Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 12
Оглавление8 Januarie – Die inhoud van jou gebede
8 JANUARIE
Lees: Efesiërs 3:14–21
Die inhoud van jou gebede
[Ek bid] … dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag julle in staat wees om … te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. – Efesiërs 3:17–18
Paulus was iemand wat geweet het hoe om te bid. In die derde hoofstuk van sy Efesiërbrief bid hy dat God vir hulle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Jesus deur die geloof in hul harte sal woon, dat hulle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees, maar veral dat hulle die geweldige omvang van God se liefde vir hulle sal besef en met sy volheid vervul sal word.
Wanneer ek Paulus se gebede vir die Efesiërs gelees het, het dit my elke keer getref hoe selfsugtig die inhoud van my eie gebede is. Ek bid wel baie gereeld vir mense wat ek liefhet – ten minste twee keer per dag vir my familie – maar die inhoud van hierdie gebede laat veel te wense oor. Ek bid dat my kleinkinders veilig sal wees en goed sal vaar op skool, dat my seuns die regte werk sal kry en dat my siek familielede weer gesond sal word – maar nog nie eens één keer het ek vir my mense dieselfde dinge as Paulus vir die Efesiërs gevra nie. Daar en dan het ek besluit dat my gebede in die vervolg meer sal gaan oor geestelike seëninge vir my geliefdes, eerder as oor konkrete sake. Is jy nie lus om in die week wat voorlê Paulus se versoeke vir jóú mense te herhaal nie?
Here, ek bid dat U my geliefdes innerlik sterk sal maak, dat hulle in U sal glo en u liefde sal ken. Amen.