Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 10
Оглавление6 Januarie – As jy sukkel om te bid
6 JANUARIE
Lees: Psalm 103:8–18
As jy sukkel om te bid
Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is. – Psalm 103:13–14
God ken ons deur en deur. Hy het ons immers gemaak. Daarom dra Hy ook kennis van die feit dat ons almal by tye gebedsukkelaars is. Baie min mense is gemaklik daarmee om in die openbaar te bid. Ons vergelyk ons gebede met dié van ander, ons is bang dat ons woorde sal opraak, ons bloos en stamel wanneer ons gevra word om te bid. Ook wanneer ons alleen in ons binnekamers is, herhaal ons meestal elke dag dieselfde gewoontegebede.
Die enigste raad vir mense wat sukkel om te bid, is dat jy méér sal bid. Soos alle ander dinge, verbeter jou gebedsvaardighede hoe meer jy hulle gebruik. Dit is geen wonder nie dat Paulus die gemeente van Tessalonika aanraai om gedurig te bid (vgl 1 Tessalonisense 5:17). “As jy nie kan bid soos jy graag wil nie, bid soos jy kan. God weet presies wat jy bedoel,” skryf Vince Havner.*
Jesus het Self gesê dat jou Vader wéét wat jy nodig het, nog voordat jy dit van Hom vra (vgl Matteus 6:8). Maak nie saak as jy sukkel om te bid nie. Die enigste voorwaarde is dat jou gebede opreg moet wees, dat jy werklik die dinge sal bedoel wat jy vir God sê of aan Hom belowe. Dit maak ook nie saak wat jou gebedshouding is of watter woorde jy gebruik nie – solank jou gebede uit jou hart kom, sal God luister én antwoord.
Hemelse Vader, soms sukkel ek só om te bid. Dankie dat U weet waarvan ek gemaak is én weet wat ek bedoel wanneer ek bid. Amen.
* Aangehaal in J Smit, Gebed