Читать книгу Die wolkversamelaars - Nadia de Kock - Страница 17

12

Оглавление

Dit is pas ná tien toe Talla Glencoe-dorp op Munro’s se fiets binnejaag. Haar neus loop van die koue, maar sy waag dit nie om haar hande van die stuurstang af te haal nie. Sy is nog versigtig.

Neil en David was vanoggend nêrens te sien nie, maar Mikey het haar soos ’n skaduwee gevolg. Hy wou saam na Craig Brodie toe en Talla moes walgooi. Dit is immers ’n werkbesoek om te hoor wat hy van wewersgemeenskappe in die omgewing weet en sy het ’n sterk vermoede Mikey sou dit laat ontspoor. Nee, sy moet alleen na Craig toe.

Ná die grys klipkerkie op regterkant draai Talla regs sonder om vreeslik spoed te verloor en vlieg behoorlik om die draai. Kort voor lank is sy voor die eerste huis op linkerkant net ná ’n klompie velde.

Die huis lyk maar redelik gehawend. Die pleister dop hier en daar af, die vensters is dof en lyk taai soos seehuise s’n. Woon Craig alleen hier? Sy het aangeneem hy is getroud.

Craig maak die deur feitlik dadelik oop toe sy klop. “Kom in!” nooi hy gul. Sy kruisbande hang los en beklemtoon sy baliemaag. Hy dra aanglippantoffels van bruin leer sonder kouse en sy hakskene steek wit af teen sy donker broek. Sy lippe is vlesig en pienk.

“Is ek te vroeg?” In die helder daglig lyk Craig vir haar grillerig.

“Glad nie. Ons het mos gesê tienuur. Stap deur.” Hy sit sy hand op Talla se rug en stuur haar die sitkamer in. Sy maak haar rug krom. Sy hand is warm en swaar. Die vertrek is donker en ruik na ’n kat se sandbak wat lanklaas skoongemaak is. Talla stap na die venster en trek een van die swaar gordyne oop. Die venster kan net op ’n skrefie oop.

“Gee jy om? Ek voel benoud.”

“Ons sal dood van die koue.” Craig stap na ’n kabinet in die hoek. “Of nie.” Hy kyk om en lag, bottel in die hand. “Whiskytjie vir jou?”

Tienuur in die oggend? Talla skud haar kop. “Dis te vroeg vir my, dankie. Buitendien, ek wil so gou moontlik aan die werk kom. Is jou vrou tuis?”

Craig lag. “Bachelor. Ek het nooit die regte een ontmoet nie.”

Uh-oh.

Talla gaan sit op die bank onder die venster. Die vertrek is leeg, daar is net twee banke, ’n koffietafel en die drankkabinet op ’n vaal geblomde mat. Teen die oorkantste muur hang ’n verkleurde foto van ’n vallei. “Glencoe?” beduie sy.

Craig kyk vinnig na die foto. “Aye.”

Talla staan op en gaan bestudeer die foto van die vallei. Sy spits haar ore en hoop om geluide, tekens van ander lewe, in die huis te hoor. “Bly jy alleen hier? Nie ’n huismaat of iets nie?”

Craig het ’n tweede glas in die hand en draai om. “Is jy seker jy wil nie iets drink nie?” Sy ogies blink in sy ronde maangesig. “Kom nou, jy’s met vakansie, ek skink vir jou ook een. Goedkoop maar goeie goed.” Hy lag en sy oë trek op skrefies.

“Nee, dankie. Ek is nie met vakansie nie, ek het werk om te doen.” Sy haal haar notaboekie uit haar rugsak.

“Nes jy wil.” Die glimlag is nou weg, hy skink ’n sterk whisky en kom sit langs haar. Die bank duik in aan sy kant en Talla gly af tot naby hom. Sy skuif weg. Whisky ruik lekkerder in die aand as in die oggend. Craig ruik boonop bedompig, asof hy die afgelope week net dié klere gedra het.

“Shoot,” sê Craig en vat ’n groot sluk. Sy hande bewe liggies.

“Ekskuus?”

“Met jou vrae.”

Hoekom wag hy op vrae? Hy het op Burns Nicht gesê dat hy baie stories vir haar het. Miskien was hy nie nugter nie. Dalk is hy vanoggend ook aangeklam. Talla huiwer.

“Is alle Suid-Afrikaanse vroue so mooi soos jy?” vra Craig en streel met sy oë oor haar gesig.

Haar maag maak ’n draai en sy hou asem op. Die vent moenie met haar sukkel nie. Sy asem uit. “Ek is eintlik op soek na ’n storie of twee. Jy het nou die aand gesê jy ken ’n hele paar.”

