Читать книгу Die wolkversamelaars - Nadia de Kock - Страница 7

2

Оглавление

Dit is ná vieruur die middag en reeds donker toe hulle by die afdraaipad na Glencoe-dorp stop. Talla strek haar bene terwyl sy wag dat die busbestuurder die luik onder die bus oopsluit en haar tas uithaal. Die lug wat sy inasem, is so skerp soos glasstukke en ysig koud. Toe sy hoes, vorm wasem voor haar mond en bly in die lug hang.

Glencoe Mountain Rescue is teen die muur van ’n gebou oorkant die bushalte geverf. Daar staan ’n helikopter geparkeer en ’n straal lig uit een van die gebou se vensters val op sy registrasienommer. ’n Man beweeg kort-kort agter een van die vensters verby. Dalk ’n reddingswerker; die berge teenaan die pad hierheen het maar taamlik onheilspellend gelyk. Hier is seker gereeld ongelukke.

Talla groet die bestuurder en kyk die bus agterna toe dit wegry. Toe haal sy haar paspoot uit haar jeans se sak. Dit het effens gebuig, maar lyk darem nie of dit beskadig is nie. Sy probeer dit platstryk en pak dit dan tussen Die ysterkoei moet sweet en die wolkboek bo in haar rugsak sodat dit glad kan bly. Toe trek sy haar geleende tas se lang handvatsel uit en kry ’n stewige greep daarop.

“Hier gaan ons nou, Theresa,” sê sy oor haar skouer na die tas en begin aanstap. Sy glo die as is nog veilig in die roomysbak. Sy gaan belis nie nou haar tas oopmaak en kyk nie. “Ons is in jou Glencoe.” Sommer gou is sy in Glencoe-dorp se hoofstraat. Sy dínk dit is die hoofstraat, sy het pas by ’n klein kerkie verbygeloop en ’n ent verder hang ’n verligte blou-en-wit advertensiebord teenaan ’n gebou. Dit is nog te ver om te kan lees wat op die bord staan.

Sy is die enigste mens op straat en dit is so stil dat haar voetval in haar ore weergalm. Sy begin ’n paar versreëls wat sy gememoriseer het sag resiteer: die lewe is heerlik, heerlik, heerlik: die hart brand soet en seer. Ritmies, saam met haar voetslag. heerlik, heerlik, heerlik. Uit Katalekte. Sy moes die bundel ook ingepak het, nie net Die ysterkoei moet sweet nie. Dit is tog nie swaar nie.

Talla hou op prewel toe sy by die uithangbord aankom. Dit is ’n Co-op-winkel. Sy huiwer by die deur en kyk na binne. Dit lyk soos ’n klein Spar of ’n KwikSpar. Dit lyk lekker warm, miskien moet sy ingaan. Sy vat aan die deurknop. ’n Maer vrou met dun haartjies sit agter die toonbank en ’n man in ’n sweetpak en rubberstewels staan kopskuddend by haar en gesels terwyl hy sy mandjie uitpak.

Sy laat sak haar hand, nie lus om los geselsies te probeer aanknoop terwyl haar kakebeen so stram van die koue is nie. ’n Warm bad gevolg deur ’n warm bed is wat sy nou nodig het.

Dit is natuurlik nie die ingesteldheid wat sy moet hê nie. Hierdie mense sal dalk weet waar sy die stories kan kry wat sy in Skotland kom soek het.

Daar is ’n warmoond met toegewasemde vensters skuins agter die toonbank. Dit is waarskynlik gepak met goue pasteitjies, stomend en souserig. Sy kan dit in haar verbeelding ruik. Steak-and-kidney en pepper steak. En sy ís so honger. Sal sy nie maar een koop nie? Nee, skud eerder op en kom by Munro’s uit. Daar sal sy vir haar ’n behoorlike aandete bestel nadat sy ingeboek, ontvries en haar georiënteer het. Haar kakebeen is beslis te styf om te gesels.

Sy vat die tas se handvatsel vas en stap verder. Dan hoor sy water loop en dit is nie lank nie of daar is ’n brug voor in die pad. ’n Bordjie sê dis die Coerivier wat hier verbyvloei en ’n tweede bordjie wys dat die Slagtingmonument regs is. Dit is ter herinnering aan die vermoorde MacDonald-clan opgerig. Dié voorval is skynbaar nog vars in die geheue van die Skotte, al het dit reeds in 1692 gebeur. Sommige skrywers sê dit is hoekom Glencoe die “weendal” genoem word. Talla het redelik baie geleer tydens haar meanderende maar hoofsaaklik vrugtelose ure op die internet.

