Читать книгу Die wolkversamelaars - Nadia de Kock - Страница 19

14

Оглавление

Munro’s is doodstil. Talla maak haar rugsak oop. Sy is deur al die reisgidse in die Quiet Room en nou is sy lus vir Die ysterkoei moet sweet. Sy gaan dit in die eetkamer lees, nie hier in haar kamer nie. Die eerste klompie klimmers gaan weldra begin terugkom. Sy sien uit daarna om daar na hul klimstories te luister. Dit laat haar deel voel van die avontuur. Sy haal die bundel en haar wolkboek uit. Sy moet haar paspoort en geld in die plastieksakkie ook uithaal, dalk eerder onder haar matras bêre. Dit is haar waardevolste besittings in dié stadium. Sy grawe ’n bietjie, maar kry dit nie raakgevat nie.

“Hemel tog,” mompel sy en keer die rugsak op die onderste bed om. Snesies en haar instapkaart van Heathrow- na Glasgow-lughawe fladder uit. Sy word koud. Waar is haar paspoort en geld?

Sy maak haar tas oop, krap daarin rond en pak dit dan heeltemal uit. Geen plastieksakkie nie. Haar hart skop wild in haar borskas. Sy voel deur haar twee paar jeans se sakke, dop haar badkamersakkie uit, keer al vier beddens se beddegoed om. Niks.

Daar is niemand by ontvangs toe Talla daar invlieg nie. Sy swaai om en draf na die badkamers op die grondvloer. Neil is in die badkamer besig om die vloer te mop.

“Ek kry nie my paspoort en geld nie!” sê Talla uitasem sonder om te groet.

Neil hou op met mop. “Dit moet iewers wees. Probeer onthou waar jy dit laas gesien het. Dalk in die Quiet Room?”

Talla maak haar oë toe om beter te kan dink. Dan gee sy moed op en maak weer haar oë oop. “Ek kan nie onthou nie,” bieg sy.

“Kom,” sê Neil en neem haar aan die arm, “kom ek gaan maak koffie en dan loop ons op jou spore terug. Die paspoort kan nie weg wees nie.”

Talla drink haar koffie staan-staan toe David by die kombuis inkom. Neil vertel hom van Talla se dilemma. Hy probeer ook help. “Dink nou weer mooi. Waar het jy jou paspoort die laaste keer gesien?”

“Ek weet nie!” Talla raak ongeduldig. Sy kan nie onthou nie.

David gee egter nie maklik op nie. “Het jy dit weer uitgehaal nadat jy aan boord gegaan het?”

“Ja, ek het dit in die vliegtuig in my jeans se sak gedruk.” Talla keer voordat David kan uitbrei. “En ek het al in my jeans se sakke gekyk.” ’n Liggie gaan vir haar op. “Wag, ek het dit by die bushalte uitgehaal en in my rugsak gesit, tussen twee boeke!”

“En wanneer was die eerste keer dat jy weer die rugsak oopgemaak het?” David klink soos ’n speurder.

“Langs die pad hierheen miskien?” probeer Neil.

Talla plak haar koffiebeker op die toonbank neer. “Dis al ’n rukkie, julle … Wag, ek onthou! Ek het langs die pad gestop om te rook en moes my rugsak uitpak om by my sigarette uit te kom. Ek is seker ek het die plastieksakkie ook uitgepak. Dit lê dalk nog langs die pad!”

Die drie van hulle draf na Neil se ou vaalblou Beetle wat langs die stoor staan. ’n Digte mis hang weer oor die plek.

“Hoe ver omtrent?” vra Neil terwyl hy die karretjie by die ingang uitswaai.

Talla sit agter en kyk om. Rook borrel by die uitlaatpyp uit. “Hoekom rook jou kar so?”

“Ringe. Maar ons gaan mos nie ver ry nie. Hoe ver omtrent?” vra Neil weer.

“Ek dink dit was net ’n paar minute buite die dorp. Aan die regterkant van die pad.” Toe Neil in die truspieëltjie na haar kyk, voeg sy by: “Dit was donker, onthou? Ek was moeg. En ’n bietjie gedisoriënteer.”

