. Sy het gewens hy wou liewer kyk waar hy ry. “As jy vir jou ma vertel, gaan ek jou ’n helse pak slae gee. Dit fokken belowe ek jou.”

Talla kan nie onthou wat verder gebeur het nie. Het sy Ma ooit vertel? Sy glo nie, sy was te bang vir Pa. As hy gedrink het, het hy in ’n woestaard verander. Toe sy so vyf, ses jaar oud was, het hy haar een aand uit die bad kom pluk omdat sy geneul het dat Ma haar hare moet kom was, sy kry koud. Hy het haar sommer daar op die badkamervloer met die plathand op haar kaal boudjies geslaan. Daardie pak slae, en hoe dit gebrand het, is een ding wat sy in veertig jaar nie vergeet het nie. Maar sy kan nie onthou of sy gehuil het nie.

Sy trek die kombers oor haar bene, maar staan byna onmiddellik op, trek haar jeans en jas aan en kry haar sigarette. Sy gaan staan agter die stoor, waar dit voel asof die koue haar nie so genadeloos beetkry nie.

Die aansteker vlam eers met die derde probeerslag. Sy kyk daarna – dis nie hare nie, moontlik Neil s’n. Afgesien van haar teorie oor die hel het sy ook ’n teorie dat penne en aanstekers aan die gemeenskap behoort, nie aan individue nie. Jy koop ’n aansteker, maar dit beland altyd by vreemdes. Dieselfde met penne.

Talla leun teen die koue stoormuur aan, ruk vinnig weg en staan regop. Dat die herinnering aan die Warmbad Hotel so skielik vanaf nêrens teruggekom het, ontstel haar. Waar kom dit vandaan? Kan een foto die sneller vir so ’n herinnering wees? Haar pa is al, wat, vyf-en-dertig jaar dood? En hier kom staan sy onrustige gees nou langs haar, so ver van die huis af.

Sy ril, trek diep aan die sigaret en kyk na die kooltjie voordat sy haar oë toemaak en die rook in die lug op blaas.

Die wolkversamelaars

Подняться наверх