Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 29
Оглавление25 Januarie – Die Ons Vader
25 JANUARIE
Lees: Matteus 6:7–13
Die Ons Vader
So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. – Matteus 6:9–13
Die meeste van ons ken die Ons Vader van kleins af uit ons kop, en juis daarom loop ons gevaar om so gewoond daaraan te raak dat ons nie meer die geweldige rykheid en diepte daarvan raaksien nie, maar dit soos ’n rympie aframmel as ons die aand te vaak is om te bid.
“Die Ons Vader-gebed is deel van ons groei; byna soos ’n maatstok waaraan ons telkens ons groei meet. Hoe beter ons dit verstaan, hoe helderder dit God en onsself en ons naaste in die lig bring, hoe verder het ons gegroei,” skryf Johan Smit.* Elke keer wanneer jy persoonlik die Ons Vader bid, behoort jy ’n verdieping van jou verhouding met God te beleef, omdat dit vir jou uitspel dat die almagtige Skeppergod ook jou Vader is wat jou liefhet. Daarom moet jy vra dat sy Naam geheilig sal word, sy koninkryk sal kom en sy wil op aarde sal geskied. Hierna mag jy vra dat Hy in elkeen van jou daaglikse behoeftes sal voorsien, jou oortredinge sal vergewe en jou van die Bose sal bewaar.
Vader God, dankie dat U vir my bereikbaar is. Ek bid dat u Naam geheilig sal word, u koninkryk sal kom en u wil sal geskied; dat U in my behoeftes sal voorsien, my sonde sal vergewe en my van die Bose sal bewaar. Amen.
* J Smit, Gebed, p 231