Читать книгу Die wolkversamelaars - Nadia de Kock - Страница 12

7

Оглавление

“Wat is die doel van jou besoek?” vra die skraal man vir Talla.

“Besigheid. Ek het interessante stories en storievertellers kom soek. Of tradisionele wewers, as julle dalk sulke mense ken. Hier was ’n klompie jare gelede skynbaar ’n wewersgemeenskap in die vallei. Miskien is hulle nog hier?”

Hy skud sy kop. “Nee, ek kan nie sê dat ek so ’n gemeenskap onthou nie.”

“Dalk ken jy iemand wat hulle sal onthou?” Talla se stem is sag. Haar toekomsplanne hang van storievertellende wewers af.

Toe Theresa se prokureur haar ingelig het dat sy Skotland toe gaan, het sy vir Willie gesê dis die ideale geleentheid om iets te doen met ’n tartanidee waarmee sy al lank speel.

“Ek weet tartan is erg tradisioneel en nie Suid-Afrikaans nie,” het sy erken, “maar ek dink ek kan iets funky daarmee doen. Ek gaan dit kombineer met fluweel, geblomde brokaat en repies tafsy en leer. Dit gaan uniek wees. Baadjies, jasse, minirompies …”

Willie het probeer, maar kon kwalik sy gebrek aan entoesiasme wegsteek toe hy na Talla kyk. “Dit is al gedoen, my skat. Kyk na Vivienne Westwood. Alexander McQueen ook.”

“Jy het gesê jy sal my ’n kans gee om te ontwerp. Ek doen nou al heeltemal te lank net admin en hardloop rond vir die ontwerpers.”

“En jy doen dit uitstekend. Hulle het jou almal nodig, Talla. Ons admin raak gou morsig wanneer jy met vakansie is. Jy is die wind onder –”

“Jy is nie snaaks nie.” Talla het haar hand opgelig. “Ek wil nie meer ’n dogsbody wees nie.” Sy wil eenvoudig nie net die kantoor bestuur nie. Sy wil iéts wees. Sy is amper vyf-en-veertig en het geen loopbaan om van te praat nie.

Sy wil ontwerp, sy weet sy beskik oor genoeg kreatiwiteit. “En terwyl ek nou Skotland toe móét gaan, sal ek die tartanidee behoorlik navors.”

Dit was ’n sonnige Johannesburgse middag en sy en Willie was in Mugg & Bean. Sy het haar nuwe portefeulje saamgebring en dit voor Willie neergeplak. Hy het vir die kelner beduie om nog twee koffies te bring en toe deur die portefeulje begin blaai. By die derde bladsy het hy effens geglimlag. “Dis sexy,” het hy gesê, na die een skets gewys en terug na haar gekyk. “Maar dis geyk, my skat.” Toe het hy gelag, sy gesig getrek en die waarheid gou opgevolg met: “Ek speel sommer.”

“Ek ken jou, Willie. Jy speel nie.” Dit is asof Willie altyd dadelik spyt is wanneer hy die waarheid praat en dit as ’n grap probeer afmaak. Maar soms, veral ná ’n glas wyn of twee, raak hy doodgewoon gemeen, sê hy iets kwetsends en volg dit onmiddellik op met “Grappie”. Sulke tye ignoreer Talla hom, want sy is lief vir hom.

Sy het na die koffie gekyk wat die kelner voor hulle neergesit het, in haar handsak gevoel na die houertjie met tuisgemaakte chaipoeier wat na peper en kardemom ruik en ’n kwart teelepel vol in haar koffie geroer. Vir ’n bietjie byt. Toe het sy genies.

“Jy’s weird,” het Willie gesê.

“Jy ook.” Sy het ’n eerste slukkie koffie gevat. “My idees ís geyk, nè?” Sy het vermoed hy is reg, maar wou dit nie weet nie.

“Jip. Kilts laag op die heupe?” Hy het die portefeulje toegemaak. “Jy sal beter moet doen, my ding. Jy kan.”

Talla het haar gesig voel gloei.

Sy het die hele naweek getob en kon ook nie behoorlik konsentreer op haar tatoeëerkliënte nie. En sy hét baie gehad: een Saterdagaand en twee Sondagoggend.

Sondagaand laat het sy ’n idee gekry. Sy het Willie gebel. “Stories. Mense hou daarvan. Ek gaan Theresa se geskenk gebruik om ’n storie te soek.”

“Watse storie?”

“Een wat tot nou toe verborge was. Iets wat ’n mens nie kan google tensy jy spesifiek weet waarna om te soek nie. Dalk ’n tradisionele Skotse storie of legende. Maar ’n obskure een, nie iets so welbekend soos die veldslag van Culloden nie. Alexander McQueen –”

“Alexander McQueen het dit al gedoen, ja.”

“Ek is nie Alexander McQueen nie. Hy het Skotse bloed gehad en het dit gedoen om ’n politieke stelling te maak.”

“Fabulous show gewees, Kate Moss aan die einde …” het Willie gemymer.

“Ek sal iets kleiners, iets vars en hopelik iets persoonliks na die mark bring – die Suid-Afrikaanse mark,” het sy benadruk. “En dan gaan ek die storie aan ’n tartan, of die idéé van tartan, haak en dít sal my ontwerpe uniek maak. ’n Storie wat die verbeelding aangryp, iets waarmee mense van oraloor kan identifiseer.”

