Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 22
Оглавление18 Januarie – Kom tot rus!
18 JANUARIE
Lees: Lukas 21:34–38
Kom tot rus!
Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn. – Lukas 21:36
Jesus is hier besig om met sy dissipels te gesels oor sy wederkoms. As Hy weer kom, moet hulle gereed wees vir sy koms, sê Hy vir hulle.
Die Belgiese filosoof Henry Nouwen skryf oor ’n tipe gebed wat ons in ons hedendaagse gejaagde leefwyse baie nodig het, naamlik die gebed van rus. Die letterlike vertaling van Jesus se opdrag “bid altyddeur” in ons teksgedeelte van vandag beteken eintlik “om tot rus te kom”, skryf Nouwen in sy boek Way of the Heart.* Dit wil sê dat ons, wanneer ons besig is om te bid, in God tot rus kan kom te midde van die erge stres van ons daaglikse lewe. Dat ons, wanneer ons besig is om met God te praat, maar ons spanning voor sy voete kan uitpak en die oplossing van elkeen van ons probleme rustig aan Hom kan toevertrou. Mense wat op só ’n manier bid, sal die nodige krag van God ontvang sodat hulle al hul daaglikse eise en verantwoordelikhede sal kan nakom.
Een van die maniere waarop jy nou al vir Jesus se wederkoms ge-reed kan maak, is juis om volhardend te bid, om gereeld met God te praat en Jesus se uitnodiging in Matteus 11:28 en 29 aan te neem om na Hom te kom, omdat Hy vir jou rus in jou gejaagde lewe wil waarborg.
Moenie langer stres nie, kom liewer tot rus by God!
Here Jesus, ek wil nou by U tot rus kom en al die dinge wat my gespanne en bekommerd maak, vir u sagte juk en ligte las verruil. Amen.
* Aangehaal in J Smit, Gebed