Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 42
Оглавление5 Februarie – Loof God dat Hy jóú gemaak het
5 FEBRUARIE
Lees: Genesis 1:27–31
Loof God dat Hy jóú gemaak het
God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. – Genesis 1:27
Van al die dinge wat God gemaak het, span die mens egter die kroon. “Soos ’n vaardige meesterbouer het God stap vir stap die heelal gemaak: die wonders van die ruimte, die prag van die natuur, die onbegryplike fyn werking van lewe. Maar al hierdie wonderlike dinge was eintlik net die voorbereiding, die gereedmaking van die verhoog vir die verskyning van die hooffiguur in die skepping: die mens,” berig Die Bybellennium.*
Wanneer God die mens skep, maak Hy vir Hom ’n verteenwoordiger op die wêreld. Hy skep die mens na sy beeld. Dit beteken dat Hy van sy eienskappe in elke mens plant. Anders as diere kan mense dink en liefhê, hulle kan praat en hul emosies verwoord. Hulle kan omgee vir mekaar, mekaar vergewe en met God in ’n verhouding staan. Hulle kan tussen reg en verkeerd onderskei. Hulle kan besluite neem en dit uitvoer. Hulle kan God se kinders wees en Hom aanbid.
“Omdat God só besluit het, het Hy ons deur sy woord wat waar is, as sy kinders verwek en gebore laat word. Só het dit gekom dat ons die keur van sy hele skepping is,” skryf Jakobus tereg (Jakobus 1:18, Nuwe Lewende Vertaling). Elke mens is uniek en elke mens is vir God waardevol. Loof God dat Hy jou so wonderlik gemaak het!
Hemelse Vader, ek loof U dat ek die keur van u skepping is. Dat U my na u beeld geskep het en vir my van u eienskappe gegee het, sodat ek kan dink en droom en U kan liefhê. Maak my elke dag méér soos U. Amen.
* FJ van Rensburg en M Nel, Die Bybellennium, p 11