Willie was nie oortuig nie en teen sonop Maandagoggend het Talla ook begin twyfel. Maandagaand het sy die idee huiwerig met Zani gedeel en dié was dadelik opgewonde. Dit het Talla hoop gegee. Haar huismaat is een van die mees kritiese mense wat sy ken. Dus, as sy van ’n idee hou, is daar waarde in.

Die volgende dag het Willie voor haar lessenaar kom staan en ’n stresbal van die een hand na die ander gegooi. “Ek het ’n plan. Soos jy weet, was my ma baie lief vir Skotland. Dink jy nie haar as moet daar gestrooi word nie?”

“Dit klink na ’n goeie plan. Gaan jy saamkom Skotland toe?”

Willie het die stresbal op haar lessenaar neergesit. “My skat, jy weet ek is te besig hier.”

“Jy wil hê ék moet Theresa se as strooi?”

“Sal jy?”

Talla ken Willie nou al baie goed, sy weet hoe hy hartseer verwerk: Hy onttrek. Hy sien natuurlik nie kans om Theresa se as te gaan strooi nie, en sy sal dit respekteer. “Dis reg, ek sal.” Sy het net geglimlag toe Willie haar bedank en dadelik weer op die reëlings vir die reis gefokus.

Toe die bleek meisie, Maggie, met die rooi hare wat lyk asof dit in die kerslig gloei, begin praat, word Talla se aandag na haar tafelgenote by Burns Nicht toe teruggebring. “Ek woon al twee jaar hier,” sê Maggie. “Nog nooit van ’n wewersgemeenskap gehoor nie en ek praat met baie mense.” Sy verduidelik. “Ek is ’n verpleegster en sien sommer na die plaaslike mense se skete om as hulle nie Fort William toe kan gaan om ’n dokter te spreek nie.”

Talla kyk na die flikkerende kerslig. Haar soektog skop op ’n lae noot af.

Die skraal man se oë verhelder en hy sit regop. “Wag ’n bietjie, ’n vriend van Inverness sê hy het gehoor van ene … Ailsa, ja dis die naam, Ailsa, wat iewers noord van Inverness ’n wewery begin het. Een van die vrywilligers hier by die Mountain Rescue se broer het verlede maand vier weeframe by haar gaan aflaai. Dit klink my dis sommer by haar huis op die plot. Dis dalk die moeite werd om te ondersoek.”

Maggie sit regop, sy het ook aan iets gedink. “Wat van Craig Brodie? Hy woon sy hele lewe lank al hier op die dorp. As daar iemand is wat sal weet waar so ’n gemeenskap hier naby gevind kan word, is dit hy.” Sy beduie na die man met die strandbalmaag wat so flussies met die vleisrol gepraat het. “Ek sal jou nou-nou aan hom gaan voorstel.”

Talla glimlag. Sy voel verlig, hier is sommer twee leidrade.

Aandete word opgedien en Teodor sit ’n stomende bord kos voor haar neer. Dit kan seker as Skotse boerekos beskryf word. ’n Berg kapokaartappels lê die helfte van die bord vol en langs dit is ’n kleiner berg fyngemaakte iets, growwer en bruiner. Die vleisrol wat die res van die bord toelê, lyk soos maalvleis, maar is fyner van tekstuur en gryser. Die kos ruik geurig en Talla se maag grom. Sy proe aan die vleisrol. Dit is heerlik en sy vat nog ’n groot hap.

“Geniet jy die haggis?” vra Maggie.

Die ander gaste skaterlag toe hulle na Talla se gesig kyk. Skaaplewer, -hart en -longe. Google het haar oor haggis ingelig en sy het haar voorgeneem om dit te vermy. Maar sy is so honger soos nog nooit voorheen nie. Sy steek haar weersin weg, rol haar oë spottend en vat ’n sluk van haar whisky. Hierna sit sy haar glas neer, kyk na die gaste wat haar in afwagting dophou in die hoop dat sy gaan gril of naar word. Talla giggel. “It is delicious!” verklaar sy en lê weg.

Later die aand, toe die meeste mense reeds huis toe is, staan Neil buite en rook. Talla gaan staan by hom. Sy vertel hom van die stories waarna sy op soek is. “Maggie het my aan Craig Brodie voorgestel – dié was baie aangenaam en het ingestem om oor ’n week of wat met my te gesels. Hy kan nie vroeër nie, gaan vir die een of ander iets Glasgow toe.”

“Vang hom maar vroeg in die dag. Hy kan nogal aan die drink gaan.”

“Ek sal.” Talla vou haar arms om haar skouers. “Jý weet nie dalk van tradisionele wewers in die omgewing nie?”

Neil frons lig. “Nee, jammer. Hopelik kan Craig jou help.”

Talla knik haar kop en kyk op na die wolklose lug. Die sterre blink helder, nes in die Karoo. “Hoe ver is Shetland van hier af?”

“Dit is so ses uur met die bus tot by Aberdeen waar jy die veerboot kry. Die veerboot vaar in die nag, die rit is so tien uur lank na Lerwick toe. ’n Mens kan vlieg ook, maar dis duurder.”

“Was jy al daar?”

“Een keer.”

“En?”

“Wild. Aaklige weer. Min mense. Ek was mal daaroor.” Neil grinnik, trap sy sigaret dood en tel die stompie op. “Dis koud, kom ons gaan in en drink ’n laaste whisky voor ons gaan slaap.”

Die wolkversamelaars

Подняться наверх