Читать книгу Die wolkversamelaars - Nadia de Kock - Страница 22

17

Оглавление

Talla het haar eerste ontbytskof oorleef. Sy het nie bedien nie, maar wel minstens sestig eiers gebak. Teodor het die spek gebraai en roosterbrood gemaak. Die geur van varsgebraaide spek en eiers hang nog in die lug. Dit is nagdonker buite en haar en Teodor se beelde weerkaats in die lang kombuisvenster.

“Ek het gehoor Craig het hom soos ’n vark gedra,” sê Teodor. Daar is diep skadukolle onder sy wangbene en teen sy slape. “Dis Maggie wat jou na hom verwys het, nè? Ek kan haar nie verdra nie. Het nog altyd gedink sy het ’n gemene streep.”

David dra die laaste klompie borde by die kombuis in. “Wie het ’n gemene streep?” vra hy.

“Maggie,” antwoord Talla.

“Twak,” sê hy en skud sy kop toe hy na Teodor kyk. “Dit is net omdat Maggie nie met jou wou uitgaan nie dat jy skielik nie van haar hou nie.”

Talla kyk onderlangs na Teodor. Hy mompel iets en stoot ’n sliert hare wat oor sy oë geval het met die agterkant van sy hand weg. Toe kyk hy na David en sy oë is so koud soos ’n ou Oos-Europese winter. Talla keer: “Los dit nou, ek is bly ek het die grillerige skepsel ontmoet. My soektog het op ’n laagtepunt begin, van hier af kan dit net beter gaan.”

“Ek waai vanmiddag,” sê Teodor skielik. “Môreoggend werk jy dus vroeë skof, Talla. Vieruur.”

Dis vinnig. Maar sy is slaggereed. En hoe minder mense aan diens is, hoe meer fooitjies kan sy verdien.

“Is hy altyd so nors?” vra Talla toe Teodor uitstap.

“Hy is oukei,” sê David. “Hy is net ’n depressiewe Bulgaar, boonop tot oor sy ore verlief op Maggie. En dit omdat sy een of twee keer vriendelik teenoor hom was.”

Talla onthou ’n vrou saam met wie sy in ’n stadium gewerk het: dunhaarblond met ’n skerp gesiggie en ’n skerper mond. Mimi was haar naam. “Net omdat iemand gaaf is met jou beteken dit nie hy is verlief nie,” het Mimi bitsig gesê toe Talla gelukkig geglimlag het nadat … e … sy kan nie eens die siel se naam onthou nie … in hul kantoor kom vra het of hy vir haar ook koffie kan bring van die koffiewinkel op die hoek af. “Daddy issues, Talla?” Hemel, wat ’n feeks. Wonder waar bevind sy haar vandag.

Toe Talla met haar pakkie sigarette by Munro’s uitstap, sneeu dit. “A!” sê sy hardop. Dit is die eerste keer dat sy sneeu beleef. Sy hou haar hand uit sodat die sneeuvlokkies daarop kan val. Dit is veerlig. Die sigaret is vergete toe sy haar kop na die hemel lig sodat die vlokkies op haar gesig kan land.

“Kom, Talla!” roep Neil agter haar en beduie dat sy hom moet volg. Daar is ’n beskutte plekkie agter die stoor en sy en Neil staan en rook. Sy kyk na die drywende sneeuvlokkies.

“Ek hoop ons maak voortaan meer aan fooitjies as vanoggend.” Sy is versigtig om nie ondankbaar te klink nie. Neil antwoord nie. “Jy weet, Neil, ek is in my vrye tyd ’n tatoeëerkunstenaar. As ek maar my toerusting saamgebring het, kon ek behoorlik geld gemaak het. Ek is seker ek sou goed gedoen het onder die klimmers. Ek kon byvoorbeeld die name van die berge wat hulle klim op hulle getatoeëer het. Ben Nevis sal maklik om ’n pols pas. Ek kon een of twee pers Skotse distels ook in die ontwerp inkorporeer, of die klimmer se clan-kleure –”

Neil lig sy hand. “Jy sou jou vasgeloop het –”

“Ek doen hoofsaaklik lyntekeninge en teks. Lirieke en reëls uit gedigte. Maar ek sou selfs bereid wees om meer te waag. Clan-familiewapens? Die moontlikhede is onbeperk –”

“Talla,” val Neil haar weer in die rede, “dit sou nie gewerk het nie. Health and Safety sou jou toegemaak het nog voordat jy kon begin. Hulle het baie streng reëls en jy sou Munro’s nie as ’n ateljee kon gebruik nie.”

Talla druk haar hande in haar sakke. Na ’n ruk sê sy: “Ek hoop dit sneeu nog lank. Dis magic.”

Die wolkversamelaars

Подняться наверх