Читать книгу Die wolkversamelaars - Nadia de Kock - Страница 13
8
ОглавлениеDie Quiet Room se gestoffeerde banke is deurgesit en die mat, soos die res van die matte in Munro’s, is verslete. ’n Groot boekrak met voosgevatte slapbandboeke oorheers die vertrek.
Talla sit op die bank langs die boekrak, haar gunstelingplek in Munro’s. Sy het die afgelope paar dae baie tyd op Google deurgebring in haar soektog na wewers, stories, weefstories. Onsuksesvol. Maar sy is positief, sy gaan vir Craig ontmoet en sy hou duim vas dinge loop goed af. ’n Storie of selfs ’n hele arsenaal wag op haar. Klein arsenaal, Talla. Hoopvolheid is nie altyd ’n goeie ding nie. ’n Mens moet dit temper met realisme. Tog het sy ’n goeie gevoel oor Craig, hy lyk na ’n kleurvolle karakter.
Talla gaan weer deur die titels op die boekrak. Daar is ’n klompie reisgidse vir dié deel van Skotland, almal ouer as tien jaar. Sy haal een uit en maak dit oop. Dit dateer uit 2002. Wel, die geografie is ten minste nog dieselfde.
“Ek is ’n persoon met beperkte middele!” kraak ’n ou stem in Engels by ontvangs. “Julle behoort my beter afslag as tien persent te gee.” Die man klink omgekrap. ’n Geritsel van plastieksakke volg.
“Ons kan nie uitsonderings maak nie. Die afslag word voorgeskryf.” Dit klink soos Teodor se stem.
Net hierna klink Neil se stem op. “Hiya, Mikey!”
“Hiya, Neil,” groet die man bly. “Ek het ’n kamer nodig, teen afslag.”
“Ek weet,” sê Neil. “Al ons beddens is vanaand vol, maar ons gaan ’n plan maak. Waar kom jy nou vandaan?”
“Fort William.”
“Al die pad gestap?”
“Ja, ek het vieruur vanoggend in die pad geval. Ek is nou moeg.”
“Daar is ’n warm linnekamer hier op die grondvloer, aan die einde van die gang waar mense jou nie sommer sal pla nie. Jy kan verniet daar slaap. Niemand sal vrae vra nie,” sê Neil.
Weer ritsel die sakke. “Wag hier, Mikey, ek gaan gou ’n kampbed in die stoor haal,” sê Neil. Dit raak stil in ontvangs en Talla loop op haar tone na die Quiet Room se deur toe. Sy wil sien hoe dié Mikey lyk. ’n Klein figuur verskyn skielik in die deur en Talla trek haar asem skerp in.
“Ekskuus …”
Mikey is ’n maer gryskop met koddige bakbeentjies. Sy lang hare is in ’n dun poniestert vasgebind en hy hou ’n plastieksak in elke hand vas. “Ek is ’n persoon met beperkte middele,” hy beduie met sy kop na ontvangs, “maar Neil is ’n planmaker.”
“Ek is bly hy kon jou help –”
“Ek het van Fort William af hierheen gestap.”
“Dis ver, veral in die koue. Kan ek vir jou koffie of iets gaan maak?”
“Nee, sit.” Mikey stap tot teenaan Talla. Sy retireer en plons op die bank neer. “As ek nog gedrink het, sou ek nou aangedring het op ’n dubbele whisky.” Hy lag, maar hou so vinnig op as wat hy begin het. “Sedert die insident van … wat … twintig, nee, dalk so drie-en-twintig jaar gelede het ek nog nie weer my mond aan alkohol gesit nie. En as ek ooit rede gesoek het om ernstig te begin drink, sou dit juis in daardie tyd gewees het.” Hy skud sy kop en kyk na Talla asof sy presies moet weet waarvan hy praat. Hy verwag ’n reaksie van haar.
“Dis goed. Alkohol is …” Is wát? En moet sy uitvra oor die voorval van so lank gelede? Liewer nie. “Wat van tee? Dit behoort jou lekker warm te maak.” Sy voel vasgedruk hier op die bank en staan op.
Mikey spring op. “Ja, tee! Ek is honger ook. Ek gaan iets maak om te eet.”
In die kombuis sit hy sy inkopiesakke op die werksblad neer, maak die een oop en begin uitpak: drie pakkies hawermoutkoekies, drie pakkies soppoeier, ’n witbrood en ’n blikkie kondensmelk. “A veritable feast!” sê hy en flits sy gaterige glimlag.
Talla beduie na die onoopgemaakte plastieksak op die tafel.
“My klere,” sê Mikey. “Blikoopmaker, Captain?”