’n Entjie ná die brug begin sy uitkyk vir ’n sitplek. Tyd vir ’n sigaret. Sy het amper vier uur gelede buite die bushalte in Glasgow laas gerook en het haar fix nodig. Verdomde gewoonte.

Daar is oral klippe langs die paadjie en sy soek die grootste een uit om op te gaan sit. Sy stroop haar handskoene af voordat sy haar rugsak uitpak op soek na die sigarette. Eindelik kry sy die pakkie raakgevat en skud ’n sigaret uit.

Die klip is yskoud. Sy steek die sigaret aan en pak met een hand alles wat sy uitgehaal het terug in die rugsak. Terwyl sy rook, sit en kyk sy na die kaal, donker bome langs die pad. Sy bewe. Dis snerpend, dit voel asof ’n mens die koue lug met ’n mes kan sny. Miskien sal sy nog van die ontbering omkom voordat sy haar storiemissie hier kan voltooi.

Sy kan haar nie voorstel dat Theresa na die herberg sou loop nie. Theresa was immer stylvol. Sy het regop gestap, altyd sykouse gedra, en haar silwergrys hare keurig versorg. Sy het blink oë en ’n tinkellaggie gehad. Toe word sy siek, en so broos soos ’n klein voëltjie.

“Jy sou ’n taxi neem, nè, Theresa?”

Talla staan strammerig op. Sy moet bly beweeg, anders vries sy dalk op die plek aan die klip vas. Sy trap die sigaret dood, tel dit op en sit dit in die Marilyn Monroe-blikkie wat Zani vir dié doel saamgegee het. Toe vat sy die tashandvatsel vas en begin aanstap. Die stilte word net verbreek deur haar voetval en die tas wat sy oor die flenter teeroppervlak aansleep. Dit is nou heeltemal donker. Sy gaan staan. Die eggo van haar laaste voetstap verdwyn en dit raak so stil soos in ’n onontdekte grafkelder.

Dit word beslis kouer. Sy ril. Dit is ’n klam koue wat in haar gebeentes intrek. Haar maag maak ’n draai. Sê nou sy kan nie die koue hanteer nie? Hoe gouer sy by die herberg uitkom, hoe beter. Dit kan nie meer te ver wees nie.

Weer net haar voetval. Skielik verlang sy terug na Johannesburg se kakofonie, na toetende taxi’s, die voortdurende skril geloei van sirenes, die musiek wat by motorvensters uitpomp.

Dit gaan nie maklik wees om aan dié doodse stilte gewoond te raak nie.

Ná ’n entjie se stap hoor Talla ’n ander geluid. Sy stol in haar spore. Dit is stil, sy verbeel haar seker. Sy begin stadig aanstap en probeer die taswieletjies so lig moontlik oor die stukke gelapte teer trek. Sy spits haar ore. Daar is dit weer. Sy loer oor haar skouer en gewaar dadelik die donker figuur wat haar volg. Haar hart spring amper by haar keel uit. Die persoon is nou sowat dertig meter agter haar. Hy het ’n baadjie met ’n kappie aan en sy kan nie sy gesig sien nie. Wat moet sy doen? Aanhou loop? Vinniger loop? Of dalk maak of sy gaan rook en eenkant toe staan?

Die laaste opsie. As sy eenkant staan, is haar rug ten minste nie na die gevaar gekeer nie, kan sy die man in die gesig kyk. Sy soek in haar rugsak vir haar sigarette en haar hart klop in haar ore. Toe sy weer sien, is die man by haar. Hy het ’n breë, bleek gesig. Die kappie gooi ’n skadu oor sy oë.

“Hiya,” sê hy in die loop.

“Hallo.” Talla kry skaars die woord uit. Meer wasem as woord. Sy kyk die man agterna tot waar die pad ’n draai na regs maak en sy hom nie meer kan sien nie. Stadig begin sy aanstap, sy wil hom ’n goeie voorsprong gee.

Nou moet die herberg darem kom. Sy voel glad nie veilig nie. Terwyl sy stap, hou sy die bome aan die kant van die pad dop. Sê nou Hoodie wag haar in? Haar nekhare rys.

Uiteindelik doem ’n groot, donker struktuur aan die regterkant van die pad op. Sy herken die wydlopige klipgebou van die foto’s op die internet. Munro’s. “Hier is die verdomde plek einde ten laaste, Theresa.”

By die groot houtvoordeur kyk sy rond vir ’n klokkie, maar sien niks nie. Sy draai aan die knop en leun teen die swaar deur aan. Dit swaai stadig oop.

Die wolkversamelaars

Подняться наверх