Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 38
Оглавление1 Februarie – Loof God vir sy liefde
1 FEBRUARIE
Lees: 1 Johannes 4:7–21
Loof God vir sy liefde
Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. – 1 Johannes 4:9–10
Net soos ’n swanger vrou haar baba liefhet nog vóór sy geboorte, het God ons liefgehad nog voordat Hy die wêreld gemaak het. Hy kan as ’t ware nie anders nie, want God is liefde. Selfs wanneer ons soos Israel van ouds Hom by geleentheid in die steek laat, brand sy liefdesvlam vir ons steeds so hoog dat niks dit kan uitblus nie. Liefde wek altyd wederliefde. Die inisiatief van liefde kom áltyd eerste van God. Hy het ons éérste liefgehad, skryf Johannes, en daarom het ons Hóm ook lief. En God bewys hierdie liefde deur vir ons sy enigste Seun na die wêreld te stuur om in ons plek aan die kruis te sterf, sodat ons, as ons in Hom glo, eendag vir altyd mag lewe.
Die heel eerste eienskap van God waarvoor jy Hom behoort te loof is dus sy liefde vir jou. Máár hierdie liefde eis ’n verantwoordelikheid van jou: soos God jou liefhet, verwag Hy van jou om ánder mense lief te hê. Onmoontlik soos dit mag klink, sal God dit vir jou moontlik maak deur sy Gees wat in jou woon.
Here God, ek loof U vir u grenslose, onverklaarbare liefde vir my; daardie liefde wat Jesus vir my aan die kruis kom demonstreer het. Maak dit vir my moontlik om ánder mense ook so lief te hê. Amen.