Talla trek laaie oop en kry oplaas een raakgevat. Dit is gebuig en het hier en daar ’n roesmerk op, maar dit pla Mikey nie. Hy vat dit by haar aan, stamp dit in die kondensmelkblik in en begin dit oopsny. “Ek stap al sedert die insident,” sê hy en drup kondensmelk oor die hawermoutkoekies wat hy op ’n bord uitgepak het. Hy hou ’n koekie na haar uit, maar Talla skud haar kop en trek vir haar ’n stoel nader. Die skraapgeluid van die stoel oor die koue vloerteëls weerklink in die leë kombuis.
“Tot my ma se dood het ek vir haar heide bymekaargemaak so ver ek gestap het.” Hy stop die koekie heel in sy mond.
“Wat het gebeur? Die voorval?” vra Talla uiteindelik teen haar sin. Dit lyk asof Mikey daaroor wil praat, anders sou hy dit mos nie weer opgehaal het nie. Sy is ook nou al meer gewoond aan sy Skotse aksent en sal seker nie vreeslik probleme hê om hom te volg nie.
Hy is nie skaam om inligting te deel nie en kou skaars klaar voordat hy begin praat. “Kate. In Glasgow. Sy het my net so gelos, so sonder waarskuwing. Dis toe dat ek begin stap het.” Hy prop nog ’n koekie in sy mond en sluk dit vinnig af. “I started walking and I haven’t stopped since.” Hy stap na die ketel, kyk of daar water in is en skakel dit aan. “Tee?”
Sy knik. Toe dit lyk asof Mikey kondensmelk by haar tee gaan gooi, moet sy vinnig keer. Hy gee vir haar die beker aan en kom sit oorkant haar.
“Toe ek ná werk by die huis kom, was sy weg.” Hy klap sy vingers. “Net so. Ek het begin aandete maak, maar teen negeuur gewonder waar sy is.” Hy slurp sy tee. “Iets het vir my gesê ek moet kyk of haar klere nog in haar kas is. Dit was nie. Sy het nie baie gehad nie, ’n paar rompe en truie. Alles was weg.” Hy het ophou tee drink en staar nou met skrefiesoë na Talla.
Sy sukkel om die uitdrukking in sy oë te peil. Hy wag seker op ’n reaksie van haar af. Maar wat sê ’n mens vir die arme man? “Ek is jammer,” sê sy uiteindelik. Dit beteken nie veel nie, maar is tog beter as niks.
“Ek het ’n werk gehad. Goeie werk, sorteerder by die poskantoor by George Square. Ken jy dit? Baie geleentheid om verder te vorder. Ek het planne vir my en Kate gehad.” Hy staar na die beker tee in sy hand en begin daaroor blaas om dit af te koel. “Groot planne.”
Skielik spring hy op en sy stoel begin wankel. Talla skiet vorentoe in ’n poging om dit te gryp, maar dis te laat. Dit kletter teen die vloer neer en die geluid klap soos ’n skoot. Dit lyk nie asof Mikey hom daaraan steur nie. “But the best laid schemes of mice and men …”
“Go often askew, and leave us nothing but grief and pain, for promised joy,” voltooi Talla die reëls uit die Burns-gedig terwyl sy die stoel optel. Sy kyk op na Mikey, wil saam met hom glimlag oor die gedeelde gedig, maar hy is reeds op pad deur toe. “Waarheen gaan jy?”
In die deur draai hy om en begin aftel.
“Five, six, seven …” Hy klap sy vingers ritmies saam en op “eight!” gooi hy sy regterbeen vorentoe en toon-hak-toon begin hy om te klopdans. Linkerbeen vorentoe, toon-hak-toon, hierna weer die regterbeen. Hy hou sy kop skeef en kyk met ’n byna maniese glimlag stip na Talla. Hy swaai sy arms vorentoe en agtertoe en nou lyk dit asof hy op een plek hardloop. Hy is goed. Dan swaai hy sy arms van links na regs voor sy lyf verby terwyl hy weer toon-hak-toon. Hy tol ’n paar keer in die rondte, maak ’n oordadig lae buiging en lig ’n denkbeeldige hoed na haar. “Het ek jou gesê ek is ’n amateurklopdanser?”
“Nee. Jy is uitstekend –”
“Ja!” Mikey maak weer ’n paar passies, tol in die rondte, skoon uitasem. “Ek is op pad Kent toe. Gaan daar dans.” So vinnig as wat hy begin dans het, hou hy op en plak hom op die stoel oorkant Talla neer. Sy glimlag is weg, sy mondhoeke rem af. “Een-en-twintig jaar. Dis hoe lank ek al na my Kate soek.”