Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 17
Оглавление13 Januarie – Aanbid God
13 JANUARIE
Lees: Eksodus 4:27–31
Aanbid God
Toe hulle hoor dat die Here die nood van die Israeliete gesien het en Hom hulle lot aangetrek het, het hulle in aanbidding gebuig. – Eksodus 4:31
Moses het ’n noue ontkoming as God hom op pad na Egipte wil doodmaak omdat hy nie sy seuns besny het nie. As Moses en Aäron hierna die volk bymekaarroep en vir hul van die Here se opdrag vertel, kom hulle diep onder die indruk van hul Verbondsgod se genade vir hulle en buig hulle saam in aanbidding voor Hom. In die Ou Testament is daar telkens sprake van “in aanbidding neerbuig”. Wanneer jy bid, behoort jy God nie net te loof en te dank nie, maar Hom ook te aanbid, laag voor Hom te buig. “Aanbidding, lof en dank is drie begrippe wat in gebedstaal met mekaar verweef is,” skryf Johan Smit in sy boek Gebed. “Aanbidding bring ’n mens by die brandende doringbos … by die hemeltroon waar die serafs sing en jubel, by die berg van verheerliking, by Getsemane en Golgota, by ’n geopende graf.”*
Wanneer jý kniel om God te aanbid, erken jy hoe heilig, groot en heerlik Hy is. Jy word as ’t ware oorweldig deur God se almag, soveel so dat jy nie anders kan as om voor Hom neer te buig nie. Voordat jy weer begin om God te loof en vir Hom dankie te sê, word eers stil en aanbid God vir Wie Hy is: die God van jou lewe, die Een wat jou éérste liefgehad het en jou as sy kind gekies het, die Een wat nie gehuiwer het om sy Seun in jou plek te laat sterf nie; die Een wat in alle ewigheid by jou sal wees.
Here God, ek wil laag voor U kom neerbuig en U aanbid omdat U heilig en heerlik, groot en almagtig is. Amen.
* J Smit, Gebed, p 30–31