Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 16
Оглавление12 Januarie – Vra gerus!
12 JANUARIE
Lees: Lukas 18:1–8
Vra gerus!
Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook! – Lukas 18:7–8
Mary Slessor was ’n sendeling wat 38 jaar lank in lewensgevaarlike omstandighede in die oerwoude van Nigerië sendingwerk gedoen het. Sy skryf in haar dagboek: “My lewe is een lang, daaglikse, uurlikse rekord van beantwoorde gebede. Vir fisieke gesondheid, vir wonderbaarlike leiding, vir foute en gevare wat vermy is, vir kos wat op presies die regte oomblik voorsien is, vir álles wat nodig was in my lewe … kan ek met absolute verwondering getuig dat ek glo dat God gebede beantwoord.”*
Alhoewel jy God nooit as ’n soort super-Krismisvader mag gebruik en van jou gebede lang lyste met nimmereindigende versoeke mag maak nie, mag jy wel vir God dié dinge vra wat jy regtig nodig het. Hy het immers beloof dat Hy in elkeen van jou behoeftes oorvloediglik sal voorsien. Elke Christen wat erns maak met gebed, sal kan getuig dat God antwoord wanneer ons bid; dat Hy soms ons gebede op so ’n letterlike manier beantwoord dat dit ons sprakeloos laat! Net soos die regter die lastige weduwee in vandag se Skrifgedeelte gehelp het omdat sy aangehou het met vra, kan God deur die aanhoudende gebede van sy kinders oorreed word om aan hul versoeke te voldoen. Bid dus onophoudelik, hou gerus aan om te vra, tot God jou antwoord. Die Bybel verseker jou dát Hy sal antwoord – en gou ook!
Hemelse Vader, dankie vir u groot geduld met my; dat ek maar mag aanhou met vra, met die seker wete dat U my gebede sal beantwoord. Amen
* Aangehaal in P Farrel, A woman of influence, p 77