“Hier was ’n paar jaar gelede ook twee Suid-Afrikaanse vroue wat by Munro’s oorgebly het. Aardse skoonhede.” Hy loer met varkogies na Talla. “Ja, julle het ’n aardsheid aan julle, ruik na die grond. Lewe jy ook na aan die aarde?”

“Nee, ek bly in die stad.” Kortaf. “Maar nou, die stories waarvan jy gepraat het?”

Hy lek oor sy pap lippe en skuif sy hand tot op Talla se knie. “O, natuurlik ja! Ek het stories vir jou.” Hy vat nog ’n sluk whisky en sit sy glas op die bank se armleuning neer.

“Ek luister.” Talla haal sy hand van haar knie af.

Craig gee ’n spottende laggie. “Bietjie skaam? Kom, kom, enige mens kan sien jy is nie ’n engeltjie nie.”

Talla se gesig word warm.

“En ten spyte daarvan kan jy nog bloos. Hoe sjarmant.” Hy sit terug. Daar is spoeg in sy mondhoeke. “Die Skotte het saam met die Boere teen die Engelse baklei. Weet jy dit?”

“Ja, ek weet,” jok Talla. Haar oë brand. Craig se opmerking het seergemaak. Hy is ’n vark.

Hy sit sy hand weer op haar knie. “Boere en Skotte saam. ’n Goeie kombinasie.”

Talla hou haar asem in en asem dan stadig uit. Sy moet kalm bly met dié kalant. “Luister, Craig, ek hou nie daarvan dat jy jou hand op my knie sit … of aan my raak nie. Ek wil eintlik net ’n storie of twee hoor en dan huis toe gaan.”

Hy lek weer oor sy lippe. “Ek hou van ’n vrou wat haar kastig teësit.” Hy glimlag. Sy oë is koud.

Talla se nekhare rys. Sy staan op. “Ek dink nie ons gaan vreeslik vorder nie. Het jy vir my ’n storie of het jy nie?”

’n Oomblik lyk hy verdwaas. “Ek vra om verskoning, ek is sommer laf.” Hy sukkel ook op en stamp die glas van die leuning af. Die glas bly heel, maar die whisky vorm ’n donker dammetjie wat op die oppervlak van die dun mat bly lê.

Craig buk steunend en tel die glas op. “Ek is so lomp. Ek is nie gewoond aan geselskap nie, dit raak soms alleen hier. Ek het my wangedra.”

Die ellendeling is waarskynlik ’n eensame kluisenaar en sosiaal onbevoeg, dié dat hy so lomp is en onvanpas optree.

Craig hervul dieselfde glas. “Is jy seker ek kan jou nie bederf met ’n klein dop nie? Goeie goed.” Sy skud haar kop en Craig gaan sit. Hy lyk soos ’n skoolseun wat pas oor die kole gehaal is. Hy klop sag op die sitplek langs hom. “Kom sit, asseblief.”

Talla gaan sit op die punt van die bank se sitplek en kyk op haar horlosie. “Ek het net ’n uur tyd,” jok sy, “kan ons asseblief vinniger werk?”

“Natuurlik.” Craig versit en Talla gly weer ’n bietjie nader aan die nuwe duik wat hy in die bank maak. Sy skuif weg van hom en sy koue oë, maar hou haar blik op hom. Sy probeer moedig terugkyk.

“Reg. Stories.” Sy gaan hom nog een kans gee, dan gaan sy tou opgooi. Sy sal haar stories op ’n ander plek kry.

“A,” sê Craig en raak aan Talla se wang. Sy vries. “So ’n mooi vrou. Nie meer jonk nie, maar so mooi.”

Nee, de moer met dit. Sy spring op. “Ek waai,” sê sy en stap vinnig deur toe. Voordat sy dit kan oopmaak, is Craig by haar en sit sy hand op haar skouer. Hy is nogal rats vir so ’n oorgewig mens. Sy stamp sy hand af. “Los my.”

Hy druk tussen Talla en die voordeur in. “Wag, wag! Ek is jammer.”

“Nee, dít het jy al gesê. Ek waai.”

“Ek het net ’n grap probeer maak. Dit het nie gewerk nie. Kom sit, kom ek vertel jou van een van Skotland se grootste vegters.”

Talla laat sak haar skouers effens.

“William Wallace, een van ons –”

“Vlieg in jou moer,” sê sy en span al haar krag in om Craig uit die pad te druk. Sy maak die voordeur oop en hardloop tot by haar fiets, spring op en ry so vinnig as wat sy kan oor die sagte gras by die erf uit. Haar keel brand en toe sy opkyk, sien sy Mikey voor die klipkerk sit.

Die wolkversamelaars

Подняться наверх