Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 35
Оглавление31 Januarie – Oneindig méér as wat jy bid of dink
31 JANUARIE
Lees: Efesiërs 3:14–21
Oneindig méér as wat jy bid of dink
Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. – Efesiërs 3:20–21
God kan nog oneindig meer doen as wat jy van Hom vra in jou gebede. Hy kan vir jou oneindig méér gee as die dinge waarvoor jy bid. Selfs meer as die dinge waarvoor jy in jou wildste verbeeldingsvlugte mag wens. God is almagtig – vir Hom is niks onmoontlik nie. En omdat Hy almagtig is, weet Hy presies wat vir jóú goed is. Hy sal dus nie die dinge vir jou gee wat jy in gebed van Hom vra as dit nie voordelig vir jou gaan wees nie. Om hierdie rede kry jy ook nie alles wat jy vra nie. Jy gee immers nie vir jóú kinders roomys of lekkergoed voor ete nie. Omdat jy nie al hul versoeke toestaan nie, beteken dit egter nie dat jy hulle nie liefhet nie, eerder die teenoorgestelde: ómdat jy hulle baie liefhet, sal jy nie toestem om vir hulle dinge te gee wat jy voor jou siel weet hulle sal benadeel nie.
“Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang …” nooi die skrywer van die Hebrëerboek (Hebreërs 4:16). Jesus het sy lewe gegee om dié uitnodiging vir jou te verdien. Moenie huiwer om die uitnodiging aan te neem nie – dit is vandag steeds aan jou persoonlike adres gerig.
Here Jesus, ek wil al die eer aan U bring omdat U soveel méér as wat ek bid of dink vir my gee wanneer ek dit in gebed van U vra. Baie dankie hiervoor! Amen.