Die Beetle het beter dae geken en dit voel asof dit vir ewig duur voordat hulle die brug bereik. Toe hulle uitklim, ruik sy die olie. Dit herinner haar aan haar eie Beetle wat sy op twintig gery het. Ringe was een van sy legio probleme. Dís nou ’n blast from the past.

Die drie van hulle begin stadig in die rigting van Munro’s stap, hul oë stip op die grond voor hulle. Die groen kleur van die paspoort help hul soektog nie juis nie. Met elke paar minute wat verbygaan, verloor Talla hoop. Nadat hulle omtrent ’n halfuur loop en soek het, sê sy in ’n dun stem: “Kom ons draai maar om.” Wat gaan sy doen?

Neil sit sy hand op Talla se skouer. “Moenie stres nie, ons sal nie ophou soek nie. Ek belowe.” Hy hou die motordeur vir Talla oop. “Ons sal aanhou soek. Maar in ’n stadium sal jy dalk Londen toe moet gaan vir noodreisdokumente. Daar was einde verlede jaar Suid-Afrikaners hier en die een meisie het gekla dat die konsulaat in Edinburg haar nie kon help met reisdokumente nie.” Hy kyk na Talla. “Maar soos ek sê, ons sal ’n plan maak.”

Watse plan? Londen is ver. Sy het nie geld om soontoe te gaan nie.

Sy het darem nog die geld in haar kous. Sy moet net minder eet. Minder rook en minder tyd op die internet deurbring. Die laaste twee maande se akkommodasie is wel ’n probleem, ’n moerse een. Hoe gaan sy ’n verdomde Londen-trip bekostig?

Maar sy gaan nie negatief raak nie. Daar sal uitkoms wees. Daar is altyd.

Later die middag bring Neil vir haar ’n beker koffie na die Quiet Room toe. Sy sit met Ysterkoei voor haar oop, maar sukkel om op die gedigte te fokus.

Neil kom sit in die stoel langs die bank waarop Talla sit. Hy glimlag.

“Ek het ’n plan met jou situasie.”

“Ja?” vra Talla toe hy stilbly.

“Teodor wil huis toe, Bulgarye toe, vir ’n paar weke en ek en David gaan sukkel om die ontbyt te hanteer by al die ander goed wat ons moet doen. As jy wil, kan jy met die ontbytskof help.”

Neil mag nie werk aan Talla verskaf nie en hy sal haar dus nie amptelik kan betaal nie, maar dit is tradisie dat hulle fooitjies deel, en David sal syne met haar deel. Hy verseker haar dat sy geld sal maak. “Ten minste genoeg om jou aan die eet en rook te hou totdat ons aan iets anders kan dink.”

Talla se hart word warm. Neil weet dat sy nie genoeg geld het nie, sy hoef dit nie uit te spel nie. As hy so aanhou, sal hy ’n plekkie in een van die einste hart se kamers kry. Hy is ’n wonderlike mens. “Dankie, baie dankie, Neil. Dit beteken so baie vir my.”

“It’s nothing.” Hy bly ’n rukkie stil. “Mikey sê jy het nie reggekom by Craig nie?”

“Nee. Neil?” Sy kyk na hom, onseker oor wat om te sê. “Craig is nie ’n baie nice mens nie.”

“Praat jy van die drank?”

“Onder meer. Hy is aaklig. Hy wou gunsies hê vir stories wat hy in elk geval nie gehad het nie.” Talla voel hoe sy warm word. Sy is nog steeds vies vir die skepsel.

“Ek is jammer. Pes.”

“Sekspes,” beaam Talla. “Maar daar is darem die Elsa-vrou.”

“Elsa?”

“So iets, ja. Sy bly naby Inverness. Ek het die aand met Burns Nicht van haar tuiswewery gehoor. Wag, ek dink nie jy was toe by die tafel nie.”

“Nee, ek was nie. Maar ek sal vir jou die inligting kry.”

Talla glimlag. Alles is nie verlore nie. Haar soektog het maar pas begin.

Die wolkversamelaars

Подняться наверх